Skip to main content

Eksodus 22 – Sorg vir mense en hulle besittings

Die sorg vir mense en hulle diere in hoofstuk 21 word in hoofstuk 22 uitgebrei na die sorg vir mense en hulle besittings wat onder andere met die agste gebod (diefstal) verband hou – Eks. 22:1-15.  Daarby word gevoeg ‘n aantal morele, burgerlik en godsdienstig-seremoniële wette wat met die tweede (afgodsbeelde), derde (Naam), sewende (egbreuk) en tiende gebod (begeerte) verband hou – Eks. 22:16-31.

Oor skade aan besittings – Eks. 22:1-15

Die beginsel wat agter die verskillende gevallestudies oor skade wat aan mense berokken word deur diefstal (agste gebod) – hetsy uit jou eie besit of waar iemand anders dit vir jou oppas – inbraak, misbruik van ‘n ander se weiveld, skade deur veldbrande, onwettige besitname van bv. gesteelde of verlore goedere, of skade wat deur uitleen aan iemand berokken word, is dat daar restitusie gedoen word. Dié riglyn lê waarskynlik agter Saggeus se optrede in die NT waar hy oorvloedig terugbetaal wat hy van mense op onwettige wyse verkry het (Luk. 19).

As daar egter ‘n dispuut ontstaan om watter rede ook al moet daar ‘n beslissing binne die geloofsgemeenskap gemaak word op grond van die getuienis wat die betrokkenes aan die lig bring.  Sommige vertaal die woord ʾělō·hîmʹ wat hier gebruik word met “owerhede” (OAV), maar dit is waarskynlik beter om dit in sy tradisionele betekenis van “God” (NAV) te gebruik.  Uitspraak moet dus by die heiligdom gemaak word in die teenwoordigheid van die Here waar die leiers van die geloofsgemeenskap, in dié geval dan Moses, die betrokkenes met onderskeiding kan begelei.

Oor morele, burgerlike en seremoniële wette rondom mense – Eks. 22:16-31

Voordat verder oor hierdie tipe geregtigheid gehandel gaan word, word ‘n aantal relatief losstaande wette gelys wat met die eerste (afgode), tweede (afgodsbeelde), derde (Naam), sewende (egbreuk) en tiende gebod (begeerte) verband hou.

Weereens moet ‘n mens in gedagte hou dat die leidende beginsel die diep deernis is met die situasies wat ontstaan as daar teen die wet opgetree word.  Die persoon wat benadeel word, word vergoed of vergeld, maar die persoon wat aandadig was, word ook met billikheid hanteer.

  • Die riglyn vir ‘n ongetroude maagd wat deur ‘n man verlei word om die sewende gebod (egbreuk) en die tiende gebod (begeerte) saam met hom te oortree, is dat hulle dinge moet regstel deur te trou en die verskuldigde bruidskat aan die pa te betaal. Dit is waarskynlik die riglyn wat agter Paulus se raad aan gelowiges in die NT lê dat as hulle begeertes te sterk word en hulle voel dat hulle behoort te trou, laat hulle doen wat hulle graag wil: “laat hulle gerus trou. Dit is nie verkeerd nie.” (1 Kor. 7:36).  Die pa het egter die reg om dié troue te weier as hy die man nie as geskikte trou-materiaal beskou nie.  Die bruidskat moet in ieder geval ook in dié geval betaal word.
  • Towenaresse moes uitgeroei word, soos dit regdeur die OT die opdrag was (vgl. Deut. 18:10 wat ook na towenaars verwys), weens die gevaar van die oortreding van die eerste drie gebooie (afgodery, afgodsbeelde, Naam). Hulle is saam met die dodebesweerders en waarsêers uitgeroei, hoewel dit nooit heeltemal suksesvol was nie, soos ons onder andere in Saul se verhaal later sou lees waar hy ‘n dodebesweerder en waarsegster raadpleeg (1 Sam. 28).  Isebel het haar ook daarmee opgehou (2 Kon. 9:22).  Manasse is ook sterk veroordeel omdat hy dié praktyke in sy koningskap bevorder het (2 Kron. 33:6), hoewel hy laat in sy lewe wel tot inkeer gekom het.
  • Bestialiteit is sterk veroordeel soos dit later in Levitikus ook gedoen sou word.
  • Afgodediens in watter vorm ook al is sterk afgekeur.
  • Vreemdelinge, weduwees en wese was van die begin af uitgesonder as mense wat met deernis bejeën en van direkte hulp voorsien moes word. Die Here het van sy volk verwag dat hulle hierdie mense wat baie maklik na die rand van die samelewing uitgeskuif is, sou intrek en versorg, soos Hy dit met hulle as vreemdelinge in Egipte gedoen het.  Dit sou ‘n sterk refrein in die profete word wat die volk oor hulle versuim hieroor regdeur hulle geskiedenis sou aanspreek.  Hierdie beginsel word in God se toorn oor sulke vergrype begrond.
  • Dieselfde geld arm mense wat met deernis hanteer word deur veral nie hulle moeilike situasie nog moeiliker te maak met renteheffings op lenings nie of deur die klere wat hulle verpand in hulle nood langer as ‘n paar uur van hulle af te weerhou nie. Die idee was dus waarskynlik dat jy eerder moet help as geld maak uit iemand se nood wat hom letterlik kaal kan uittrek.  Hierdie beginsel word in God se barmhartigheid begrond.
  • Dieselfde riglyn oor lasterlike optrede word ten opsigte van God sowel as sy leiers gehandhaaf. Die derde gebod (Naam) het dus nie net met God te make nie, maar met enige gesagsfiguur in die geloofsgemeenskap.
  • Die verbintenis van die volk aan God moet deur offers wat betyds gegee word, geïllustreer word, soos Hy inderdaad ook sy kant van die verbond nakom.
  • Die gebod wat reeds by die Paasfees rondom eerstelinge afgekondig is, word ook hier gehandhaaf, soos ek reeds vroeër oor geskryf het.

Die opsommende opmerking aan die einde van hierdie hoofstuk vat die leidende beginsel van al die wette saam: “Julle moet vir My heilige mense wees.” (OAV).  Die heiligheid lê nie in een of ander godsdienstige of sosiale beginsel nie, maar in die verhouding met die God wat heilig is.  Daarom kan Hy definieer wat heilig is en wat nie.  Daarin moet sy volk Hom navolg, nie hulle eie idees daaroor nie.  Dit sluit onder andere in dat hulle nie diere wat in die veld doodgaan, mag eet nie, want die Here het dit bedoel vir die honde.

View all posts in this series

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar