Skip to main content

Eksodus 10:1-27 – Die plae illustreer God se seën of straf vir dié wat Hom gehoorsaam of teenstaan

Hoofstuk 10 fokus op twee plae, die agste plaag van sprinkane en die negende plaag van drie dae duisternis.  Die boodskap wat al hoe duideliker na vore kom, is dat Jahwe se hand in farao se onversetlikheid noodsaaklik was om ‘n helder boodskap aan die nageslag te gee dat Jahwe die God van wonders is.

Die wondertekens bevestig dat Hy die Here is, en niemand anders nie.  Daarmee word ‘n boodskap nie net vir die Godsvolk van alle tye gestuur nie, maar ook aan alle nasies.  Jahwe seën of straf dié wat Hom gehoorsaam of teenstaan, soos die plae in Egipte onomwonde illustreer.

Agste plaag: sprinkane

Moses en Aäron het toe die farao gaan aanspreek oor sy weiering om die volk te laat gaan.  Indien hy sou volhard daarin sou die volgende plaag hom en sy land tref, ‘n sprinkaanplaag.  Daarmee is hulle weg om te wag vir die plaag die volgende dag.

Farao se amptenare het hom egter begin smeek om die volk te laat gaan, maar was halfhartig in hulle voorstelle deur net van die mans te praat.  Hulle was egter baie bewus van die feit dat Egipte besig wa om te gronde te gaan.

Farao luister egter daarna en probeer om Moses en Aäron te oortuig met die halfgebakte voorstel waarna hy hulle met minagting van hom af wegjaag.  Nie ‘n wyse optrede nie, sou ‘n mens onmiddellik wou sê.  Hy misreken hom telkens met die erns van die situasie.

Die resultaat was voorspelbaar.  Die Here het sy voorneme begin uitvoer deur die plaag van sprinkane uit die ooste wat elke groen sprietjie opgevreet het wat van die hael oorgebly het.  Egipte was op sy knieë ekonomies gesproke.  Daar was só baie sprinkane dat dit eintlik donker was, ‘n voorloper van die plaag wat nog sou kom.

Let op hoe haastig farao op dié ramp reageer en die roerende pleidooi om vergifnis: “Ek het verkeerd gedoen teen julle God, die Here, en teen julle! Vergeef tog asseblief net hierdie keer my oortreding! Bid tot julle God, die Here, dat Hy hierdie dood afweer van my af.

Moses het gehoor gegee deur die wind wes te laat waai sodat die sprinkane in die Rietsee sou verdrink.  ‘n Gebedsverhoring weliswaar, maar met ‘n onheilspellende betekenis as ‘n mens die latere gebeure by die Rietsee in gedagte hou.  Farao en sy manskappe sou ook daar omkom.

Farao se inkeer was egter van korte duur.  Die Here het hom steeds koppig gemaak, sodat die volgende plaag ook in werking kon tree.  En hy het nie geweet wat hy vra met sy versoek dat die Here die dood afweer van hom af nie …

Negende plaag: duisternis

Sonder enige aankondiging laat die Here Moses sy hand in die lug steek sodat dit só donker raak in Egipte dat ‘n mens dit kon voel.  Vir drie dae was dit donker in Egipte.  Net by die Israeliete was daar lig.

Farao se arm is hierdie keer gedraai dat hy instem dat almal kan trek, behalwe hulle vee.  Dit sou egter nie genoeg wees nie. Vandaar die laaste plaag wat alle weerstand sou laat verkrummel.

Die plae illustreer God se seën of straf vir dié wat Hom gehoorsaam of teenstaan

Die plae wat tot dusver aan die orde gekom het, onderstreep eintlik al hoe helderder dat die Israeliete God se uitverkore volk was.  Dit raak duidelik dat Hy nie sou rus voor die verlossing en seën wat Hy vir hulle beplan het, in die werklikheid van hulle gemeenskapslewe sou realiseer nie.  Want, Hy is hulle God, soos hoofstuk 10 verder onderstreep.

Hierdie wondertekens sou ‘n onuitwisbare indruk maak op die korporatiewe geheue van Israel vir die eeue wat sou kom.

  • In die liturgie sou Psalm 105 (die eerste vyftien verse word ook in 1 Kronieke 16 herhaal) die herinnering aan die groot dade van God vir die gemeente lewend hou – ook as boodskap aan die nasies. Die liturgie het dus ‘n identiteitsvormende en motiverende karakter gehad aan die hand van die plae in Egipte.
  • Interessant genoeg sou Psalm 78 egter ook worstel met die raaisel van onbestendigheid weens die weiering van ouers ná die Intog om die verhale van die Eksodus vir hulle kinders en kleinkinders lewend te hou. Die liturgie het dus ook ‘n teregwysende en aanmoedigende karakter gehad aan die hand van die plae in Egipte.

Die doel van hierdie herinnering is dat gelowiges herinner sou word dat hierdie God dieselfde sal doen vir enigiemand wat Hom ernstig neem en hulle op sy troue liefde verlaat.  Die teendeel is natuurlik ook waar, want sy verlossing is inderdaad ‘n verlossende oordeel.  Dié wat Hom gehoorsaam, deel in sy seën.  Dié wat Hom teenstaan, deel in sy straf.

Die boodskap het selfs betekenis gehad vir dié nasies wat hulle aan die verkeerde kant van die impak van die verlossing en vestiging van Israel bevind het, bv. Egipte en die nasies van Kanaän.  Daarom lees ons dat Jetro by die Israeliete aansluit in hulle aanbidding van Jahwe (Eks. 18).  Met die Intog lees ons dat die boodskap van die magtige wondertekens in Egipte die Israeliete vooruitgegaan het en Ragab (Jos. 2) oorreed om nie net die spioene te help nie, maar deel van die volk te word.  Sy word daarmee op die koop toe deel van die geslag van Juda waaruit die Messias uiteindelik gebore sou word.

Die nasies is dus direk geïmpakteer deur dié boodskap.  Sommige het die boodskap ter harte geneem en deel van die Godsvolk geword.  Ander het in opstand gekom daarteen soos ons lees van die Filistyne wat hulle geveg teen die Israeliete van Samuel se tyd mik op die: “geweldige God … deur wie die Egiptenaars in die woestyn getref is met allerhande plae.” (1 Sam. 4:8).  Hulle steel op die koop toe die ark van God.  Maar, hulle het hulle egter misreken, want die Here tref hulle met swere en pessiekte amper op identiese manier as wat Hy dit hier in Egipte gedoen het (1 Sam. 5).

Die boodskap van die plae in Egipte het dus ‘n blywende boodskap vir beide die Godsvolk en die ander nasies gehad het.  Die wrede werklikheid is dat enige opstand teen God op die lange duur destruktief is.  Daarteenoor is die wonderlike waarheid dat waar met God gewaag word, selfs in moeilike omstandighede, word jy ingetrek in ’n verhouding waarin Hy sy verbond met jou sluit om jou te verlos, versorg en te vestig.

Daarop kan jy staatmaak.  En as dié waarheid vir jou oopgaan, sal jy ook geen probleem hê om sy voorskrifte na te kom nie, soos dit later in Eksodus 20-24 en in die boek Levitikus uitgespel sal word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda