Skip to main content

Eksodus 12:43-13:16 – Deur viering en toewyding word die herinnering aan bevryding lewend gehou

Soos dit reeds in die vorige twee verse duidelik geword het, is hier ‘n redakteur aan die werk wat twee sleutelopdragte van die Here aan Moses en Aäron neerpen.  Aan die een kant word verdere voorskrifte in verband met die Paasfees gegee wat fokus op die wat en die hoe van die Paasfees. (Eks. 12:43-50).  Aan die ander kant word voorskrifte oor die eersgeborenes van Israel gegee teen die agtergrond van die tiende plaag wat die eersgeborenes van Egipte getref het (Eks. 13:1-16).

Die twee gebruike sou die kardinale identiteitsvormende aard van beide die Paasfees en die tiende plaag op die Godsvolk bevestig.  Deur die finale verlossing uit Egipte het hulle nou dubbel en dwars aan die Here behoort.  Hulle sou dié verbintenis herdenk en hernuwe deur die viering van elke Paasfees sowel as deur die gereelde toewyding van hulle eersgeborenes en die offer van hulle ander eerstelinge.

Die voorskrifte vir die viering van die Paasfees – 12:43-50

Die reëlings rondom die deelnemers aan die Paasfees was helder en duidelik.  Geen nie-Israeliet mag van die Paasfees geëet het nie.  Dit sou die geestelike betekenis van die bevryding uit Egipte verloën.  Dit het vir almal gegeld.

Dit is egter ook duidelik dat daar van die begin af uitsonderings was op die reël.  Die slawe van die Israeliete wat besny is, kon aan die Paasfees deelneem, maak nie saak van watter nasie hulle afkomstig was nie.  Jy kon as vreemdeling ook te enige tyd deel word van die Godsvolk deur die roete van die besnydenis waarna jy as ‘n “gebore Israeliet” gereken is.

Dit is die bepalings wat van die begin af sou geld vir alle mense.  Almal moes besny word om deel van die Paasfees te wees.  Die normale gebore Israeliet, die slaaf in die huishouding, sowel as die vreemdeling wat hom met die volk assosieer.

Dit verklaar hoekom iemand soos Rut wat ‘n Moabiet was, ingesluit is by die Godsvolk, omdat sy haar lojaliteite aan haar Moabitiese afkoms en gode afgesweer het en “boots and all” deel van die Godsvolk geword het.  Hoe mooi verklaar sy dit nie aan Naomi, haar Joodse skoonma, nie: “u volk is my volk; u God is my God.” (Rut. 1:16).

Vir dié wat ‘n verbintenis met óf die Moabitiese volk óf hulle gode bly handhaaf het, was dit egter uiteraard onmoontlik om deel van die Godsvolk te word, soos Deut. 23:3 gereël het en waarvan ‘n mens ook in Nehemia 13 lees.

Almal was ook verplig om die Paasfees te vier.  Daarom moes daar vir elke huis ‘n paaslam geslag word.  Dit het die betekenis gedra dat die bevryding wat God gebring het vir almal bedoel was.

‘n Interessante byvoeging by die oorspronklike reëlings rondom die paaslam was dat daar nie ‘n been van die lam gebreek moes word nie.  Dit laat ‘n mens dink aan die beskrywing van God se sorg vir die regverdige wat om hulp na Hom roep, waarvan Dawid in die Psalms praat: “Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal.  Die Here sorg vir die hele liggaam van die regverdige: geen been word gebreek nie.” (Ps. 34:20-21).

En ons ken die perspektief van Johannes wat oor die kruisdood van die Here Jesus geskryf het nadat hy gesien het dat die soldate nie Jesus se bene gebreek het nie.  Hy sê: “Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: ‘Geen been van Hom sal gebreek word nie.’” (Joh. 19:36).  Daarmee verwys hy na God se sorg vir die regverdige in Psalm 34 en in die verlengde daarvan na God se bevryding van sy mense in Eksodus 12.

Daarmee is die lyn van die Paasfees in Egipte en die reëlings rondom die paaslam direk getrek na die vervulling in die Paaslam aan die kruis.  Op dieselfde wyse waarop God die Godsvolk uit die slawerny van Egipte verlos het deur die bloed van die paaslam, só het God die gelowiges van die NT tyd uit die slawerny van die sonde verlos deur die bloed van die Paaslam.

Die toewyding van die Eersgeborenes aan die Here – 13:1-16

Maar die wonder van die Paasfees en die bevryding waarmee dit elke komende geslag sou opgewonde maak, het ook ‘n verpligting op die volk gelê.  In ruil vir God se beskerming van Israel se eersgeborenes tydens die tiende plaag in Egipte, moes elke manlike eersgeborene aan die Here toegewy, en elke dierlike eersteling, aan die Here geoffer word.

Hulle sou ‘n teken wees dat die hele Godsvolk aan God behoort.  Hy het hierdie Godsvolk tot stand geroep in Abraham.  Hy het hulle gered deur Moses.  Hulle was dubbeld syne.

Hieraan het Moses die reëlings van die ongesuurde brood gekoppel wat met die Paasfees verband gehou het.  Maar sy visie was nou gerig op die beloofde land waarheen die Here hulle sou begelei, die land wat Hy met ‘n eed aan die voorvaders beloof het.  Die jaarlikse Paasfees in die beloofde land sou die wyse wees waarop hulle hulle dankbaarheid en toewyding aan die Here sou betuig, tesame met die toewyding van die manlike eersgeborenes en die offer van die manlike eerstelinge uit hulle vee.

Interessant genoeg moes die donkies se eerstelinge met ‘n skaap losgekoop word, waarskynlik omdat ‘n donkie baie meer werd was as ‘n skaap en die Here nie wou hê dat hulle ekonomies gestraf word deur die offers wat hulle moes bring nie.  Dieselfde het hulle eersgebore seuns gegeld.  Hulle is losgekoop om hulle almal te herinner aan die groot genade wat die Here aan hulle bewys het in Egipte om hulle uit hulle ellende te bevry.

Soos John Durham dit opsom:

All that is set forth here is to the single end that those who are to come may know the exodus, by taste and by feel, by cost and by result, as an experience of their own as equally as an experience of their fathers. And so they await the time, then taste the bread and give Yahweh his due, explain it all to the ones who must remember to those after them, and thus experience the freedom to glorify Yahweh in service that is their heritage.” (Exodus, Word kommentaar).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar