Skip to main content

Eksodus 2 – God het hulle gekreun gehoor en verstaan

Moses word gebore, maar word groot in die paleis – 2:1-10

Hoofstuk twee bring ‘n baba op die toneel, die mooie Moses, wat die balans van die geveg tussen farao en God beslissend na God se kant toe skuif.  Soos God jare later dit met die geboorte van sy eie Seun sou doen, begin die verandering wat God bring nie deur mag en geweld nie, hoewel dit ook later ‘n rol gaan speel met die plae en ander Goddelike beskermingsmaatreëls.  God begin sy proses van verandering deur die onopspraakwekkende geboorte van ‘n kind vir die Leviet Amram en die Levitiese Jogebed, Amram se tannie (Eks. 6:19).

Hoe subtiel is God se reaksie nie op farao se brutaliteit nie?  Onder die neus van farao se volk word ‘n kind gebore wat die leier sal word van die onkeerbare trek uit Egipte na die land van belofte.  Ironies genoeg word hy deur farao se dogter nog nader getrek, ná sy ma eers toegelaat is om hom te speen, sodat hy saam met farao se kinders grootword in die paleis.

Die naam Moses word met die Hebreeuse woord mašha verbind wat “uithaal (uit water uit)” beteken, maar dit is ook ‘n bekende Egiptiese woord wat “seun” beteken en deel van baie van die farao’s se name uitmaak, bv. die waarskynike farao’s van die Eksodus Thutmoses II en III.  Thutmoses beteken: “seun van (die god) Thuth”.

Historici wys ook op die interessante ooreenkomste tussen die legende van Sargon en die eerste deel van die verhaal van Moses.  Die legende van Sargon wat in ‘n Assiriese argief in Nineve (Mosoel) ontdek is, vertel van die met-pik-verseëlde rietmandjie waarin Sargon as buite-egtelike kind van ‘n hoëpriesteres in ‘n rivier geplaas is en gered is deur ‘n boer wat hom grootgemaak het.  Uiteindelik het hy die guns van die godin Isjtar verwerf en is deur haar as koning gekroon.

Die werklike koning Sargon se koninkryk is gevestig rondom 2300 v.C., maar die legende is eers baie later opgeteken, deur Sargon II (721-705 v.C.), net ná die ballingskapwegvoering van die Noordryk van Israel na Assirië, maar lank na die gebeure van Moses in 1400 v.C.  Die Bybelse verhaal is verder fundamenteel anders. Dit vind in die konteks van kindermoord plaas.  Met die vind van die kind Moses word hy weer teruggeplaas in die sorg van sy regte ma.  Hy raak groot in die paleis, maar moet vir veertig jaar vlug en in die woestyn gaan bly, ensomeer.

‘n Interessante eksegetiese feit is dat die Hebreeuse woord tēʹ·ḇǎṯ vir die mandjie van papirus (biesies) wat met pik en teer verseël is, net een ander keer in die Bybel gebruik word, en dit is vir ark van Noag.  In albei gevalle word ‘n dienskneg van die Here van die potensiële gevaar van water gered.  En in albei gevalle bewerk God daardeur redding vir mense – in Genesis vir die breë mensdom, en in Eksodus vir die Israeliete.  Geen wonder dat Petrus in die NT dié simbool van redding in sy interpretasie van die doop gebruik nie (1 Pet. 3:18-22).

Moses identifiseer met sy eie mense en tree gewelddadig op – 2:11-15

Van die begin af word Moses se verhaal doelbewus met dié van Israel vervleg om sy integrale rol in die Eksodus te beklemtoon.  Die lot van die Israeliete sou van hierdie punt af van die lot van Moses afhanklik wees, soortgelyk as wat Christene se lot aan dié van Jesus verbind is.

Nie dat Moses se aanvanklike identifikasie met sy geboortevolk en moorddadige optrede om ‘n Jood van sy verdrukker te red ‘n goeie ontvangs by óf die volk óf die farao gehad het nie. Maar, die streep in die sand is ten minste al getrek, al moes Moses nog veertig jaar wag voor die roeping van die Here om die volk te laat uittrek uit Egipte, volle wasdom in sy lewe bereik het.

Een van die interessante implikasies van hierdie vervlegting van Moses en die Godsvolk se verhale is dat God daarmee nie net geteken word as die God van die leiers nie, maar ook en baie pertinent as die God van elke individu van sy volk.  Hy is die God van die hele volk én God van die enkeling.  Soos ons in hoofstuk 1 gesien het met die verhaal van die vroedvroue, word die voorreg om te deel in die seën van Abraham nou die belewenis van gewone Israeliete.  God seën die vroedvroue met eie huisgesinne, omdat hulle Hom eerder as die farao gehoorsaam.

Moses se gewelddadige identifikasie met sy eie mense bring hom egter in die moeilikheid by hulle en die farao en laat hom vlug.  Nie die Israeliete óf die farao het die kapasiteit om Moses se leierskap as legitiem te aanvaar nie, en hy blaas die aftog.

Moses vlug na Midian en trou met Siporra – 2:16-22

Dit is baie betekenisvol dat Moses na Midian vlug en daar ‘n tuiste vind.  Dit was ‘n plek waar Jahwe aanbid is, en waar Moses nie net in kontak kon kom met Hom nie, maar waar hy in ‘n gemeenskap tereg kon kom wat Jahwe aanbid het.  Dit dek die tafel vir die ontmoeting met God wat in die volgende hoofstuk aan die orde sal kom.

Dit is na dié groep wat Moses vlug, ‘n tydperk wat hom waardevolle ervaring van die woestyn en veral die belangrike oases in die woestyn sou gee.

‘n Bietjie agtergrond: die Midianiete was afstammelinge van een van Abraham se ses seuns by sy tweede vrou Ketura, ‘n tyd ná Sara se dood (Gen. 25:1-2).  Hulle was dus nie onbekend met die God van Abraham nie.  Twee geslagte later word Josef deur van hulle handelaars in Egipte verkoop weens sy broers se verraad teen hom (Gen.37:25-36).  Terloops, die feit dat die name Midianiete en Ismaeliete soms uitruilbaar gebruik word (Gen. 37:25-26), beteken waarskynlik dat dié twee stamme noue bande gehad het.

Sommige van die Midianiete, die Keniete, het uiteindelik deel van Israel geword as gevolg van hierdie verbintenis.  Moses het sy swaer Gobab waarskynlik oortuig om saam met die volk te trek van Sinai af (Num. 10:29-32).  Hulle het hulle saam met die stam van Juda in Kanaän gaan vestig (Rigt. 1:16).  Trouens, Jael wat met die Keniet Geber getrou het, was verantwoordelik vir die dood van Sisera in die veldtog van Debora teen Jabin (Rigt. 4).

Maar die groter groep Midianiete sou egter later op verskillende wyses ‘n uitdaging vir die Israeliete wees.  Die profeet Bileam is deur Midianitiese leiers gehuur om Israel te vervloek (Num. 22) en Midianitiese (en Moabitiese) vroue het die Israelitiese mans verlei tot afgodery en onsedelikheid by Baäl-Peor (Num. 25).  Die Midianiete het dus wel vir Jahwe gedien, maar sinkretisties saam met ander gode.  Regdeur die Rigtertyd het die Midianiete strooptogte teen die Israeliete geloods, hoewel Gideon darem op ‘n punt hulle ‘n gevoelige terugslag toegedien het (Rigt. 6-7).

Terug by die verhaal.  Soos putte in die verhoudings van talle van die aartsvaders ‘n rol gespeel het – vgl. die verhale van Rebekka en Ragel – speel ‘n put weer ‘n keer ‘n “match-making” rol in die lewe van Moses en Siporra.  Hy staan op vir die regte van die sewe dogters van die priester Reuel van Midian en Reuel gryp die kans aan om ‘n beskermheer as skoonseun te verkry.

Reuel is vir ons natuurlik beter bekend as Jetro, soos hy in die volgende hoofstuk aan ons bekendgestel (Eks. 3:1; vgl. ook Eks. 18:1 vv.).

Die naam wat Moses sy kind gee, Gersom, is verwant aan die Hebreeuse woord vir vreemdeling: “’Want,’ het hy gesê, ‘ek het ‘n vreemdeling geword in ‘n vreemde land.’” ‘n Naam wat ‘n baie betekenisvolle insig vir ons gee in sy ervaring van hierdie tyd van ontwrigting en ontbering, maar ook die begin van die nuwe visie van die roeping wat God vir hom het om die vreemdelingskap van die Israeliete te beëindig deur hulle te begelei na die beloofde land om dit as besitting in besit te neem.

God het hulle gekreun gehoor en begryp – 2:23-25

Die hoofstuk sluit af met die kernagtige verwoording van die eintlik rede vir die bevryding van die Israeliete: “God het hulle gekreun gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob.  God het die Israeliete raakgesien, ja, God het kennis geneem.” (Eks. 2:23-25 – BDV).  Soos die NET Bible die laaste deel vertaal: “God saw the Israelites, and God understood …”  Inderdaad!

Ons weet nou al uit talle van die verhale in Genesis dat wat God hoor, dink en sien altyd oorgaan in aksie.  Dit is nie anders in Eksodus nie, soos ons in die volgende hoofstuk sal lees: “Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.” (Eks. 3:8).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar