Skip to main content

Eksodus 12:43-13:16 – Deur viering en toewyding word die herinnering aan bevryding lewend gehou

Soos dit reeds in die vorige twee verse duidelik geword het, is hier ‘n redakteur aan die werk wat twee sleutelopdragte van die Here aan Moses en Aäron neerpen.  Aan die een kant word verdere voorskrifte in verband met die Paasfees gegee wat fokus op die wat en die hoe van die Paasfees. (Eks. 12:43-50).  Aan die ander kant word voorskrifte oor die eersgeborenes van Israel gegee teen die agtergrond van die tiende plaag wat die eersgeborenes van Egipte getref het (Eks. 13:1-16).

Die twee gebruike sou die kardinale identiteitsvormende aard van beide die Paasfees en die tiende plaag op die Godsvolk bevestig.  Deur die finale verlossing uit Egipte het hulle nou dubbel en dwars aan die Here behoort.  Hulle sou dié verbintenis herdenk en hernuwe deur die viering van elke Paasfees sowel as deur die gereelde toewyding van hulle eersgeborenes en die offer van hulle ander eerstelinge.

Die voorskrifte vir die viering van die Paasfees – 12:43-50

Die reëlings rondom die deelnemers aan die Paasfees was helder en duidelik.  Geen nie-Israeliet mag van die Paasfees geëet het nie.  Dit sou die geestelike betekenis van die bevryding uit Egipte verloën.  Dit het vir almal gegeld.

Dit is egter ook duidelik dat daar van die begin af uitsonderings was op die reël.  Die slawe van die Israeliete wat besny is, kon aan die Paasfees deelneem, maak nie saak van watter nasie hulle afkomstig was nie.  Jy kon as vreemdeling ook te enige tyd deel word van die Godsvolk deur die roete van die besnydenis waarna jy as ‘n “gebore Israeliet” gereken is.

Dit is die bepalings wat van die begin af sou geld vir alle mense.  Almal moes besny word om deel van die Paasfees te wees.  Die normale gebore Israeliet, die slaaf in die huishouding, sowel as die vreemdeling wat hom met die volk assosieer.

Dit verklaar hoekom iemand soos Rut wat ‘n Moabiet was, ingesluit is by die Godsvolk, omdat sy haar lojaliteite aan haar Moabitiese afkoms en gode afgesweer het en “boots and all” deel van die Godsvolk geword het.  Hoe mooi verklaar sy dit nie aan Naomi, haar Joodse skoonma, nie: “u volk is my volk; u God is my God.” (Rut. 1:16).

Vir dié wat ‘n verbintenis met óf die Moabitiese volk óf hulle gode bly handhaaf het, was dit egter uiteraard onmoontlik om deel van die Godsvolk te word, soos Deut. 23:3 gereël het en waarvan ‘n mens ook in Nehemia 13 lees.

Almal was ook verplig om die Paasfees te vier.  Daarom moes daar vir elke huis ‘n paaslam geslag word.  Dit het die betekenis gedra dat die bevryding wat God gebring het vir almal bedoel was.

‘n Interessante byvoeging by die oorspronklike reëlings rondom die paaslam was dat daar nie ‘n been van die lam gebreek moes word nie.  Dit laat ‘n mens dink aan die beskrywing van God se sorg vir die regverdige wat om hulp na Hom roep, waarvan Dawid in die Psalms praat: “Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal.  Die Here sorg vir die hele liggaam van die regverdige: geen been word gebreek nie.” (Ps. 34:20-21).

En ons ken die perspektief van Johannes wat oor die kruisdood van die Here Jesus geskryf het nadat hy gesien het dat die soldate nie Jesus se bene gebreek het nie.  Hy sê: “Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: ‘Geen been van Hom sal gebreek word nie.’” (Joh. 19:36).  Daarmee verwys hy na God se sorg vir die regverdige in Psalm 34 en in die verlengde daarvan na God se bevryding van sy mense in Eksodus 12.

Daarmee is die lyn van die Paasfees in Egipte en die reëlings rondom die paaslam direk getrek na die vervulling in die Paaslam aan die kruis.  Op dieselfde wyse waarop God die Godsvolk uit die slawerny van Egipte verlos het deur die bloed van die paaslam, só het God die gelowiges van die NT tyd uit die slawerny van die sonde verlos deur die bloed van die Paaslam.

Die toewyding van die Eersgeborenes aan die Here – 13:1-16

Maar die wonder van die Paasfees en die bevryding waarmee dit elke komende geslag sou opgewonde maak, het ook ‘n verpligting op die volk gelê.  In ruil vir God se beskerming van Israel se eersgeborenes tydens die tiende plaag in Egipte, moes elke manlike eersgeborene aan die Here toegewy, en elke dierlike eersteling, aan die Here geoffer word.

Hulle sou ‘n teken wees dat die hele Godsvolk aan God behoort.  Hy het hierdie Godsvolk tot stand geroep in Abraham.  Hy het hulle gered deur Moses.  Hulle was dubbeld syne.

Hieraan het Moses die reëlings van die ongesuurde brood gekoppel wat met die Paasfees verband gehou het.  Maar sy visie was nou gerig op die beloofde land waarheen die Here hulle sou begelei, die land wat Hy met ‘n eed aan die voorvaders beloof het.  Die jaarlikse Paasfees in die beloofde land sou die wyse wees waarop hulle hulle dankbaarheid en toewyding aan die Here sou betuig, tesame met die toewyding van die manlike eersgeborenes en die offer van die manlike eerstelinge uit hulle vee.

Interessant genoeg moes die donkies se eerstelinge met ‘n skaap losgekoop word, waarskynlik omdat ‘n donkie baie meer werd was as ‘n skaap en die Here nie wou hê dat hulle ekonomies gestraf word deur die offers wat hulle moes bring nie.  Dieselfde het hulle eersgebore seuns gegeld.  Hulle is losgekoop om hulle almal te herinner aan die groot genade wat die Here aan hulle bewys het in Egipte om hulle uit hulle ellende te bevry.

Soos John Durham dit opsom:

All that is set forth here is to the single end that those who are to come may know the exodus, by taste and by feel, by cost and by result, as an experience of their own as equally as an experience of their fathers. And so they await the time, then taste the bread and give Yahweh his due, explain it all to the ones who must remember to those after them, and thus experience the freedom to glorify Yahweh in service that is their heritage.” (Exodus, Word kommentaar).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.