Eksodus 10:1-27 – Die plae illustreer God se seën of straf vir dié wat Hom gehoorsaam of teenstaan

Hoofstuk 10 fokus op twee plae, die agste plaag van sprinkane en die negende plaag van drie dae duisternis.  Die boodskap wat al hoe duideliker na vore kom, is dat Jahwe se hand in farao se onversetlikheid noodsaaklik was om ‘n helder boodskap aan die nageslag te gee dat Jahwe die God van wonders is.

Die wondertekens bevestig dat Hy die Here is, en niemand anders nie.  Daarmee word ‘n boodskap nie net vir die Godsvolk van alle tye gestuur nie, maar ook aan alle nasies.  Jahwe seën of straf dié wat Hom gehoorsaam of teenstaan, soos die plae in Egipte onomwonde illustreer.

Agste plaag: sprinkane

Moses en Aäron het toe die farao gaan aanspreek oor sy weiering om die volk te laat gaan.  Indien hy sou volhard daarin sou die volgende plaag hom en sy land tref, ‘n sprinkaanplaag.  Daarmee is hulle weg om te wag vir die plaag die volgende dag.

Farao se amptenare het hom egter begin smeek om die volk te laat gaan, maar was halfhartig in hulle voorstelle deur net van die mans te praat.  Hulle was egter baie bewus van die feit dat Egipte besig wa om te gronde te gaan.

Farao luister egter daarna en probeer om Moses en Aäron te oortuig met die halfgebakte voorstel waarna hy hulle met minagting van hom af wegjaag.  Nie ‘n wyse optrede nie, sou ‘n mens onmiddellik wou sê.  Hy misreken hom telkens met die erns van die situasie.

Die resultaat was voorspelbaar.  Die Here het sy voorneme begin uitvoer deur die plaag van sprinkane uit die ooste wat elke groen sprietjie opgevreet het wat van die hael oorgebly het.  Egipte was op sy knieë ekonomies gesproke.  Daar was só baie sprinkane dat dit eintlik donker was, ‘n voorloper van die plaag wat nog sou kom.

Let op hoe haastig farao op dié ramp reageer en die roerende pleidooi om vergifnis: “Ek het verkeerd gedoen teen julle God, die Here, en teen julle! Vergeef tog asseblief net hierdie keer my oortreding! Bid tot julle God, die Here, dat Hy hierdie dood afweer van my af.

Moses het gehoor gegee deur die wind wes te laat waai sodat die sprinkane in die Rietsee sou verdrink.  ‘n Gebedsverhoring weliswaar, maar met ‘n onheilspellende betekenis as ‘n mens die latere gebeure by die Rietsee in gedagte hou.  Farao en sy manskappe sou ook daar omkom.

Farao se inkeer was egter van korte duur.  Die Here het hom steeds koppig gemaak, sodat die volgende plaag ook in werking kon tree.  En hy het nie geweet wat hy vra met sy versoek dat die Here die dood afweer van hom af nie …

Negende plaag: duisternis

Sonder enige aankondiging laat die Here Moses sy hand in die lug steek sodat dit só donker raak in Egipte dat ‘n mens dit kon voel.  Vir drie dae was dit donker in Egipte.  Net by die Israeliete was daar lig.

Farao se arm is hierdie keer gedraai dat hy instem dat almal kan trek, behalwe hulle vee.  Dit sou egter nie genoeg wees nie. Vandaar die laaste plaag wat alle weerstand sou laat verkrummel.

Die plae illustreer God se seën of straf vir dié wat Hom gehoorsaam of teenstaan

Die plae wat tot dusver aan die orde gekom het, onderstreep eintlik al hoe helderder dat die Israeliete God se uitverkore volk was.  Dit raak duidelik dat Hy nie sou rus voor die verlossing en seën wat Hy vir hulle beplan het, in die werklikheid van hulle gemeenskapslewe sou realiseer nie.  Want, Hy is hulle God, soos hoofstuk 10 verder onderstreep.

Hierdie wondertekens sou ‘n onuitwisbare indruk maak op die korporatiewe geheue van Israel vir die eeue wat sou kom.

  • In die liturgie sou Psalm 105 (die eerste vyftien verse word ook in 1 Kronieke 16 herhaal) die herinnering aan die groot dade van God vir die gemeente lewend hou – ook as boodskap aan die nasies. Die liturgie het dus ‘n identiteitsvormende en motiverende karakter gehad aan die hand van die plae in Egipte.
  • Interessant genoeg sou Psalm 78 egter ook worstel met die raaisel van onbestendigheid weens die weiering van ouers ná die Intog om die verhale van die Eksodus vir hulle kinders en kleinkinders lewend te hou. Die liturgie het dus ook ‘n teregwysende en aanmoedigende karakter gehad aan die hand van die plae in Egipte.

Die doel van hierdie herinnering is dat gelowiges herinner sou word dat hierdie God dieselfde sal doen vir enigiemand wat Hom ernstig neem en hulle op sy troue liefde verlaat.  Die teendeel is natuurlik ook waar, want sy verlossing is inderdaad ‘n verlossende oordeel.  Dié wat Hom gehoorsaam, deel in sy seën.  Dié wat Hom teenstaan, deel in sy straf.

Die boodskap het selfs betekenis gehad vir dié nasies wat hulle aan die verkeerde kant van die impak van die verlossing en vestiging van Israel bevind het, bv. Egipte en die nasies van Kanaän.  Daarom lees ons dat Jetro by die Israeliete aansluit in hulle aanbidding van Jahwe (Eks. 18).  Met die Intog lees ons dat die boodskap van die magtige wondertekens in Egipte die Israeliete vooruitgegaan het en Ragab (Jos. 2) oorreed om nie net die spioene te help nie, maar deel van die volk te word.  Sy word daarmee op die koop toe deel van die geslag van Juda waaruit die Messias uiteindelik gebore sou word.

Die nasies is dus direk geïmpakteer deur dié boodskap.  Sommige het die boodskap ter harte geneem en deel van die Godsvolk geword.  Ander het in opstand gekom daarteen soos ons lees van die Filistyne wat hulle geveg teen die Israeliete van Samuel se tyd mik op die: “geweldige God … deur wie die Egiptenaars in die woestyn getref is met allerhande plae.” (1 Sam. 4:8).  Hulle steel op die koop toe die ark van God.  Maar, hulle het hulle egter misreken, want die Here tref hulle met swere en pessiekte amper op identiese manier as wat Hy dit hier in Egipte gedoen het (1 Sam. 5).

Die boodskap van die plae in Egipte het dus ‘n blywende boodskap vir beide die Godsvolk en die ander nasies gehad het.  Die wrede werklikheid is dat enige opstand teen God op die lange duur destruktief is.  Daarteenoor is die wonderlike waarheid dat waar met God gewaag word, selfs in moeilike omstandighede, word jy ingetrek in ’n verhouding waarin Hy sy verbond met jou sluit om jou te verlos, versorg en te vestig.

Daarop kan jy staatmaak.  En as dié waarheid vir jou oopgaan, sal jy ook geen probleem hê om sy voorskrifte na te kom nie, soos dit later in Eksodus 20-24 en in die boek Levitikus uitgespel sal word.

View all posts in this series

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
%d bloggers like this: