Skip to main content

Eksodus 21 – Sorg vir mense en hulle diere

Eksodus 21 tot 24 spel nou op grond van die Tien Gebooie die praktiese riglyne uit vir die toepassing daarvan in konkrete situasies.  Hierdie riglyne illustreer dus wat God se bedoeling met die Tien Gebooie is.  Dié riglyne raak ‘n hele aantal sosiaal-maatskaplike –, regs –, godsdienstig-seremoniële – en geestelike sake aan wat deel van die verbondsluiting tussen God en die volk uitmaak.

Daar is regdeur ‘n duidelike verband met al tien van die Tien Gebooie.  Dit is duidelik dat die konkretisering van die wette op ‘n diep deernis vir mense begrond is wat die geloofsgemeenskap oproep tot ‘n omvattende sorg vir mense en hulle diere, vir mense en hulle besittings, vir geregtigheid en geborgenheid in die geloofsgemeenskap met die hulp wat God self verleen deur sy engel.

Geen wonder dat Moses twee keer in die verbondsluiting van hfst. 24 beklemtoon dat die volk alles sal doen wat God hulle beveel het.  ‘n Gemeenskap wat dié dinge nakom, sou verseker ‘n gelukkige en florerende gemeenskap wees.

Ek som die vier hoofstukke só op:

SORG VIR MENSE EN HULLE DIERE – HFST. 21

  • Oor Hebreeuse slawe wat onder andere met die sewende gebod (egbreuk) verband hou – Eks. 21:2-11
  • Oor skade aan mense wat onder andere met die vyfde (ouers) en sesde gebod (moord) verband hou – Eks. 21:12-27
  • Oor skade wat diere aanrig wat onder andere met die sesde gebod (moord) verband hou – Eks. 21:28-36

SORG VIR MENSE EN HULLE BESITTINGS – HFST. 22

  • Oor skade aan besittings wat onder andere met die agste gebod (diefstal) verband hou – Eks. 22:1-15
  • Oor morele, burgerlike en seremoniële wette rondom mense wat met die eerste (afgode), tweede (afgodsbeelde), derde (Naam), sewende (egbreuk) en tiende gebod (begeerte) verband hou – Eks. 22:16-31

SORG VIR GEREGTIGHEID EN DIE GELOOFSGEMEENSKAP MET GOD SE HULP – HFST. 23

  • Oor geregtigheid wat veral verband hou met die negende gebod (valse getuienis) – Eks. 23:1-9
  • Oor die Sabbat en drie feesteongesuurde brood (lente), oes (somer), en insameling (herfs) – wat onder andere verband hou met die vierde gebod (Sabbatdag) – Eks. 23:10-19
  • Oor die engel van die Here wat voor hulle uit sal trek wat onder andere verband hou met die eerste (geen afgode) en tweede gebod (geen afgodsbeelde) – Eks. 23:20-33

ONS SAL ALLES DOEN WAT DIE HERE BEVEEL HET – HFST. 24

  • Oor die verbondsluiting self – Eks. 24

Ons lees dus vandag eers net hoofstuk 21.

Oor Hebreeuse slawe – Eks. 21:2-11

Hierdie tien verse het in die algemeen met die hantering van die Hebreeuse slawe – mans en vroue – te make.  Die feit dat dit eerste geplaas word, is waarskynlik belangrik, omdat die Here juis in die konteks van Israel se verlossing uit die slawerny van Egipte van Israel kon verwag om met meer deernis teenoor hulle eie slawe op te tree as wat die gebruik by die omringende volke, en veral natuurlik Egipte, was.  Ek som dit in ‘n paar beginsels op:

  • Slawe moes na ses jaar vrygelaat word sodat slawerny nie ‘n lewensvonnis word wat uiteindelik geslagte lank sou duur nie. Dit was ‘n unieke uitkoms in die Israelitiese gemeenskap.
  • Regdeur moes ‘n billikheidsbeginsel gehandhaaf word wat beide die slaaf en die eienaar se belange dien. Onpartydigheid en onbevooroordeeldheid is hiermee ook in die eienaar-slaaf verhouding vasgelê as beginsels.
  • ‘n Dogter wat deur haar pa as ‘n slaaf aan iemand anders verkoop is met die oog op ‘n uiteindelike huwelik – om só vir haar ‘n beter toekoms te gee as wat op ander maniere moontlik sou wees (onthou dit is ‘n ander kultuur as ons s’n!) – verdien spesiale behandeling wat onder andere op die nakoming van die sewende gebod (egbreuk) geskoei is (vgl. ook Neh. 5:5). Indien sy trou met die eienaar het sy dieselfde drie huweliksregte as ander vroue – kos, klere en seks. Dit het met voorsiening, versorging en verbondenheid te make.  Die man moes dus sorg dat die vrou ‘n menswaardige bestaan kon hê by hom wat ingesluit het die reg om kinders te hê en op dié manier deel van die familie te word.  Waar die man egter die vrou se regte in die huwelik op enige manier ingekort, weggeneem of verwaarloos het, was die vrou vrygestel van die huwelik en kon sy na haar mense teruggaan sonder dat die eienaar vergoed sou word.

Oor skade aan mense – Eks. 21:12-27

Die implikasies van die sesde gebod (moord) waar net mense betrokke is, word vervolgens uitgespel op só ‘n wyse dat dit duidelik is dat die motivering en konteks ‘n duidelike rol in die straf wat daaraan gekoppel word, speel.  Dit sluit ook aanranding en beserings sowel as minagting en ontvoering in.

  • Moedswillige beplande moord word met die dood gestraf. Vir mense wat by toevallige onbeplande moord betrokke word, word ‘n genadige uitweg gegee.  Skelm mense wat dié uitweg misbruik, word egter steeds met die dood gestraf.
  • Die aanranding van ouers word baie negatief beoordeel, selfs om hulle met minagting te hanteer, in lyn met die vyfde gebod (ouers), terwyl ook ontvoering dieselfde straf verdien het.
  • ‘n Bakleiery tussen mans word genuanseerd gehanteer veral deur ekonomiese maatreëls.
  • ‘n Bakleiery met slawe wat op moord uitloop, word met die dood gestraf, maar andersins aan die oordeel van die eienaar oorgelaat.  Indien die slawe fisiese skade gelei het, bv. deur ‘n oog of selfs ‘n tand te verloor, moet die eienaar hulle vrylaat.
  • Wanneer ‘n swanger vrou in die proses van ‘n bakleiery tussen mans ‘n vroeggeboorte het (sommige dink eerder aan ‘n miskraam soos die NAV dit vertaal), word dit ook genuanseerd gehanteer volgens die lex talionis beginsel – ‘n oog vir ‘n oog ensomeer – wat die strafmaatreël beperk tot óf ‘n billike vergoeding óf ‘n gelykwaardige aksie. ook Lev. 24:20 en Deut. 19:21 hieroor.  Jesus radikaliseer natuurlik hierdie beginsel in Matt. 5:38 waar Hy die dissipels leer dat hulle bereid moet wees om skade te lei en afstand te doen van die vergeldingsleerstelling van Eksodus.

Oor skade wat diere aanrig – Eks. 21:28-36

Die implikasies van die sesde gebod (moord) word vervolgens uitgespel waar dit nie mense is wat skade aan ander berokken nie, maar diere.  Skade wat deur onversigtige aksies van mense aan diere berokken word, word ook ingetrek.

  • Wanneer ‘n bees iemand doodstoot, moet die bees doodgemaak word, behalwe as die eienaar bewus was van die gevaar en niks daaraan gedoen het nie. Hy kon daarom met sy lewe boet daarvoor, behalwe as hulle oor ‘n som geld kon ooreenkom waarmee hy homself kon loskoop.
  • Wanneer iemand ‘n verlies lei deur ‘n dier wat in ‘n onbehoorlik toegemaakte put val, moet daar vergoeding gegee word.
  • Wanneer ‘n bees deur ‘n ander bees doodgestoot word, moet die twee eienaars gelykwaardig albei beeste se moontlike voordeel onder mekaar verdeel, behalwe as daar nalatigheid by een van hulle bewys kan word. Dan moet die “onskuldige” benadeelde party vergoed word.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda