Eksodus 12:1-42 – Die Here beskerm die Israeliete teen die vernietiger deur die bloed van die Paaslam
Hoofstuk 12 is nie net die deurslaggewende gebeure wat tot die Uittog van die Israeliete uit Egipte gelei het nie. Dit het ook ‘n fundamentele impak gehad op die Joodse volk se selfverstaan. Die Paasfees sou hierna die identiteit van die volk begrond op die bevryding wat God vir hulle uit Egipte bewerk. Elke jaar wanneer ‘n familie die Paasfees saam met die res van die geloofsgemeenskap in hulle eerste kalendermaand gevier het, het hulle die herinnering aan die bevryding lewend gehou.
Daardeur het hulle God aanbid wat hulle van hulle ellende in die verlede bevry het. Daardeur is hulle hoop en vertroue ook versterk dat dié God hulle ook uit elke krisis waarin hulle dié jaar en elke jaar daarna mag kom, sal kan bevry.
Die Here gee eers die opdrag om die Paasfees te vier aan Moses en Aäron (12:1-20) waarna hulle dit aan die volk oordra en die Israeliete die opdrag gehoorsaam (12:21-28). Daarna word die waarskuwing van die tiende plaag ‘n werklikheid (12:29-30) waarna farao die volk laat trek (12:31-42).
Die Here gee die opdrag van die Paasfees aan Moses en Aäron – 12:1-20
Die Paasfees was van die begin af ‘n maaltyd waaraan almal in die familie deelgeneem het. Trouens, kinders was veral welkom om op dié manier deel van die geloofsverhaal van Israel te word. Dit was ook ‘n maaltyd waarin verskillende families hulle bronne gedeel het. As ’n huisgesin te klein was vir ’n skaap- of boklam, kon bure dit onder mekaar verdeel volgens die aantal mense in die families. Die lammetjie moes ‘n jaar oud wees en sonder enige liggaamsgebrek. Elke familie het ook dieselfde roetine gevolg om teen laatmiddag te slag, die bloed aan die sykante en die bokant van die deurkosyn van elke huis te smeer waar hulle die lammers sou eet.
Die lam moes ook daar dieselfde nag geëet word, gebraai nie gekook nie, met kop, pootjies, binnegoed en al. Daarby moes hulle ongesuurde brood – simbool van die nuwe lewe wat God gee – en bitter kruie – simbool van die bitterheid van die tyd in Egipte – eet. Alles moes opgeëet word. Alle oorskiet moes die volgende dag verbrand word.
Daarby moes hulle die maaltyd vier met hulle reisklere aangetrek as teken daarvan dat hulle bevryding gekom het en die maaltyd hulle die reg gee om bevryding uit die hand van die Here te ontvang. Trouens, hulle mag die nag nie geslaap het nie, soos die voorskrif in vers 42 lui.
Die donker kant van die Paasfees sou wees dat die Here die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, sou uitwis. Dit sou ‘n teken wees dat Hy sy oordeel oor al die Egiptiese gode voltrek. Die Here se mag sou finaal en deurslaggewend gedemonstreer word aan die hele Egipte. Daarmee sou Hy sy Heerskappy oor alles aan almal bekend maak.
Die Israeliete sou die oordeel vryspring weens die bloed aan die huise. Daarom sou dit ‘n gedenkdag word wat as ’n fees tot eer van die Here gevier is as ’n vaste instelling. In die toekoms sou die fees sewe dae duur waarin veral die verwydering van suurdeeg ‘n belangrike rol sou speel. Daarom is dit ook die fees van die ongesuurde brood genoem. Let ook op dat die opdrag hiervoor eintlik twee keer herhaal word, hoewel die inhoud effens verskil. Dit was werklik ‘n belangrike opdrag van die Here.
Moses dra die opdrag aan die Israeliete oor en hulle gehoorsaam dit – 12:21-28
Moses het die praktiese reëlings hier rondom aan die leiers van die volk uitgestippel
Die bossie hissop wat hulle gebruik het is heel waarskynlik Origanum Maru wat deel van die kruisement familie is wat die ruik van die bloed met die kruie se aromatiese geur sou beperk het. Sommige verbind dit met marjolein. Daarmee moes die bloed aan die deurkosyne gesmeer word waarna hulle die nag nie by die deur moes uitgaan voor die volgende môre nie.
Die bloed sou die plaag van die Here beperk tot die Egiptenare. Die Israeliete sou oorgeslaan word – “passed over” – deur die dood deurdat die “vernietiging” of “vernietiger” – soos dit vertaal kan word – met die tiende plaag sou verbygaan. Dit is ‘n duidelike voorafskaduwing van die bloed van Christus, die NT Paaslam, wat die toorn van God teen die sonde van die wêreld gedra het, soos ons ook in die Nagmaal vier.
Die kinders se nuuskierigheid oor dié voorskrif wat vir altyd eerbiedig moes word, sou die geleentheid skep dat ouers hulle deel kon maak van die geloofsverhaal van Israel: “Dit is ’n paasoffer aan die Here omdat Hy in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan het. Terwyl Hy die Egiptenaars getref het, het Hy ons huise gespaar.”
In aansluiting by beide die Paaslam en die verwydering van suurdeeg uit die Israeliete se huise skryf Paulus later dat die suurdeeg van onsedelikheid vanuit die geloofsgemeenskap verwyder moet word: “Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek nie? Verwyder dan die ou suurdeeg, sodat julle nuwe, ongesuurde deeg kan wees, en dit is julle ook werklik. Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus.” (1 Kor. 5:6-7). In die NT konteks verwys die suurdeeg van die Paasmaaltyd dus na die etiese voorskrifte rondom onsedelikheid wat steeds die NT geloofsgemeenskap moes struktureer.
Die volk het die aand die voorskrifte rondom die Paasmaaltyd nougeset uitgevoer na hulle in aanbidding voor die Here gebuig het. Die Paasfees sou ‘n kragtige getuienis word wat ook die nageslagte in aanbidding voor die Here sou laat buig.
Die Here tref die Egiptenare met die tiende plaag, die dood van die eersgeborenes – 12:29-30
Die reeks plae kulmineer dus om middernag in die handeling van die Here wat: “elke eersgeborene van Egipte laat sterf het, van die kroonprins af, die eersgeborene van die farao, tot by die eersgeborene van die krygsgevangene in die tronk, selfs die eerstelinge van die diere.” Die hoogste boom in Egipte sowel as die laagste struik in die tronk is deur dieselfde lot getref. En niemand kon iets daaraan doen nie.
Soos die farao en sy amptenare en al die Egiptenaars dié nag bewus geword het van die ellende wat hulle getref het, het hulle almal bitterlik aan die huil gegaan. Daar was nie ’n enkele Egiptiese huis sonder ’n sterfgeval nie. Die verlossende oordeel van die Here het daarvoor gesorg.
Die farao laat die Israeliete trek – 12:31-42
Die verlossing van Israel het daarna amper onmiddellik in vervulling gegaan, want dieselfde nag nog het die farao vir Moses en Aäron laat roep en opdrag gegee om pad te gee onder sy mense uit. Sy afskeidswoorde is ‘n hulpgeroep dat hulle vir hom sal bid, hoewel dié verootmoediging van korte duur was. Kort voor lank sou hy hulle weer probeer inhaal om hulle weer onder sy beheer te probeer kry.
Dieselfde aandrang het van die ander Egiptenaars gekom. Die Israeliete was ook nie links nie en het die pad gevat – hulle was immers reeds aangetrek met reisklere – met ongesuurde brooddeeg as padkos, en kosbare silwer- en goue goed sowel as klere wat hulle van die Egiptenare geëis het. “Die Here het gesorg dat die Egiptenaars aan sy volk goed doen, sodat hulle uit Egipte as buit kon wegdra wát hulle ook al geëis het.”
Hulle het die roete van Egipte af na Sukkot toe geneem. Dit is waarskynlik Tell el Maskhuta in die stad Ismailia wat vandag aan die westelike oewer van die Suez kanaal geleë is. Hulle was sowat ses honderd duisend weerbare manne te voet.
Die Hebreeuse woord ʾě·lěp̄ kan in die betekenis van “duisend” vertaal word, soos dit meesal in vers 37 vertaal word. Die woord kan egter ook in die betekenis van “afdelings” van óf ‘n stam (1 Sam. 10:19) óf ‘n gebied (1 Sam. 23:23) gebruik word. Indien ‘n mens die betekenis van “afdelings” hier sou kies, beteken dit dat die getal Israeliete wat die Trek meemaak dramaties verminder word.
Dit word gerugsteun deur die feit dat die Israeliete met hulle eerste geveg in die woestyn bang was vir die nomadiese volk van die Amalekiete (Eks. 17). Dit is dus onwaarskynlik dat die Israeliete baie meer sou wees as die Amalekiete. Die Here belowe ook by Sinai dat Hy die Intog proses stadig sal laat verloop, omdat hulle nie onmiddellik genoeg sou wees om die hele land volledig te besit nie: “Ek sal hulle egter nie dadelik voor jou uitdryf nie, sodat die land nie leeg lê en die wilde diere te veel word nie. Ek sal hulle bietjie vir bietjie voor jou uit verdryf totdat jou mense genoeg is om die land in besit te neem.” (Eks. 23:29-30). Moses beskryf die volk ook in Deuteronomium as ‘n “klein volk” (Deut. 7:7).
Dit beteken dat ‘n mens moontlik eerder aan ‘n kleiner groep moet dink wat die Trek die woestyn in onderneem het. Die logistiek van ‘n kleiner groep in die woestyn sou baie makliker in terme van vervoer en watervoorsiening gewerk het. Dit maak nie afbreek aan die wonders wat in elk geval met dié Trek nodig was om dit vir die Israeliete moontlik te maak om die uitdagings van die woestyn te hanteer nie. Die manna en kwartels, die water en die wolkkolom, die verskyning van God en die gawe van die wet was steeds deel van God se wondervoorsiening.
Interessant genoeg was daar ook ’n menigte mense van ander afkoms wat met hulle saamgegaan het saam met groot troppe kleinvee en baie beeste. Van Jetro se mense sou ook later by hulle aansluit.
Let op na die kommentaar in die teks oor die datum van die Paasfees wat: “presies op die dag waarop die fees nou gevier word”, is wat vir jou ‘n duidelike aanduiding gee van die hand van die latere redakteur(s) van die boek.
Die skrywer som die deurslaggewende moment in Israel se geskiedenis as volg op: “Dit was die nag waarin die Here oor hulle gewaak het en hulle uit Egipte bevry het. Daarom behoort dié nag aan die Here en moet alle Israeliete en hulle nageslagte dié nag wakker bly.”
View all posts in this series
- God sien en God verstaan – Bybelskool oor Eksodus begin 18 Januarie - January 14, 2017
- Inleiding – Eksodus: die hoop op verlossing - January 18, 2017
- Eksodus 1 – God vermeerder sy volk ten spyte van farao se brutale onderdrukking - January 19, 2017
- Eksodus 2 – God het hulle gekreun gehoor en verstaan - January 20, 2017
- Eksodus 3-4:17 – God stuur Moses om die Godsvolk uit Egipte te lei - January 24, 2017
- Eksodus 4:18-31 – Die oudstes reageer in geloof en aanbidding op Moses en Aäron se boodskap - January 25, 2017
- Eksodus 5 – God beveel farao: Laat my volk gaan! - January 26, 2017
- Eksodus 6:1-26: “Ek is die Here!” - January 27, 2017
- Eksodus 6:27-7:25 – Egipte sal besef Ek is die Here deur die plae wat Ek stuur - January 30, 2017
- Eksodus 8 – Die plae is Jahwe se verlossende oordeel as getuienis dat Hy God is - January 31, 2017
- Eksodus 9 – Farao het geen ontsag vir Jahwe nie al krepeer hulle van ellende - February 1, 2017
- Eksodus 10:1-27 – Die plae illustreer God se seën of straf vir dié wat Hom gehoorsaam of teenstaan - February 3, 2017
- Eksodus 10:28-11:10 – Die tiende plaag bevestig Jahwe se Godheid en sy verkiesing van Israel - February 6, 2017
- Eksodus 12:1-42 – Die Here beskerm die Israeliete teen die vernietiger deur die bloed van die Paaslam - February 9, 2017
- Eksodus 12:43-13:16 – Deur viering en toewyding word die herinnering aan bevryding lewend gehou - February 13, 2017
- Eksodus 13:17-14:31 – Die teenwoordigheid van die Here raak die Godsvolk se kompas deur die woestyn - February 14, 2017
- Eksodus 15 – Die Here is die Bewerker van wonderdade wat sy volk beskerm en sy vyande verpletter - February 15, 2017
- Eksodus 16 – God voorsien brood, vleis en die Sabbat as tekens van sy teenwoordigheid - February 16, 2017
- Eksodus 17 – Is die Here by ons of nie? - February 20, 2017
- Eksodus 18 – Jetro mentor Moses en die Israelitiese leiers tot ‘n leierskapspan - February 21, 2017
- Eksodus neem stadiger as wat ek beplan het! - February 26, 2017
- Eksodus 19 – As julle My gehoorsaam, sal julle my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien - February 27, 2017
- Eksodus 20 – Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het - March 5, 2017
- Eksodus 21 – Sorg vir mense en hulle diere - March 9, 2017
- Eksodus 22 – Sorg vir mense en hulle besittings - March 10, 2017
- Eksodus 23 – Sorg vir geregtigheid en die geloofsgemeenskap met God se hulp - March 13, 2017
- Eksodus 24 – Ons sal alles doen wat die Here beveel het - March 14, 2017
- Eksodus 25 – Rig vir my ‘n heiligdom op dat Ek tussen julle kan woon - March 15, 2017
- Eksodus 26 – Jy moet die tabernakel oprig presies volgens die plan wat op die berg vir jou gewys is - March 16, 2017
- Eksodus 27 – Die lig van God se teenwoordigheid brand voortdurend in die “tent van ontmoeting” - March 17, 2017
- Eksodus 28 – Die priesters se klere dra die boodskap van gesag en toewyding - March 18, 2017
- Eksodus 29 – Afgesonder en bevestig as God se verteenwoordigers - March 20, 2017
- Eksodus 30 – Elke deel van die tabernakel en elke priester word geheilig aan die Here - March 21, 2017
- Eksodus 31 – Hulle moet alles maak net soos Ek jou beveel het - March 22, 2017
- Eksodus 32 – Die tragedie van die goue bulkalf en die toorn van Jahwe - March 23, 2017
- Eksodus 33 – Onthou tog hierdie nasie is u volk - March 24, 2017
- Eksodus 34 – Ek is barmhartig en genadig, maar Ek laat niks ongestraf nie - March 25, 2017
- Eksodus 35:1-36:1 – Elkeen wie se hart en gees hulle daartoe aangespoor het, het vrywillig offergawes gebring - March 26, 2017
- Eksodus 36:2-38 – Die volk bring meer as wat nodig is - March 27, 2017
- Eksodus 37 – Besaleël neem die voortou met die maak van die heilige toebehore van die tabernakel
- Eksodus 38 – Amper sewe ton goud, silwer en brons word gebruik - March 28, 2017
- Eksodus 39 – Die tabernakel is gereed vir die teenwoordigheid van die Here
- Eksodus 40 – Die teenwoordigheid van die Here vul die tabernakel - March 29, 2017
- Oor getalle in die woestyn verhale - September 8, 2017
- Die tweede gebod – ‘n paar ekstra gedagtes - June 12, 2018
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Jan Louw
Die 600 000 klop met die sensus in Num 1
Yunis Duimpies
Goeie middag Ds Chris
Baie dankie vir Ds se uiteensetting oor Exodus 12 in verband met die uittog uit Egipte.Ek wil net graag weet,wat beteken dit simbolies wanneer as huisgesinne die lammetjie saam moet eet en as hulle te klein is vir die lam,hulle saam met hulle bure deel.Ek hoop u verstaan wat ek bedoel.Baie dankie
Chris van Wyk
Hi Yunis, die reëling was om vermorsing te voorkom. Die pa moes bereken of sy familie ‘n lam sou kon opeet. Minder as tien mense in ‘n gesin, veral as dit kleiner kinders was, sou dit moontlik nie maak nie! Daarom kon hulle met hulle bure deel, sodat die vleis nie vermors word nie. Want, onthou, alles is verbrand aan die einde van die maaltyd. As ‘n mens simbolies daarna kyk, kan ‘n mens mededeelsaamheid en samewerking in die koninkryk daarin lees.
Jessie Van Rooyen
Goeiedag Ds Chris
As ek reg verstaan, is die ongesuurde brode vry van suurdeeg (waaarvan ‘n klein bietjie alles suur maak) ‘n teken van ‘n nuwe begin. Dws – ‘n ‘vars’ begin – vry van die ‘suur’/smet/verderf van swaarkry/sonde … Regso?
Chris van Wyk
Hi Jessie – heeltemal reg. Die suurdeeg wat die Israeliete gebruik het, het altyd van ‘n reeds gefermenteerde stuk deeg gekom wat van ‘n vorige baksel oorgehou is. Hierdie klont gesuurde deeg is óf in water opgelos voordat nuwe meel bygevoeg is, óf is in die meel ingewerk met die knie daarvan (vgl Matt 13:33). Dit is waarom die brood wat aldus gemaak is, bekend gestaan het as “gesuurde” brood, onderskei van “ongesuurde” brood (Eks 12:15).
Toe die Israeliete uit Egipte getrek het, het hulle net die deeg geneem sonder die suurdeeg van Egipte om ‘n nuwe begin te simboliseer (Eks 12:34-39). Die Here het daarom die fees van die ongesuurde brood deel gemaak van die Pasga (Eks 23:15). Die suurdeeg het die korrupterende invloed van Egipte gesimboliseer. Die fees het hulle telkens daaraan herinner.
Jesus gebruik dié simboliek in die NT om van die leringe van die Fariseërs te praat (Matt 16:6). So volg Paulus Hom ook na deur van immoraliteit as suurdeeg in die geloofsgemeenskap te praat (1 Kor 5:6). Op dieselfde wyse beskryf hy die suurdeeg van die klem op die besnydenis (Gal 5:9).
Maar, Jesus transformeer uiteindelik ook die metafoor van die suurdeeg om die koninkryk van God met dieselfde metafoor as sy nuwe transformerende krag in dissipels se lewe te beskryf (Matt 13:33). Soos die suurdeeg van die sonde ons lewens verwoes, só heilig die suurdeeg van die koninkryk van God ons lewens.