Skip to main content

Eksodus 13:17-14:31 – Die teenwoordigheid van die Here raak die Godsvolk se kompas deur die woestyn

In drie episodes word die trek van die Israeliete uit Egipte tot deur die Rietsee vertel.  Die redes vir die ompad wat die Israeliete neem en die direkte begeleiding wat die Here van die begin af vir hulle gegee het, word in die eerste episode vertel – Eks. 13:17-22.  Farao se koppige agtervolging van die Israeliete om hulle weer terug te dwing in slawerny word in die tweede episode vertel met die klem op die Israeliete wat opgeroep word om vas te staan en op die Here se ingrype te wag en vertrou: “Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg” – Eks. 14:1-14.  Die Here se wonderbare voorsiening van ‘n pad deur die Rietsee waardeur die Israeliete finaal van Egipte en die smeltkroes van hulle vernedering kan afskeid neem, word in die laaste episode vertel – Eks. 14:15-31.

Die Here begelei die Israeliete met ‘n ompad na die Rietsee – 13:17-22

Dit is interessant dat die Israeliete goed georganiseerd uit Egipte getrek het wat beteken hulle was reg vir enige moontlike konflik wat hulle sou teëkom.

Maar die Here besluit in sy wysheid om hulle nie met die kortste pad na Kanaän te begelei nie. Die Here het voorsien dat as die volk in ’n geveg betrokke sou raak, en dit met hulle sleg sou gaan in die oorlog, hulle dalk spyt kon kry en na Egipte toe teruggaan. Daarom het Hy hulle nie met die pad geneem wat hulle direk met die Filistyne sou konfronteer op pad na Kanaän nie, maar eerder die ompad deur die woestyn in die rigting van die Rietsee. Die Filistyne sou weldra van die wonderwerke in die woestyn kennis neem, soos ‘n mens later in Samuel se tyd lees en ook met ontsag vir die Here vervul word (1 Sam. 4:8).

Die Griekse vertaling van die OT het die Hebreeuse Rietsee vertaal as Rooisee.  Dit is waarom daar in die NT in die toespraak van Stefanus (Hand. 7:36) en die beskrywing van die Uittog deur die Hebreërskrywer (Hebr. 11:29) van die Rooisee gepraat word.

Die presiese plek waar hulle die Rietsee sou kruis, is onduidelik, hoewel dit êrens in die gebied noordwes van die Rooisee tussen die Golf van Suez en die Groot Bitter Meer, geleë moes wees, min of meer die gebied waar die Suezkanaal vandag gebou is.  In daardie tyd was daar verskillende mere en moerasagtige dele in daardie gebied waarvan die watervlak hoër was as wat dit vandag is.

Moses het ook die versoek van Josef geëer deur sy beendere saam te neem sodat dit in Sigem begrawe kon word.  Hulle is deur die wolkkolom van die Here begelei en het by Etam (onbekend) kamp opgeslaan. Die wolkkolom van God se teenwoordigheid by hulle het in die nag in ‘n vuurkolom verander sodat hulle dag en nag kon trek.  Daarmee het die teenwoordigheid van die Here self die Godsvolk se kompas geword deur die woestyn.

Farao agtervolg die Israeliete, maar die Here laat hulle vasstaan in vertroue – 14:1-14

Die Here laat die Israeliete wegdraai van Etam en nader aan die Rietsee kamp opslaan  Hoewel ons nie presies die drie plekke – Pi-Hagirot, Migdol en Baäl-Sefon – kan identifiseer nie (dit was waarskynlik Egiptiese vestings op hulle noord-oostelike grens) is dit duidelik dat die verwysings ‘n historiese basis het weens die presiese geografiese beskrywing aan die hand van die vier merkers (die see is die vierde merker).

Dit is ook duidelik dat dit ‘n uiters slim skuif is van die Here, want die verandering van rigting sou die farao kon laat dink dat die Israeliete verdwaal het en dat hulle deur die woestyn vasgekeer is.  Gegewe sy koppigheid sou dit hom verlei om te probeer om hulle te agtervolg en in te haal.  Dit is egter duidelik ‘n goddelike hinderlaag, want die Here het reeds besluit dat Hy ook dáár sy mag sal laat geld teen farao en sy leër: “Dan sal Egipte besef dat Ek die Here is.

Die farao val vir die hinderlaag en vat sy leër saam met hom op meer as ses honderd van sy strydwaens, waarskynlik ongeveer 1 800 soldate, drie per strydwa.  Hulle het die Israeliete dus baie maklik ingehaal tot die Israeliete se groot konsternasie.

Let op hoe hulle vrees en benoudheid op Moses geprojekteer word en hy beskuldig word dat hy hulle teen hulle sin saamgesleep het om in die woestyn te sterwe.  Kan jy nou meer!  “Dit is vir ons beter om vir hulle te werk as om hier in die woestyn om te kom,” sê hulle mismoedig en ongelowig.

Moses praat hulle egter moed in: “Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red … Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.”  ‘n Belofte wat op baie maniere in baie verskillende situasies en op baie verskillende maniere vir gelowiges deur die eeue waar geword het.

Die Here red die Israeliete deur ‘n pad deur die Rietsee – 14:15-31

Die Here se opdrag aan Moses om met sy kierie in die hand die see oop te kloof sodat die Israeliete op droë grond kan deurgaan, gee vir ‘n mens ‘n fassinerende kykie in die sinergie wat daar tussen God se werk en dié van sy dienaars is.  God bly die handelende subjek, maar Moses speel ook sy rol deur ‘n aksie van gehoorsaamheid uit te voer.

Sonder God se opdrag en optrede sou daar niks gebeur het nie.  Sonder Moses se gehoorsaamheid sou daar moontlik ook niks gebeur het nie, of te wel dan nou nie deur Moses nie, omdat God soms sy dienaars se onwilligheid om op te tree, ter syde stel (vgl. Bileam in Num. 22).

Die gordyn word ‘n bietjie verder oopgeskuif oor watter voorreg Israel werklik in die manifestasie van God se teenwoordigheid in die wolk- en vuurkolom gehad het.  Midde daarin was die Engel van God wat hier – soos die Engel van Jahwe (Engel van God en Engel van Jahwe word uitruilbaar gebruik, vgl. Rigt. 6:20-22) wat vroeër by die doringbos aan Moses verskyn het – nie net saam met hulle beweeg het nie, maar nou as beskermer tussen hulle en die Egiptenare inbeweeg het.  Die Engel van God (Jahwe) was dus beide Begeleier en Beskermer, presies die tipe kwaliteite wat God self gehad het.

Ook die wolkkolom het agter hulle ingeskuif om ‘n skeiding tussen die Israeliete en die Egiptenare te verskaf sodat die Here tyd kon hê om die water met ‘n sterk oostewind oop te kloof sodat die Israeliete droogvoets daardeur kon trek.  Aan die Egiptenare se kant was dit donker.  Aan die Israeliete se kant was dit lig.

Vir die Israeliete was die pad deur die see hulle redding.  Vir die Egiptenare was dit hulle ondergang.  Hulle pogings om om te draai en te vlug was tevergeefs.  Hulle het teen die terugkerende water vasgevlug en die Here het hulle deur die see laat meesleur.  Daar het nie een van die soldate oorgebly nie, hoewel dit tog lyk asof farao met sy lewe daarvan afgekom het.  Daar word nie vermeld wat met hom gebeur het nie.

Hierdie ervaring van redding uit die water wat weerskante van Israel soos ‘n muur gestaan het, het ‘n onuitwisbare indruk op hulle gemaak.  Hulle is met ontsag vir die Here vervul. Daarom het hulle in die Here geglo en, sê die skrywer, ook in Moses, sy dienaar.

Daarmee het die Israeliete van die tog deur die see ook geloofstatus verkry in die oë van die Hebreërskrywer wat opmerk: “Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het.” (Hebr. 11:29).

Paulus se interpretasie hiervan in 1 Korintiërs 10:1-22

Paulus verwys direk na hierdie verhaal van die voorvaders wat almal onder die beskerming van die wolk was en almal veilig deur die see gegaan het.  Hy sê: “Omdat hulle almal vir Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop. Almal het dieselfde geestelike voedsel geëet, en almal het dieselfde geestelike drank gedrink: hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus.

Paulus gebruik hierdie verhaal dus as ‘n waarskuwing en motivering vir ons, omdat die ongemaklike waarheid oor die Israeliete in die woestyn was, dat ten spyte van hierdie wonderlike ervaring by die Rietsee:“God met die meeste van hulle nie tevrede (was) nie, want hulle het in die woestyn omgekom.

Paulus gaan verder om te sê dat hulle daarom: “voorbeelde vir ons (is) dat ons ons nie soos hulle deur sondige begeertes moet laat dryf nie.”  En hy brei uit oor die gevaar van afgodediens en onsedelikheid wat altyd die twee groot versoekings vir die geloofsgemeenskap is.  Hy sê letterlik dat die Israeliete met hulle latere optrede CHRISTUS uitgetart het, omdat die Goddelike teenwoordigheid in die wolk- en vuurkolom, sowel as die Engel van God, met die Here Jesus in sy preëksistensiële gedaante verbind kan word.  En hulle het omgekom deur die engel van die dood, d.w.s. ‘n “plaag” (NAV: “ramp”) soos dit in Numeri 25:8 beskryf word.

Paulus verkondig teenoor dié wrede werklikheid die verlossende teenwoordigheid van die Here Jesus wat vir ons in versoeking sorg en intree.  Jesus gee immers in versoeking die uitkoms, sodat ons dit kan weerstaan, soos Paulus ons troos en bemoedig.

Lees verder in my bydrae oor 1 Korintiërs 10 waarin ek ook na verskeie gedeeltes uit die woestynverhaal verwys met die beskrywende titel: 1 Korintiërs 10 – Gemeenskap met God moet ten alle koste beskerm word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar