Skip to main content

Eksodus 17 – Is die Here by ons of nie?

Hoofstuk 17 brei verder uit oor die interne uitdagings wat die volk regdeur die woestyn sou hê rondom water – 17:1-7.  Dit sou die mees vanselfsprekende area van hulle lewens wees waarvoor hulle volledig van God afhanklik sou moes bly.  Dit sou egter ook die een area wees waarin hulle die meeste ongeduld sou betoon, tot groot verlies vir Moses wat by een só ‘n geleentheid verlei word tot ongehoorsaamheid.  Dit sou mettertyd ook duidelik word dat hulle worsteling met water eintlik die dieper vraag na God se teenwoordigheid moes beantwoord soos dit in vers 7 verwoord word: “Is die Here by ons of nie?

Die eerste eksterne uitdaging in die woestyn het ook kort hierna opgedaag in die vorm van die geveg teen die Amalekiete – 17:8-16.  Hier sou hulle moes leer om aan die een kant self verantwoordelikheid te neem en in opdrag van die Here deur sy leiers planne te maak en hulle in die geveg met hulle vyand te begewe, terwyl hulle steeds op die Here vertrou, gesimboliseer deur die kierie wat Moses met die hulp van Aäron en Hur sou regop hou.  Dit berei ‘n mens ook voor vir die res van die strydverhale van die woestyn sowel as die latere Intog in Kanaän.

Israel bly met God worstel oor water – 17:1-7

Die reis deur die woestyn neem Israel tot by Refidim waar hulle kamp opslaan langs die berg Horeb (Sinai), maar geen water vind nie.  Hulle rusie fokus op Moses aan wie se adres hulle ‘n klomp verwyte rig, maar verraai eintlik hulle ongeduld met die Here.  Hulle is ten diepste onseker van die teenwoordigheid van die Here al het hulle soveel tekens daarvan: “Is die Here by ons of nie?

Moses is duidelik onkant gevang en vra raad by die Here.  Dit is ook ‘n toets vir Moses, soos ons later sal lees in sy afskeidspreek (Deut. 33:8).  Dié keer gee die Here hom die opdrag om die leiers van Israel saam te neem en met sy kierie teen die rots te gaan slaan waarop die Here sou gaan staan het.  Dan sal daar water uit die rots uitloop om die volk se dors te les.

Die plek (en gebeure) verkry daarna die twee name, Massa – dit verwys na die feit dat hulle die Here se geduld op die proef gestel het – en Meriba – dit verwys na die feit dat hulle met Moses rusie gemaak het. Dit sou spreekwoordelike waarskuwings word teen hardkoppigheid in die wandel met die Here waarin ongeduld jou nie net laat rusie maak met die Christelike gemeenskap wat nie aan jou behoeftes voldoen nie, maar ten diepste met God self en sy voorsiening in jou lewe in twyfel trek.

So praat Moses self in een van sy afskeidspreke: “Julle mag nie die geduld van die Here julle God op die proef stel soos julle by Massa gedoen het nie.” (Deut. 6:16).  En die Psalmis doen dieselfde in Psalm 95: “Moenie hardkoppig wees soos destyds by Meriba, soos die dag by Massa in die woestyn nie.” (Ps. 95:8).

Ook die Hebreërskrywer waarsku op grond van Psalm 95 teen ongeduld en hardkoppigheid, omdat dit ‘n teken van ongeloof is: “Daarom word daar gesê: ‘Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.’”  (Hebr. 3:15).

En die Christelike gemeenskap word opgeroep om na mekaar om te sien sodat dié ongeloof nooit sy kop uitsteek nie, onder andere deur mekaar aan te spoor en te keer dat ‘n verkeerde gesindheid posvat: “Broers en susters, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ’n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. Maar solank daar nog ’n ‘vandag’ is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.” (Hebr. 3:12-14).

Wat ons egter ook nie moet vergeet nie is dat in dié uitdagings – in die woestyn en in ons eie ervarings vandag – dit ook óns is wat op die proef gestel is, soos ‘n ander digter, Asaf, in Psalm 81 skryf: “In julle nood het julle geroep en Ek het julle gered; Ek het julle uit ’n donderwolk geantwoord, julle by die waters van Meriba op die proef gestel.” (Ps. 81:8).  Beproewings is een van die maniere waarop die Here by ons volharding kweek.

Josua lei die Israeliete in ‘n oorwinning oor die Amalekiete – 17:8-16

Die geveg teen die Amalekiete vind ook in die omgewing van Horeb (Sinai) plaas.  Moses gee aan Josua opdragte vir die oorlog terwyl hulle steeds op die Here vertrou, gesimboliseer deur die kierie wat Moses met die hulp van Aäron en Hur sou regop hou.

Die feit dat die uitslag van die geveg afgehang het van Moses se kierie simboliseer die feit dat die uitkoms van die geveg ten diepste van God se hulp afgehang het.

Nadat Josua die oorwinning behaal het, gee die Here ‘n belangrike opdrag wat van hierdie punt af vorentoe ‘n geweldige impak in die lewe van die Joodse volk sou hê.  Moses moes die gebeure van die oorwinning in ’n boek opskryf as ’n blywende herinnering en dit vir Josua voorlees.  Aan die een kant het dit met ‘n boodskap teen die Amalekiete te make wat die Here van die aarde af wou verdelg.  Aan die ander kant was dit die begin van die skriftelike tradisie van oorlewering van die groot dade van God, en daarmee natuurlik ook die begin van die Tora en uiteindelik die hele Bybel.

Die Amalekiete was afstammelinge van Esau (Gen. 36:20) wat op verskillende maniere ‘n uitdaging vir Israel sou wees. In Gideon se tyd is hulle wel saam met die Midianiete oorwin (Rigt. 6:33), maar Saul begaan die fout om Agag, ‘n Amalekiete koning, genadig wees (1 Sam. 15:8-9) wat nie net tot die verlies van sy koningskap lei nie, maar tot amperse volksmoord in die tyd van Ester deur ‘n afstammeling van Agag, die berugte en geslepe Haman, ‘n Agagiet (Ester 3:1).

Dit berei ‘n mens ook voor vir die res van die strydverhale van die woestyn sowel as die latere Intog in Kanaän.  En dit plaas vir ‘n mens in perspektief die opdrag van die Here dat die Amalekiete verdelg moet word, nie net oor hulle wreedheid hier in die woestyn om die Godsvolk aan te val nie, maar vir die uitdagings wat hulle deur die loop van die geskiedenis aan Israel sou stel.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda