Skip to main content

Eksodus 18 – Jetro mentor Moses en die Israelitiese leiers tot ‘n leierskapspan

Die Here het sy betroubaarheid tot dusver reeds onomwonde gewys deur drie sleutel optredes.  Sy verlossing van die Israeliete uit Egipte, sy voorsiening in die woestyn, en sy verdelging van Amalek in die oorlog.  ‘n God wat sulke dinge vir sy mense kan doen, kan staatmaak op hulle lojaliteit.  In voorbereiding vir die gawe van die wet as verbondsluiting met die volk op Sinai in hoofstuk 20 en verder, word in hoofstuk 18 aan die leierskapstruktuur aandag gegee en in hoofstuk 19 aan die voorbereiding van die volk.  Laasgenoemde is nodig om God se openbaring te kan ontvang en eersgenoemde sodat toerusting en begeleiding vir die volk in hulle gehoorsaamheid aan die wet gegee kan word.

Jetro speel in hoofstuk 18 ‘n belangrike rol.  Hy bring nie net vir Sippora na Moses met hulle twee seuns terug nie, maar begelei al die Israelitiese leiers in ‘n offermaaltyd tot eer van die Here as Bevryder – Eks. 18:1-12.  Daarna begelei hy ook vir Moses om ‘n groot deel van sy leierskapsfunksies aan sewentig leiers te delegeer, sodat hulle almal die verantwoordelikheid daarvoor kan deel – Eks. 18:13-23.  Die hoofstuk sluit af met Moses se uitvoering daarvan – Eks. 18:24-27.

Jetro begelei die Israelitiese leiers in ‘n offermaaltyd tot eer van die Here – 18:1-12

Jetro kom vier die groot dade van God in Egipte met sy skoonseun, Moses. Hy bring ook vir Sippora en hulle twee seuns, Gersom (vernoem na Moses se vreemdelingskap) en Eliëser (vernoem na God as hulp), “want,” het Moses gesê, “die God van my voorvaders het my gehelp: Hy het my gered toe die farao my wou doodmaak.

Sippora is waarskynlik op een of ander stadium na haar pa-hulle teruggestuur weens die teenstand wat Moses in Egipte ervaar het nie net van die farao, maar ook van sy eie mense in die tyd van die tien plae.  Ons weet nie wanneer Eliëser gebore is nie.  Hy was heel moontlik al gebore toe hulle saam Egipte toe is (Eks. 4:20 – die skrywer praat daar van “kinders”).

Jetro se reaksie op die wonderlike dinge wat Moses hom van God se wonderdade van bevryding vertel, is om die Here saam met al die Israelitiese leiers te loof in ‘n groot offermaaltyd waarin hy hulle begelei.  Sy besef van die grootheid van God het eksponensieel gegroei: “Nou besef ek dat die Here groter is as enige ander god, want toe die Egiptenaars vermetel teen die volk van die Here opgetree het, het Hy hulle uit Egipte se mag bevry.

Jetro begelei Moses om die leierskapsverantwoordelikhede te deel – 18:13-23

Jetro sien egter onmiddellik dat Moses hom gaan uitbrand met sy groot sin vir verantwoordelikheid om selfs aan die kleinste detail in die leiding rondom God se wil sowel as in die normale geskille wat daar tussen mense was, aandag te gee.  As dit vir Moses op die lang duur net te uitputtend sou wees, hoeveel te meer sou dit nie vir diegene wat vir ‘n kansie deur die dag moet wag om by Moses uit te kom nie, die geval wees nie.

Jetro kom met ‘n wyse plan vorendag dat Moses sy primêre verantwoordelikheid moet nakom om die volk se verteenwoordiger by God te bly wees en alle sake wat met die volk as sodanig te make het, voor Hom te bring.  Sy toerustingsfunksie om die volk die voorskrifte en wette op die hart te druk, en hulle die pad te leer wat hulle moet loop en wat hulle moet doen moet vir hom die hoofsaak wees.

Dit dui ook daarop dat daar ‘n reeks wette en riglyne in omloop was selfs voor die wet op Sinai gegee is aan Moses en die volk, waarskynlik deel van die mondelingse tradisie waarop die Israeliete hulle geloof gebou het.  Dit sou waarskynlik ook die aartsvadertradisies insluit wat uiteindelik in die boek Genesis neergeskryf is.

Vir die ander leierskapsfunksies moet hy bekwame manne uitsoek en aanstel, mense wat dienaars van die Here was, mense wat die waarheid lief gehad het, en veral nie hulle eie voordeel sou soek nie en onpartydig kon optree in die sake wat die volk voor hulle bring.

Jetro stel eintlik ‘n netwerk van leiers voor wat groter en kleiner verantwoordelikhede in spanverband moet neem: as leiers oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien.  Hulle moet die minder belangrike regsake afhandel.  Die belangriker regsake sowel as die belangrike godsdienstige- en geestelike sake kan dan nog steeds na Moses verwys word vir hantering.  So sou die verantwoordelikheid gedeel word en almal tevrede wees.

Dit is duidelik dat die hele lewe van Israel van die begin af in God se wil vir hulle lewe gefundeer was.  Net soos hulle godsdienstige en geestelike lewe in die wet van God gefundeer was, was hulle regstelsel en regeringstelsel daarop gefundeer.  Trouens, dié manier waarop die lewe van Israel hier deur ‘n netwerk van leiers georganiseer is, sou ook in toekomstige oorloë met groot vrug gebruik kon word (Num. 31:14). Dit was selfs die geval in Samuel (1 Sam. 22:7), Dawid (2 Sam. 18:1) en Salomo (1 Kron. 2:1) se tyd.  Selfs hulle militêre optredes sou deur hulle verhouding met God gestempel word.

Jetro maak dit duidelik afhanklik van die Here se bevel, maar soos ‘n mens uit die volgende perikoop agterkom, was dit ook vir die Here ‘n gegewe.

Moses luister na sy skoonpa se wyse leiding en voer dit uit – 19:24-27

Moses het dus na sy skoonpa geluister, die Here geraadpleeg, en bekwame mense aangestel, presies soos Jetro voorgestel het.  Sy skoonpa is toe terug na sy eie gebied toe, hoewel dit nie ‘n finale afskeid was nie.  Hulle sou weer verenig op die laaste been na Kanaän toe waartydens ‘n hele aantal van die Keniete saam is as deel van die stam van Juda.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda