Eksodus 34 – Ek is barmhartig en genadig, maar Ek laat niks ongestraf nie

Moses se middelaarskap bly op die voorgrond in hoofstuk 34 waarin hy die opdrag kry om weer twee plat klippe voor te berei dat die Here die Tien Gebooie vir ‘n tweede keer daarop kan skryf.  Die Here sal dan ook aan sy versoek voldoen om sy heerlikheid aan Moses van agter af ten toon te stel – Eks. 34:1-7.  Dit lei tot Moses se verdere versoek dat die Here hulle ongeregtigheid en sonde sal vergewe en hulle as God se “eiendom” sal aanneem.  Die Here hernuwe daarop die verbond met die volk en gee ‘n verdere twaalf voorskrifte wat hulle moet gehoorsaam, ‘n soort kultiese Twaalf Gebooie – Eks. 34:8-27.  Dit word opgevolg met ‘n beskrywing van die heerlike afloop van hierdie verbondsluiting wat ‘n verheerliking van Moses insluit.  Sy gesig het geblink van die heerlikheid van die Here – Eks. 34:28-35.

Moses ontvang ‘n openbaring van God se wese en sien sy heerlikheid van agter af – Eks. 34:1-7

Die Here gee vir Moses die opdrag om weer twee plat klippe voor te berei sodat God die Tien Gebooie vir ‘n tweede keer daarop kan skrywe.  Dié keer moet hy alleen die berg opklim.  Niemand mag eers naby die berg kom nie, selfs nie die vee nie.

Die Here het in ‘n wolk afgekom op die top van die berg – teenwoordig, maar ook verborge – en sy Naam twee keer uitgeroep terwyl Hy ‘n diepsinnige verklaring oor Homself en sy wese maak.

Die belydenis van God oor Homself in vers 6-7 bring die onpeilbare diepte van sy wese na vore. Ek gee my eie vertaling weens die onpresiese aard van die Nuwe Afrikaanse Vertaling.  God verklaar oor Homself die volgende:

Die Here, Here, is ‘n God wat barmhartig en genadig is, stadig om kwaad te word, vol troue liefde en getrouheid, wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld, oortreding en sonde vergewe, maar beslis niks ongestraf laat nie, wat die skuld van die vaders besoek aan kinders en kleinkinders selfs tot in die derde en vierde geslag.

God se barmhartigheid (rǎḥûm) is al een keer genoem in die verbondsboek (Eks. 22:27), maar hier word dit beslissend uitgebrei as ‘n beskrywing van sy wese saam met die ander aspekte wat hier genoem word.  Dieselfde geld God se genade (ḥǎnnûn).  Dit is al een keer genoem in die gesprek wat Josef met sy broer Benjamin gehad het (Gen. 43:29 – – vgl. wat ek daaroor geskrywe het: Genesis 43 – Jakob stuur Benjamin na Egipte in die hoop dat God hulle barmhartig en genadig sal wees).  Die goue blom op Aäron se kop sou hierna ook God se genade en guns teenoor die volk uitbeeld (Eks. 28:38), maar hier word genade nog helderder uitgespel as deel van sy manier van werk met sy mense, iets waarop Moses homself alreeds in sy vorige intrede vir die volk se afvalligheid beroep het (Eks. 33:12-17).

God se troue liefde (ḥěʹsěḏ) en getrouheid (ěměṯ – dit kan ook met “waarheid” vertaal word) was ook wel op verskillende maniere al in die verlede ten toon gestel (Gen. 24:27; 33:5; 39:21; ook in die tweede gebod van die Tien Gebooie – Eks. 20:6), maar hier word dit ook aan sy geduld (stadig om kwaad te word) gekoppel, iets wat nog nie voorheen van God gesê is nie.  Dit word ook nog meer diepte gegee deur geduld aan God se barmhartigheid en genade te koppel.

Hierdie belydenis van God oor Homself is dus ‘n besondere samevatting van vorige getuienisse oor sy teenwoordigheid by mense, maar ook ‘n sterk uitbreiding daarvan wat diep inslag gevind het in die verdere teologiese besinning oor God in die Psalms.  Ons sien dit in die Psalms as ‘n begronding van smeekgebede, bv. Ps. 86:15 – Gee my ‘n teken van u goedheid.  Ons sien dit ook as ‘n begronding van lofgebede in van die lofpsalms, bv. Ps. 103:8 – Ek wil die Here loof met alles wat in my is – en Ps. 145:8 – Alles en almal loof die Here uit hemel en aarde.

Ons sien dié beskrywing ook in die profete as ‘n beroep op die volk tot inkeer, bv. in Joël 2:13 – Die Here belowe medelye en voorspoed vir dié wat na Hom terugkeer.  Ons sien ook die omgekeerde in Jona 4:2 waar Jona eintlik ‘n probleem het met dié God, maar God Hom gelukkig nie steur daaraan nie, en volgens sy wese optree en Nineve vergewe – Jona is ontevrede, maar die Here bevestig sy genade.

In Nahum 1:3 word ook met hierdie konsep gewerk, maar ook die negatiewe impak van ongehoorsaamheid uitgespel, toe Nineve uiteindelik tog verwoes word, omdat die bekering in Jona se tyd nie gehou het nie.  Lees meer daaroor in my bydrae: Die Here sorg vir wie by Hom skuil.

Vir die wat aan God dus gehoorsaam bly of word, is hierdie barmhartige en genadige beskrywing van God wonderlike goeie nuus.  Hulle kan reken daarop dat die seën van God se genade deur “duisende” geslagte heen ervaar kan word.

Maar, belangrik, die basiese struktuur van die tweede gebod word steeds gehandhaaf deurdat dit nie net die barmhartigheid, genade, geduld, troue liefde en getrouheid van die Here is wat geskets word nie.  Die volle impak van hierdie veelkantige fasette van sy wese word nie net gesien in die vergifnis van ongeregtigheid, oortreding en sonde nie, maar ook in die feit dat Hy niks ongestraf laat bly nie.  Dit is net so ‘n fundamentele beskrywing van God reg deur die Bybel, soos ons in Numeri 14 en Nehemia 9 sien.

Ons kry by hulle dieselfde beskrywing van God se barmhartige en genadige wese.  In Numeri word die sonde van die Israeliete wat die Here nie met die eerste Intog wou vertrou nie, vergewe, op grond van God se barmhartigheid en genade.  Maar hulle sonde het steeds die gevolg dat hulle in die woestyn omkom.  Niks bly ongestraf nie (Num. 14:18).

Selfs in die tyd ná die ballingskap gebruik Nehemia dit nog as ‘n fundamentele beskrywing van God in hulle skuldbelydenis van die sondes van die verlede.  Daar word egter – in lyn met Eksodus se beskrywing van die gevolge van die sonde – deeglik kennis geneem van die dubbele aard van God se wese, wat wel vergewe, maar niks ongestraf laat bly nie (Neh. 9:17).

Hierdie belydenis oor God het dus ‘n impak op die geslagte, positief en negatief.  Vir die gehoorsames het dit ‘n voortdurende positiewe seënende impak op die nageslag in hulle geslagte.  Die omgekeerde geld vir die ongehoorsames.

Die negatiewe gevolge beteken natuurlik nie dat die kinders en kleinkinders boet vir hulle vaders en voorvaders se sonde nie, soos sommige verkeerdelik aflei uit hierdie beydenis.  Die nageslag van die Israeliete het dit bv. reggekry om ná veertig jaar met die Intog die barmhartigheid van die Here te ervaar, selfs al het hulle ouers die oordeel van die Here ervaar, omdat hulle op die Here vertrou het en in gehoorsaamheid gehandel het.  Vgl. bv. Esegiël 18 (Vgl. my bydrae: God seën mense wat persoonlik verantwoordelikheid neem) waar die Here kapsie maak teen enigiemand wat hierdie verkeerde idee vertroetel dat die vaders groen druiwe eet, en die kinders se tande stomp raak: “Dit is die mens wat sondig wat sal sterf. Wie wil leef volgens my wil, sal reg laat geskied en reg doen.

Maar, dit beteken wel dat daar eers versoening en regstelling moet kom voor God se vergifnis in werking kan kom, soos Numeri se verhaal van die twee generasies onomwonde uitwys.  God laat niks ongestraf nie. Die nageslagte van ongehoorsames sal dus wel die gevolge van die sonde ervaar tot daar regstelling kom.  Die sonde sal as’t ware “besoek” word aan die nageslag, totdat hulle God se oordeel aanvaar en om vergifnis smeek.  Omdat die tweede generasie hulle op God verlaat het in die woestyn, soos ons in Numeri gaan lees, het die Here die effek van die sonde vir hulle omgekeer en kon hulle met sy seën die beloofde land binnetrek.

Waar die geslagte dus die sondes van hulle vaders bely en kies om die Here te dien, kom wat wil, sal verandering en seën intree.  Dit is soos die Here dit self voorskryf (Lev. 26:40 – natuurlik ook met persoonlike – Lev. 5:5 – en gesamentlike belydenis – Lev. 16:21 – daarby ingesluit), en ons talle voorbeelde deur die Skrif het, korporatief (Num. 21:7; 1 Sam. 7:6; 12:10; Jer. 14:20; Dan. 9:4,20) en persoonlik (2 Sam. 24:10 en talle Psalms).

Die Here hernuwe sy verbond met die volk en gee hulle ‘n kultiese Twaalf Gebooie – Eks. 34:8-27

Moses herhaal sy gebed om vergifnis vir die volk op grond van beide God se openbaring van Homself en die feit dat hy wat Moses is God se guns geniet.  Hy stel dit sterk: “Al is die volk moedswillig, moet U ons ongeregtigheid en sonde vergewe. Laat ons tog u volk bly, u eiendom.

Dit lei tot ‘n hernuwing van die verbond van Eksodus 19 waaruit die verbondsboek met die Tien Gebooie voortgespruit het.  Aan hierdie verbondshernuwing word nou twaalf verdere voorskrifte in vers 12-26 gegee wat nie net ‘n belangrike aanvulling van die Tien Gebooie in Eksodus 20 is nie, maar in eie reg as die Twaalf Gebooie van die kultus beskryf kan word.  Uit die verbondshernuwing spruit dus Twaalf Gebooie.

‘n Mens kan die duidelike verband sien veral met die eerste vier gebooie van die Tien Gebooie van Eksodus 20 sien, maar dit word in meer detail uitgespel veral in terme van die wyse waarop hulle dit moet handhaaf in die konteks van die afgodskulture waarheen hulle op pad is.

  1. GEEN VERDRAG MET HEIDENE – anders word dit ‘n valstrik vir julle – vers 12.
  2. GEEN ANDER GODE – breek dus hulle altare, klippilare (gedenkstene), gewyde pale (asjeras) af, want God eis onverdeelde trou – vers 13-14 (eerste gebod).
  3. GEEN VERDRAG MET HEIDENE WAT TOT HUWELIKE LEI NIE – anders sal julle by hulle afgodediens en onsedelikheid betrokke raak – vers 15-16
  4. GEEN AFGODSBEELDE – vers 17 (tweede gebod).
  5. VIER DIE FEES VAN DIE ONGESUURDE BROOD – dit is die eerste groot fees, die Paasfees in die lente (Eks. 12; 23) wat hulle moet vier om die herinnering aan die Uittog uit Egipte lewendig te hou – vers 18.
  6. ELKE EERSGEBORENE BEHOORT AAN MY – dit is ‘n herinnering aan die tiende plaag in Egipte waarin die eersgeborenes getref is, en die Here geëis het dat hulle hulle eie eersgeborenes aan Hom toewy (Eks. 13) – vers 19-20a-c.
  7. NIEMAND MAG LEË HANDE VOOR GOD VERSKYN NIE – die eerste opbrengs van die oes behoort aan die Here, d.w.s. die eerste deel van jou inkomste (Eks. 23:19) – vers 20d.
  8. DIE SEWENDE DAG IS ‘N RUSDAG – Of dit nou ploegtyd of oestyd is, jy moet rus op die sewende dag, ter wille van jouself, sowel as ter wille van God – vers 21 (vierde gebod).
  9. VIER DIE ANDER FEESTE – die fees van die weke (later die Loofhuttefees in die somer) en die fees van die insameling (herfs) moet saam met die Paasfees (lente) gevier word. Dit sal ‘n beslissende effek op hulle lang verblyf in die land hê.  Ander volke se aptyt vir hulle land sal verdwyn weens hulle besef van God se teenwoordigheid daar – vers 22-24.
  10. VIER DIE PAASFEES OP DIE REGTE MANIER – dit sluit in dat die bloed en die suurdeeg nie naby mekaar mag kom nie, en dat die oorblyfsel van die paasoffer verbrand moet word – vers 25.
  11. OFFER DIE EERSTE VRUGTE VAN JOU OES – die keur van jou opbrengs behoort aan die Here en moet na sy huis gebring word – vers 26a.
  12. JY MAG NIE ‘N BOKLAM IN SY MA SE MELK KOOK NIE – waaruit die Joodse kosjer wette waarin vleis- en melk produkte altyd apart hanteer is, voortgevloei het (lees meer in my bydrae oor Eks. 23) – vers 26b.

Op hierdie twaalf gebooie – saam met die Tien Gebooie en die Verbondsboek se riglyne – berus die hernuwing van die verbond tussen God en Moses, sowel as met Israel deur Moses se bemiddeling.

Moses word verheerlik in die teenwoordigheid van die Here – Eks. 34:28-35

Moses se gesig het in die teenwoordigheid van die Here begin blink van die heerlikheid van die Here waaraan hy blootgestel is.  Dit het selfs gebeur ná hy van die berg af gekom het en in die tent van ontmoeting (later die tabernakel) met God gepraat het.  Dit wys net hoe God se heerlikheid ‘n mens verander, soos Paulus ook later skryf in 2 Korintiërs 3, iets waaraan elke kind van God in die nuwe bedeling deel het.  Lees meer in my bydrae daaroor: 2 Korintiërs 2:12-3:18 – Ons raak God se woorde aan die wêreld.

View all posts in this series

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

  • Beste Chris

    Genesis 32 -34 en die kruisiging
    Ek lees Eksodus tans, maar wanneer ek die kalf storie en Moses se intrede lees voel ek altyd pyn en skuld. Dis net onverklaarbaar dat mense so ondankbaar en onvervuld kan wees na so baie seen en liefde reeds ontvang.
    Dan weet ek altyd: “Ek/ons is afstammelinge en ook Israel. Hoe hulle opgtree en oortree het, doen ek/ons vandag nog. Ons het al die beloftes van God en Sy teenwoordigheid, tog dink ons steeds ons kan alleen.
    Ek kan baie skryf maar wil 2 voorbeelde noem;
    1. Tegnologie is wonderlik, maar is die goue kalf in ons lewens. Ons aanbid sosiale media en ander ipv om God se goedhied en grootheid in ons lewens te erken en dankie voor te se. Kyk net na die naaktheid van vrouens(film, sangeresse…) veral op die internet wat glo dis hulle reg om dit wat in die slaapkamer hoort aan die wereld te wys, want hulle is mos “gode.”
    2. Elke sonde wat ek doen, leuen vertel, skinder, steel ea is ‘n spyker wat ek in Jesus se hande kap.
    Ons moet ophou praat van Israel en sien hoe ons dieselfde foute maak en in baie opsigte wreder en meer ongenaakbaar is met wat ons se en doen as sogenaamde bevrydes wat neersien op die swakheid van gelowiges in die Bybel.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: