Skip to main content

Eksodus 31 – Hulle moet alles maak net soos Ek jou beveel het

Die instruksies vir die bou van die tabernakel word afgesluit met die aanwys van die vakmanne wat die Here uitgekies het vir die werk – Eks. 31:1-11 – sowel as die herhaling van die opdrag tot die hou van die Sabbat – Eks. 31:12-18.  In die eerste geval word die werk van God se Gees direk betrek in die toerusting en bemagtiging van die vakmanne. In die tweede geval word God se keuse om op die sewende dag nie te werk nie, maar te rus, ‘n beginsel wat ook in die bou van die Tabernakel nagekom moes word.  Die “werk vir die Here” kon nooit as ‘n verskoning gebruik word om die ritme tussen werk en rus te ignoreer nie.  Dit was ook die dag waarop die Here juis by die tabernakel aanbid kon word.

Die vakmanne vir die bou van die tabernakel – Eks. 31:1-11

Uit die stam van Juda kies die Here ‘n kleinseun van Hur, Besaleël, om veral die voorwerpe van metaal te maak, maar ook die hele projek te bestuur.  Die Gees van God vul hom met wysheid (ḥāḵ·mā), insig (teḇû·nā – praktiese vaardigheid) en kennis (dǎ·ʿǎṯ – tegniese of teoretiese kennis) om die ontwerp, verwerking en montering daarvan te kan behartig.  Ook Oholiab uit die stam van Dan word vir dié werk afgesonder en geroep deur die Here saam met ‘n hele aantal ander vakmanne, om die res van die toebehore van die tabernakel te maak soos in die vorige hoofstukke uitgespel.

Daar is egter geen ruimte vir eie inisiatief, selfs nie kreatiewe inisiatief vir die manne wat hieraan moes werk nie.  “Hulle moet alles maak net soos Ek jou beveel het”, sê die Here vir Moses.  God se planne moet tot die laaste detail daarvan uitgevoer word, soos dit blyk uit die uitvoering daarvan wat in Eks. 35:30-36:1 vertel word.  Die menslike element in die maak van die tabernakel was dus onteenseglik daar, maar in elke detail daarvan ‘n uitvoering van die Goddelike mandaat.

Dieselfde proses kan in die totstandkoming van die Bybel aangetoon word.  Dit was menslike skrywers wat die boodskap wat hulle van God af ontvang het, opgeteken het, in hulle eie taal.  Maar die uiteindelike resultaat was ‘n boek wat die Woord van God was, presies soos Hy dit aan ons wou oorlewer: Gods Woord in mensetaal.

Die herhaling van die opdrag tot die hou van die Sabbat – Eks. 31:12-18

Die heel laaste opdrag van God in verband met die Tabernakel is om die volk te herinner aan die onderhouding van die Sabbat.  Dit word begrond in God se keuse om op die sewende dag ná die Skepping nie te werk nie, maar te rus, ‘n beginsel wat ook in die bou van die Tabernakel nagekom moes word.  Die “werk vir die Here” kon daarom nooit as ‘n verskoning gebruik word om die ritme tussen werk en rus te ignoreer nie.

Dit was ook die dag waarop die Here juis by die tabernakel aanbid kon word.  Daarom word die volk herinner aan die doel van die Tabernakel; dat God daar aanbid moet word; dat hulle toewyding aan die Here daar gewys moet word; dat hulle daar sy genade ontvang het deur die offers wat hulle self gebring het, maar wat ook namens hulle deur die Hoëpriester aan die Here geoffer is.  Hulle sou dus deur hulle aanbidding hulle lidmaatskap van die Godsvolk kon bevestig en beleef.

Die Sabbatdag as ‘n dag van volkome rus word dus as ‘n teken van hulle verhouding met God uitgesonder, eintlik as ‘n verbond tussen God en sy mense.  Hulle sou op die Sabbatdag die teenwoordigheid van die Here onder hulle kon vier.  Hulle sou op die Sabbatdag ook hulle eie menswees kon waardeer saam met dié wat hulle liefhet.  Geen wonder dat by die begin van die uitvoering van al hierdie instruksies in Eks. 35:2-3 Moses juis met hierdie gebod tot die hou van die Sabbatdag begin het nie.  Daarmee is die grootse projek van die bou van die tabernakel ingelei.

Met dié beëindiging van die instruksies vir die bou van die tabernakel gee God vir Moses die twee plat klippe met die Tien Gebooie wat nou as die Getuienis in die verbondsark geplaas moet word.  Dit sou ‘n besondere heilige deel van die Tabernakel wees, omdat dit in God se eie handskrif geskryf is.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.