Eksodus 16 – God voorsien brood, vleis en die Sabbat as tekens van sy teenwoordigheid

Dit is maar die begin van die sewende week ná die Uittog. Die interne verset van die volk begin al hoe erger raak.  Hierdie keer is hulle ontevrede oor ‘n gebrek aan vleis en kos.  Die Here gee daarom nie net vir hulle manna as brood en kwartels as vleis nie (Eks. 16:1-21), maar bevredig ook hulle behoefte aan geestelike voedsel (Eks. 16:22-30).  Dít is waarvoor die sewende dag as die rusdag by uitstek geskik sou wees.  Die boodskap hiervan word ook vir die nageslag bewaar (Eks. 16:31-36).

Die verset lei tot die volgende bewys van God se teenwoordigheid by hulle.  God voorsien in hulle fisiese behoefte van brood en vleis – manna en kwartels – Eks. 16:1-21.  Daarby stel Hy ook die eerste keer die Sabbatdag as ‘n rusdag in waarop hulle sou kon herstel van hulle arbeid en aktiwiteite die vorige week – Eks. 16:22-30. Die hoofstuk sluit af met ‘n beskrywing van die maatreëls wat Moses tref dat dié voorsiening van die Here vir die nageslag bewaar sou kon bly – Eks. 16:31-36.

Hoofstuk 17 sou verder oor eksterne uitdagings praat waar dit nie meer die farao vanuit Egipte was wat hulle teengestaan het nie, maar die Amalekiete wat teen Israel by Refidim kom veg het.  Dit sluit die bekende verhaal van Aäron en Hur in wat Moses se arms in die geveg regop gehou het.  Dit berei ‘n mens ook voor vir die res van die strydverhale van die woestyn sowel as die Intog in Kanaän.

Hoofstuk 18 sou weer terugkeer na die interne konflik in die volk wat besleg is met die raad van Jetro aan Moses oor gedeelde leierskap.  Dit berei ‘n mens ook voor vir die wyse waarop onderlinge verhoudinge gereël sal  word in die verbondsboek van Eks. 20-24, sowel as die latere nog meer uitgebreide vorm daarvan in Levitikus wat Eksodus opvolg in die Tora.

Die Here voorsien brood en vleis vir die trek – 16:1-21

Dit is skaars ses weke ná die Israeliete uit Egipte getrek het.  Hulle het die wonderlike teenwoordigheid van God in die wolk- en vuurkolom steeds elke dag ervaar.  Hulle het die wonderlike deurtog deur die Rietsee ‘n paar weke terug ervaar terwyl die water weerskante hulle soos ‘n muur gestaan het.  Hulle het die wonderteken van die Here net daarna by Mara ervaar toe die bitter water soet geword het.  Hulle het die oorvloed ervaar by hulle onlangse verblyf by die groot oase by Elim met sy twaalf fonteine, een vir elke stam!

Maar, hierdie wonders was net nie genoeg om hulle te oortuig om die Here te vertrou vir elke behoefte wat hulle het nie.  Die “volksvergadering” – die gesinshoofde – het met hulle aankoms in die Sinwoestyn hulle teen Moses en Aäron begin verset en gekla dat hulle die volk uit Egipte gelei het op hierdie woestynpad.  In Egipte het hulle immers genoeg vleis en kos gehad.  Hier sou hulle egter van honger omkom.

Dit lei tot die volgende bewys van God se teenwoordigheid by hulle.  God voorsien in hulle fisiese behoefte van brood en vleis – manna en kwartels. Daar is baie pogings om die manna en kwartels op ‘n natuurlike manier te verklaar, bv. die manna as die uitskeiding van sommige insekte en die kwartels as swerms migrerende voëls wat weens uitputting maklik was om te vang.  Maar die beskrywings hier en in Numeri 11 en Psalm 78 is van wonderwerke wat aan die Here se gawes toegeskryf word.  Dit is nie natuurlike voorsienings soos wat die geval uiteindelik in die beloofde land sou wees via die normale prosesse van landbou en veeteelt nie.

Die idee dat elke huis vir elke dag manna moes gaan optel, lê natuurlik agter die gebed wat die Here Jesus ons geleer het in die NT: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” (Matt. 6:11).  Die verhaal van die Israeliete leer ons op ‘n baie praktiese wyse hoe daardie gebed werk waar ‘n mens van die Here afhanklik lewe.  Mense wat te veel oorvloed het, kan natuurlik ook die waarde van dié gebed besef deur deel van die voorsiening te word vir dié wat ‘n stryd het om hulle daaglikse brood.

Wat ons ook moet raaksien, is dat van die begin af die voorsiening van die Here aan ‘n daaglikse gehoorsaamheid gekoppel word.  Dit sal ‘n tema word regdeur die Pentateug en die res van die profetiese literatuur dat God gehoorsaamheid vereis. Sy seën is daaraan verbind.  Dié wat aan Hom ongehoorsaam is, ontbeer ook sy voorsiening, trouens, ontgeld baie keer sy toorn.

Die Here voorsien die Sabbat as rusdag – 16:22-30

Die Here gee ook ‘n verdere bewys van sy teenwoordigheid by hulle.  Dit bewerk Hy deur die eerste instelling van die Sabbatdag as ‘n rusdag waarop hulle kon herstel van hulle arbeid en aktiwiteite die vorige week.  Dit sou ‘n fundamentele deel van hulle identiteit word soos verwoord in die  vierde van die Tien Gebooie.  Lees hier meer oor wat ek vroeër oor die Sabbat geskryf het.

Ek gee ‘n kort uittreksel:

“Die sabbat (in Hebreeus beteken die woord: rus) was aanvanklik ‘n rusdag waardeur ‘n gesonde ritme van werk en rus gevestig is (Gen. 1).  Na die Uittog uit Egipte het dit ‘n ekstra betekenis gekry deurdat dit die volk moes laat terugdink aan die vryheid wat God hulle van hulle slawerny in Egipte gegee het (Eks. 16; Deut. 5).  Dit was daarom die teken van die verbond (Eks. 31:16).  Dit het ook ‘n kultiese betekenis gekry deurdat dit ‘n dag geword het waarop gewyde byeenkomste gehou is (Lev. 23).

Die sabbat is met nuwe inhoud gevul in die tyd van die ballingskap, waar dit eintlik ‘n nog meer prominente betekenis gekry het as van te vore, veral omdat Israeliete nie meer by die tempel kon kom nie.  Die sabbat het dus ‘n gemeenskapskeppende funksie gekry, waardeur hulle as ‘n volk saamgebind is, sowel as ‘n godsdiensbevestigende funksie, deurdat die onderhouding daarvan gesorg het dat die ballinge nie van God afvallig raak nie.

Die onderhouding van die sabbat het dus eintlik simbolies van die nakom van die hele wet geword. En oor die volgende paar eeue het die Fariseërs ‘n magdom wette van die korrekte nakoming van die sabbat geskep.  In die Nuwe Testament relativeer Jesus hierdie reëlbeheptheid deur te sê dat die sabbat ter wille van die mens gemaak is, nie die mens ter wille van die sabbat nie (Mark. 2:27; Joh. 5 [genesing van die man wat 38 jaar lank siek was by die bad van Betesda op ‘n sabbatdag]).  Hy herstel dus die oorspronklike betekenis daarvan as ‘n dag waar op God en mense gefokus kan word.

Daarom is die sabbat ook nie voorskriftelik gemaak vir die gelowiges uit die heidene nie (Hand. 15), omdat dit van heidense gelowiges Jode sou maak, en die evangelie daardeur ingeperk en eksklusief gemaak sou word.  Paulus het daarom gelowiges aangeraai om nie te luister na mense wat die sabbat voorskriftelik wil maak  nie (Kol. 2:16-17), ‘n opdrag wat ons gerus vandag ook kan handhaaf wanneer mense hieroor verkeerde interpretasies versprei.

Ons vier daarom nie meer die sabbatdag as die dag van die Here nie, maar wel die Sondag as ‘n rus- en aanbiddingsdag, onder andere op voetspoor van die eerste gelowiges wat op die eerste dag van die week, Sondag, begin bymekaar kom het om die opstanding van Jesus Christus op Sondag (Mark. 16:2; Matt. 28:1; Luk. 24:1; Joh. 20:1) te vier.”

Moses bewaar die manna as tekens vir die nageslag – 16:31-36

Die hoofstuk sluit af met ‘n beskrywing van die maatreëls wat Moses tref dat dié voorsiening van die Here vir die nageslag bewaar sou kon bly.  Aäron sit dit later voor die “getuienis” neer, die ark met die kliptafels van die Tien Gebooie daarin wat in die Tabernakel was.

View all posts in this series

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: