Skip to main content

Eksodus 8 – Die plae is Jahwe se verlossende oordeel as getuienis dat Hy God is

Hoofstuk agt beskryf die verloop van die tweede, derde en vierde plae: paddas, muggies en steekvlieë.  Die tweede plaag is waarskynlik onder andere gemik teen die verering van Heket, die Egiptiese godin van die geboorte van kinders wat met die simbool van ‘n padda voorgestel is.  Die tweede en derde plaag tref die hele Egipte, ook die Israeliete, maar met die vierde plaag begin die Here ‘n onderskeid maak.  Hy spaar die Israeliete die plaag van die steekvlieë om aan farao die boodskap te bring dat Hy sy eie mense kan beskerm, iets wat farao nie kan regkry nie.

Die tweede plaag: paddas

Let op dat die Here steeds die moeite doen om farao te waarsku van die gevolge van sy keuses.  Die Here wil sy volk bevry en sal die hele Egipte tref met die vernederende plaag van paddas as farao weier.  ‘n Mens lei af dat farao geweier het, want die Here beveel terstond dat Aäron sy staf swaai oor die hele Egipte en beveel in taal wat ‘n mens aan die skeppingswoorde laat dink: “Laat daar paddas kom oor Egipte.

Waar God egter in Genesis 1 sy tien skeppingsbevele gebruik het om ruimtes te skep vir mens, dier en plant, gebruik hy in Eksodus 7-12 sy tien plaagbevele om ruimtes vir mens, dier en plant onmoontlik te maak om in te floreer.  Sy bedoeling daarmee is om aan die een kant sy soewereine mag oor die gode en leiers van Egipte te demonstreer, sodat hulle Hom as God sal erken.  Aan die ander kant wil Hy juis ‘n nuwe ruimte vir sy mense skep in die beloofde land van melk en heuning.

Die plae oor Egipte bring dus nie net vernietiging vir Egiptenare nie, maar ook verlossing vir die Godsvolk.  Sien aan die einde ‘n bespreking hiervan in die lig van die wyse waarop Johannes in sy Openbaring hierby aansluit en die betekenis van die plae vir ons tyd interpreteer.

Al kon farao se towenaars op een of ander manier ook paddas produseer was hulle nie in staat om die paddas te laat verdwyn nie.  Die plae dwing farao spreekwoordelik op sy knieë, hoewel hy vir Moses vra om namens hom in te tree by God en te vra dat die Here die plaag sal wegneem.

Let op hoe berekend Moses met farao werk deur te vra wanneer dit moet gebeur, sodat farao uit die tydsberekening kan agterkom dat dit nie maar ‘n natuurlike ramp is wat ‘n menslike verklaring het nie, maar ‘n Goddelike oordeel wat onder sy soewereine besluit ook omgekeer kan word.

Die paddas sterf in die ruimtes wat hulle oor die land ingeneem het en kom hierna net weer in hulle natuurlike habitat voor, soos die Here dit op Moses se gebed uitvoer.  Maar farao se inskiklikheid om die volk te laat trek, verdwyn soos mis voor die son toe die verligting intree en raak weer net so onversetlik soos wat hy tevore was.

Derde plaag: muggies

Geen wonder dat die Here die volgende plaag sonder ‘n waarskuwing aankondig.  Elke krieseltjie stof het ‘n muggie geword en mens en dier oortrek.  Die towenaars het Moses en Aäron probeer namaak, maar kon dié keer nie daarin slaag nie.  Interessant genoeg kom hulle nou tot die besef dat God aan die werk is en waarsku farao dat dit die “vinger van God” is.  Hy het egter geen gehoor gegee aan hulle wyse insig nie, en onversetlik gebly.

Die Hebreeuse woord kinnim wat hier vertaal word met “muggies” kan volgens sommige Joodse kommentare met luise verbind word.  Die Griekse vertaling van die woord is “muggies” wat sommige voorstel eintlik met muskiete verbind moet word waarvan daar natuurlik volop rondom die Nyl aanwesig was. Hoe dit nou ook al sy, dit was ‘n ellendige plaag!

Vierde plaag: steekvlieë

Met die vierde plaag gebruik die Here ‘n meer persoonlike aanslag deurdat hy Moses na farao stuur om mooi met hom te praat om die Israeliete te laat trek.  Hy wys ook baie duidelik sy verbintenis aan die Godsvolk deur farao te waarsku dat dit net sy eie mense is wat deur die steekvlieë gepla gaan word.  Die Israeliete sal deur die Here beskerm word.

Dié dag sal Ek ’n uitsondering maak van die Gosenstreek waar my volk woon. Dáár sal nie ’n enkele steekvlieg wees nie, dat jy kan besef dat Ek, die Here, in die land is. Ek neem mý volk in beskerming, joune nie.

Die Hebreeuse woord ’arov is eintlik die woord vir ‘n swerm insekte wat op verskillende wyses deur die eeue geïnterpreteer is.  Die gewildste verklaring is die steekvlieg (dog-fly), hoewel sommige dit ook met die gewone huisvlieg verbind het.  Interessant genoeg gebruik Jesaja later ‘n huisvlieg as die simbool van Egipte, hoewel hy daar ‘n ander Hebreeuse woord gebruik, zévuv (Jes. 7:18).

Weereens reageer farao eintlik net skoorvoetend deur voor te gee dat hy tot ‘n “plaaslike trek” instem.  Die Israeliete mag trek, maar net in die land self.  Kan jy nou meer!  En Moses moet weereens vir hom bid.

Moses hou farao aan sy woord en bid vir hom, maar farao se onversetlike houding duur onveranderd voort.  Die ellende waarin hy die volk van Egipte daarmee dompel, word dus al hoe dieper en donkerder.

Dit raak ook al hoe duideliker dat die plae van hier af net die Egiptenare tref. God sorg vir sy eie mense.  Daarmee raak dit ook al hoe duideliker dat God se oordeel ‘n verlossende oordeel is.  Sy bedoeling is nie in die eerste plek om sonder rede seer te maak nie, maar om ‘n doel daarmee te bereik.  Hy wil farao tot insig bring dat Hy die Here God is.  Hy wil sy volk tot insig bring dat Hy hulle Here God is.

Die plae bring God se verlossende oordeel soos dit later ook in Openbaring die geval sal wees

Hierdie twee kante van die betekenis van die plae, soos ons dit alreeds met die eerste vier plae sien, is iets wat ons ook op uitvoerige wyse in die Openbaring aan Johannes sien.  Johannes verkondig die sewe trompette (deel van die sewende seël) en die sewe bakke as tekens van die verlossende oordeel van die Here.

Interessant genoeg speel die gebede van die heiliges in Openbaring 8 ook ‘n groot rol in die optrede van God wat sy verlossende oordeel ter wille van sy mense verskerp, soos dit die geval was in Eksodus 2 waar God sy mense se gekreun gehoor het en daarom besluit het om op te tree.

Die sewe trompette

Die oordele van die sewe trompette in Openbaring 8-11 kom ooreen met sommige van die tien plae in Egipte (vgl. ook Ps. 78:44-51 en 105:28-36) :

  • Die eerste trompet se oordeel van hael, vuur en bloed tref die aarde – ’n derde van die aarde word verskroei, ’n derde van die bome en al die groen gras. Dit herinner aan die sewende plaag van hael in Egipte.
  • Die tweede trompet se oordeel van ’n enorme vlammende berg (soos ’n meteoriet) tref die see – ’n derde van die see word bloed, ’n derde van die seediere gaan dood en ’n derde van die skepe vergaan. Dit herinner aan die eerste plaag van bloed in Egipte.
  • Die derde trompet se oordeel van ’n brandende ster, die Bitterals (alsemkruid, wormwood), tref die vars water – ’n derde van die riviere en fonteine raak bitter wat die dood van baie mense veroorsaak. Dit herinner ook aan die eerste plaag in Egipte in die sin dat die vars water aangetas word.
  • Die vierde trompet se oordeel van verduistering tref die heelal – ’n derde van die son, ’n derde van die maan en ’n derde van die sterre word getref wat dit donkerder in die dag en die nag gemaak het. Dit herinner aan die negende plaag van drie dae duisternis in Egipte.

Soos die geval was met farao in Egipte vertel Openbaring 9 ook vir ons dat God se oordeel in die eindtyd nie die mense tot bekering bring nie, weens hulle verharding. Dit lei tot die volgende drie trompette:

  • Met die blaas van die vyfde trompet is daar ’n ster wat uit die hemel op die aarde val wat die bodemlose (onderaardse) diepte oopsluit, die plek waar bose geeste en demone gevange gehou is. Uit die skag van dié verskriklike plek het daar nie net rook geborrel wat die son en die lug verduister nie, maar ook sprinkane wat na die aarde geswerm het en die mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie, gefolter het met hulle skerpioensterte..
  • Waar die vyfde trompet die mense gepynig het, maak die oordeel van die sesde trompet ’n derde van die mense dood. Die oordeel word waarskynlik deur dieselfde engel wat die wierookbak met die gebede van die heiliges op die aarde uitgegooi het, uitgevoer.  Dit laat ’n ongekende krag los teen die mensdom in die vorm van ’n ontsaglike aantal ruiters op perde wat verwoesting saai. Hulle het sataniese slangsterte en kragtige kake soos dié van leeus wat hulle teen die mense gebruik.  Dit herinner aan die impak van die laaste plaag in Egipte, die dood van die eersgeborenes.

Tóg het dié oordeel geen effek op die res van die mensdom nie.  Hulle gaan doodeenvoudig voort om die lewelose afgode (oortreding van die tweede gebod), wat hulle self gemaak het, te aanbid en daarmee saam ook nog demone.  Hulle kom nie tot inkeer van hulle wetsoortredinge nie.  Vier goed word genoem: moorde (oortreding van die sesde gebod), toordery (demoniese gedrag), onsedelike gedrag (oortreding van die sewende en tiende gebod) en stelery (oortreding van die agste gebod).

  • Dit word in Openbaring 11 opgevolg deur die blaas van die sewende trompet wat die heerskappy van “ons Here en sy Christus” laat aanbreek om die finale oordeel oor die dooies te vel en gelowiges te beloon. Dit kom ooreen met die verlossing wat ná die dood van die eersgeborenes en die verlossende feesmaal van die Paasmaaltyd in Eksodus 13 en verder vertel word.

Die sewe goue bakke

Met die aanbreek van die finale oordeel – Openbaring 15 – word die inhoud van die sewe goue bakke met die gloeiende kole van God se toorn op die aarde uitgegooi.  Dié sewe bakke met oordele word weereens as sewe plae geteken wat God se oordeel voltooi wat ook Babilon (Rome) se vernietiging insluit.

Hierdie einde verskaf groot vreugde vir die gelowiges wat die oorwinning behaal het.  Hulle sing die lied van Moses (vgl. Eks. 15), waarmee die oordele direk met die wyse waarop die plae in Egipte verlossing vir die Israeliete gebring het, verbind word (vgl. ook Deut. 32 wat Moses se lied met die Intog in Kanaän weergee).  Dit is ook die lied van die Lam waarin God vir sy Almag, reg en betroubaarheid geloof word en as Koning van die nasies aanbid word.

Dit dui dus op die feit dat verlossing en oordeel kante van dieselfde munt is.  Sonder die oordeel sal God se mense nie verlos word nie.  Sonder die verlossing sal die oordeel net so boos wees as dié wat geoordeel word.

Die sewe engele het uit die tent van die getuienis (N.A.V. vertaal “woonplek van God”) gekom.  Die woord getuienis in die oorspronklike Grieks verwys na die kliptafels van die wet wat in die ark in die tabernakel geplaas is en van God se wil vir die lewe getuig het (Vgl. Lev. 16:13).  Die engele kom dus uit God se teenwoordigheid en volledig in lyn met sy geopenbaarde wil om die oordeel uit te deel.

Hoofstuk 16 vervolg dan met die verhaal van die uitgooi van die sewe bakke van God se toorn.  Waar die seëls ’n kwart van die aarde vernietig het en die trompette ’n derde, tref die bakke eintlik die hele kosmos – aarde, see, riviere, son (hitte en duisternis), eilande en berge sowel as die aardbewoners.  Weereens het die oordele van die bakke ooreenkomste met die plae in Egipte.

  1. Die eerste bak bring kwaadaardige en bose swere op die aarde en tref dié mense wat deur die bose driemanskap verlei is. Dit kom ooreen met die sesde plaag van swere in Egipte.
  2. Die tweede bak gooi bloed soos van ’n lyk oor die see uit en tref al die lewende wesens in die see. Dit kom ooreen met die eerste plaag, die Nyl wat in bloed verander het.
  3. Die derde bak verander die vars water in bloed. Twee engele verklaar dat dit God se regverdigheid en betroubaar bevestig – bloed (in die drinkwater) vir bloed (van die heiliges en profete) word vergeld.  Dit kom ook ooreen met die eerste plaag, die Nyl wat in bloed verander het.
  4. Die vierde bak bring ’n versengende hitte van die son wat die mense geskroei het. Tog het hulle voortgegaan om God te belaster sonder om tot bekering te kom.  Dit kom nie ooreen met ‘n spesifieke plaag in Egipte nie.
  5. Die vyfde bak bring duisternis vir die dier, die antichris (dit is die dier uit die see), en ondraaglike pyn vir die mensdom. Nogtans het hulle nie tot bekering gekom nie. Dit kom ooreen met die negende plaag in Egipte, duisternis.
  6. Die sesde bak droog die water van die Eufraatrivier op in voorbereiding vir die oorlog by Armageddon deur die besete konings van die hele bewoonde wêreld wat deur die drie demoniese geeste – hulle lyk soos paddas – van die bose driemanskap daar bymekaargebring word op die groot dag van God, die Almagtige. Die gelowiges word tussendeur gewaarsku om gereed te wees vir dié dag, omdat dit jou onverhoeds gaan betrap.  Dit kom ooreen met die tweede plaag in Egipte, paddas.
  7. Die sewende bak word in die lug uitgegooi en handel die oordeel af met ’n geweldige donderstorm met hael, weerlig, en op die koop toe ’n vernietigende aardbewing wat die groot stad – Babilon, d.i. Rome – ineen laat tuimel en die aarde gelykvee. Selfs die eilande en berge verdwyn soos alles gelykgemaak word met die grond.  Steeds laster mense God en kom nie tot inkeer nie.  Die volgende twee hoofstukke sal verder uitbrei oor die oordeel van God op Babilon.  Dit kom ooreen met die sewende plaag in Egipte, haelstorms.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar