Eksodus 15 – Die Here is die Bewerker van wonderdade wat sy volk beskerm en sy vyande verpletter
Hoofstuk 15 gaan oor Moses, Mirjam en Mara. Moses (15:1-19) en Mirjam (15:20-21) span saam en lei die volk in ‘n loflied wat die Here se verlossing van sy volk verheerlik sowel as sy verplettering van sy vyande. Die lied fokus egter nie net op wat Hy alles vir die volk by die Rietsee gedoen het nie, maar vir wie Hy inderdaad vir hulle was tot in die beloofde land. Hy wys hier dat Hy nie net hoog verhewe is nie, maar die Een wat naby kom en direk betrokke raak by die lewe van sy mense.
Dit is ook duidelik dat die lied mettertyd aangepas is vir liturgiese gebruik deur elemente van die Intog en selfs die uiteindelike vestiging van die tempel in Jerusalem in te sluit as die gewyde plek wat God vir Homself in die midde van die volk reggemaak het.
Dié lofsang was egter skaars stil of die volk het versink in bitterheid weens die gebrek aan water, veral toe hulle opgewonde was oor die uitkoms van Mara … en dié water bitter was (15:22-27). Die vreugde en verset sou gou ‘n patroon begin vorm op hulle pad deur die woestyn. God sou voortgaan om hulle met sy wondervoorsienings te verras, en die volk wie se geheues só kort was sou telkens by ‘n volgende uitdaging vir Moses en ten diepste die Here verwyt het vir hulle situasie.
Moses lei die volk in ‘n loflied – 15:1-19
Vers 1 tot 19 is ‘n liturgiese lied van besondere skoonheid en betekenis.
Die lied is aan die een kant ‘n briljante stuk poësie wat selfs in die vertaling in Afrikaans iets van sy Hebreeuse trefkrag behou. Die verhaal van die verlossing wat God by die Rietsee vir die Israeliete bewerk het, word op diepsinnige en beknopte wyse in ‘n lofsang verwoord. Dit begin met ‘n refrein in vers 1 wat in vers 21 deur Mirjam herhaal word, waarskynlik bedoel vir wisselsang met Moses en die volk. Daarna word die elemente van die verhaal van verlossing uit die mag van farao by die Rietsee ingespan om die Here se verhewe soewereiniteit te besing. Daar word selfs vooruitgegryp na dinge wat nog in die toekoms lê met hulle Intog in die “gewyde land” tot verskrikking van die ander nasies met ‘n verwysing selfs na die uiteindelike vestiging van die tempel in Jerusalem wat God as gewyde plek vir Homself in die midde van die volk reggemaak het.
Aan die ander kant is die lied ook teologies gewortel in die beskrywing van God as die gedugte krygsman wat sy mag op ongeëwenaarde wyse ten toon gestel het. Dit is wie God vir hulle in die hitte van hulle stryd teen farao en later teen ander nasies sou wees. Hy vernietig wie teen Hom opstaan veral ter wille van sy volk. In sy teenwoordigheid is sy volk veilig selfs wanneer die strome water regop staan langs hulle soos ‘n muur. Daarteenoor sink sy teenstanders soos lood in die magtige waters van sy toorn na benede wanneer hulle dit durf waag om teen Hom op te staan. Dit laat vrees en angs die nasies oorval. God is nie net die Begeleier en Beskermer in die wolk- en vuurkolom nie. Hy is ook die: “Bewerker van wonderdade”, soos die beheer oor die watermassas van die see bewys wat in die keersy van die verlossing van sy volk sy vyande verpletter. Hierdie Jahwe is God, oor alles en almal, en dit vir ewig.
Mirjam begelei die volk met ‘n tamboeryn – 15:20-21
Mirjam word nou eers by haar naam genoem, hoewel ons al twee keer van haar kennis geneem het as Moses se suster (Eks. 2:4,7-9). Sy word daarby as profetes (later in die profete ook as leier – Miga 6:4) bekend gestel, een van vier vroue wat só in die OT genoem word. Die ander drie was die fenomenale profetes en rigter, Debora (Rigt. 4:4), die geloofsonderskeider van formaat in koning Josia se tyd, Gulda (2 Kon. 22:14; 2 Kron. 34:22), en die valse en vreesaanjaende profetes in Nehemia se tyd, Noadja (Neh. 6:14). Sy begelei die volk saam met van die vroue en tamboeryne in die refrein van die lied van Moses wat waarskynlik in wisselsang uitgevoer is.
Die Here maak die bitter water van Mara soet – 15:22-27
Die roete waarmee die Israeliete getrek het, word wel baie presies hier aangedui met plekname. Dit is egter nie meer vir ons bekend watter plekke dit is nie. Wat duidelik is, is dat die eerste vanselfsprekende uitdaging hulle tref, ‘n gebrek aan water. Ná drie dae se ontbering in die woestyn is die water wat hulle by Mara vind egter ‘n teleurstelling omdat dit ondrinkbaar bitter was. In plaas daarvan om die Here te vertrou en vir uitkoms te vra – soos Hy by die Rietsee gedemonstreer het – kla hulle by Moses omdat daar niks was om te drink nie.
Die Here antwoord wel hulle klag deur Moses opdrag te gee om ‘n stuk hout in die water te gooi wat die water weer soet gemaak het. Sommige dink daaraan dat die hout moontlik as ‘n soort filter opgetree het, of een of ander chemiese reaksie in die water veroorsaak het, maar dit maak nie baie saak wat presies die hout gedoen het nie. Dit is waarskynlik eerder ‘n wonder soos wat Moses die water oopgekloof het by die Rietsee met sy staf. Die stuk hout is dus ‘n simbool van God se werk.
Let op hoe die drievoudige vaste reël wat die Here vir die volk hier gee volledig met God self te make het, anders as wat ons later in Miga 6:8 sou hoor, waar die horisontale liefde ook in spel kom. Die Here vra van hulle dat hulle na Hom sal luister, sal doen wat reg is in sy oë, en alles sal doen wat Hy hulle beveel. Sy belofte is dat hulle dan nooit deur die siektes (plae) van Egipte getref sal word nie. Hy sal hulle gesond hou.
Die Israeliete het verder getrek tot by Elim waar ‘n wonderlike oase hulle verwelkom het, presies wat hulle nodig gehad het om ‘n stuk bederf in die woestyn te beleef – twaalf fonteine en sewentig palmbome, water en vrugte in oorvloed.
View all posts in this series
- God sien en God verstaan – Bybelskool oor Eksodus begin 18 Januarie - January 14, 2017
- Inleiding – Eksodus: die hoop op verlossing - January 18, 2017
- Eksodus 1 – God vermeerder sy volk ten spyte van farao se brutale onderdrukking - January 19, 2017
- Eksodus 2 – God het hulle gekreun gehoor en verstaan - January 20, 2017
- Eksodus 3-4:17 – God stuur Moses om die Godsvolk uit Egipte te lei - January 24, 2017
- Eksodus 4:18-31 – Die oudstes reageer in geloof en aanbidding op Moses en Aäron se boodskap - January 25, 2017
- Eksodus 5 – God beveel farao: Laat my volk gaan! - January 26, 2017
- Eksodus 6:1-26: “Ek is die Here!” - January 27, 2017
- Eksodus 6:27-7:25 – Egipte sal besef Ek is die Here deur die plae wat Ek stuur - January 30, 2017
- Eksodus 8 – Die plae is Jahwe se verlossende oordeel as getuienis dat Hy God is - January 31, 2017
- Eksodus 9 – Farao het geen ontsag vir Jahwe nie al krepeer hulle van ellende - February 1, 2017
- Eksodus 10:1-27 – Die plae illustreer God se seën of straf vir dié wat Hom gehoorsaam of teenstaan - February 3, 2017
- Eksodus 10:28-11:10 – Die tiende plaag bevestig Jahwe se Godheid en sy verkiesing van Israel - February 6, 2017
- Eksodus 12:1-42 – Die Here beskerm die Israeliete teen die vernietiger deur die bloed van die Paaslam - February 9, 2017
- Eksodus 12:43-13:16 – Deur viering en toewyding word die herinnering aan bevryding lewend gehou - February 13, 2017
- Eksodus 13:17-14:31 – Die teenwoordigheid van die Here raak die Godsvolk se kompas deur die woestyn - February 14, 2017
- Eksodus 15 – Die Here is die Bewerker van wonderdade wat sy volk beskerm en sy vyande verpletter - February 15, 2017
- Eksodus 16 – God voorsien brood, vleis en die Sabbat as tekens van sy teenwoordigheid - February 16, 2017
- Eksodus 17 – Is die Here by ons of nie? - February 20, 2017
- Eksodus 18 – Jetro mentor Moses en die Israelitiese leiers tot ‘n leierskapspan - February 21, 2017
- Eksodus neem stadiger as wat ek beplan het! - February 26, 2017
- Eksodus 19 – As julle My gehoorsaam, sal julle my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien - February 27, 2017
- Eksodus 20 – Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het - March 5, 2017
- Eksodus 21 – Sorg vir mense en hulle diere - March 9, 2017
- Eksodus 22 – Sorg vir mense en hulle besittings - March 10, 2017
- Eksodus 23 – Sorg vir geregtigheid en die geloofsgemeenskap met God se hulp - March 13, 2017
- Eksodus 24 – Ons sal alles doen wat die Here beveel het - March 14, 2017
- Eksodus 25 – Rig vir my ‘n heiligdom op dat Ek tussen julle kan woon - March 15, 2017
- Eksodus 26 – Jy moet die tabernakel oprig presies volgens die plan wat op die berg vir jou gewys is - March 16, 2017
- Eksodus 27 – Die lig van God se teenwoordigheid brand voortdurend in die “tent van ontmoeting” - March 17, 2017
- Eksodus 28 – Die priesters se klere dra die boodskap van gesag en toewyding - March 18, 2017
- Eksodus 29 – Afgesonder en bevestig as God se verteenwoordigers - March 20, 2017
- Eksodus 30 – Elke deel van die tabernakel en elke priester word geheilig aan die Here - March 21, 2017
- Eksodus 31 – Hulle moet alles maak net soos Ek jou beveel het - March 22, 2017
- Eksodus 32 – Die tragedie van die goue bulkalf en die toorn van Jahwe - March 23, 2017
- Eksodus 33 – Onthou tog hierdie nasie is u volk - March 24, 2017
- Eksodus 34 – Ek is barmhartig en genadig, maar Ek laat niks ongestraf nie - March 25, 2017
- Eksodus 35:1-36:1 – Elkeen wie se hart en gees hulle daartoe aangespoor het, het vrywillig offergawes gebring - March 26, 2017
- Eksodus 36:2-38 – Die volk bring meer as wat nodig is - March 27, 2017
- Eksodus 37 – Besaleël neem die voortou met die maak van die heilige toebehore van die tabernakel
- Eksodus 38 – Amper sewe ton goud, silwer en brons word gebruik - March 28, 2017
- Eksodus 39 – Die tabernakel is gereed vir die teenwoordigheid van die Here
- Eksodus 40 – Die teenwoordigheid van die Here vul die tabernakel - March 29, 2017
- Oor getalle in die woestyn verhale - September 8, 2017
- Die tweede gebod – ‘n paar ekstra gedagtes - June 12, 2018
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar