Skip to main content

Eksodus 12:1-42 – Die Here beskerm die Israeliete teen die vernietiger deur die bloed van die Paaslam

Hoofstuk 12 is nie net die deurslaggewende gebeure wat tot die Uittog van die Israeliete uit Egipte gelei het nie.  Dit het ook ‘n fundamentele impak gehad op die Joodse volk se selfverstaan.  Die Paasfees sou hierna die identiteit van die volk begrond op die bevryding wat God vir hulle uit Egipte bewerk.  Elke jaar wanneer ‘n familie die Paasfees saam met die res van die geloofsgemeenskap in hulle eerste kalendermaand gevier het, het hulle die herinnering aan die bevryding lewend gehou.

Daardeur het hulle God aanbid wat hulle van hulle ellende in die verlede bevry het.  Daardeur is hulle hoop en vertroue ook versterk dat dié God hulle ook uit elke krisis waarin hulle dié jaar en elke jaar daarna mag kom, sal kan bevry.

Die Here gee eers die opdrag om die Paasfees te vier aan Moses en Aäron (12:1-20) waarna hulle dit aan die volk oordra en die Israeliete die opdrag gehoorsaam (12:21-28).  Daarna word die waarskuwing van die tiende plaag ‘n werklikheid (12:29-30) waarna farao die volk laat trek (12:31-42).

Die Here gee die opdrag van die Paasfees aan Moses en Aäron – 12:1-20

Die Paasfees was van die begin af ‘n maaltyd waaraan almal in die familie deelgeneem het.  Trouens, kinders was veral welkom om op dié manier deel van die geloofsverhaal van Israel te word.  Dit was ook ‘n maaltyd waarin verskillende families hulle bronne gedeel het. As ’n huisgesin te klein was vir ’n skaap- of boklam, kon bure dit onder mekaar verdeel volgens die aantal mense in die families.  Die lammetjie moes ‘n jaar oud wees en sonder enige liggaamsgebrek.  Elke familie het ook dieselfde roetine gevolg om teen laatmiddag te slag, die bloed aan die sykante en die bokant van die deurkosyn van elke huis te smeer waar hulle die lammers sou eet.

Die lam moes ook daar dieselfde nag geëet word, gebraai nie gekook nie, met kop, pootjies, binnegoed en al.  Daarby moes hulle ongesuurde brood – simbool van die nuwe lewe wat God gee – en bitter kruie – simbool van die bitterheid van die tyd in Egipte – eet. Alles moes opgeëet word.  Alle oorskiet moes die volgende dag verbrand word.

Daarby moes hulle die maaltyd vier met hulle reisklere aangetrek as teken daarvan dat hulle bevryding gekom het en die maaltyd hulle die reg gee om bevryding uit die hand van die Here te ontvang.  Trouens, hulle mag die nag nie geslaap het nie, soos die voorskrif in vers 42 lui.

Die donker kant van die Paasfees sou wees dat die Here die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, sou uitwis.  Dit sou ‘n teken wees dat Hy sy oordeel oor al die Egiptiese gode voltrek.  Die Here se mag sou finaal en deurslaggewend gedemonstreer word aan die hele Egipte.  Daarmee sou Hy sy Heerskappy oor alles aan almal bekend maak.

Die Israeliete sou die oordeel vryspring weens die bloed aan die huise.  Daarom sou dit ‘n gedenkdag word wat as ’n fees tot eer van die Here gevier is as ’n vaste instelling.  In die toekoms sou die fees sewe dae duur waarin veral die verwydering van suurdeeg ‘n belangrike rol sou speel.  Daarom is dit ook die fees van die ongesuurde brood genoem.  Let ook op dat die opdrag hiervoor eintlik twee keer herhaal word, hoewel die inhoud effens verskil.  Dit was werklik ‘n belangrike opdrag van die Here.

Moses dra die opdrag aan die Israeliete oor en hulle gehoorsaam dit – 12:21-28

Moses het die praktiese reëlings hier rondom aan die leiers van die volk uitgestippel

Die bossie hissop wat hulle gebruik het is heel waarskynlik Origanum Maru wat deel van die kruisement familie is wat die ruik van die bloed met die kruie se aromatiese geur sou beperk het.  Sommige verbind dit met marjolein.  Daarmee moes die bloed aan die deurkosyne gesmeer word waarna hulle die nag nie by die deur moes uitgaan voor die volgende môre nie.

Die bloed sou die plaag van die Here beperk tot die Egiptenare.  Die Israeliete sou oorgeslaan word – “passed over” – deur die dood deurdat die “vernietiging” of “vernietiger” – soos dit vertaal kan word – met die tiende plaag sou verbygaan.  Dit is ‘n duidelike voorafskaduwing van die bloed van Christus, die NT Paaslam, wat die toorn van God teen die sonde van die wêreld gedra het, soos ons ook in die Nagmaal vier.

Die kinders se nuuskierigheid oor dié voorskrif wat vir altyd eerbiedig moes word, sou die geleentheid skep dat ouers hulle deel kon maak van die geloofsverhaal van Israel: “Dit is ’n paasoffer aan die Here omdat Hy in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan het. Terwyl Hy die Egiptenaars getref het, het Hy ons huise gespaar.

In aansluiting by beide die Paaslam en die verwydering van suurdeeg uit die Israeliete se huise skryf Paulus later dat die suurdeeg van onsedelikheid vanuit die geloofsgemeenskap verwyder moet word: “Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek nie? Verwyder dan die ou suurdeeg, sodat julle nuwe, ongesuurde deeg kan wees, en dit is julle ook werklik. Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus.” (1 Kor. 5:6-7).  In die NT konteks verwys die suurdeeg van die Paasmaaltyd dus na die etiese voorskrifte rondom onsedelikheid wat steeds die NT geloofsgemeenskap moes struktureer.

Die volk het die aand die voorskrifte rondom die Paasmaaltyd nougeset uitgevoer na hulle in aanbidding voor die Here gebuig het.  Die Paasfees sou ‘n kragtige getuienis word wat ook die nageslagte in aanbidding voor die Here sou laat buig.

Die Here tref die Egiptenare met die tiende plaag, die dood van die eersgeborenes – 12:29-30

Die reeks plae kulmineer dus om middernag in die handeling van die Here wat: “elke eersgeborene van Egipte laat sterf het, van die kroonprins af, die eersgeborene van die farao, tot by die eersgeborene van die krygsgevangene in die tronk, selfs die eerstelinge van die diere.”  Die hoogste boom in Egipte sowel as die laagste struik in die tronk is deur dieselfde lot getref.  En niemand kon iets daaraan doen nie.

Soos die farao en sy amptenare en al die Egiptenaars dié nag bewus geword het van die ellende wat hulle getref het, het hulle almal bitterlik aan die huil gegaan.  Daar was nie ’n enkele Egiptiese huis sonder ’n sterfgeval nie.  Die verlossende oordeel van die Here het daarvoor gesorg.

Die farao laat die Israeliete trek – 12:31-42

Die verlossing van Israel het daarna amper onmiddellik in vervulling gegaan, want dieselfde nag nog het die farao vir Moses en Aäron laat roep en opdrag gegee om pad te gee onder sy mense uit.  Sy afskeidswoorde is ‘n hulpgeroep dat hulle vir hom sal bid, hoewel dié verootmoediging van korte duur was.  Kort voor lank sou hy hulle weer probeer inhaal om hulle weer onder sy beheer te probeer kry.

Dieselfde aandrang het van die ander Egiptenaars gekom.  Die Israeliete was ook nie links nie en het die pad gevat – hulle was immers reeds aangetrek met reisklere – met ongesuurde brooddeeg as padkos, en kosbare silwer- en goue goed sowel as klere wat hulle van die Egiptenare geëis het.  “Die Here het gesorg dat die Egiptenaars aan sy volk goed doen, sodat hulle uit Egipte as buit kon wegdra wát hulle ook al geëis het.

Hulle het die roete van Egipte af na Sukkot toe geneem.  Dit is waarskynlik Tell el Maskhuta in die stad Ismailia wat vandag aan die westelike oewer van die Suez kanaal geleë is.  Hulle was sowat ses honderd duisend weerbare manne te voet.

Die Hebreeuse woord ʾě·lěp̄  kan in die betekenis van “duisend” vertaal word, soos dit meesal in vers 37 vertaal word.  Die woord kan egter ook in die betekenis van “afdelings” van óf ‘n stam (1 Sam. 10:19) óf ‘n gebied (1 Sam. 23:23) gebruik word.  Indien ‘n mens die betekenis van “afdelings” hier sou kies, beteken dit dat die getal Israeliete wat die Trek meemaak dramaties verminder word.

Dit word gerugsteun deur die feit dat die Israeliete met hulle eerste geveg in die woestyn bang was vir die nomadiese volk van die Amalekiete (Eks. 17).  Dit is dus onwaarskynlik dat die Israeliete baie meer sou wees as die Amalekiete.  Die Here belowe ook by Sinai dat Hy die Intog proses stadig sal laat verloop, omdat hulle nie onmiddellik genoeg sou wees om die hele land volledig te besit nie: “Ek sal hulle egter nie dadelik voor jou uitdryf nie, sodat die land nie leeg lê en die wilde diere te veel word nie. Ek sal hulle bietjie vir bietjie voor jou uit verdryf totdat jou mense genoeg is om die land in besit te neem.” (Eks. 23:29-30).  Moses beskryf die volk ook in Deuteronomium as ‘n “klein volk” (Deut. 7:7).

Dit beteken dat ‘n mens moontlik eerder aan ‘n kleiner groep moet dink wat die Trek die woestyn in onderneem het.  Die logistiek van ‘n kleiner groep in die woestyn sou baie makliker in terme van vervoer en watervoorsiening gewerk het.  Dit maak nie afbreek aan die wonders wat in elk geval met dié Trek nodig was om dit vir die Israeliete moontlik te maak om die uitdagings van die woestyn te hanteer nie.  Die manna en kwartels, die water en die wolkkolom, die verskyning van God en die gawe van die wet was steeds deel van God se wondervoorsiening.

Interessant genoeg was daar ook ’n menigte mense van ander afkoms wat met hulle saamgegaan het saam met groot troppe kleinvee en baie beeste.  Van Jetro se mense sou ook later by hulle aansluit.

Let op na die kommentaar in die teks oor die datum van die Paasfees wat: “presies op die dag waarop die fees nou gevier word”, is wat vir jou ‘n duidelike aanduiding gee van die hand van die latere redakteur(s) van die boek.

Die skrywer som die deurslaggewende moment in Israel se geskiedenis as volg op: “Dit was die nag waarin die Here oor hulle gewaak het en hulle uit Egipte bevry het. Daarom behoort dié nag aan die Here en moet alle Israeliete en hulle nageslagte dié nag wakker bly.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.