Skip to main content

Eksodus 17 – Is die Here by ons of nie?

Hoofstuk 17 brei verder uit oor die interne uitdagings wat die volk regdeur die woestyn sou hê rondom water – 17:1-7.  Dit sou die mees vanselfsprekende area van hulle lewens wees waarvoor hulle volledig van God afhanklik sou moes bly.  Dit sou egter ook die een area wees waarin hulle die meeste ongeduld sou betoon, tot groot verlies vir Moses wat by een só ‘n geleentheid verlei word tot ongehoorsaamheid.  Dit sou mettertyd ook duidelik word dat hulle worsteling met water eintlik die dieper vraag na God se teenwoordigheid moes beantwoord soos dit in vers 7 verwoord word: “Is die Here by ons of nie?

Die eerste eksterne uitdaging in die woestyn het ook kort hierna opgedaag in die vorm van die geveg teen die Amalekiete – 17:8-16.  Hier sou hulle moes leer om aan die een kant self verantwoordelikheid te neem en in opdrag van die Here deur sy leiers planne te maak en hulle in die geveg met hulle vyand te begewe, terwyl hulle steeds op die Here vertrou, gesimboliseer deur die kierie wat Moses met die hulp van Aäron en Hur sou regop hou.  Dit berei ‘n mens ook voor vir die res van die strydverhale van die woestyn sowel as die latere Intog in Kanaän.

Israel bly met God worstel oor water – 17:1-7

Die reis deur die woestyn neem Israel tot by Refidim waar hulle kamp opslaan langs die berg Horeb (Sinai), maar geen water vind nie.  Hulle rusie fokus op Moses aan wie se adres hulle ‘n klomp verwyte rig, maar verraai eintlik hulle ongeduld met die Here.  Hulle is ten diepste onseker van die teenwoordigheid van die Here al het hulle soveel tekens daarvan: “Is die Here by ons of nie?

Moses is duidelik onkant gevang en vra raad by die Here.  Dit is ook ‘n toets vir Moses, soos ons later sal lees in sy afskeidspreek (Deut. 33:8).  Dié keer gee die Here hom die opdrag om die leiers van Israel saam te neem en met sy kierie teen die rots te gaan slaan waarop die Here sou gaan staan het.  Dan sal daar water uit die rots uitloop om die volk se dors te les.

Die plek (en gebeure) verkry daarna die twee name, Massa – dit verwys na die feit dat hulle die Here se geduld op die proef gestel het – en Meriba – dit verwys na die feit dat hulle met Moses rusie gemaak het. Dit sou spreekwoordelike waarskuwings word teen hardkoppigheid in die wandel met die Here waarin ongeduld jou nie net laat rusie maak met die Christelike gemeenskap wat nie aan jou behoeftes voldoen nie, maar ten diepste met God self en sy voorsiening in jou lewe in twyfel trek.

So praat Moses self in een van sy afskeidspreke: “Julle mag nie die geduld van die Here julle God op die proef stel soos julle by Massa gedoen het nie.” (Deut. 6:16).  En die Psalmis doen dieselfde in Psalm 95: “Moenie hardkoppig wees soos destyds by Meriba, soos die dag by Massa in die woestyn nie.” (Ps. 95:8).

Ook die Hebreërskrywer waarsku op grond van Psalm 95 teen ongeduld en hardkoppigheid, omdat dit ‘n teken van ongeloof is: “Daarom word daar gesê: ‘Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.’”  (Hebr. 3:15).

En die Christelike gemeenskap word opgeroep om na mekaar om te sien sodat dié ongeloof nooit sy kop uitsteek nie, onder andere deur mekaar aan te spoor en te keer dat ‘n verkeerde gesindheid posvat: “Broers en susters, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ’n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. Maar solank daar nog ’n ‘vandag’ is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.” (Hebr. 3:12-14).

Wat ons egter ook nie moet vergeet nie is dat in dié uitdagings – in die woestyn en in ons eie ervarings vandag – dit ook óns is wat op die proef gestel is, soos ‘n ander digter, Asaf, in Psalm 81 skryf: “In julle nood het julle geroep en Ek het julle gered; Ek het julle uit ’n donderwolk geantwoord, julle by die waters van Meriba op die proef gestel.” (Ps. 81:8).  Beproewings is een van die maniere waarop die Here by ons volharding kweek.

Josua lei die Israeliete in ‘n oorwinning oor die Amalekiete – 17:8-16

Die geveg teen die Amalekiete vind ook in die omgewing van Horeb (Sinai) plaas.  Moses gee aan Josua opdragte vir die oorlog terwyl hulle steeds op die Here vertrou, gesimboliseer deur die kierie wat Moses met die hulp van Aäron en Hur sou regop hou.

Die feit dat die uitslag van die geveg afgehang het van Moses se kierie simboliseer die feit dat die uitkoms van die geveg ten diepste van God se hulp afgehang het.

Nadat Josua die oorwinning behaal het, gee die Here ‘n belangrike opdrag wat van hierdie punt af vorentoe ‘n geweldige impak in die lewe van die Joodse volk sou hê.  Moses moes die gebeure van die oorwinning in ’n boek opskryf as ’n blywende herinnering en dit vir Josua voorlees.  Aan die een kant het dit met ‘n boodskap teen die Amalekiete te make wat die Here van die aarde af wou verdelg.  Aan die ander kant was dit die begin van die skriftelike tradisie van oorlewering van die groot dade van God, en daarmee natuurlik ook die begin van die Tora en uiteindelik die hele Bybel.

Die Amalekiete was afstammelinge van Esau (Gen. 36:20) wat op verskillende maniere ‘n uitdaging vir Israel sou wees. In Gideon se tyd is hulle wel saam met die Midianiete oorwin (Rigt. 6:33), maar Saul begaan die fout om Agag, ‘n Amalekiete koning, genadig wees (1 Sam. 15:8-9) wat nie net tot die verlies van sy koningskap lei nie, maar tot amperse volksmoord in die tyd van Ester deur ‘n afstammeling van Agag, die berugte en geslepe Haman, ‘n Agagiet (Ester 3:1).

Dit berei ‘n mens ook voor vir die res van die strydverhale van die woestyn sowel as die latere Intog in Kanaän.  En dit plaas vir ‘n mens in perspektief die opdrag van die Here dat die Amalekiete verdelg moet word, nie net oor hulle wreedheid hier in die woestyn om die Godsvolk aan te val nie, maar vir die uitdagings wat hulle deur die loop van die geskiedenis aan Israel sou stel.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders