Skip to main content

Eksodus 1 – God vermeerder sy volk ten spyte van farao se brutale onderdrukking

Eksodus 1 vertel die begin van die Eksodus aan die hand van twee sleutelgebeure.  Die eerste is die feit dat God die Israeliete uitsonderlik vermeerder het in Egipte sodat hulle ‘n groot volk geword het, ‘n volk wat nou gereed was om die beloofde land nie net te betrek nie, maar te besit – 1:1-7.  Die tweede is die teenstand wat die farao teen God se werk bied deur die vermeerdering van die Israeliete deur slawerny, dwangarbeid en kindermoord te beperk – 1:8-22.

Nie net is dit van die begin af duidelik dat farao nie sal slaag met sy dwase planne nie, maar dat die Here die farao se gewelddadige verdrukking sal gebruik as katalisator om die proses van die Uittog aan die gang te sit.  Verstommend vernuftig!

Die Trek na Israel is op die kaarte reg van die begin van die verhaal van Eksodus af.  Hierna sou die pas versnel om die volk by Sinai te kry waar God sy woorde – die Tora – en sy teenwoordigheid – die Tabernakel – op deurslaggewende wyse aan die hele volk sou gee om hulle verder op hulle pad na Kanaän te begelei. Bevryding kan immers net werk as God se woorde en sy teenwoordigheid die vrygemaaktes se hele wese kan volmaak en hulle totale lewenswyse kan struktureer.

God vermeerder die Israeliete uitsonderlik in Egipte – 1:1-7

Eksodus begin in hoofstuk een om die integrale verband met die verhaal van Genesis duidelik uit te spel.  Die nageslag van Jakob en sy twaalf seuns wat uit Kanaän na Egipte getrek het, word duidelik as die “kinders van Israel”, die Israeliete, geïdentifiseer.  Jakob se nageslag was só vrugbaar in die vier eeue van hulle verblyf daar dat hulle besonderlik vermenigvuldig het.  Die land Gosen in die Nyl-delta was vol van hulle.

Dit was immers die primêre rede vir hierdie tyd in Egipte.  God wou die uitgebreide families van Abraham, Isak en Jakob tot ‘n nasie uitbou sodat hulle as Godsvolk die land van die belofte uiteindelik in besit kon neem.  Egipte was die spreekwoordelike broeikas waar dit ten beste kon gebeur.  Josef het lank terug alreeds Egipte as deel van God se sorg vir dié volk uitgespel: “Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het.” (Gen. 50:20).  Weens God se seën het hulle nou in Egipte ‘n mag geword om mee rekening te hou.

Die twaalf broers word in ‘n ander volgorde as hulle onderskeie geboortes genoem.  Lea en Ragel se eie kinders word eerste genoem.  Hulle slavinne se kinders word laaste genoem.  Eerste aan die beurt is Lea se eerste vier seuns: Ruben, Simeon, Levi en Juda.  Tweede aan die beurt is Lea se laaste twee seuns: Issaskar en Sebulon sowel as Ragel se tweede eie kind: Benjamin.  Derde aan die beurt is Ragel se slavin Bilha se twee kinders: Dan en Naftal sowel as Lea se slavin Silpa se twee kinders: Gad en Aser.  Josef, Ragel se eersteling, word apart genoem om sy belangrike rol in die uitkoms in Egipte te eer.

Die tyd vir die terugkeer na die land van belofte het dus aangebreek.  Die volk het wasdom bereik en was getalgewyse groot genoeg om die volgende fase van God se bedoeling met hulle aan te durf.  Trouens die Hebreeuse woord wat met “vermenigvuldig” vertaal is, word gewoonlik gebruik om die vrugbare vermeerdering van paddas, visse en ander diere aan te dui.  Die vermeerdering was dus uitsonderlik, soos dit net een ander keer vir mense in die OT gebruik word (God se bedoeling vir Noag en sy seuns – Gen. 9:7).

Farao probeer die vermeerdering beperk deur slawerny, dwangarbeid en kindermoord – 1:8-22

Die reaksie van Egipte was eintlik te verstane.  Die herinnering aan die groot rol wat Josef gespeel het, het begin vervaag, juis in die tyd toe die faraos van die Nuwe Koninkryk van Egipte hulle mag begin uitbrei het en die uitdaging van die groterwordende Israelitiese komponent in die land die hoof wou bied.

Die kru, maar voor die handliggende strategie, was om die vermeerdering stop te sit.  Die farao volg drie strategieë om sy vrees te besweer:

  1. Hy probeer deur slawerny en dwangarbeid die mans onderdruk en verneder. Hulle moes die voorraadstede Pitom (vandag Tell er-Retaba, oos van die Nyl delta, 97 km oos-noordoos van Kaïro wat juis in die Nuwe Koninkryk ‘n hoogbloei beleef het) en Rameses (waarskynlik Qantir, in die omgewing van die huidige Tell ed-Dab’a wat ook op ‘n oostelike sytak van die Nyl delta geleë is) bou.  Die strategie het nie gewerk nie al het hulle die lewe op gewelddadige manier baie moeilik gemaak vir die Israeliete.
  2. Hy probeer deur die twee gelowige Hebreeuse vroedvroue, Sifra (“die mooi een”) en Pua (“die een wat lekker ruik”) – waarskynlik verteenwoordigers of leiers van ‘n groter groep vroedvroue – die manlike geslag uitwis deur opdrag te gee dat elke seuntjie wat gebore word, vermoor moet word. Hulle moet kyk vir die “twee klippe” wat ‘n eufemisme is vir die manlike geslagsdele.  Die twee vroedvroue is egter – soos Daniël se drie vriende, Sadrag, Mesag en Abednego (Dan. 3) en Petrus en Johannes in die NT (Hand. 4) – glad nie van plan om die koning te gehoorsaam nie.  Hulle tree uit ontsag vir die Here op en laat die kinders lewe, met ‘n misleidende rapport aan die farao oor die gewaande sterk lewenskrag van die Hebreeuse vroue.  Farao tree nie op teen hulle nie, maar God seën hulle met gesinne van hulle eie.  Hulle geloofsgehoorsaamheid wys watter volk die Here besig is om te bou.  En hulle vernuftige werk het die volk selfs nog meer laat word!
  3. Hy probeer einde ten laaste die Egiptenare opsweep teen die Israeliete deur opdrag te gee dat die “hele volk” pasgebore Israeliese seuns in die Nyl moet verdrink. Dit is onverdunde kindermoord.  Ironies genoeg sal die Egiptenare uiteindelik deur ‘n hele aantal plae wat vanuit die Nylwater chaos vir hulle sou veroorsaak, getref word, en die leër sou sterf in die water van die Rietsee.

Farao se probleem is natuurlik dat hy op ‘n menslike vlak die vermeerdering van die Israeliete raaksien en dink dat hy met sy brutale onderdrukking en gewelddadige behandeling van die Israeliete iets daaraan kan doen.  Waarvan hy egter nog nie bewus is nie, is dat dié vermeerdering aan God se werk onder sy volk te wyte is.  Dit is waarom farao se strategieë nie geslaag het nie.  Nie die slawerny, dwangarbeid of selfs die kindermoord kon God se bedoelinge en beskerming van sy volk in die wiele ry nie.

Niemand kan die geveg met God wen nie.  Dit is wat die boek Eksodus uiteindelik baie helder gaan bevestig.  Selfs nie toe hierdie farao se opvolger later deur Moses deeglik onder die besef gebring is dat hy as farao in wese teen God baklei, het dit enigiets aan die uitkoms van die saak verander nie.  God se planne met sy volk kan nie gedwarsboom word nie.

Dit is waarom die pragtige Psalm 105 – wat eintlik die hele geskiedenis van Israel beskryf – hierdie dade as appèl gebruik om die geloofsgemeenskap op te roep om die Here te loof en Hom aan te roep as ’n getuienis aan die nasies.  Die hele geskiedenis van Israel word in die vier woorde opgesom:

  1. VERBOND: God se belofte van land en nageslag aan die aartsvaders – vers 1–11
  2. VERDRUKKING: Die trek na en verdrukking van die volk in Egipte – vers 12–23
  3. VERLOSSING: Die verlossing van die volk deur die plae in Egipte – vers 24–36
  4. VESTIGING: Die vestiging van die volk deur die Uittog, woestyntyd en Intog terug in die beloofde land – vers 37–45

Dit is dié God wat ons steeds aanbid, die Een wat sy verbond nakom en sy volk uit hulle verdrukking verlos en vestig op dié plek wat Hy vir hulle uitkies.

View all posts in this series

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar