Eksodus 10:28-11:10 – Die tiende plaag bevestig Jahwe se Godheid en sy verkiesing van Israel

Moses is nog steeds in farao se teenwoordigheid nadat farao hom laat roep het ná die drie dae duisternis.  Farao se weersin in Moses het ‘n hoogtepunt bereik.  Hy wil hom nooit weer in sy lewe sien nie: “Sorg dat ek jou nooit weer sien nie.

Moses weet dat dit in wese presies is wat gaan gebeur, want die Here se belofte staan vas dat die Israeliete gaan trek.  Wat egter hierop volg, is merkwaardig.  Die Here praat met Moses in die teenwoordigheid van farao en gee hom die opdrag dat Hy nog een plaag teen farao en Egipte sal stuur, en dan sal hy hulle daarvandaan laat gaan.

Die Here sal die volk onvoorwaardelik laat trek. Trouens, farao sal hulle as’t ware wegjaag, so diep sal dié plaag hom tref.

Let ook op dat dié plaag nie deur die bemiddeling van Moses kom nie.  Die Here self sal onafhanklik die plaag in werking stel.  Moses word ook opdrag gegee dat die Israeliete “buit” van hulle Egiptiese bure eis as vergoeding vir die tyd van slawerny en uitbuiting.  En die Here het ook gesorg dat die Egiptenaars aan hierdie bevel van Hom gehoor gee.  Hulle het die Israeliete goed behandel, waarskynlik onder andere omdat Moses teen dié tyd groot aansien onder die Egiptenaars geniet het, selfs by farao se amptenare.

Die tiende plaag word daarmee aangekondig in die teenwoordigheid van farao, hoewel dit eers na die instelling en viering van die Paasfees in hoofstuk 12 in werking gestel is.  Die Here sou teen middernag deur Egipte gaan en elke eersgeborene in Egipte laat sterwe, van farao se kroonprins af tot by die slavinne se eersgeborenes, selfs tot by die diere s’n.  Die smart in Egipte sou angswekkend wees, maar by die Israeliete sou niemand iets oorkom nie, nie ’n mens of ’n dier nie.

Daar staan eintlik in die grondteks dat by die Israeliete nie eers ‘n hond “sy tong sal skerpmaak” vir mens of dier nie.  Dié idioom beteken dat dit so rustig daar sal wees dat nie eers een hond sal grom of blaf of sy tande wys vir mens of dier nie.  Dit sal rustig wees by die Israeliete sonder enige bedreiging hoegenaamd.

Die punt van dié tragedie is dat die Here daarmee onomwonde sy Godheid bekendmaak – Hy beskik oor lewe en dood – sowel as sy verkiesing van Israel – hulle is sy eersgeborene.  Dié boodskap sou die verlangde uitwerking hê sodat die volk kon trek na die beloofde land.

Israel sou natuurlik uiteindelik tog ‘n “prys” betaal vir dié verlossing, want hierna sou elke eersgeborene van Israel aan die Here behoort (Eks. 13:11-16), ‘n duidelike verwysing na die verlossing uit Egipte, sowel as ‘n voorafskaduwing van die feit dat God sy eie eersgeborene, Jesus Christus, nie gespaar het nie, maar as ‘n losprys vir die gelowiges gegee het (Mark. 10:45 – “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”).  Daarom sou Hy ook die eersgeborene wees van die hele skepping, soos Paulus daaroor skryf (Kol. 1:15).

Moses is toe woedend van die farao af weg.  Daar staan eintlik dat sy “neus gebrand het”, só kwaad was hy.  Dié frase word ‘n paar ander keer in die OT gebruik, bv. toe Jakob hom vererg vir Ragel toe sy hom verkwalik dat hy nie vir haar ‘n kind gee nie (Gen. 30:2), en toe Jonatan briesend van sy pa se tafel af opgestaan het toe hy die bose planne agterkom wat daar teen Dawid gesmee word (1 Sam. 20:34).  Dit word ook op onheilspellende wyse vir God gebruik waar sy toorn ontvlam teen die volk (Deut. 13:18).

Die gedeelte sluit af met die bevestiging van die Here dat farao nie na Moses-hulle luister nie, omdat die Here hom koppig gemaak het, sodat God sy wonders in Egipte kon laat meer word.

View all posts in this series

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: