Eksodus 19 – As julle My gehoorsaam, sal julle my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien

Dit is drie maande na die Uittog uit Egipte.  Die Israeliete het uiteindelik by die berg van God kom kamp opslaan, die plek waar hulle die volgende jaar sou deurbring om die wil van God vir die lewe uit sy hand te ontvang.  Die hart daarvan sou die Tien Gebooie wees soos op kliptafels vir hulle gegee is om in die Tabernakel te bewaar.  Die verdere detail van die wette sou in die sogenaamde verbondsboek, Eksodus 20-24 sowel as die hele boek Levitikus uitgespel word en later uitgebrei word met die verdere boeke van die Tora, die eerste vyf boeke van die OT, die Pentateug.

Die berg Sinai word uitruilbaar as die berg in die Sinwoestyn voorgestel of as in die Sinaiwoestyn self.  Sinai word ook Horeb genoem (vgl. Eks. 3:1 – die plek waar Moses die Here die eerste keer ontmoet het; 33:6; Deut. 4:10; Rigt. 5:5; 1 Kon. 8:9; 1 Kon. 19:8 – die plek waar Elia die Here ontmoet het; 2 Kron. 5:10; Ps. 68:9,18; 106:19). In die NT word Sinai twee keer vermeld.  In Hand. 7:30,38 in Stefanus se toespraak oor Israel se geskiedenis en in Gal. 4:24-25 waar Sinaiberg as ‘n simbool van die Ou Verbond geneem word.

Om die volk gereed te maak vir hierdie lewensveranderende ervaring by die berg Sinai bly Moses in konstante en direkte gesprek met die Here, soos hoofstuk 19 vir ons vertel.  Elke stukkie detail van God se woorde vir die volk sou belangrik raak vir die verhouding wat God nie net tussen Hom en die volk wou tot stand bring nie, maar ook die verhouding wat Hy tussen hulle as volksgenote wou skep.

Let op hoe die doel van God se verlossing uit Egipte en voorsiening in die woestyn, self sy verdelging van die Amalekiete, in die uitnodiging tot ‘n intieme en gehoorsame verhouding met God bereik word: “As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien, en ’n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’

Petrus skryf eeue later oor die wyse waarop hierdie doel van God in die geslag gelowiges van die NT op ‘n uitnemende manier verwesenlik word: “Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys.” (1 Pet. 2:9-10).

Trouens, ons roeping is om seker te maak ons word as lewende stene in dié geestelike huis van God ingemessel, sê Petrus, sodat ons: “’n heilige priesterdom kan wees wat geestelike offers bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.” (1 Pet. 2:5).

Die beginpunt van hierdie Nuwe Testamentiese droom lê egter diep veranker in die verhaal van Sinai waar die Godsvolk die eerste genade van God se roeping ervaar het.

Moses dra dié boodskap van God se doel met hulle aan hulle oor via die leiers wat in Genesis 18 aangewys is om aan die volk oor te dra.  Die volk is baie entoesiasties oor dié uitnodiging van die Here en antwoord, nogal “soos een man”: “Alles wat die Here gesê het, sal ons doen.

Die Here besluit om meer direk aan die Godsvolk te verskyn in ‘n donderwolk, sodat hulle Hom kan hoor wanneer Hy met Moses praat en dit hulle vertroue in Moses kan versterk.  Die Godsvolk moet egter eers gereinig word om dié epifanie, die Godsverskyning, te kan beleef op die derde dag van dan af.  Die reiniging het op dié punt weinig meer ingehou as om hulle self en hulle klere te was, hulle te weerhou van seks, sowel as om ‘n grens rondom die berg  te trek sodat die volk nie te naby kom aan die heilige grond van God se berg nie.

Die Here verskyn dan met dagbreek die derde dag met donderslae, weerligte en ’n donker wolk op die berg. Daar was ook die sterk, helder klank van ’n ramshoring, die sjofar, wat al hoe harder en helderder geword het soos die Here in vuur na die berg afgekom het,  Die rook het opgetrek soos die rook van ’n oond met die hele berg wat geweldig geskud het.

Die grootse gebeure het groot ontsag by die volk ontlok, ‘n gepaste voorbereiding vir die gawe van die wet.  Dit is dan ook presies wat gebeur.  Die gesprek tussen God en Moses mond uiteindelik uit in die gawe van die Tien Gebooie, soos hoofstuk 20 vertel.  Deurgaans is dit duidelik dat die heiligheid van die Here in die gawe van die wet voorop staan, en dat niemand naby Hom moet kom wat op enige manier die heiligheid van die gebeure kan aantas nie.  Daarom word selfs die priesters gewaarsku om nie die grens tussen hulle en die Here oor te steek nie.

Oor die gawe van die wet

Die pad met God kan net op een manier bewandel word, en dit is deur ‘n absolute gehoorsaamheid aan sy wil vir die lewe.  Die Trek uit Egipte vind sy motivering in die gawe en onderrig van die Tora.  God het hulle uit Egipte gelei om hulle tot gehoorsaamheid aan Hom te kan begelei.  En die Tora was die hart van sy onderrig van sy wil.  Gehoorsaamheid aan die Tora het dus vir hulle die konstante teenwoordigheid van die Here oop gesluit soos dit hierna in die Tabernakel beskikbaar sou wees.

Trouens, die een enkele ontbrekende element in al die verskillende verhale van Genesis word hier in Eksodus gegee.  Die helder skriftelike formulering van God se wil vir die lewe.  Die Tora.  Al die vorige, huidige en selfs toekomstige onsekerheid oor etiese goed, oor die regte aanbidding van God, oor hoe die verskillende tipe sosiale verhoudings moet werk, en nog baie meer word deur die wet, die Tora, aangespreek en uitgesorteer.

Die Tora openbaar dus aan ons hoe ongelooflik ons behoefte aan begeleiding in die weë van die Here is.  Die Joodse rabbi’s het 613 wette getel in die Tora – 248 positief (moets) en 365 negatief (moenies) – soos rabbi Simlai in die 3de eeu n.C. die eerste keer in ‘n preek opgemerk het (hier is ‘n lys as jy belangstel!  Dit dui nie op ‘n puntenerige God nie, maar op ‘n vergeetagtige volk wat nie sonder gedetailleerde praktiese geestelike begeleiding aan hulle verhouding met God, mekaar en die wêreld reg kon laat geskied nie.

Die Tora sou mettertyd uitgebrei word soos daar nuwe vraagstukke na vore gekom het, en ook geïnterpreteer word deur die priesters en profete soos daar nuwe situasies ontstaan het deur die loop van Israel se geskiedenis, ‘n proses wat tot die kanon van die OT gelei het, en ook in die NT verder geneem sou word.

Ons moet egter vir geen enkele oomblik dink dat die Tora op enige manier onnodig was of minder geestelik was as bv. die dinamiese verhouding van die aartsvaders met hulle God.  Die Israeliete kon nie sonder die wet klaarkom nie, omdat dit die onsekerheid oor die verhouding God en mekaar uit die weg geruim het.  Dat dit uiteindelik geblyk het dat die wet nie mense se harte kon verander het nie, soos Paulus uitvoerig in Romeine skrywe, hef nie die noodsaak van die gawe van en gehoorsaamheid aan die wet op nie.  Dat Christus ons harte moes kom verander om die wet na te kan kom, bevestig dat die probleem by ons was weens ons sondigheid, nie dat die wet nie nodig en steeds geldig is of was nie.  Ons is net in die bevoorregte posisie dat die Here Jesus se nakoming van die wet, sy geregtigheid, ons toegereken word.

Apodiktiese en kasuïstiese wette

Dit sal jou baie help in die leeswerk van die volgende vyf hoofstukke sowel as wanneer ons met Levitikus besig raak, is om van twee breë tipe wette kennis te neem.

Daar is die apodiktiese wette.  Dit is absolute bevele soos ons in die Tien Gebooie kry: “Jy mag nie doodslaan nie.”  “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”  Daar kan geen onsekerheid wees oor die uitvoering daarvan nie.  Jy moet absoluut gehoorsaam wees daaraan.

Daar is ook kasuïstiese wette.  Dit is gevallestudies wat in wetgewing vorm die nakoming van die wet uitspel.  Daar is voorwaardes wat vir dié wette uitgespel word wat onder sekere omstandighede toegepas moet word, en onder ander omstandighede juis nie, of anders as die normale uitvoering daarvan.  Bv. oor bakleiery: “Wanneer mans aan die stry raak en die een slaan die ander met ’n klip of met die vuis sonder om hom dood te slaan, moet die slaner nie gestraf word nie. As die man wat geslaan is, egter in die bed moet bly en eers later kan opstaan en met ’n kierie buite kan rondloop, moet die slaner hom vergoed vir die tyd wat hy nie kan werk nie en vir hom sorg tot hy behoorlik gesond is.” (Eks. 21:18-19).

Die ooreenkoms met Hetitiese verdrae

Dit is ook interessant dat daar duidelike ooreenkomste is tussen die ses hoofstukke van Eksodus 19-24 en die Hetitiese verdrae wat uit die 18de eeu v.C. afkomstig is.  Die Hetiete het ‘n koninkryk gehad in wat ons vandag as die moderne Turkye ken.  Hulle het baie keer in die konflikte met ander nasies ooreenkomste met hulle aangegaan wat wedersydse verpligtinge en voordele gehad het.

Die positiewe styl van die historiese proloë van die Hetiete se verdrae toon ooreenkomste met die styl van die Tora soos in hoofstuk 19 gesien kan word.  Beide stelle verdrae/wette kontrasteer skerp met die latere Assiriese verdrae van die 10de eeu v.C. wat skerp en dreigend geformuleer is.  Dit versterk die argument dat die Tora nie ‘n latere ontwikkeling was nie, soos baie geleerdes aanvoer, maar na die tyd van die Eksodus self teruggevoer kan word.  Moses se bekendheid met die koninklike hofhouding in Egipte sou hom heel waarskynlik aan sulke ooreenkomste en verdrae blootgestel het wat daarom deur die Here in die skrifstelling van die Tora gebruik kon word.

Moreel-etiese, burgerlike en seremoniële wette

Dit sal jou ook help om uit ‘n Christelike hoek aan die wette in drie breë kategorieë te dink.  Dit sal jou ‘n konseptuele raamwerk gee om die geldigheid van die wette ook vir vandag te kan bepaal (al dan nie), iets wat ook in die Nederlandse Geloofsbelydenis (artikel 25), een van die geloofsbelydenisse uit die Reformasie, ‘n neerslag gekry het.  Jy kan ‘n hele aantal van die ekumeniese en Gereformeerde belydenis hier aflaai.

Dié indeling is in moreel-etiese, burgerlike en seremoniële wette.  Sommige wette kan by meer as een kategorie gesorteer word, maar dit gee ‘n mens ‘n handige manier om sin te maak van die geweldige omvang van wette wat hiervandaan in die res van die Pentateug gegee word.

Die moreel-etiese wette is dinge soos die Eerste gebod: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie.”  Dit lê beslag op jou hele wese.  Dit is gewoonlik apodiktiese wette wat op die absolute gesag van die Here self berus.  Jy hoef nie eers in ‘n hof te gaan staan om jouself te verweer teen iemand wat jou vir die verbreking daarvan aankla nie.  Jy weet dit sommer self vanuit die feit dat die Heilige Gees deur jou gewete jou innerlik oortuig van die sin en waarheid daarvan, ook wanneer jy dit oortree.  Dit is daarom ook wette wat regdeur die NT positief bejeën word en as deel van die evangeliese geloof uitgespel word.  Vergelyk Romeine 13 en 1 Timoteus 1 vir plekke waar die apodiktiese wette as deel van die evangelie uitgelê word.

Die burgerlike wette is duidelik wette wat die onderlinge sosiale verhoudinge reël, dinge wat in veral die gevallestudies, die kasuïstiese wette, voorkom – as iets wegraak, of jou bees iemand beseer ens.  Die inhoud of betekenis daarvan – bv. dat ‘n mens geweld moet beperk in jou reaksie op iets wat verkeerd loop, die primêre rede waarom daar ‘n wet soos “’n oog vir ‘n oog, en ‘n tand vir ‘n tand” was – bly wel geldig, maar nie noodwendig die detail daarvan nie.  In die NT is daar ook uitbreidings van dié wette soos bv. dat jy jou vyande moet liefhê, iets wat aansluit by die inhoud van die Lex Talionis wette (bv. oog vir ‘n oog), maar nie in die presiese detail daarvan nie.

Die seremoniële wette reël bv. die wyse waarop die Here in die tabernakel aanbid moet word, die liturgie of erediens, sowel as die wyse waarop Hy in die lewe aanbid moet wat dinge in fyn detail uitspel – dieet, swangerskap, siektes, kleredrag ens.  Die inhoud en betekenis daarvan is eweneens van belang vir ons vandag, maar nie die presiese detail waarop dit uitgespel word.

View all posts in this series

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: