Eksodus 20 – Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het
Eksodus 20 is waarskynlik die mees fundamentele openbaring van God se wil vir die lewe in die OT – Eks. 20:1-17. Daarom word dit nie net hoorbaar vir die volk gegee nie, maar ook op kliptafels, en is dit ook duidelik dat die boek Levitikus se wette op die basiese uitgangspunte van Eksodus 20 geskoei is.
Twee verdere mededelings word in die hoofstuk gemaak. Die eerste is die persoonlike karakter van die gawe van die wet. Hulle kon God hoor – Eks. 20:18-21. Die tweede is die onderstreping van die verbod op beelde, omdat dit die volk maklik kon verlei tot afgodery. In die plek daarvan kon Israel altare bou om die Here te aanbid. Dan sal die Here hulle seën – Eks. 20:22-26. Ek sluit met ‘n paar verdere opmerkings oor die geldigheid van die wet in die NT.
Die Tien Gebooie – Eks. 20:1-17
Die verbondsverhouding tussen God en sy mense word deur hierdie Tien Gebooie en die verbondsboek (hfst. 21-24) uitgedruk en gereël. Daar is ‘n duidelike verband tussen hoofstuk 19 as voorbereiding vir die gawe van die wet in hoofstuk 20. Die verbondsboek sal hierna ook baie prakties uitspel wat met die Tien Gebooie bedoel word.
Die Tien Gebooie (ook in Deut. 5) word in twee helftes opgedeel wat nie net ‘n raamwerk gee waarbinne die verhouding met God en die verhouding met die naaste tot sy reg kan kom nie. Die twee kante van die wet gee ook antwoorde op die probleem van die “sondeval” van Genesis 3 waardeur die verhouding met God verbreek is, sowel as ‘n antwoord op die probleem van die “broedermoord” van Genesis 4, waardeur die verhouding met die naaste verbreek is.
Die beskrywing van die liefde vir God (eerste tafel se vier gebooie) word saam met die beskrywing van die liefde vir die naaste (tweede tafel se ses gebooie) as fundamentele riglyn vir die volk gegee. Dit sou ook die uitgangspunt word vir die uitvoerige wetgewing van veral die boek Levitikus wat direk by die wet van Sinai en die boek Eksodus aansluit.
Jesus gebruik presies dieselfde raamwerk in die NT en verklaar as riglyn vir die NT kerk dat die hele wet en die profete – d.w.s. die hele OT – opgesom kan word in die dubbele liefdesgebod teenoor God en ons naaste (bv. Matt. 22:34-40). In die res van die NT kan ‘n mens telkens hierdie beklemtoning agterkom, soos Paulus doelbewus doen in Romeine 13, en Johannes hom in 1 Johannes 4 daarin navolg, om maar net twee uitstaande voorbeelde te noem.
Die wet is die “lewende woorde” van God
Let op hoe Eks. 20:1 begin met die aankondiging van God se gebooie wat in Handelinge 7:38 die “lewende woorde” van God genoem word. Hierdie Tien Woorde van God sou die riglyne word wat vir hulle die pad na die lewe sou aandui. God motiveer sy gesag in die feit dat Hy hulle Here is, die Een wat hulle uit Egipte uit die slawehuis uitgelei het. Daardeur het Hy ‘n onvervreembare reg op hulle lojaliteit verkry.
Eerste gebod – geen ander gode
Die eerste gebod in Eks. 20:3 (Deut. 5:7) is die verbod op ander gode. Dit beteken dat God niemand duld wat langs Hom aanbid en vereer word nie. Alle afgodery word dus daarmee verbied. Die Here verwag dat daar net met Hom as die ware God in ‘n verhouding getree mag word. Sy weë moet ten alle koste leer ken word, want dit is net Hy alleen wat vertrou kan word met die lewe. Daarom moet die Godsvolk Hom met hulle hele hart liefhê, vrees en eer, soos die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 94 dit uitlê.
Dieselfde waarskuwing word reg deur die NT gevind (1 Tes. 1:9; Gal. 4:8; Rom. 1:23; 2 Kor. 6:16; Openb. 9:20), onder andere met betrekking tot die eet van afgodsoffers (Hand. 15:20,29; 1 Kor. 8:7; 10:7; 12:2; Openb. 2:20). Afgodery word ook regdeur die NT verbind aan moreel-etiese sake, soos bv. die verbod op losbandigheid en gierigheid (Ef. 5:5) sowel as vraatsug (Fil. 3:19). Sorg moet ook gedra word dat daar nie hoog opgegee word oor die afsku aan afgode, maar tog deelgeneem word aan ‘n onwettige berowing van heidense tempels vir eie gewin nie (Rom. 2:22).
Dit is interessant hoe Johannes in sy briewe ook dié wet as waarskuwing inspan vir gelowiges van die NT (1 Joh. 5:21). Johannes gee drie motiverings daarvoor. Die eerste motivering is dat: “ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken.” In Jesus kan ons dus die ware God van die afgode onderskei. Die tweede motivering is dat: “ons in die ware God is, in sy Seun, Jesus Christus.” Ons hele lewe word deur God bepaal, dié God wat ons in sy Seun, Jesus Christus, leer ken het. Die derde motivering is dat: “Hy die ware God is en die ewige lewe.” Daar is niemand anders as God nie, en deur Hom het ons toegang tot die ewige lewe. Daarom sê Johannes: “Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af.”
Tweede gebod – geen afbeelding van God mag aanbid word nie
Die tweede gebod in Eks. 20:5 (Deut. 5:8-10) verbied die maak van enige afbeelding van God wat aanbid of vereer word. Hy is ‘n jaloerse God wat onverdeelde trou aan Hom van sy mense eis. Gehoorsaamheid sal geseën word, en ongehoorsaamheid gestraf word. Die uitwerking daarvan sal in die geslagte gesien kan word.
Dieselfde waarskuwing word ook in die NT gevind. in Jakobus 4:5 wy hy uit oor God wat onverdeelde trou van ons vra en begrond dit op ‘n verwysing na die skeppingsverhaal dat God: “die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê”.
Dieselfde geld Paulus in Romeine 1:23 waar die problematiek van afgodery uitgespel word dat: “beelde wat lyk soos ’n verganklike mens of soos voëls of diere of slange”, d.w.s. afgode: “in die plek van die heerlikheid van die onverganklike God” gestel en aanbid word. Dit is: “bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding”, soos Paulus op die Areopagus sê (Hand. 17:29).
Derde gebod – God se naam mag nie misbruik word nie
Die derde gebod in Eks. 20:7 (Deut. 5:11) verbied enige misbruik van God se naam. Sy naam mag nie onteer word deur Hom te laster of te vloek nie. Sy naam mag ook nie misbruik word tot eie voordeel nie deur bv. ‘n valse eed in sy Naam te maak nie. Dit sluit dus onnodige eedswering uit. Sy Naam van God moet met vrees en eerbied gebruik word, “sodat Hy deur ons reg bely, aangeroep en in al ons woorde en werke geprys kan word”, soos die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 99 dit uitlê.
Ons vind dieselfde in die NT waar Jesus in Matt. 5:33-37 en Jakobus in Jak. 5:12 eedswering afwys, weens die gevaar van die misbruik van God se naam. Paulus waarsku ook in 1 Tim. 6:1 dat gelowiges met eerbied moet optree teenoor gesagsdraers, selfs as hulle slawe is van sodanige eienaars, sodat daar nie kwaad gepraat word van God nie. Daarteenoor word die positiewe belydenis van God se naam oral aangemoedig (Matt. 10:32; Rom. 10:9-10; Kol. 3:17).
Vierde gebod – die hou van die Sabbatdag
Die vierde gebod het te make met die hou van die Sabbatdag, soos dit in Eks. 20:8-10 en Deut. 5:8-11 gebied word. Interessant is dat die motivering in Eks. 20 begrond word in die feit dat God die hemel en aarde gemaak het (vgl. Psalm 146:6) en in Deut. 5 in die feit dat Hy hulle uit Egipte verlos en uitgelei het. Ek het al voorheen in Eksodus hieroor geskryf en gaan dit nie weer hier herhaal nie.
Hierdie verwysing na die skepping as God se handewerk word in die NT ook as ‘n motivering tot gebed (Hand. 4:24) en daarna as ‘n oproep tot bekering gebruik (Hand. 14:15). Die Here moet aanbid word as die lewende God, omdat Hy alles gemaak het (Hand. 14:15). In Openbaring word ook verwys na God se skeppingshandelinge as motivering van God se reg tot oordeel (Openb. 14:7) en verlossing (Openb. 10:6).
Jesus verwoord ook in Markus 2:27 aan die hand van hierdie wet dat die Sabbatdag een van God se gawes aan die mens was, en leer die NT gelowiges dat die Sabbatdag juis vir die mens gemaak is en daarom tot voordeel van menswees aangewend moet word.
Dit is juis wat die Jode nie gedoen het nie, soos dit duidelik blyk uit die hoof van die sinagoge wat die Sabbatsgebod juis teen Jesus gebruik (Luk. 13:14), sowel as teen die dissipels (Matt. 12:2). Die Sabbatdag bly egter vir die dissipels ‘n positiewe riglyn, soos ons sien in die lewe van Nikodemus en die vroue wat Jesus se liggaam versorg het na die kruisiging (Lukas 23:56).
Die rus van die sabbat kry ook ‘n simboliese betekenis wat verwys na die rus van die sonde, soos die Hebreërbrief duidelik uitspel (Hebr. 3:11 vv.).
Vyfde gebod – eer jou ouers
Die vyfde gebod in Eks. 20:12 (Deut. 5:16; vgl. ook Eks. 21:17 en Lev. 20:9) gebied kinders om hulle ouers te eer. Om hulle te eer, beteken om aan hulle “gewig” te gee. Dit beteken dat ‘n mens jou vader en moeder, maar ook: “almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys”, soos die Heidelbergse Kategismus in vraag en antwoord 104 dit uitspel.
Aan die een kant beteken dit verder dat ‘n mens jou: “Aan hulle goeie leer en tug … met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp.” Aan die ander kant beteken dit ook dat ‘n mens ook: “met hulle gebreke geduld moet hê, omdat God ons deur hulle wil regeer.”
Hierdie gebod word verskeie kere in die NT positief bejeën, baie kere in ‘n lysie van ander gebooie uit die tweede tafel van die wet (Mark. 10:19; Matt. 15:4; 19:18-19; Luk. 18:20). Dit sluit onder andere om vir hulle te sorg, om vir hulle voorsiening te maak, as hulle dit nie meer self kan doen nie (vgl. Markus 7:10). In Markus 10:19 word die gebod gekombineer met die gebooie oor moord, egbreuk, steel, valse getuienis, sowel as ‘n algemene gebod: “jy mag nie iemand verontreg nie”. In Matt. 19:18-19 word dit gekombineer met die gebooie oor moord, egbreuk, steel, valse getuienis waaraan toegevoeg word dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself (Lev. 19:18). In Lukas 18:20 word dit gekombineer met die gebooie oor egbreuk, moord, steel, en valse getuienis.
Ook Paulus gebruik dié gebod tot ouerliefde in Romeine 13:9 waarin hy dit kombineer met egbreuk, moord, steel, begeer of: “watter ander gebod ook al” wat volgens hom saamgevat word in die gebod tot naasteliefde. In Ef. 6:1-3 (vgl. ook Kol. 3:20) gebruik hy die gebod tot ouerliefde om die belofte te beklemtoon dat gehoorsaamheid tot ouerliefde verbind word aan ‘n goeie en lang lewe.
Natuurlik wy die NT ook uit oor die verantwoordelikheid van ouers teenoor kinders om hulle met tug en vermaning groot te maak, op só ‘n wyse – “soos die Here wil” – dat hulle nie opstandig raak (Ef. 6:4).
Laastens, in die verlengde van die gebod tot ouerliefde word ‘n hele paar plekke in die NT oor die eerbied vir gesag gepraat (Rom. 13:1; Ef. 5:22; 1 Pet. 2:18).
Sesde gebod – moenie moord pleeg nie
Die gebod om nie moord te pleeg nie word in Eks. 20:13 (Deut. 5:17) gegee. Dit word op baie maniere in die res van Levitikus prakties uitgespel. Dit sluit in dat ‘n mens nie jou naaste mag onteer, haat, of beledig nie, want dit kom op dieselfde neer, dat ‘n mens só ‘n persoon “doodmaak”.
In die NT word dié gebod uitgebrei, bv. in Matt. 5:21, waarin Jesus die gebod radikaliseer en selfs van toepassing maak op negatiewe woorde wat ‘n mens oor iemand anders uitspreek. Dit sluit dus ook jou gedagtes, woorde en gebare sowel as alle wraaksug, soos die Heidelbergse Kategismus in vraag en antwoord 105 dit uitspel. Daaraan word bygevoeg dat jy ook nie jouself mag kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie.
Paulus raai in die verlengde hiervan ook gelowiges aan om wraak eerder aan God oor te laat (Rom. 12:19). Ook Jakobus verwys na hierdie gebod in Jak. 2:11 (ook na egbreuk).
Sewende gebod – moenie egbreuk pleeg nie
Die gebod om nie egbreuk te pleeg nie word in Eks. 20:14 (Deut. 5:18) gevind en uitvoerig verder bespreek in die verbondsboek sowel as in Levitikus. Dié verbod is nie net op die huwelik gemik nie, maar op alle onkuisheid ook buite die huwelik.
Ons vind dit ook in die NT waarin veral Jesus in Matt. 5:27-29 en 19:1-12 (vgl. Mark. 10:1-12) uitvoerig daaroor handel, sowel as Paulus in 1 Tes. 4:3-5 en 1 Kor. 6:18-19. Ook Jakobus wy daaroor uit in Jak. 2:11 (ook oor moord). Die motivering vir hierdie absolute gebod tot kuisheid binne en buite die huwelik lê in die feit dat gelowiges se liggame as ‘n tempel van die Heilige Gees beskrywe word. Daarom wil God hê dat ons ons liggame rein en heilig sal bewaar en: “alle onkuise dade, gebare, woorde, gedagtes, luste en alles wat ‘n mens daartoe kan verlei”, sal vermy, soos die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 108 dit uitspel.
Ek sal meer hieroor uitwei wanneer ons by die praktiese uitspel daarvan kom in die verbondsboek.
Agste gebod – moenie steel nie
Die gebod om nie te steel nie word in Eks. 20:15 (Deut. 5:19) gevind en werk met die gedagte dat God die voorsiener is van alles wat sy mense nodig het. Daarom hoef hulle nie hulleself te verryk deur van iemand anders te vat wat nie aan hulle behoort nie. God verbied daarom nie slegs die diefstal en roof wat daarmee gepaard gaan nie, maar ook: “al die skelmstreke en liste waardeur ons probeer om ons naaste se besittings in die hande te kry.” (HK vr. en antw. 110).
Dit kan gebeur met geweld of ‘n skyn van reg, soos deur die vervalsing van gewigte, lengtemaat, inhoudsmaat, goedere, geld, woeker of enige middel wat God verbied en in Levitikus verder uitgespel sal word. God verbied hiermee ook alle gierigheid en alle misbruik en verkwisting van sy gawes.
Die gebod word daarom ook regdeur die NT gevind soos hierbo aangehaal. Trouens, die positiewe kant hiervan word sterk uitgespel in die fokus op die belange van jou naaste, wat ‘n mens moet bevorder deur hom of haar te behandel soos ‘n mens self wil hê dat ander jou moet behandel (Matt. 7:12 – die sogenaamde goue reël). Paulus spel dit ook uit vir gelowiges dat hulle alle vorme van steel sal agterlaat en: “deur harde werk op ’n eerbare manier” self in hulle lewensonderhoud sal voorsien. Dan sal hulle iets hê om vir die armes te gee. (Ef. 4:28).
Negende gebod – moenie valse getuienis lewer nie
Die gebod om nie valse getuienis teenoor jou naaste te lewer nie word in Eks. 20:16 (Deut. 5:20) gevind. Dit beteken dat ‘n mens niemand se woorde mag verdraai en teen hom mag gebruik nie. Dit sluit in dat jy nie ‘n kwaadprater of lasteraar mag wees nie, sodat niemand onverhoord en ligtelik veroordeel sal word nie. Alle vorme van lieg en bedrieg word hiermee afgewys, nie net in die reg nie, maar in alle handelinge. Die waarheid moet met opregtheid omhels word sodat jy ook jou naaste se eer en goeie naam na jou vermoë sal verdedig en bevorder, soos die Heidelbergse Kategismus in vraag en antwoord 112 uitspel.
Dié gebod word daarom ook in die NT gebruik as ‘n riglyn vir geloof, soos Jesus dit doen in Lukas 18:20 in sy gesprek met die ryk jongman. Hy is ook duidelik daaroor dat vals getuienis uit die hart van die mens kom: “Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery.” (Matt. 15:9). Trouens dit is een van die redes waarom Jesus uiteindelik aan die kruis vir ons sondes sterf, weens die vals getuienis van die Joodse Raad (Matt. 26:59).
Tiende gebod – moenie begeer nie
Die verbod op begeerte word in Eks. 20:17 (Deut. 5:21) gevind. Dit sluit selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God wat in ons hart opkom. Dit is dus ‘n gepaste afsluiting van die Tien Gebooie. “Ons moet altyd en heelhartig vyande van alle sonde wees en ‘n begeerte tot alle geregtigheid hê”, soos die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 113 dit vir ons uitspel.
Dieselfde riglyne word in die NT as reël van dankbaarheid vir gelowiges in die nuwe bedeling gegee. Jesus verbind dié gebod aan egbreuk: “Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.” (Matt. 5:28). Paulus verbind dit aan enigiets wat van ons sondige natuur afkomstig is: “Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.” (Gal. 5:17; vgl. ook 1 Joh. 2:16: “Die wêreldse dinge—alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit—kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld.”). Daarom is die leiding en vervulling van die Heilige Gees so belangrik (Gal. 5:18).
In Romeine 7:7 word dié gebod deur Paulus verder gebruik om die mag van die sonde te illustreer. Dit is egter gelukkig ook juis dié mag wat in Christus verbreek is en deur die Heilige Gees verder in die praktyk van die geestelike lewe (Rom. 8 vv.). Paulus het ook self dié gebod nagekom: “Ek het niemand se geld of klere begeer nie.” (Hand. 20:33).
Die volk kon God hoor – Eks. 20:18-21
Die persoonlike karakter van die Tien Gebooie word in Eks. 20:18-21 (Deut. 5:22-23) onderstreep, hoewel dit by die volk nie net ontsag ontlok het nie, maar ook vrees. Hulle verkies daarom om liewer na Moses te luister. Moses se pleidooi dat hulle nie hoef bang te wees nie val dus op dowe ore. Hulle weiering sou hulle egter suur bekom, omdat hulle Godservaring dus meer op Moses gerig was as op God self. Daarom het hulle so maklik vergeet en verval in sonde, veral as Moses nie direk beskikbaar was om hulle te lei nie.
Die skrywer van Hebreërs sluit by hierdie gedeelte in Hebreërs 12:18-19 aan en kontrasteer die OT volk se reaksie op die Tien Gebooie met die reaksie van die Godsvolk van die NT. Net soos die weiering van die volk by Sinai om direk na God te luister vir hulle ‘n versoeking tot verval sou word, só sal dit met die NT Godsvolk ook wees. Daarom die appèl dat die stem van die Here wat nou nog meer dringend met die NT gelowiges praat oor die dinge van die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem. God se stem kan onder geen omstandighede geïgnoreer word nie.
Die verbod op afgodsbeelde word onderstreep – Eks. 20:22-26
Die tweede gebod word ook verder uitgebrei deurdat die Here verder onderstreep dat hulle nie gode uit silwer of goud mag maak om God se plek in te neem nie. Hulle het wel verlof om vir die Here ’n altaar van grond te bou waarop hulle hulle offers kan bring. Hier kon hulle dié altare nog op enige plek oprig waartoe die Here toestemming gegee het. Later sou dit net by die tempel in Jerusalem wees. God se reaksie op hierdie offers sal sy teenwoordigheid en seën vir hulle inhou.
Oor die geldigheid van die Tien Gebooie in die NT
Ek het reeds hierbo aangedui hoe integraal al Tien Gebooie in die NT gebruik word as riglyne vir gelowiges in die nuwe bedeling. Die Heidelbergse Kategismus noem die Tien Gebooie dus die reël van dankbaarheid, die riglyne vir die nuwe lewe in Christus.
Dit is onder andere begrond in Jesus se diepsinnige beskrywing van die blywende betekenis van die wet. Ons lees in Matteus 5:17-20:
“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is. Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel. Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”
Telkens wanneer Jesus in die NT van die wet en profete praat, dui Hy daarmee die hele boodskap van die OT aan. Wat Jesus in die gedeelte verklaar van Homself is dat sy koms na die wêreld en sy bediening die OT en daarmee ook die wet sy volle betekenis laat kry.
Omdat Jesus dus in alle opsigte die wet nakom, verwag Hy dit ook van sy dissipels. Trouens, Jesus vra van sy dissipels ’n getrouheid aan die wet wat groter is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs. Verre daarvan dat Hy hulle vrystel van die wet, vra Hy dat hulle selfs die dieper betekenis van die wet sal nakom. Dit is presies waarvoor Hy gekom het en wat Hy deur die werk van die Heilige Gees in hulle lewens wil bewerk, soos Paulus ook verder in Romeine hfst. 1-8 op uitbrei.
Jesus illustreer sy oproep tot gehoorsaamheid en getrouheid aan die wet in Matt. 5:21-48 met ses aanhalings uit die wet (veral Eksodus, Levitikus en Deuteronomium) waarvan Hy telkens die ware betekenis uitlê. Die eerste twee is ‘n uitleg van die sesde en sewende gebod uit Eksodus 20:13-14 (vgl. Deut. 5: 17-18) en kom dus direk uit die Tien Gebooie. Die laaste vier is uit verskillende ander dele van die wet, hoewel die vierde ook ‘n uitleg van die derde gebod kan wees. Volledigheidshalwe kan ‘n mens dit só opsom:
- Die eerste oor moord kom uit die sesde gebod van Eksodus 20:13 (vgl. Deut. 5:17).
- Die tweede oor egbreuk kom uit die sewende gebod van Eksodus 20:14 (vgl. Deut. 5:18).
- Die derde oor skeibriewe kom uit Deut. 24:1 (vgl. ook Matt 19:8).
- Die vierde oor eedswering kom uit verskillende dele van die wet (Lev. 19:12 Num. 30:2; Deut. 23:21–23; vgl. ook Sag. 8:17 se profetiese perspektief daarop) hoewel dit ook met die derde gebod oor die misbruik van God se naam uit die Tien Gebooie verbind kan word (Eks. 20:7).
- Die vyfde oor wraak kom ook uit verskillende gedeeltes van die wet (Eks. 21:24; Lev. 24:20; Deut. 19:21).
- Die sesde een oor naasteliefde kom uit Lev. 19:18 (ook aangehaal in Matt. 22:39 as deel van die dubbele liefdesgebod) sowel as uit die idees wat implisiet op plekke in die OT oor vyande verkondig word, hoewel daar nêrens spesifiek gesê is dat jy jou vyande moet haat nie (veral Ps. 139:21-22; vgl. ook Ps. 26:5 en Deut. 7:2; 30:7).
Die etiese lering van Jesus oor gehoorsaamheid aan die wet hou dus die volgende in:
- Dit gaan in gehoorsaamheid aan die wet nie net oor geen moord nie, maar oor geen haatspraak nie.
- Dit gaan in gehoorsaamheid aan die wet nie net oor geen egbreuk nie, maar oor geen begeertes wat tot egbreuk kan lei nie.
- Dit gaan in gehoorsaamheid aan die wet nie net oor billike skeibriewe in egskeiding nie, maar oor die opdrag om egskeiding amper ten alle koste te vermy, ‘n absolute radikale interpretasie van die Goddelike eenheid waar daar met die huwelik tot stand kom. Jesus radikaliseer dus die eis tot getrouheid in die huwelik as vergelykbaar met getrouheid aan Hom in dissipelskap soos Hy in Matteus 19 verder gaan uitlê.
- Dit gaan in gehoorsaamheid aan die wet nie net oor die korrekte manier om ’n eed te sweer nie, maar dat jou woord te alle tye jou eer sal wees.
- Dit gaan in gehoorsaamheid aan die wet nie net oor die beperking van jou wraak tot ’n oog vir ’n oog nie, maar om tegemoetkomend te wees tot op die punt dat dit iets van jou vra, om jou wang te draai as jy geslaan word, om ’n ekstra stuk klere te gee as iemand ’n stuk klere vra, om ’n tweede kilometer saam te stap as iemand van jou een kilometer vra. Terloops, die idee dat ‘n mens jou wang draai om gereed te wees vir ‘n geveg, om jou onderklere vir iemand te gee om hom skaam te maak, en om ‘n soldaat se toerusting verder te dra as wat die Romeinse wet toegelaat het, maak min sin in die lig van die opofferende tegemoetkoming wat Jesus hier van sy dissipels vra (teenoor bv. Walter Wink). Dit gaan in elk geval in die laaste instansie nie eers oor soldate nie. Dit is gedagtes wat vreemd is aan die teks en ingedra word vanuit ‘n moderne raamwerk.
- Dit gaan in gehoorsaamheid aan die wet nie net oor naasteliefde nie, maar oor die opdrag tot vyandsliefde.
Dit punt van Jesus se oproep om meer getrou te wees as die skrifgeleerdes en Fariseërs is dat ons geroep word om volmaak te wees in ons etiek en gedrag soos ons Vader in die hemel volmaak is (Mat. 5:48)
In die res van die Bergrede sal Jesus nog verder gaan en in Matt. 6 en 7 van ‘n innerlike geregtigheid praat wat hierdie uiterlike geregtigheid van Matt. 5 moet aanvul. Dit, sê Jesus, sal gesien word in die gee van aalmoese, gebed, vas, jou houding teenoor geld en besittings, jou houding teenoor die sorge van die lewe, die nakoming van die goue reël en hoe jy oordeel oor ander. Sy punt is dat jy net in gedrag volmaak kan optree as dit uit ‘n hart voortspruit wat verbind is aan God self en sy voorsiening vir die lewe. Dit is dus iets wat God gee aan elkeen wat hulle toevlug tot Hom neem, eerder as dat ‘n mens dié innerlike geregtigheid kry deur wat jy uiterlik doen in gedrag.
Om mee af te sluit, lees gerus ook die ander weergawe van die Tien Gebooie in Deuteronomium 5 wat in een van Moses se afskeidspreke aan Israel gegee word, soos ek hierbo telkens ook aangehaal het. Die orde van die Tien Gebooie is presies dieselfde. Moses brei net ‘n bietjie meer uit op sekere van die gebooie en gee ‘n ander motivering vir die Sabbatdag. Eksodus 20 motiveer die Sabbatdag uit die Eksodus. Deuteronomium 5 motiveer die Sabbatdag uit die Skepping. Die verskille is in skuinsdruk aangebring:
Eksodus 20
Toe het God al hierdie gebooie aangekondig: 2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 3Jy mag naas My geen ander gode hê nie. 4“Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam. 7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie. 8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig. 12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee. 13“Jy mag nie moord pleeg nie. 14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie. 15“Jy mag nie steel nie. 16“Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie. 17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”
|
Deuteronomium 5
“Die Here het gesê: 6‘Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 7Jy mag naas My geen ander gode hê nie. 8‘Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 9Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek die Here jou God eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 10maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam. 11‘Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal dié een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie. 12‘Jy moet die sabbatdag so deurbring dat jy dit heilig hou, soos die Here jou God jou beveel het. 13Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 14maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of jou bees of jou donkie of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie, sodat jou werksmense kan rus soos jy. 15Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte ’n slaaf was en dat die Here jou God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het. Daarom het die Here jou God jou beveel om die sabbatdag te onderhou. 16‘Eer jou vader en jou moeder, soos die Here jou God jou beveel het, dan sal jy ’n lang lewe hê en sal dit goed gaan met jou in die land wat die Here jou God vir jou gee. 17‘Jy mag nie moord pleeg nie. 18‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie. 19‘Jy mag nie steel nie. 20‘Jy mag nie vals teen ’n ander getuig nie. 21‘Jy mag nie iemand anders se vrou begeer nie. Jy mag nie sy huis begeer nie, ook nie sy grond, sy slaaf of slavin, sy bees of donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.’ |
View all posts in this series
- God sien en God verstaan – Bybelskool oor Eksodus begin 18 Januarie
- Inleiding – Eksodus: die hoop op verlossing
- Eksodus 1 – God vermeerder sy volk ten spyte van farao se brutale onderdrukking
- Eksodus 2 – God het hulle gekreun gehoor en verstaan
- Eksodus 3-4:17 – God stuur Moses om die Godsvolk uit Egipte te lei
- Eksodus 4:18-31 – Die oudstes reageer in geloof en aanbidding op Moses en Aäron se boodskap
- Eksodus 5 – God beveel farao: Laat my volk gaan!
- Eksodus 6:1-26: “Ek is die Here!”
- Eksodus 6:27-7:25 – Egipte sal besef Ek is die Here deur die plae wat Ek stuur
- Eksodus 8 – Die plae is Jahwe se verlossende oordeel as getuienis dat Hy God is
- Eksodus 9 – Farao het geen ontsag vir Jahwe nie al krepeer hulle van ellende
- Eksodus 10:1-27 – Die plae illustreer God se seën of straf vir dié wat Hom gehoorsaam of teenstaan
- Eksodus 10:28-11:10 – Die tiende plaag bevestig Jahwe se Godheid en sy verkiesing van Israel
- Eksodus 12:1-42 – Die Here beskerm die Israeliete teen die vernietiger deur die bloed van die Paaslam
- Eksodus 12:43-13:16 – Deur viering en toewyding word die herinnering aan bevryding lewend gehou
- Eksodus 13:17-14:31 – Die teenwoordigheid van die Here raak die Godsvolk se kompas deur die woestyn
- Eksodus 15 – Die Here is die Bewerker van wonderdade wat sy volk beskerm en sy vyande verpletter
- Eksodus 16 – God voorsien brood, vleis en die Sabbat as tekens van sy teenwoordigheid
- Eksodus 17 – Is die Here by ons of nie?
- Eksodus 18 – Jetro mentor Moses en die Israelitiese leiers tot ‘n leierskapspan
- Eksodus neem stadiger as wat ek beplan het!
- Eksodus 19 – As julle My gehoorsaam, sal julle my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien
- Eksodus 20 – Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het
- Eksodus 21 – Sorg vir mense en hulle diere
- Eksodus 22 – Sorg vir mense en hulle besittings
- Eksodus 23 – Sorg vir geregtigheid en die geloofsgemeenskap met God se hulp
- Eksodus 24 – Ons sal alles doen wat die Here beveel het
- Eksodus 25 – Rig vir my ‘n heiligdom op dat Ek tussen julle kan woon
- Eksodus 26 – Jy moet die tabernakel oprig presies volgens die plan wat op die berg vir jou gewys is
- Eksodus 27 – Die lig van God se teenwoordigheid brand voortdurend in die “tent van ontmoeting”
- Eksodus 28 – Die priesters se klere dra die boodskap van gesag en toewyding
- Eksodus 29 – Afgesonder en bevestig as God se verteenwoordigers
- Eksodus 30 – Elke deel van die tabernakel en elke priester word geheilig aan die Here
- Eksodus 31 – Hulle moet alles maak net soos Ek jou beveel het
- Eksodus 32 – Die tragedie van die goue bulkalf en die toorn van Jahwe
- Eksodus 33 – Onthou tog hierdie nasie is u volk
- Eksodus 34 – Ek is barmhartig en genadig, maar Ek laat niks ongestraf nie
- Eksodus 35:1-36:1 – Elkeen wie se hart en gees hulle daartoe aangespoor het, het vrywillig offergawes gebring
- Eksodus 36:2-38 – Die volk bring meer as wat nodig is
- Eksodus 37 – Besaleël neem die voortou met die maak van die heilige toebehore van die tabernakel
- Eksodus 38 – Amper sewe ton goud, silwer en brons word gebruik
- Eksodus 39 – Die tabernakel is gereed vir die teenwoordigheid van die Here
- Eksodus 40 – Die teenwoordigheid van die Here vul die tabernakel
- Oor getalle in die woestyn verhale
- Die tweede gebod – ‘n paar ekstra gedagtes
Tags: Eksodus
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Yvonne, dankie vir die korreksie! Seën vir jou leeswerk hierdie jaar.
Chris van Wyk
| #
Hi Miems, die wet is duidelik dat ‘n mens nie moord mag pleeg nie (Eks 20:13) soos Jesus (Matt 5:21-22) en Paulus (Rom 13:9) dit ook bevestig. Die Heidelbergse Kategismus verduidelik dit so:
Sondag 40
105 Vraag: Wat eis God in die sesde gebod?
Antwoord: Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad (a). Ek moet alle wraaksug laat vaar (b). Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie (c). Daarom dra die owerheid die swaard om doodslag te weer (d).
(a) Matt 5:21, 22; 26:52; Gen 9:6. (b) Ef 4:26; Rom 12:I9; Matt 5:25;18:35. (c) Rom 13:14; Kol 2:23; Matt 4:7. (d) Gen 9:6; Eks 21:14; Matt 26:52; Rom 13:4.
106 Vraag: Praat hierdie gebod net van doodmaak?
Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan (a), soos afguns, haat (b), woede (c) en wraaklus verafsku. Dit alles is vir Hom heimlike moord (d).
(a) Spr 14:30; Rom 1:29. (b) 1 Joh 2:11. (c) Jak 1:20; Gal 5:19-21. (d) 1 Joh 3:15.
107 Vraag: Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak, soos hierbo gesê is nie?
Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (a). Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees (b), alles wat hom kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom (c) en selfs aan ons vyande goed doen (d).
(a) Matt 22:39; 7:12; Rom 12:10. (b) Ef 4:2; Gal 6:1, 2;Matt 5:5; Rom 12:18; Luk 6:36; Matt 5:7; 1 Pet 3:8; Kol 3:12. (c) Eks 23:5. (d) Matt 5:44, 45; Rom 12:20.
Chris van Wyk
| #
Ek het ook ‘n paar gedagtes oor gebed by: https://bybelskool.com/drie-vaste-gebedstye-vir-elke-dag/
Chris van Wyk
| #
Hi Frans – ek het ‘n paar gedagtes oor vas geplaas by: https://bybelskool.com/die-plek-van-vas-in-geloofsgewoontes/. Daarin is ‘n pdf van Calvyn oor vas.
Frans Scheepers
| #
Ek soek na handleiding vir die tyd waarin ons is, vir die pandemie. Veral oor intense gebed.
Chris van Wyk
| #
Dankie Chantelle – jy kan my bydraes oor Esegiël hier bereik: https://bybelskool.com/esegiel-blad/
Chantelle
| #
Baie Dankie hier oor Baie ekstra kennis by gelas 🙏👋, ek is op soek na notasoor die boek Esegiel.
Kan my kontak op my epos Dankie
Groete
Chantelle du Plessis
Chris van Wyk
| #
Hi Anton
Dit is nie my punt nie, maar die punt van die Dordtse Leerreëls op grond van die Skrif. Hier is dit in konteks aangehaal:
1. Alle mense het in Adam gesondig en hulle skuldig gemaak aan die vloek en die ewige dood. Daarom sou God niemand verontreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie. Daarom leer die apostel: die hele wêreld is voor God doemwaardig (Rom 3:19). Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (Rom 3:23) en: Die loon van die sonde is die dood (Rom 6:23).
2. Die liefde van God is egter hierin geopenbaar dat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (1 Joh 4:9; Joh 3:16).
3. Om mense tot geloof te bring, stuur God uit louter goedheid verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Deur hulle diens word die mense geroep tot bekering en geloof in Christus, die gekruisigde, want: Hoe kan hulle in Hom glo van Wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? (Rom 10:14,15).
4. Die toorn van God bly op hulle wat hierdie evangelie nie glo nie. Hulle wat die evangelie egter aanneem en die Verlosser, Jesus, met ‘n ware en lewende geloof omhels, word deur Hom van die toorn van God en van die verderf verlos, en Hy skenk hulle die ewige lewe (Joh 3:36; Mark 16:16).
5. Die oorsaak of skuld van daardie ongeloof, net soos van alle ander sondes, lê beslis nie by God nie, maar by die mens. Die geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom is egter ‘n genadegawe van God. Soos geskrywe is: Uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God (Ef 2:8), ook: Dit is aan julle genadiglik gegee om in Christus te glo (Fil 1:29).
6. Dat God aan sommige mense in die tyd die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg uit sy ewige besluit. Immers: Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend (Hand 15:18), en Hy doen alles volgens die raad van sy wil (Ef 1:11). Volgens hierdie besluit maak God genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik – hoe verhard hierdie harte ook al mag wees – en buig hulle om tot geloof. Hulle wat egter nie uitverkies is nie, laat Hy volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en verharding bly. Hierin veral kom vir ons tot openbaring die diepe, barmhartige en tegelyk regverdige onderskeiding tussen die mense wat almal ewe verlor is. Dit is die besluit van die uitverkiesing en verwerping wat in die Woord van God geopenbaar is. Verkeerde, onreine en onstandvastige mense verdraai hierdie leer tot hulle eie verderf, maar aan die heiliges en godvresendes gee dit ‘n onuitspreeklike troos.
7. Hierdie uitverkiesing is ‘n onveranderlike voorneme van God. Daarvolgens het Hy nog voor die skepping ‘n sekere aantal mense uit die hele menslike geslag uitverkies. Hierdie menslike geslag het deur hulle eie skuld van hulle oorspronklike ongeskondenheid in sonde en verderf verval. Die uitverkorenes is dus nie beter of waardiger as die ander nie, maar verkeer saam met die ander in die gemeenskaplike ellende. Nogtans het Hy hulle, uit volkome vrye welbehae van sy wil en uit louter genade, tot die saligheid in Christus uitverkies. God het Christus ook van ewigheid af tot Middelaar en Hoof van al die uitverkorenes en tot Fondament van die saligheid gestel. So het Hy ook besluit om die uitverkorenes aan Christus te gee om hulle salig te maak. Deur sy Woord en Gees roep en trek God die uitverkorenes kragdadiglik tot gemeenskap met Hom. Hy het dus besluit om aan die uitverkorenes die ware geloof in Christus te gee, hulle te regverdig en te heilig en om hulle, wat kragtig in die
gemeenskap van sy Seun bewaar word, uiteindelik as bewys van sy barmhartigheid en tot lof van sy oorvloedige en heerlike genade te verheerlik. Soos geskrywe is: In Christus het God Hy ons uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons vir sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde (Ef 1:4,5,6); en elders: Die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook
verheerlik (Rom 8:30).
8. Hierdie uitverkiesing is nie veelvoudig nie, maar een en dieselfde vir almal wat salig word, in die Ou sowel as in die Nuwe Testament. Die Skrif verkondig immers aan ons net een welbehae, voorneme en raad van die wil van God. Hiervolgens het Hy ons van ewigheid af uitverkies tot die genade sowel as tot die heerlikheid, tot die saligheid sowel as tot die weg na die saligheid wat Hy voorberei het, sodat ons daarin kan wandel (Ef 1:4,5; 2:10).
9. Hierdie uitverkiesing het nie op grond van vooruitgesiene geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid of enige ander goeie hoedanigheid of geskiktheid van die mens tot stand gekom nie. Dit alles kan nooit vooraf as rede of voorwaarde vir die uitverkiesing van die mens vereis word nie. Die uitverkiesing is immers die oorsaak van geloof en geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, ensovoorts. Daarom is die uitverkiesing die fontein van alle saligheid waaruit geloof, heiligheid en al die ander saligmakende gawes, en uiteindelik die ewige lewe self, as vrugte en gevolge daarvan voortvloei. Die apostel getuig immers: Om heilig en sonder gebrek voor Hom te wees (Ef 1:4), en nie ómdat ons alreeds so was nie.
10. Die oorsaak van hierdie genadige uitverkiesing is inderdaad slegs die welbehae van God. Dit bestaan nie daarin dat Hy uit alle moontlikhede sekere menslike hoedanighede of dade as ‘n voorwaarde vir die saligheid uitgekies het nie. Dit bestaan wel hierin dat Hy sekere bepaalde mense uit die hele menigte van sondaars as sy eiendom aangeneem het. Soos geskrywe is: Toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie, …, is vir haar (nl Rebekka) gesê: Die oudste sal die jongste dien. Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat (Rom 9:11,12,l3); en: Daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe (Hand
13:48).
11. God self is alwys, onveranderlik, alwetend en almagtig, en daarom kan sy daad van uitverkiesing nie ongedaan gemaak, oorgedoen, verander, herroep of afgebreek word nie. Die uitverkorenes kan ook nie verwerp of in getal verminder word nie.
12. Die uitverkorenes word op God se tyd van hulle ewige en onveranderlike uitverkiesing tot saligheid verseker. Dit gebeur verskillend en nie vir almal in gelyke mate nie. Hierdie versekering ontvang hulle nie as hulle nuuskierig die verborgenhede en dieptes van God probeer deursoek nie. Hulle ontvang die sekerheid egter as hulle in hulleself die onfeilbare vrugte van die uitverkiesing, soos in die Woord van God aangewys, met geestelike blydskap en heilige vreugde waarneem. Hierdie onfeilbare vrugte van die uitverkiesing is die ware geloof in Christus, die kinderlike vrees van God, die droefheid oor die sonde volgens die wil van God, die honger en dors na die geregtigheid, ensovoorts (2 Kor 13:5).
13. Vir die kinders van God is die besef en die sekerheid van hierdie uitverkiesing daagliks steeds meer rede om hulle voor die aangesig van God te verootmoedig, om die diepte van sy barmhartigheid te aanbid, om hulleself te reinig en om Hom, wat hulle eerste so uitnemend liefgehad het, ook van hulle kant vurig lief te hê. Dit is dan ook onmoontlik dat hierdie leer van die uitverkiesing en die besinning daaroor die kinders van God sal laat ophou om die gebooie van God te gehoorsaam of dat hulle onverskillig sou word deur ‘n sondige lewe te lei. Deur die regverdige oordeel van God is dit juis die geval met hulle wat die genade van die uitverkiesing ligtelik vir hulleself toe-eien of ydellik en ligsinnig daaroor praat, sonder dat hulle begeer om in die weë van die uitverkorenes te
wandel.
14. Hierdie leer van die Goddelike uitverkiesing is verder, volgens die wyse besluit van God, deur die profete, deur Christus self en deur die apostels in sowel die Ou as die Nuwe Testament verkondig. Daarna is dit in die heilige Skrifte bekend gemaak en bewaar. Daarom moet dit vandag nog op die regte tyd en plek in die kerk van God – waarvoor dit in die besonder bestem is – uiteengesit word. Hierdie leer moet egter oordeelkundig, met gelowige eerbied en heilige ontsag, sonder ‘n nuuskierige ondersoek na die weë van die Allerhoogste, verkondig word. Dit alles moet gebeur tot eer van die heilige Naam van God en tot ‘n lewende troos vir sy volk (Hand 20:27; Rom 12:3; 11:33,34; Heb 6:17,18).
15. Verder toon die heilige Skrif hierdie ewige en onverdiende genade van ons uitverkiesing baie duidelik aan en verkondig dit nadruklik aan ons. Dit getuig bowendien dat nie alle mense uitverkies is nie, maar dat sommige nie uitverkies is nie of in die ewige uitverkiesing van God verbygegaan is. God het besluit om hulle, na sy volkome vrye, regverdige, onberispelike en onveranderlike welbehae, in die gemeenskaplike ellende te laat bly. Daarin het hulle hulleself deur hulle eie skuld gestort. God het immers besluit om nie aan hulle die saligmakend~ geloof én die genade van die bekering te gee nie. Om sy geregtigheid te openbaar, het God besluit om hierdie mense aan hulleself oor te laat, hulle onder sy regverdige oordeel te laat bly en om hulle nie alleen oor hulle ongeloof nie, maar ook oor al hulle ander sondes te veroordeel en ewig te straf. Dit is die besluit van die verwerping, wat God hoegenaamd nie tot bewerker van die sonde maak nie, want dit sou ‘n godslasterlike gedagte wees. Inteendeel, dit sê juis dat God ‘n gedugte, onberispelike en regverdige Regter is wat die sonde straf.
16. Hulle wat die lewende geloof in Christus, die vaste vertroue, die gewetensrus, die beoefening van kinderlike gehoorsaamheid en die roem in God deur Christus nog nie ten volle ervaar nie – ofskoon hulle die middele gebruik waardeur God hulle beloof, het om hierdie dinge in ons te bewerk – moet nie mismoedig word wanneer hulle van die verwerping hoor nie. Hulle moet hulleself ook nie onder die verworpenes reken nie, maar ywerig voortgaan om die middele te gebruik, vurig verlang na die tyd van oorvloediger genade en dit ook met eerbied en ootmoed verwag. Hulle wat ernstig begeer om hulle tot God te bekeer, om Hom alleen gehoorsaam te wees en van die liggaam van die dood verlos te word, maar op die pad van die vroomheid en die geloof nog nie so ver gekom het as wat hulle wel wou nie, behoort nog minder die leer van die verwerping te vrees. Die barmhartige God het immers beloof dat Hy die dowwe lamppit nie sal uitblus en die geknakte riet nie sal verbreek nie. Maar
hierdie leer is tereg verskriklik vir almal wat God en die Verlosser, Jesus Christus, verag en hulleself geheel en al aan wêreldse sorge en sondige begeertes oorgegee het. Dit sal so bly solank hulle hulle nie met erns tot God bekeer nie.
17. Die Woord van God, waaruit ons die wil van God leer ken, getuig daarvan dat die kinders van die gelowiges heilig is. Hulle is nie van nature heilig nie, maar kragtens die genadeverbond waarin hulle saam met hulle ouers opgeneem is. Gelowige ouers moet daarom nie twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van hulle kinders wat God in hulle kinderjare uit hierdie lewe wegneem nie (Gen 17:7; Hand 2:39;1 Kor 7:14).
18. Teen iemand wat oor hierdie genade van die onverdiende uitverkiesing en gestrengheid van die regverdige verwerping in opstand is, stel ons die woorde van die apostel: O, mens, wie is jy wat teen God antwoord? (Rom 9:20); en ook die woorde van ons Saligmaker: Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? (Matt 20:15). Maar ons wat hierdie verborgenhede godvresend en met eerbied aanbid; roep saam met die apostel uit: O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken of wie was sy raadsman gewees? Of wie het iets aan Hom gegee, dat dit vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid! Amen (Rom 11:33-36).
Anton
| #
Chris, jou punt 7 is tog duidelik onwaar. Jy sê: “Baie wat deur die evangelie geroep is, bekeer hulle nie, glo nie in Christus nie, maar sterf in ongeloof. Dit gebeur, nie omdat die offer wat Christus aan die kruis volbring het, gebrekkig of onvoldoende is nie, maar deur hul eie skuld.”
Verder aan sê jy egter: “So het God slegs aan die uitverkorenes die regverdigende geloof geskenk om hulle daardeur onfeilbaar salig te maak.”
Hoe kan dit die ongelowiges se skuld wees dat hulle nie glo nie as God die saligmakende geloof van hulle weerhou?
Yvonne
| #
Ds Chris ek is so dankbaar dat ek al u hardewerk mag gebruik en geniet…..seenwense….mag ek vra vir n korreksie , tel dit vanoggend op tydens my stilte tyd Gen 26…die voorlaaste paragraaf by u boodskap noem u Sara se naam ipv Rebekka…dis nie kritiek nie asb…gedurende die inperking en weens my swak gehoor is Bybelskool van groot seen vir my…baie dankie