Skip to main content

Eksodus 25 – Rig vir my ‘n heiligdom op dat Ek tussen julle kan woon

Hoofstuk 25-31 vorm ‘n eenheid rondom die instruksies wat die Here op die berg vir Moses gee oor die wyse waarop die tabernakel gebou en benut moet word.  Dit word later opgevolg in hoofstuk 35-40 met die uitvoering van dié instruksies.

Die geheim om die betekenis van dié gedeelte te ontrafel, is om spesifiek te kyk vir die aantal kere wat die Here die doel van hierdie Tabernakel en al die instruksies daar rondom uitspel.  Die oorhoofse doel van die Tabernakel is om ‘n heiligdom vir die Here op te rig dat Hy daar tussen sy mense kan woon.  Die Trek met sy Tora vind sy diepste betekenis in die teenwoordigheid van die Here in die Tabernakel.

Hoewel God dus verborge sou wees agter die tentdoek, sodat sy heiligheid nie soos ‘n vuur die onheiligheid van sy volk sal verteer nie, kon Hy met die nodige reinigingsrituele en offers te enige tyd geraadpleeg word.

Dit gee ‘n mens ‘n nuwe waardering vir die wonderlike werklikheid wat ons in die NT in Jesus Christus te beurt geval het.  Nie net het Jesus gesê: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.” (Joh. 14:23).  Met die koms van die Heilige Gees het ons liggame letterlik ‘n tempel geword waar die Heilige Gees sy intrek geneem het: “Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.” (1 Kor. 6:19-20).

Netsoos die Israeliete het ons dus die woorde van God wat ons ter harte moet neem.  En die opdrag om heilig te lewe sodat ons die wonder van God se teenwoordigheid na waarde kan geniet en Hom met ons hele wese kan verheerlik.

Die instruksies in hoofstuk 25-31 word met die uitvoering daarvan in hoofstuk 35-40 in ‘n effens ander orde en beskrywing aangebied weens die aard van die stof:

  • Hoofstuk 25-31 begin met die opdrag rondom die offergawes vir die bou van die tabernakel en sluit af met die opdrag om die Sabbatdag te onderhou.  Hoofstuk 35-40 begin weer met die klem op die Sabbat wat die uitvoering van God se opdrag inlei en sluit af met die inwyding van die tabernakel en die teenwoordigheid van die Here wat Sy intrek neem daarin.
  • Hoofstuk 25-31 beskryf die instruksies vanaf die sentrum van die tabernakel waar die ark van die verbond sal wees na die voorhof en al die funksionarisse en hulle prosesse. Hoofstuk 35-40 beskryf logieserwys eers die aanwysing van die vakmanne vir die proses sowel as die bou van die tabernakel.
  • Die oprig van die wierookaltaar en die bronswaskom word ook later in hoofstuk 25-31 vertel as in hoofstuk 35-40 wat daar waarskynlik met die logistiek van die bouwerk te make het.
  • Die res van die instruksies en die uitvoering daarvan is min of meer in dieselfde volgorde, behalwe dat die uitvoering van sekere dele van die opdrag eintlik eers in Levitikus en Numeri vertel word.

In wese onderstreep die dubbele aanbieding van die instruksies en die uitvoering daarvan die werklikheid van God se keuse om sy teenwoordigheid by die volk in die tabernakel in te neem.  Dit sou sy mobiele teenwoordigheid op aarde wees totdat Hy in die vaste verkore plek in Jerusalem in die tyd van Salomo sy intrek sou neem.  Die dubbele herhaling van die verstommende fyn detail wys ook op die impak wat dié tradisie in die herinnering aan die Sinai-gebeure in die Eksodus-geheue van die volk ingeneem het wat die egtheid van die tabernakel tradisie bevestig.

Ek gee hier ‘n tabel van die ooreenstemmende gedeeltes in hoofstuk 25-31 en hoofstuk 35-40 om jou te help om sin te maak daarvan:

Die offergawes vir die Tabernakel Eks. 25:1-9 Eks. 35:4-9
Die ark van die verbond Eks. 25:10-22 Eks. 37:1-9
Die tafel vir die offerbrood in God se teenwoordigheid Eks. 25:23-30 Eks. 37:10-16
Die kandelaar Eks. 25:31-40 Eks. 37:17-24
Die tabernakel Eks. 26:1-37 Eks. 36:8-38
Die brandofferaltaar Eks. 27:1-8 Eks. 38:1-7
Die voorhof Eks. 27:9-19 Eks. 38:9-20
Die lampolie offer Eks. 27:20-21 (Lev. 24:1-4)
Die priesters se klere Eks. 28:1-43 Eks. 39:1-31
Die toewyding van Aäron en sy seuns Eks. 29:1-37 (Lev. 8:1-36)
Die daaglikse offers Eks. 29:38-46 (Num. 28:1-8)
Die wierookaltaar Eks. 30:1-10 Eks. 37:25-28
Die versoeningsoffer tydens ‘n sensus Eks. 30:11-16 (Num. 1)
Die bronswaskom Eks. 30:17-21 Eks. 38:8
Die gewyde salfolie en die wierookoffer Eks. 30:22-38 (Num. 4:15-20)
Die vakmanne vir die bou van die tabernakel Eks. 31:1-11 Eks. 35:30-36:1
Die herhaling van die opdrag tot die hou van die Sabbat Eks. 31:12-18 Eks. 35:2-3

Die offergawes vir die Tabernakel – Eks. 25:1-9  

Die instruksies vir die bou van die tabernakel begin met die opdrag om verskeie gewone en kosbare items vir die bou daarvan by die volk in te samel.  Dit moes vrywillig gegee word wat in die grondteks só aangedui word: “Van elkeen wie se hart hom daartoe aanspoor”!

Vrywilligheid is ‘n voorskrif wat regdeur die OT sowel as die NT gegee word, omdat God ingestel was op ‘n gawe wat uit die hart kom.  Vgl. die soortgelyke vrywilligheid wat in die res van die Bybel beklemtoon word: 1 Kron. 29:5-6 met die bou van Salomo se tempel; Esra 1:6 met die bou van die tempel ná die ballingskap; 2 Kor. 9:7-8 met die insameling by die Korinte vir die verligting van armoede in Jerusalem: “Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.

Die gawes het metale ingesluit: goud, silwer en brons.  Dit het materiaal en velle vir klere en die tent van die tabernakel ingesluit.  Dit het doringhout ingesluit vir die bou van die ark van die verbond.  Dit het olie en wierook vir die offers ingesluit, sowel as edelstene vir die skouerkleed en borssak van die hoëpriester.  Die uitvoering daarvan word in Eks. 35:4-9 vertel.  Die doel van die gawes was om ‘n heiligdom vir die Here te bou, soos dit opsommenderwys aan die einde vertel word.

Die ark van die verbond – Eks. 25:10-22

Die instruksies vir die bou van die draagbare ark van die verbond word vervolgens gegee wat uit doringhout gebou en met goud versier moes word.  Binne sou die “getuienis van die verbond” – die kliptafels met die wet – kom wat die duidelike boodskap gee dat alle raad wat God aan die volk sou gee, begrond sou word op die Tien Gebooie.

Bo-op die deksel sou twee gerubs met gespreide vlerke aangebring word wat aan die een kant ‘n simbool van God se heerlike teenwoordigheid was (Eseg. 10:4; Hebr. 9:5), maar aan die ander kant ook ‘n simbool van sy Troon en heerskappy was (1 Sam. 4:4; Ps. 80:2; Jes. 37:16; Eseg. 10:1; vgl. ook Gen. 3:24 waar die gerubs ‘n beskermende funksie in die Paradys beklee het), soos ‘n mens dit in die werklikheid van God se heiligdom in die hemel in Esegiël sou agterkom.  Die gerubs op die verbondsark het dus die hemelse werklikheid ‘n aardse gestalte gegee.

Dáár sal Ek jou ontmoet. Ek sal met jou praat van die deksel af tussen die twee gerubs uit wat op die ark met die getuienis is. Al my bevele vir die Israeliete sal Ek jou van daar af gee.

Die uitvoering van hierdie opdrag word in Eks. 37:1-9 weergegee.

Ek dink ons het ‘n nuwe waardering vir dié simboliek nodig.  God se wil vir die lewe is nie op lukrake uitsprake begrond nie, maar in duidelike rigtinggewende beginsels waaraan Hy nie net vir ons hou nie, maar ook Homself.  Dit is die basis vir die lewe in sy teenwoordigheid.  En ons vind dit in die Tora, en meer spesifiek in die Tien Gebooie.

Jesus het immers in NT dié wet volmaak nagekom, om daarmee vir ons sy geregtigheid as ‘n innerlike gawe te gee (Rom. 5:16), vir elkeen wat in Hom glo (Fil. 3:9), sodat ons van binne af volgens dié wet kan lewe (Rom. 8:10 – AOV) onder leiding van die Heilige Gees wat nou die funksie van die verbondsark in ons lewe oorgeneem het – God se heerlike teenwoordigheid sowel as sy heerskappy in ons lewens.  Dit is waarom dit so belangrik is om die werke van die vlees in ons lewe onder die leiding van die Heilige Gees dood te maak, sodat ons al hoe meer die gestalte van Christus kan aanneem (Rom. 8:13).

Die tafel vir die offerbrood in God se teenwoordigheid – Eks. 25:23-30  

Die draagbare tafel vir die offerbrood is ook van doringhout gemaak wat met goud oorgetrek is en waarop die skottels, panne, kanne en komme van suiwer goud vir die drankoffer geplaas is.  Die feit dat dit só in altyd in God se teenwoordigheid sou wees, sou beteken dat al die offers sy aandag sou geniet en die verhouding met sy mense sou versterk.

Die uitvoering daarvan word in Eks. 37:10-16 gegee.

Die kandelaar – Eks. 25:31-40     

Die instruksies vir die 34 kg goue kandelaar (menora) met sewe arms word vervolgens gegee en in fyn detail vertel.  Deurdat die sewe lampies voortdurend sou brand, het dit die betekenis aan die volk oorgedra dat die Here nie slaap of sluimer nie, maar altyd as hulle Beskermer sou optree (Ps. 121:4).  Die profeet Sagaria sou in sy vyfde gesig ‘n weergawe van dié kandelaar sien waaraan ‘n uitbreiding van die boodskap gekoppel is wat die leiers (die goewerneur Serubbabel saam met die hoëpriester Jesua) opgeroep het om op dié God te vertrou: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.” (Sag. 4:6).

‘n Mens bespeur in die kandelaar ‘n herinnering aan die teenwoordigheid van die Here vroeër in die brandende doringbos (Eks. 3), sowel as ‘n voorafskaduwing van Johannes se visie op Jesus wat sy teenwoordigheid tussen sewe kandelare laat geld waarin dit as ‘n simbool van die sewe gemeentes in Klein-Asië gebruik word.  Die kandelaar in die tabernakel dra dus nie net die boodskap van God se teenwoordigheid as ‘n abstrakte iets oor nie, maar as ‘n teenwoordigheid wat sy mense inderdaad beskerm.

Die uitvoering daarvan word in Eks. 37:17-24 vertel.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar