Skip to main content

Eksodus 5 – God beveel farao: Laat my volk gaan!

Ons sien hier die eerste fase van die sogenaamde Heilige Oorlog, God se ingrype in die lewe van sy volk om vir hulle ‘n plek onder die son te verseker, dié land wat Hy aan hulle voorvaders beloof het.  Dit is ‘n oorlog wat uiteraard eers in Kanaän voltooi sal word.  Maar die eerste fase daarvan word aan God se verlossende teenwoordigheid verbind.

Die eerste deel, die verlossing van die Trek uit Egipte, sal deur vier fases verloop voordat die gawe van die Tora (hfst. 15:22-25:40) en die bou van die Tabernakel (hfst. 26:1-40:38) aan die beurt kom:

  1. die konfrontasie met farao en die eerste 9 plae – hfst. 5:1-10:27,
  2. die vervlegting van die tiende plaag en die verhaal van die Paasfees – hfst. 10:28-12:51,
  3. die verhaal van die Trek self wat sy hoogtepunt in die wonderbare oorsteek van die Rietsee bereik – hfst. 13:1-14:31,
  4. die loflied wat Moses, Israel en Mirjam sing ter ere van die verlossing – hfst. 15:1-21.

Moses tree met gesag op

Let op met hoeveel gesag Moses en Aäron optree, presies soos die latere profete: “So sê die Here (Jahwe), die God van Israel.” En hulle vervolg met die frase wat só ‘n inslag in die volksmond gekry het: “Laat my volk gaan …” “Let my people go …

Farao reageer met minagting en swaarder verdrukking

Dié opdrag van die Here deur die mond van sy boodskappers glip egter by farao – waarskynlik Thutmoses III – soos water van ‘n eend se rug af.  Hy het geen plan om dié opdrag te gehoorsaam nie.  Trouens, farao verwys spottenderwys na Jahwe se opdrag om sy volk te laat trek: “Ek ken Jahwe nie.

Dit sou natuurlik nie vir baie lank waar wees nie!  Trouens, ‘n halfeeu later sien ‘n mens ‘n verwysing na Jahwe in die Egiptiese tempel Soleb wat farao Amenhotep III (1390-1352 v.C.) langs die boonste deel van die Nyl in Egipte (Nubië) gebou het. Dit vorm vandag deel van die Soedan.  Daar is ook ‘n kopie van dié inskripsie by die tempel in Amara-Wes, ook in die noorde van Soedan.

Die verwysing is na: “die land van die Shasu van Jahwe”.  Daar is verskil van mening na presies wie die Shasu verwys, hoewel dit duidelik is dat die woord met “nomades” vertaal kan word.  Uit die ander verwysing in Egiptiese bronne na die Shasu is dit verder duidelik dat dit na groepe in die breër gebied van die Midde-Ooste verwys.  Heelwat geleerdes verbind dit dan ook met die Israeliete.  Indien die Shasu na Israeliete verwys, is dit nog ‘n aanduiding dat die laat datering van die Eksodus nie gehandhaaf kan word nie (Justin Kelley oor die “Shasu” in die Lexham Bible Dictionary).

Farao maak egter sy stem dik en maak die las van die Israeliete dieselfde dag nog swaarder.  Hulle sou nou self die strooi vir hulle stene moes voorsien wat hulle met geen vrye tyd sou laat nie.  Sonder strooi sou die stene ook van ‘n baie swakker gehalte wees, want die strooi is ‘n bindmiddel vir die klei waarmee die stene gemaak is.  Soos dit ontbind, gee dit ‘n suur af wat die klei meer plooibaar maak en krake en inkrimping verhoed.  Hulle sou dus moes gehoor gee aan die opdrag van die farao.

Die Israelitiese opsigters kom in opstand teen Moses en Aäron

Die farao wou deur hierdie verskerping van sy gewelddadige verdrukking die las van die Israeliete só swaar maak dat hulle daaronder sou swig en hulle planne vir ‘n Uittog sou laat vaar.  Selfs ‘n poging van die Israelietiese opsigters (die slawedrywers was Egiptenare) wat die volk wou help deur met die farao in gesprek te tree, het misluk en hulle in opstand gebring teenoor Moses en Aäron: “Mag die Here julle straf omdat julle ons naam sleg gemaak het by die farao en sy amptenare en vir hulle ’n swaard in die hand gegee het om ons mee dood te maak.

Die proses van die Uittog het dus op die korttermyn regtig nie gelyk asof dit enige momentum gaan bereik nie.  Die keuse om die Here se leiding te volg, het hulle eintlik in groter moeilikheid gebring.

Moses maak beswaar by die Here en ontvang ‘n verdere versekering dat die Here sal optree

Daarom het Moses weer na die Here gegaan en beswaar gemaak dat die Here nie iets meer konkreet gedoen het om die volk te red nie.  Eintlik, sê Moses, werk U sleg met hierdie volk en maak dit sy roeping ‘n risiko vir die volk omdat dit aanleiding gegee het vir die farao om die volk nog verder te mishandel.

Die Here is egter besig om ‘n situasie voor te berei waar sy oordeel die farao en sy mense só hard gaan tref dat hulle gedwing gaan word om die Godsvolk te laat gaan: “Ja, Ek gaan hom dwing om hulle uit sy land uit weg te jaag.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar