Skip to main content

Die tweede gebod – ‘n paar ekstra gedagtes

Ek het nog ‘n navraag gekry oor die tweede gebod. Ek het al daaroor geskryf, maar ek gee graag ‘n paar ekstra gedagtes, omdat dit só ‘n belangrike deel van die boodskap van die Tien Gebooie is.

Onverdeelde lojaliteit

Die eerste drie gebooie roep ons op tot ‘n onverdeelde lojaliteit aan God. Jy mag geen ander god langs God aanbid nie. Jy mag geen afbeelding van Hom of iets anders maak of aanbid nie, ook nie in jou hart nie. Jy mag sy Naam nie sonder respek hanteer nie.
God is regverdig in sy gedrag teenoor ons. Gehoorsaamheid aan hierdie gebooie sal geseën word. Ongehoorsaamheid sal gestraf word.
Die tweede gebod spel dus die uitwerking van gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid in die geslagte van die verbondsgemeenskap uit.
“4 Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. 5 Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ’n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; 6 en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.”
Die Hebreeuse woord vir “besoek” is paqad. Dit kan vertaal word as “rekenskap vra” of selfs “ondersoek doen” waarvan laasgenoemde vir my eintlik die betekenis binne die konteks die beste oordra. In Engels kan dit met “dealing with” vertaal word.  Dit beteken doodgewoon dat God ingryp in mense se lewens om hulle te seën of te straf na gelang van die verhouding wat hulle met Hom handhaaf of versaak. En dit het ‘n effek op die nageslag.
‘n Paar opmerkings is nodig om hierdie boodskap te kan toeëien.
  1. Hierdie tweede gebod druk God se verwagting van onverdeelde lojaliteit aan Hom uit. Hy verwag dat mense Hom alleen sal dien soos die eerste gebod reeds geëis het. Daar is geen kompromie moontlik tussen Hom en ander gode nie. Enige kompromie lei onvermydelik tot ‘n verdeelde lojaliteit aan Hom.
  2. Waar ‘n pa en ma dus hulle lojaliteit verbreek aan Hom, het dit ‘n onvermydelike effek op hulle kinders, want dit verbreek die verbondsverhouding.  Soos Durham sê: “indifference to commitment is contagious, in a family or in a society.” Dit deurbreek die Godsverhouding en het ‘n destruktiewe effek op die komende geslagte.  En ons moet dit op geen manier onderskat nie.
  3. Die straf wat aan die tweede gebod verbonde is, is vir mense wat deel is van die geloofsgemeenskap, maar wat op ‘n punt in hulle lewe kom waar hulle God verwerp of begin haat.  God “besoek” of “ondersoek” die misdade van die ouers aan die kinders.
  4. Dit beteken waarskynlik dat God hulle “straf” deur sy seën van hulle te onttrek en hulle aan hulle eie lot oor te laat.  Dit is soortgelyk aan wat ons in Romeine 1 ook sien waar God die hele mensdom “oorgee” aan allerlei sondes, omdat hulle Hom nie as God geëer en gehoorsaam het nie. God besoek en bestraf dié wat kies om Hom te verwerp.
  5. Dit wil lyk asof die Here hier rekening hou met die feit dat sonde baie maklik oordraagbaar raak binne families. Dat dit in patrone of praktyke ontwikkel wat deur die geslagte lewend gehou word, bv familievetes of kulturele gebruike wat God en sy wil vir die lewe nie eerbiedig nie.
  6. God se straf is natuurlik altyd daarop gemik dat mense tot inkeer kom, soos Esegiël 18 in die OT dit mooi uitlê dat die Here elke individu op sy eie meriete beoordeel.  God verwerp nooit iemand wat na Hom toe terugkeer nie.  Dieselfde word in Romeine 3 vir ons vertel waar die oplossing vir die sonde van die mensdom in Christus, en die geloof in Hom, te vinde is.  Almal het gesondig, maar hulle word in Christus vrygespreek enkel en alleen omdat hulle in Hom glo.
  7. Die straf vir sonde is altyd persoonlik. So leer die wet (Deut 7:10; 24:16) en die profete (Eseg 18). Die verhaal van Korag se seuns is ‘n pertinente illustrasie daarvan. Korag sondig, maar sy seuns volg hom nie daarin na nie. Korag sterf dus vir sy sonde. Sy nageslag word egter nie net nie gestraf nie, omdat hulle gehoorsaam gebly het, maar besonderlik geseën en word die liturge van die volk (Num 16) soos ons uit die talle psalms wat aan hulle toegeskryf word, kan agterkom (Ps 42; 44-49; 84; 85; 87-88).
  8. Die effek  op vier geslagte moet veral in sy kontras met die seën vir duisende geslagte in die volgende vers gelees word.  God is “vir altyd” (dit is in wese wat die “duisende” beteken!) goed vir dié wat aan Hom lojaal is en bly, dié wat sy wet/wil/woord/riglyn vir die lewe gehoorsaam.  God gee besondere genade in geloofsgemeenskappe wat aan Hom getrou en gehoorsaam bly. God bewaar en beskerm dié wat kies om Hom te gehoorsaam van boosheid. Soos Psalm 118 sê: “aan sy liefde is daar geen einde nie.
  9. God word hier beskryf as regverdig in die wyse waarop hy gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid hanteer. Trouens, sy barmhartigheid is oneindig meer as sy besoeking. Dit is ‘n sterk motivering om lojaal aan Hom te bly en afgodery te versaak.
  10. In kort sê die tweede gebod:  God verwag lojaliteit van sy mense en Hy sal alles in sy vermoë doen om hulle daarmee te help.  Dit sluit straf en seën in.

Eksodus 34

Eksodus 34 vat dié gedagtes van die tweede gebod nog verder. Ek haal uit die Bybelskool aan vir dié wat die tweede gebod in ‘n breër Bybelse konteks wil verstaan:

Die belydenis van God oor Homself in Eksodus 34:6-7 bring die onpeilbare diepte van sy wese na vore. Ek gee my eie vertaling weens die onpresiese aard van die Nuwe Afrikaanse Vertaling.  God verklaar oor Homself die volgende:
Die Here, Here, is ‘n God wat barmhartig en genadig is, stadig om kwaad te word, vol troue liefde en getrouheid, wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld, oortreding en sonde vergewe, maar beslis niks ongestraf laat nie, wat die skuld van die vaders besoek aan kinders en kleinkinders selfs tot in die derde en vierde geslag.
God se barmhartigheid (rǎḥûm) is al een keer genoem in die verbondsboek (Eks. 22:27), maar hier word dit beslissend uitgebrei as ‘n beskrywing van sy wese saam met die ander aspekte wat hier genoem word.  Dieselfde geld God se genade (ḥǎnnûn).  Dit is al een keer genoem in die gesprek wat Josef met sy broer Benjamin gehad het (Gen. 43:29 – – vgl. wat ek daaroor geskrywe het: Genesis 43 – Jakob stuur Benjamin na Egipte in die hoop dat God hulle barmhartig en genadig sal wees).
Die goue blom op Aäron se kop sou hierna ook God se genade en guns teenoor die volk uitbeeld (Eks. 28:38), maar hier word genade nog helderder uitgespel as deel van sy manier van werk met sy mense, iets waarop Moses homself alreeds in sy vorige intrede vir die volk se afvalligheid beroep het (Eks. 33:12-17).
God se troue liefde (ḥěʹsěḏ) en getrouheid (ěměṯ – dit kan ook met “waarheid” vertaal word) was ook wel op verskillende maniere al in die verlede ten toon gestel (Gen. 24:27; 33:5; 39:21; ook in die tweede gebod van die Tien Gebooie – Eks. 20:6), maar hier word dit ook aan sy geduld (stadig om kwaad te word) gekoppel, iets wat nog nie voorheen van God gesê is nie.  Dit word ook nog meer diepte gegee deur geduld aan God se barmhartigheid en genade te koppel.
Hierdie belydenis van God oor Homself is dus ‘n besondere samevatting van vorige getuienisse oor sy teenwoordigheid by mense, maar ook ‘n sterk uitbreiding daarvan wat diep inslag gevind het in die verdere teologiese besinning oor God in die Psalms.  Ons sien dit in die Psalms as ‘n begronding van smeekgebede, bv. Ps. 86:15 – Gee my ‘n teken van u goedheid.  Ons sien dit ook as ‘n begronding van lofgebede in van die lofpsalms, bv. Ps. 103:8 – Ek wil die Here loof met alles wat in my is – en Ps. 145:8 – Alles en almal loof die Here uit hemel en aarde.
Ons sien dié beskrywing ook in die profete as ‘n beroep op die volk tot inkeer, bv. in Joël 2:13 – Die Here belowe medelye en voorspoed vir dié wat na Hom terugkeer.  Ons sien ook die omgekeerde in Jona 4:2 waar Jona eintlik ‘n probleem het met dié God, maar God Hom gelukkig nie steur daaraan nie, en volgens sy wese optree en Nineve vergewe – Jona is ontevrede, maar die Here bevestig sy genade.
In Nahum 1:3 word ook met hierdie konsep gewerk, maar ook die negatiewe impak van ongehoorsaamheid uitgespel, toe Nineve uiteindelik tog verwoes word, omdat die bekering in Jona se tyd nie gehou het nie.
Vir die wat aan God dus gehoorsaam bly of word, is hierdie barmhartige en genadige beskrywing van God wonderlike goeie nuus.  Hulle kan reken daarop dat die seën van God se genade deur “duisende” geslagte heen ervaar kan word.
Maar, belangrik, die basiese struktuur van die tweede gebod word steeds gehandhaaf deurdat dit nie net die barmhartigheid, genade, geduld, troue liefde en getrouheid van die Here is wat geskets word nie.  Die volle impak van hierdie veelkantige fasette van sy wese word nie net gesien in die vergifnis van ongeregtigheid, oortreding en sonde nie, maar ook in die feit dat Hy niks ongestraf laat bly nie.  Dit is net so ‘n fundamentele beskrywing van God reg deur die Bybel, soos ons in Numeri 14 en Nehemia 9 sien.
Ons kry by hulle dieselfde beskrywing van God se barmhartige en genadige wese.  In Numeri word die sonde van die Israeliete wat die Here nie met die eerste Intog wou vertrou nie, vergewe, op grond van God se barmhartigheid en genade.  Maar hulle sonde het steeds die gevolg dat hulle in die woestyn omkom.  Niks bly ongestraf nie (Num. 14:18).
Selfs in die tyd ná die ballingskap gebruik Nehemia dit nog as ‘n fundamentele beskrywing van God in hulle skuldbelydenis van die sondes van die verlede.  Daar word egter – in lyn met Eksodus se beskrywing van die gevolge van die sonde – deeglik kennis geneem van die dubbele aard van God se wese, wat wel vergewe, maar niks ongestraf laat bly nie (Neh. 9:17).
Hierdie belydenis oor God het dus ‘n impak op die geslagte, positief en negatief.  Vir die gehoorsames het dit ‘n voortdurende positiewe seënende impak op die nageslag in hulle geslagte.  Die omgekeerde geld vir die ongehoorsames.
Die negatiewe gevolge beteken natuurlik nie dat die kinders en kleinkinders boet vir hulle vaders en voorvaders se sonde nie, soos sommige verkeerdelik aflei uit hierdie beydenis.  Die nageslag van die Israeliete het dit bv. reggekry om ná veertig jaar met die Intog die barmhartigheid van die Here te ervaar, selfs al het hulle ouers die oordeel van die Here ervaar, omdat hulle op die Here vertrou het en in gehoorsaamheid gehandel het.  Vgl. bv. Esegiël 18 waar die Here kapsie maak teen enigiemand wat hierdie verkeerde idee vertroetel dat die vaders groen druiwe eet, en die kinders se tande stomp raak: “Dit is die mens wat sondig wat sal sterf. Wie wil leef volgens my wil, sal reg laat geskied en reg doen.
Maar, dit beteken wel dat daar eers versoening en regstelling moet kom voor God se vergifnis in werking kan kom, soos Numeri se verhaal van die twee generasies onomwonde uitwys.  God laat niks ongestraf nie. Die nageslagte van ongehoorsames sal dus wel die gevolge van die sonde ervaar tot daar regstelling kom.  Die sonde sal as’t ware “besoek” word aan die nageslag, totdat hulle God se oordeel aanvaar en om vergifnis smeek.  Omdat die tweede generasie hulle op God verlaat het in die woestyn, soos ons in Numeri gaan lees, het die Here die effek van die sonde vir hulle omgekeer en kon hulle met sy seën die beloofde land binnetrek.
Waar die geslagte dus die sondes van hulle vaders bely en kies om die Here te dien, kom wat wil, sal verandering en seën intree.  Dit is soos die Here dit self voorskryf (Lev. 26:40 – natuurlik ook met persoonlike – Lev. 5:5 – en gesamentlike belydenis – Lev. 16:21 – daarby ingesluit), en ons talle voorbeelde deur die Skrif het, korporatief (Num. 21:7; 1 Sam. 7:6; 12:10; Jer. 14:20; Dan. 9:4,20) en persoonlik (2 Sam. 24:10 en talle Psalms).
View all posts in this series

Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar