Skip to main content

Eksodus 40 – Die teenwoordigheid van die Here vul die tabernakel

Die trio van die Trek, die Tora, en die Tabernakel word uiteindelik voltooi met die Here se teenwoordigheid wat die Tabernakel vul.  As die gee van die Tora op Sinai die onderbou verskaf het vir die lewenswyse en gedrag van die volk, het die volmaak van die Tabernakel met die teenwoordigheid van die Here die ruimte verskaf vir die aanbidding van die volk.  Etiek en liturgiek in volmaakte samehang, iets wat ‘n mens later in die Psalms gereflekteer sal sien (ek sal een of ander tyd iets daaroor publiseer na aanleiding van ‘n referaat wat ek by ‘n OT kongres gelewer het).

Daarmee skets die boek die volle prentjie van wat dit beteken om coram Deo, voor die Here, te lewe.  Jou hele lewe word ingesluit in die moreel-etiese tipe lewe wat die Tora voorskrywe, veral begrond in die Tien Gebooie van Eksodus 20.  Jou hele lewe vind ook sy betekenis in die tipe aanbidding wat moontlik is in die ruimte van die Tabernakel wat deur God se teenwoordigheid gevul word (later natuurlik in die Here Jesus Christus), onder andere begrond in die Twaalf Gebooie van Eksodus 34.

Die tabernakel word opgeslaan en ingewy – Eks. 40:1-33

Die Here gee die opdrag dat die voltooide tabernakel op die eerste dag van die eerste maand in die tweede jaar na die Uittog opgeslaan moet word met al sy toebehore.  Die werk is dus in min of meer nege maande voltooi nadat hulle by die berg van die Here aangekom het (Eks. 19).

Die tabernakel moet eers opgeslaan word – soos dit telkens moes gebeur as hulle getrek het – waarna die ark met die getuienis daarin neergesit moet word en afgeskort word met die voorhangsel.  Daarna moet die tafel vir die offerbrood, die kandelaar met sy lampe neergesit en opgesteek word, sowel as die goue wierookaltaar voor die voorhangsel.

Die brandofferaltaar en die waskom moet dan neergesit word voor die Heiligste en Allerheiligste deel van die tabernakel waarna die voorhof opgeslaan moet word en die afskorting in die ingang van die voorhof gehang word. Met die salfolie moet die tabernakel en alles wat daarin is daarna aan die Here gewy word, sowel as die brandofferaltaar en die waskom.

Daarna kom die priesters aan die beurt wat gewas, geklee, gesalf en gewy moet word om die Here te kan dien.  Die Here beklemtoon ook dat priesterskap ‘n lewenslange roeping is.

Met ‘n bietjie meer detail word Moses se uitvoering van die Here se opdragte gegee waarin hy bv. die voetstukke, rame, dwarslatte en style regop gesit het. Die tentdoeke en bedekkings is daarbo-oor gespan, soos die Here hom beveel het.  Daarna is die getuienis – die Tien Gebooie – vir die eerste keer in die ark gesit, die draaghoute ingesteek en die deksel bo-op die ark neergesit.  Daarna is die ark in die tabernakel ingebring en die voorhangsel opgehang as afskorting.  So ook die tafel vir die offerbrood aan die noordekant van die tabernakel, en die kandelaar aan die suidekant waarvan die lampe opgesteek is en die wierook op die wierookaltaar aan die brand gesteek is.

Die afskorting in die deur van die tabernakel is volgende gehang, die brandofferaltaar neergesit by die deur van die tabernakel, en daarop brandoffers en graanoffers aan die brand gesteek.  Die waskom en die brandofferaltaar was volgende aan die beurt en Moses en Aäron en sy seuns het hulle hande en voete daarin gewas, soos hulle dit telkens gedoen het as hulle by die tent van ontmoeting kom.  Daarna het hy die voorhof rondom die tabernakel en die altaar opgerig en die afskorting voor die ingang van die voorhof gehang.

So het Moses sy werk aan die tabernakel afgehandel.  En dit was nog nie eers ‘n jaar ná die trek uit Egipte nie!  ‘n Moeilike en uitdagende werk, maar ‘n werk wat welgedaan is in afhanklikheid van die direkte leiding van die Here God.

Die teenwoordigheid van die Here vul die tabernakel – Eks. 40:32-38

Die verwagting van die teenwoordigheid van die Here word vervul met die wolk wat die tent van ontmoeting oordek, en die magtige teenwoordigheid van die Here wat die tabernakel gevul het, ‘n Godsverskyning (epifanie).  Dit is iets wat die aartsvaders al ten dele ervaar het (Abraham in Gen. 18-19; Isak in Gen. 27:7; Jakob in Gen. 28 en 32), en Moses met die brandende doringbos (Eks. 3), sowel as die Israeliete in die woestyn (Eks. 16) en by die Sinaiberg (Eks. 19-24).

Hierna sou dié teenwoordigheid veral by die Tabernakel sigbaar wees, soos dit ook later by die tempel sou gebeur (Salomo – 1 Kon. 8; 2 Kron. 7; Jesaja – Jes. 6; In Eseg. 9-11 verlaat die teenwoordigheid van die Here die tempel met die ballingskap om weer met die nuwe tempel terug te keer, soos Eseg. 43 vv. dit vertel).  Uiteraard sou God se teenwoordigheid uiteindelik nie tot ‘n verbintenis aan ‘n gebou of ‘n plek beperk kon word nie, en voorspel Habakuk 2:14 dat ná die ballingskap: “soos waters die seebodem bedek, so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word.”

Dit is waarom Paulus later skrywe oor Jesus as: “die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul.” (Ef. 4:10).  Daarteenoor sal die ewige verdoemenis bestaan uit die straf van dié mense wat die Here Jesus Christus nie gehoorsaam nie, om: “altyd geban (te wees) uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag.” (2 Tess. 1:9).

Christus is dus die Nuwe Testamentiese Tabernakel van God by wyse van spreke.  Dié wat in ‘n verhouding met Hom leef, leef in die teenwoordigheid van God.  Dié wat nie in ‘n verhouding met Hom leef nie, leef nie in die teenwoordigheid van God nie, soos Johannes later kripties skryf: “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.” (1 Joh. 5:12).

Die eerste Godsverskyning by die Tabernakel was só magtig dat Moses nie in die tent van ontmoeting kon inkom nie: die wolk was daarin, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tabernakel gevul.  Die wolk sou ook die teken bly – soos dit alreeds die geval was met die Trek deur die woestyn tot by Sinaiberg – van God se begeleiding op die res van hulle pad na Kanaän.  Hulle het agter die wolk aan versit. As die wolk nie weggetrek het nie, het hulle daar gebly totdat dit wel weggetrek het. Die wolk van die Here was bedags ’n wolk oor die tabernakel en snags het dit ’n vuur daarbo-oor geword.

Hulle sou nog ses weke hier bly voor die opdrag sou kom om te trek na die beloofde land (Num. 10:11). Altesame sou hulle dus amper ‘n jaar by die berg vertoef. In die tyd het Moses nog wette van die Here ontvang, die begin van die boek Levitikus, en ander riglyne wat Hy vir die volk moes deurgee, soos Numeri 1-10 dit vir ons duidelik maak.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

§, Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar