Skip to main content

Eksodus 4:18-31 – Die oudstes reageer in geloof en aanbidding op Moses en Aäron se boodskap

Moses se terugkeer na Egipte om sy roeping uit te voer, gebeur in vyf kort episodes.  In die eerste plek aanvaar Moses die roeping en vra sy skoonpa se verlof om na Egipte terug te keer – vers 19.  In die tweede plek herhaal die Here sy opdrag aan Moses en gee ‘n kort sinopsis van wat in Egipte sou gebeur – vers 20-23.  In die derde plek lees ons die vreemde verhaal van die Here wat Moses (of Gersom)  wou doodmaak – vers 24-26.  In die vierde plek lees ons van Aäron wat geroep word om Moses te ondersteun – vers 27-28.  In die vyfde plek lees ons van die leiers (oudstes) wat in geloof en aanbidding reageer op Moses se boodskap – vers 29-31.

Moses aanvaar die roeping en vra sy skoonpa verlof om na Egipte terug te keer – vers 19

Dié optrede van Moses is belangrik om twee redes.  In die eerste plek sê dit onomwonde dat hy die roeping wat die Here hom gegee het, aanvaar.  Die verwerkliking van ‘n roeping begin altyd met die eerste tree.  In die tweede plek behou Moses goeie verhoudinge met sy skoonpa, iets wat waarskynlik bygedra het daartoe dat van hierdie Kenitiese deel van die Midianiete die trek Kanaän toe saam met die Israeliete aangedurf het.

Die Here herhaal sy opdrag aan Moses en gee ‘n kort sinopsis wat in Egipte sou gebeur – vers 20-23

Die Here lig die sluier oor die rede hoekom die tyd ryp geraak het vir die Uittog uit Egipte om ‘n aanvang te nee.  Die mense wat Moses se lewe gesoek het weens sy moord op ‘n Egiptenaar, sou nie meer vir Moses ‘n bedreiging wees nie.  Die lang tyd in Midian het dus nou sy einde bereik.

Terwyl Moses begin het om sy vrou Sippora en sy twee seuns – Gersom (Eks. 2:2) en Eliëser (Eks. 18:4) – op ‘n donkie te laai na Egipte toe, het die Here Moses verdere opdragte gegee, dinge wat eintlik ‘n sinopsis is van wat in Egipte sou gebeur.

Moses moes toesien dat al die tekens uitgevoer word wat die Here hom gegee het.  Maar die Here is ook duidelik daaroor dat farao nie sal luister nie. Dit is aan die een kant duidelik dat die Here hierin ‘n rol speel: “Ek sal sy hart verhard” (Eks. 4:21; 10:20,27; 11:10; 14:4).  Só lees ons ook op ander plekke in die Bybel onder andere by Paulus in die NT: “Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.” (Rom. 9:18).

Trouens, die rede vir hierdie verharding en hardkoppigheid is sodat die Here: “hierdie wonders van My onder hulle kan doen” (Eks. 10:1).  Hy wil hê dat dit deel van die getuienis van Israel aan hulle kinders en kleinkinders sal word.  Dit sal hulle almal laat besef dat: “Ek die Here is” (Eks. 10:2).

Aan die ander kant is dit egter ook duidelik dat farao self koppig bly (Eks. 7:13; 9:12).  Sy koppigheid spruit onder andere uit die feit dat sy eie mense ook dieselfde wonderwerke as Moses en Aäron kon doen (Eks. 7:22).  Hy volhard egter in sy koppigheid selfs as sy towenaars vir hom na die derde plaag (muggies) begin sê dat dié plae “die vinger van God” is (Eks. 8:19).  Hy het dus ook sy eie hart verhard, soos ook die amptenare in sy paleis (Eks. 9:35).

Die verharding wat God dus oor farao bring en farao se eie verantwoordelikheid in die verharding van sy hart is onlosmaaklik verbonde aan mekaar.  Farao weier om te buig voor die boodskap en wondertekens van God wat bedoel is om die volk van hulle slawerny te verlos.  Selfs waar sy eie mense hom waarsku dat hier ‘n goddelike wese aan die werk is, weier hy om bes te gee. Selfs wanneer hy uiteindelik die Israeliete laat trek met die dood van sy eersgeborene, is sy hartsverandering van korte duur, en agtervolg hy binne dae die Israeliete om sy besluit te probeer omkeer.

In ‘n duidelike sinspeling op en vooruitskou van die tiende plaag (die dood van die eersgeborenes) trek die Here die verband tussen Sy liefde vir sy eersgeborene, Israel, en die feit dat farao God dwarsboom om vir hulle goed te wees.  Dit sal farao suur bekom deurdat sy eie eersgeborene om die lewe gebring sal word.

Die Here wil Moses doodmaak omdat sy seun nie besny is nie – vers 24-26

Ons lees hier die uiters vreemde verhaal van die Here wat op die pad na Egipte by Moses gekom het en Moses (of Gersom) wou doodmaak. Omdat daar in die Hebreeuse teks net voornaamwoorde gebruik word in hierdie drie verse – anders as wat jy moontlik in sommige vertalings sal lees (OAV is korrek) – kan dit daarom egter ook op Gersom, Moses se seun, dui.

D.w.s. ‘n mens kan die teks ook só lees dat die Here Gersom wou doodmaak.  Die rede is egter presies dieselfde.  Die onverbiddelike optrede van die Here word gewyt aan die feit dat Gersom nie besny was nie.  Óf Moses, óf Gersom moes dit ontgeld.

Hoe dit ook al sy, Sippora het onmiddelik ingegryp, haar seun se voorhuid in ‘n besnydenis ritueel afgesny, en daarmee aan Moses se geslagsdele geraak het (die eufemisme “voete” word gebruik).  Sy verklaar (letterlik): “Jy is vir my ‘n bruidegom van bloed”, met verwysing na die besnydenis.

Dit verkondig aan ons dat die besnydenis ‘n fundamentele vereiste vir die volk van God was.  ‘n Mens lees immers later dat die Israeliete in die woestyn laks geraak het met die besnydenis en dat hulle vóór die Intog in die beloofde land eers ‘n volkswye besnydenis – ook met klipmesse van vuurklip – by Gilgal gehou het (Jos. 5).

Ander geleerdes interpreteer egter dié gebeure as ‘n versoening wat vir Moses gedoen word weens die vroeëre moord op die Egiptenaar.  Hulle reken dat ten spyte van die feit dat God hom uitgekies het om die volk uit Egipte uit te lei, hy eers die skuld wat hy steeds dra weens die onregmatige dood van ‘n Egiptenaar, moet uitsorteer.

Die idee dat bloed skuld kan versoen – die skuld kan wegwas – is iets wat uiteraard wydverspreid in die Bybel voorkom, beide in die wet (die bloed van ‘n offerdier as versoening – Eks. 30:10) as in die kruisdood van die Here Jesus Christus (Mark. 14:24; Matt. 26:28; Rom. 3:25; Kol. 1:20; verskeie kere in Hebr. 9-13; 1 Pet. 1:19; 1 Joh. 1:7 en nog baie ander plekke).

Die wet spel ook verder uit dat bloed mense van God se toorn kan beskerm, priesters kan heilig om voor Hom op te tree, en die volk in die verhouding met Hom bestendig.  Vergelyk die bloed van die paaslam vir beskerming (Eks. 12:13), die bloed as heiliging (Eks. 29:21) en die bloed as teken van die verbond (Eks. 24:8).

Die Here roep Aäron om Moses te ondersteun – vers 27-28

Die Here kom sy voorneme na om Aäron as ondersteuning en woordvoerder – hy was drie jaar ouer – te roep en reël dat hulle by die berg van die Here ontmoet, ‘n betekenisvolle bevestiging dat die Here se roeping van Aäron net so fundamenteel was in die ontvouende proses van die Uittog.

Let op hoe die woorde sowel as die tekens van God beklemtoon word in Moses se oordrag van die opdrag wat hy gekry het.  Dit sou die patroon hierna bly van die wyse waarop God kommunikeer.  Aan die een kant sou Hy met verstaanbare opdragte werk wat uiteindelik neergeskryf is in die Bybelboeke wat deel van die kanon geword het.  Aan die ander sou Hy met wondertekens sy bestaan en gesag onderstreep as getuienis vir die nageslag.

Die leiers (oudstes) reageer in geloof en aanbidding op Moses en Aäron se boodskap – vers 29-31

Die woorde en tekens van God word met geloof deur die leiers (oudstes) sowel as die volk ontvang: “en die volk het geglo”.  ‘n Besondere belangrike mededeling wat die feit beklemtoon dat geloof nie net iets was wat die leiers (Abraham, Isak, en Jakob) beoefen het nie, maar iets wat deel van elke lid van die Godsvolk geword het.

Dat die Here hulle ellende raakgesien het en daarop gereageer het, het hulle almal voor Hom laat kniel.  God se optrede het hulle in aanbidding voor Hom gebring, die begin van die proses om uiteindelik die Tora uit God se hand by die berg van God te ontvang, en in die Tabernakel op ‘n deurlopende basis met Hom gemeenskap te hê.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda