God sien en God verstaan – Bybelskool oor Eksodus begin 18 Januarie

https://brobaer.files.wordpress.com /2013/11/3d20brazen20altar.jpg

In my voorbereiding vir die Bybelskool oor Eksodus word ek baie spesifiek bewus van God se kragtige teenwoordigheid wat soms heel spesifiek in die ellende wat ons ervaar, aan die werk kom.

Hoe ongelooflik staan dit nie daar in Eksodus 2 nie:

God het hulle gekreun gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. God het die Israeliete raakgesien, ja, God het kennis geneem.” (Eks. 2:23-25 – BDV).

God het gehoor, God het gedink, God het raakgesien, en God het kennis geneem. Soos die NET Bible die laaste deel vertaal:

God saw the Israelites, and God understood …” Inderdaad!

Daarom sê die skrywer van Eksodus:

het God afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.” (Eks. 3:8).

Die boodskap daarvan vir vandag is dat as die moeilikhede van die lewe dreig om jou te oorweldig, as jy voel dat jou eie werk vir die Here Jesus Christus tevergeefs is, as jy bid en bid en nie antwoorde op jou gebede sien nie, het jy weer nodig om dié God raak te sien, dié God wat aan die beweeg kom wanneer daar moeilikhede is, wat nie net ons ellende raaksien nie, maar dit verstaan, en wat daarom kan en sal optree.

Mag die reis met Eksodus wat hierdie Woensdag 18 Januarie met my eerste bydrae begin – die eerste byeenkoms in die gemeente is die daaropvolgende Woensdag, 25 Januarie – jou  al hoe meer in die teenwoordigheid van hierdie begrypende God bring, wat nie net raaksien nie, maar ook bevry en verlos.

Inleiding – Eksodus: die hoop op verlossing

https://bethemeth.org/gallery/stained-glass-windows

Waar Genesis die verhaal van Israel in die oorsprong van alle dinge begrond het, begrond die verhaal van Eksodus die verhaal van Israel in die verlossing uit Egipte.  Eksodus sê daarmee dat die God van die heelal, die God van die nasies, die God van die aartsvaders is ook die God van Moses wat God se volk uit die slawerny van Egipte verlos en deur die woestyn bring na die land van die belofte.

Daarmee word die verhaal van die Godsvolk in Eksodus doelbewus vertel as ‘n aaneenlopende verhaal met die Godsvolk waarmee ons reeds in Genesis kennis gemaak het, al het vier eeue al verloop tussen Genesis 50 en Eksodus 1.  Die beloftes wat aan Abraham, Isak en Jakob in Genesis gemaak is, begin uiteindelik in Eksodus in vervuling gaan waar hulle nasate uit die smeltkroes van die slawerny in Egipte gered word om as Godsvolk die land wat God aan hulle belowe het in besit te neem.

Die rede vir die bevryding word gevind in die feit dat: “God het hulle gekreun gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob.  God het die Israeliete raakgesien, ja, God het kennis geneem.” (Eks. 2:23-25 – BDV).  Soos die NET Bible die laaste deel vertaal: “God saw the Israelites, and God understood …”  Inderdaad!

Continue reading

Eksodus 1 – God vermeerder sy volk ten spyte van farao se brutale onderdrukking

Eksodus 1 vertel die begin van die Eksodus aan die hand van twee sleutelgebeure.  Die eerste is die feit dat God die Israeliete uitsonderlik vermeerder het in Egipte sodat hulle ‘n groot volk geword het, ‘n volk wat nou gereed was om die beloofde land nie net te betrek nie, maar te besit – 1:1-7.  Die tweede is die teenstand wat die farao teen God se werk bied deur die vermeerdering van die Israeliete deur slawerny, dwangarbeid en kindermoord te beperk – 1:8-22.

Nie net is dit van die begin af duidelik dat farao nie sal slaag met sy dwase planne nie, maar dat die Here die farao se gewelddadige verdrukking sal gebruik as katalisator om die proses van die Uittog aan die gang te sit.  Verstommend vernuftig!

Die Trek na Israel is op die kaarte reg van die begin van die verhaal van Eksodus af.  Hierna sou die pas versnel om die volk by Sinai te kry waar God sy woorde – die Tora – en sy teenwoordigheid – die Tabernakel – op deurslaggewende wyse aan die hele volk sou gee om hulle verder op hulle pad na Kanaän te begelei. Bevryding kan immers net werk as God se woorde en sy teenwoordigheid die vrygemaaktes se hele wese kan volmaak en hulle totale lewenswyse kan struktureer.

Continue reading

Eksodus 2 – God het hulle gekreun gehoor en verstaan

Moses word gebore, maar word groot in die paleis – 2:1-10

Hoofstuk twee bring ‘n baba op die toneel, die mooie Moses, wat die balans van die geveg tussen farao en God beslissend na God se kant toe skuif.  Soos God jare later dit met die geboorte van sy eie Seun sou doen, begin die verandering wat God bring nie deur mag en geweld nie, hoewel dit ook later ‘n rol gaan speel met die plae en ander Goddelike beskermingsmaatreëls.  God begin sy proses van verandering deur die onopspraakwekkende geboorte van ‘n kind vir die Leviet Amram en die Levitiese Jogebed, Amram se tannie (Eks. 6:19).

Hoe subtiel is God se reaksie nie op farao se brutaliteit nie?  Onder die neus van farao se volk word ‘n kind gebore wat die leier sal word van die onkeerbare trek uit Egipte na die land van belofte.  Ironies genoeg word hy deur farao se dogter nog nader getrek, ná sy ma eers toegelaat is om hom te speen, sodat hy saam met farao se kinders grootword in die paleis.

Continue reading

Eksodus 3-4:17 – God stuur Moses om die Godsvolk uit Egipte te lei

Die pas van verandering begin vir Moses ná veertig jaar in die woestyn versnel.  Die Here het nie net gesien en verstaan  nie.  Hy het afgekom om sy volk uit die mag van Egipte te bevry. Hy wil hulle laat trek: “na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.

In vier episodes word die Godsverskyning (epifanie) aan en roeping van Moses beskryf:

  1. God verskyn aan Moses en roep hom – 3:1-12
  2. God maak sy naam aan Moses bekend – 3:13-22
  3. God gee Moses tekens van gesag – 4:1-9
  4. God gee Moses ‘n spreekbuis Aäron – 4:10-17

Continue reading

Eksodus 4:18-31 – Die oudstes reageer in geloof en aanbidding op Moses en Aäron se boodskap

Moses se terugkeer na Egipte om sy roeping uit te voer, gebeur in vyf kort episodes.  In die eerste plek aanvaar Moses die roeping en vra sy skoonpa se verlof om na Egipte terug te keer – vers 19.  In die tweede plek herhaal die Here sy opdrag aan Moses en gee ‘n kort sinopsis van wat in Egipte sou gebeur – vers 20-23.  In die derde plek lees ons die vreemde verhaal van die Here wat Moses (of Gersom)  wou doodmaak – vers 24-26.  In die vierde plek lees ons van Aäron wat geroep word om Moses te ondersteun – vers 27-28.  In die vyfde plek lees ons van die leiers (oudstes) wat in geloof en aanbidding reageer op Moses se boodskap – vers 29-31.

Continue reading

Eksodus 5 – God beveel farao: Laat my volk gaan!

Ons sien hier die eerste fase van die sogenaamde Heilige Oorlog, God se ingrype in die lewe van sy volk om vir hulle ‘n plek onder die son te verseker, dié land wat Hy aan hulle voorvaders beloof het.  Dit is ‘n oorlog wat uiteraard eers in Kanaän voltooi sal word.  Maar die eerste fase daarvan word aan God se verlossende teenwoordigheid verbind.

Die eerste deel, die verlossing van die Trek uit Egipte, sal deur vier fases verloop voordat die gawe van die Tora (hfst. 15:22-25:40) en die bou van die Tabernakel (hfst. 26:1-40:38) aan die beurt kom:

  1. die konfrontasie met farao en die eerste 9 plae – hfst. 5:1-10:27,
  2. die vervlegting van die tiende plaag en die verhaal van die Paasfees – hfst. 10:28-12:51,
  3. die verhaal van die Trek self wat sy hoogtepunt in die wonderbare oorsteek van die Rietsee bereik – hfst. 13:1-14:31,
  4. die loflied wat Moses, Israel en Mirjam sing ter ere van die verlossing – hfst. 15:1-21.

Continue reading

Eksodus 6:1-26: “Ek is die Here!”

In die vorige hoofstuk het dit duidelik geword dat die opdrag van die Here aan Moses erger weerstand uitgelok het as wat Moses of die volk verwag het.  Die opsigters het Moses skerp aangevat oor hy eintlik ‘n erger ramp oor hulle gebring het as die verdrukking wat hulle tot dusver ervaar het.  Moses het daarom na die Bron van sy opdrag gegaan en met die Here begin worstel oor die swak uitkoms van sy gehoorsaamheid.  Farao het net eenvoudig die las van die volk swaarder gemaak, en Moses het geen teenreaksie van die Here kon raaksien nie.

In aansluiting by die antwoord van die Here aan Moses in die laaste vers van hfst. 5 herhaal die Here in breë trekke die opdrag wat Hy vroeër vir Moses gegee het (hfst. 3 en 4).  Dit is aan die een kant om in Egipte die roeping van Moses by die berg van die Here te bevestig, maar aan die ander kant ook om die sentrale openbaring van God as Jahwe vir hom te onderstreep.

Die bevestiging van hierdie gesprek was noodsaaklik weens die erge teenstand wat Moses ervaar het nie net van die farao af nie, maar ook van sy moedelose mense.  Daarom volg daar ook ‘n geslagsregister wat die gesag van Moses en Aäron ook op grond van hulle afkoms vir die volk sou onderstreep.

Daar sou egter nóg gesprekke nodig wees (hfst. 7) waarin die Here verder uitbrei oor die gesag waarmee Moses mag en kan optree, voordat Moses die stang vasgebyt het en deurgedruk het met die opdrag van die Here.

Continue reading

Eksodus 6:27-7:25 – Egipte sal besef Ek is die Here deur die plae wat Ek stuur

Die pas versnel met twee verdere gesprekke wat God eers met Moses alleen het (Eks. 6:27-7:7) en daarna met Moses en Aäron (Eks. 7:8).  God kies ‘n patroon van optrede waarin Aäron op ‘n gelyke vlak met farao in gesprek tree met Moses wat die eintlike gesagspersoon is.  Moses word daarmee amper vergelykbaar met die gode van Egipte.  Hy tree soos ‘n god vir farao op, al is Moses natuurlik nog weer onderworpe aan die Here self, wat geen gelyke het nie!  God se soewereiniteit word daarmee verkondig.  Daarna tree die Here met beide Moses en Aäron in gesprek (Eks. 7:8) waarna hulle die opdrag van die Here in farao se teenwoordigheid uitvoer (Eks. 7:9-13), maar sonder enige verandering aan sy kant.

Dit gee aanleiding tot die eerste van die tien plae wat gemik was daarop om God se gesag teenoor beide farao en die gode van Egipte ten toon te stel as ‘n getuienis aan die latere nageslagte van die Here se soewereine mag oor die wel en wee van al die mense op aarde.

Continue reading

Eksodus 8 – Die plae is Jahwe se verlossende oordeel as getuienis dat Hy God is

Hoofstuk agt beskryf die verloop van die tweede, derde en vierde plae: paddas, muggies en steekvlieë.  Die tweede plaag is waarskynlik onder andere gemik teen die verering van Heket, die Egiptiese godin van die geboorte van kinders wat met die simbool van ‘n padda voorgestel is.  Die tweede en derde plaag tref die hele Egipte, ook die Israeliete, maar met die vierde plaag begin die Here ‘n onderskeid maak.  Hy spaar die Israeliete die plaag van die steekvlieë om aan farao die boodskap te bring dat Hy sy eie mense kan beskerm, iets wat farao nie kan regkry nie.

Continue reading

%d bloggers like this: