Skip to main content

Weglatings in die 1983 Afrikaanse vertaling

Die stof wil maar net nie gaan lê rondom die gewaande “weglatings” in die 1983 Afrikaanse vertaling nie.  Hier is inligting wat jy kan gebruik om jouself tevrede te stel dat nie een van dié sogenaamde weglatings met verkeerde motiewe gedoen is nie.  Ek gee ’n lys aan die einde van hierdie bydrae van die “weglatings” met kommentaar daarop.  Jy sal daarin sien dat nie een van die weglatings fundamenteel of wesenlik van aard is nie.

Waarmee ek nie sê dat ek persoonlik gelukkig is met die 1983 Afrikaanse vertaling nie.  Ek dink dié dinamies-ekwivalente vertaling is net te ver van die grondteks af wat gebruik is.  Ek verkies daarom in Afrikaans óf die 1933/1953 vertaling of die nuutste Bybel Direkte Vertaling (BDV) se teks, ten minste dié wat beskikbaar is (kyk by nuwekerkbybel.co.za).

Ouer vertalings is gebaseer op Erasmus se Griekse teks

Die ouer vertalings van die NT – King James, 1933 Afrikaanse vertaling ensomeer – het ’n Griekse grondteks van Erasmus gebruik wat die Textus Receptus (1516) genoem word.  Dié Griekse teks het regtig talle tekortkominge.  Hier is ’n paar van die probleme daarmee:

  • Die NT se Griekse teks is saamgestel uit net 5 Griekse tekste en 1 Latynse teks wat deur die humanis Erasmus in die 16de eeu gebruik is.
  • Dit is ook later geredigeer deur twee ander persone, Estienne en Beza.
  • Daarby dateer al hierdie Griekse tekste uit die 12de eeu nC.  Dit is dus baie jong tekste wat gebruik is.  Ouer tekste is oor die algemeen nader aan die oorspronklike.
  • Wat ’n mens verder moet verstaan, is dat die Textus Receptus ook ‘n samestelling van tekste is, want die Griekse tekste wat gebruik is, verskil onderling van mekaar.  Dit is dus ook ’n “kritiese teks”, want Erasmus het keuses gemaak tussen die moontlike opsies in die beskikbare 5 Griekse tekste.  Daar is egter nie kommentaar beskikbaar van hom op die teks wat die keuses verduidelik nie.
  • Erasmus het daarby nie die hele NT in Grieks voor hom gehad nie, weens gebreke in die tekste wat hy gebruik het, en moes dele uit die Latyn terugvertaal in Grieks om die NT se Griekse teks volledig te kry.  Daarom verskil dié dele van bykans elke ander Griekse teks beskikbaar, want ’n mens kan nie uit ’n vertaling maklik terugvertaal na ’n oorspronklike teks nie.

Die geskille rondom die grondteks gaan natuurlik uiteindelik net oor die NT se Griekse grondteks wat gebruik word, want daar is nie regtig ‘n groot verskil in terme van die Hebreeuse-Aramese grondteks wat vertalers vir die OT gebruik nie.  Die KJV en OAV (1933/53) gebruik wel ’n ander teks – die First Rabbinic Bible (1517-18) se teks, wat deel van die Textus Receptus geword het – as wat vandag gebruik word.

Maar daar is eintlik net 8 beduidende verskille met die hedendaagse Biblia Hebraica Stuttgartensia (BHS) van Richard Kittel, gebaseer op die ouer kodeks Leningradensis wat vandag deur die meeste vertalers gebruik word.  Omdat die BHS in sy verskillende weergawes ‘n ouer gedateerde teks verteenwoordig, word dit daarom vandag deur bykans alle vertalers gebruik, ook deur die Wêreldbond van Bybelgenootskappe.

Nuwer vertalings is gebaseer op Westcott en Hort se Griekse teks

Die 1983 Afrikaanse vertaling – en nuwer vertalings – kom van ‘n grondteks wat deur Westcott en Hort aan die einde van die 19de eeu saamgestel is en deur die moderne Griekse uitgawes van Nestle-Aland en die United Bible Society gebruik word.  Dit is saamgestel uit 5 800 Griekse tekste waarvan die vroegste tot die eerste eeu nC teruggaan.  Dit is dus ‘n baie beter grondteks, omdat dit duisende meer tekste kan vergelyk en die beste en mees oorspronklike lesing kan vasstel.

Vandag gebruik die Wêreldbond van Bybelgenootskappe dus deurgaans een of ander weergawe van die United Bible Society (UBS) en/of Nestle-Aland (NA).  Die twee uitgawes het mettertyd dieselfde teks begin gebruik vanaf UBS3 en NA26, en is albei gebore uit Westcott en Hort se werk.

Die UBS (uitgawe 5) en NA (uitgawe 28) tekste is gebaseer op ‘n kritiese evaluering van al die beskikbare Griekse tekste.  Van die kriteria wat gebruik word, is datering (vroëer is beter), geografiese verspreiding, en die moontlikheid van onbedoelde of selfs intensionele korrupsie van die teks. Die keuses word altyd in die tekskritiese apparaat gemotiveer en is dus ‘n volledig transparante proses.  Elke keuse wat vir die teks gemaak is, word uitvoerig gemotiveer, en kan per definisie natuurlik ook uitgedaag en verander word, soos in opeenvolgende weergawes dan ook gedoen word.

Weglatings kom op ander plekke in die NT voor

Onthou egter dat nie een van die weglatings wat op die Internet versprei word ‘n verandering aan die boodskap is nie, want wat in die “weggelate tekste” gesê word, word in talle ander plekke van die Bybel wel gesê.  Hier is ’n lysie met kommentaar daarop:

  • Matt 17:21 – Kom wel voor in Mark. 9:29
  • Matt 18:11 – Kom wel voor in Matt. 9:13; Luk. 19:10
  • Matt 23:14 – Kom wel voor in Mark. 12:40; Luk. 20:47
  • Mark 7:16 – Kom wel voor in Mark. 4:9, 23
  • Mark 9:44, 46 – Kom in albei gevalle wel voor ‘n paar verse later in vers 48
  • Mark 11:26 – Kom wel voor in Matt. 6:15
  • Mark 15:28 – Kom wel voor in Luk. 22:37
  • Lukas 17:36 – Kom wel voor in Matt. 24:40
  • Lukas 23:17 – Kom wel voor in Matt. 27:15; Mark. 15:6
  • Joh 5:4 – die vroegste manuskripte het nie die verwysing na die engel nie – dit verander nie die boodskap dat Jesus gesond gemaak het nie
  • Hand 8:37 – die vroegste manuskripte het nie die verwysing na daardie deel van die gesprek nie, en verander nie die wese van die bekering wat plaasgevind het nie
  • Hand 15:34 – die vroegste manuskripte het nie die inligting nie, maar Silas se besluit verander nie wesenlik aan die betekenis nie.  Hy word in elk geval verder genome in die briewe van Paulus
  • Hand 24:7 – die vroegste manuskripte het nie die inligting nie, en dit verander nie wesenlik aan die boodskap nie
  • Hand 28:29 – die vroegste manuskripte het nie die inligting nie, en dit verander nie wesenlik aan die boodskap nie
  • Romeine 16:24 – die vroegste manuskripte het nie die seënbede nie, maar dit is tog op talle ander plekke in die Bybel, so dit is nie wesenlik nie.

Daar is ook ander Griekse grondtekste

Onthou ook dat daar nóg ander grondtekste is.

In die Ooste word die Amptelike Teks (AT) van die Grieks Ortodokse Kerk (1904) gebruik.  Hulle het hulle eie grondteks geskep wat op talle plekke verskil van beide die Textus Receptus en die Westcott en Hort tekstradisies.

Daar is ook ’n verdere samestelling van die Griekse NT volgens die Meerderheidsteks van Hodges en Farstad (1985) wat ook werk met al die beskikbare Griekse bronne maar, anders as Westcott en Hort, eerder die volgende twee kriteria gebruik:

  • Die lesing wat die wydste gebruik word, is heel moontlik die meer oorspronklike.
  • Die finale besluit word op grond van ’n historiese genealogie van die lesing gedoen. D.w.s. die wyse waarop die lesing in die oordragproses behoue gebly het, word in ag geneem.

Die Meerderheidsteks verskil weens hierdie verskil in uitgangspunte op so 6 500 plekke van Westcott en Hort en is interessant genoeg nader aan die Textus Receptus.  Teenoor die beskuldiging dat dit daarom maar net die Textus Receptus in ’n ander gedaante is, kan genoem word dat daar wel meer as 1 800 verskille bestaan tussen dié twee Griekse tekste.  Die beskuldiging is dus onwaar.

Dié Meerderheidsteks word egter nog nie wyd gebruik nie, omdat dit ’n ontsaglike groot werk is om die genealogie van die tekslesings op te stel.  Daar is daarom nog net ‘n paar vertalings gemaak wat op die Meerderheidsteks gebaseer is, bv. die World English Bible (net die NT, Psalms en Spreuke – beskikbaar by http://ebible.org) en ’n paar ander (kyk by http://www.modernliteralversion.org).  Dié teks het dus nog nie ’n groot aanhang by Bybelgenootskap gebaseerde vertalings nie.


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar