Eksodus 3-4:17 – God stuur Moses om die Godsvolk uit Egipte te lei
Die pas van verandering begin vir Moses ná veertig jaar in die woestyn versnel. Die Here het nie net gesien en verstaan nie. Hy het afgekom om sy volk uit die mag van Egipte te bevry. Hy wil hulle laat trek: “na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.”
In vier episodes word die Godsverskyning (epifanie) aan en roeping van Moses beskryf:
- God verskyn aan Moses en roep hom – 3:1-12
- God maak sy naam aan Moses bekend – 3:13-22
- God gee Moses tekens van gesag – 4:1-9
- God gee Moses ‘n spreekbuis Aäron – 4:10-17
God verskyn aan Moses en roep hom – 3:1-12
Let op dat Moses al veertig jaar in Midian was en dat hy doodgewoon besig is met sy normale dagtaak. Niksvermoedend kom hy in die omgewing van Horeb, die berg van God. En dan skielik verander alles. Die Engel van die Here verskyn aan hom in ‘n vlam wat ‘n doringbos opvlam en God roep hom om die Godsvolk – God praat van die volk as syne – uit Egipte te lei.
Horeb is natuurlik dieselfde berg as Sinai en word as die “berg van God” beskou (vgl. Eks. 3:1 en 24:13) waar God – soos dit hier vir ons vertel word – Moses geroep het en sy Naam aan Hom bekend gemaak het, maar ook die Tora aan die volk gegee het en sy verbond met die Israeliete gesluit het, en ‘n paar eeue later die profeet Elia bemoedig het (1 Kon. 19:8).
Dit is daarom baie betekenisvol dat Moses later die Tabernakel in opdrag van die Here bou, waarna die Here saam met die volk trek die beloofde land binne. Die Tabernakel raak as’t ware die mobiele teenwoordigheid van God, hoewel Israel ook altyd verstaan het dat die Here nie deur enige plek op aarde bevat en beperk kan word nie.
Dit is interessant dat die Hebreeuse woord seně(h) vir die doringbos – wat aanhou brand, en nie uitbrand nie – ooreenkom met die woord sî·nǎyʹ vir Sinai. Dit kan wees dat dit die rede is dat die berg Horeb ook met die naam Sinai bekend is.
Let op dat dit die Engel van die Here is wat aan Moses in die doringbos verskyn, maar dat dit God self is wat met Abraham praat (Eks. 3:4: “Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos …”).
Moses word beveel om sy sandale (skoene) uit te trek as simbool van Moses se respek vir die heiligheid (gewydheid) van die ontmoeting met God. Dit kan ook ‘n teken wees dat hy nie met die “stof van die aarde” wat aan sy sandale gekleef het, voor die Here kon verskyn nie, ‘n tipe reinigingshandeling.
Dit is merkwaardig dat God van Homself as die God van Moses se “vader” (enkelvoud) praat – d.w.s. hy verwys waarskynlik na Amram – sowel as die God van Abraham, Isak en Jakob, die “voorvaders”. God openbaar Homself daarmee nie net as die God van die verlede, die God van die aartsvaders, nie, maar ook as die God van die hede, van Moses se eie familie, van sy vader Amram.
Die beloofde land waarheen God sy volk wil lei, word in gloeiende terme beskryf: “’n land wat oorloop van melk en heuning”. Hier word waarskynlik verwys na bokmelk, omdat dit meer volop is as skaapmelk, en na mos, die stroop wat van druiwe en dadels gemaak is.
Dié oorvloed is ‘n feit wat ook uit ander Egiptiese bronne (verhaal van Sinuhe wat Kanaän se vye, druiwe en wyn prys) sowel as die Intogverhale (die verspieders het granate, vye en groot trosse druiwe teruggebring – Num. 13:23) bekend is.
Ons weet egter ook uit die Genesis verhale dat dit ‘n land is wat baie keer gebuk gegaan het onder droogtes. Dit was immers ook die rede waarom hulle na Egipte getrek het in die tyd van Jakob. En die Israeliete het juis – toe dit swaar gegaan het met die trekkery deur die woestyn – gekla by Moses dat hy hulle na Kanaän toe neem. In hulle ervaring wat dit eerder Egipte wat ‘n land was wat oorloop van melk en heuning (Num. 16:13)! Kanaän was ‘n veraf droom, terwyl hulle geweet het wat hulle in Egipte gehad het.
Dié opstand van Korag, Datan en Abiram teen Moses was in wese ‘n minagting van die Here self en sy doel met die volk, wat Hom met toorn laat optree het. Net die tussenkoms van Moses en Aäron het ‘n totale tragedie verhoed.
Die punt is dat die kontras van die beloofde land se oorvloed nie soseer met die materiële seëninge van Egipte was nie, maar met die slawerny waarmee hulle in Egipte onderdruk is. Die Here wou hulle ‘n “goeie en uitgestrekte land” gee waar hulle Hom in vryheid kan aanbid. Die oorvloed wat God gee, het dus ten diepste te make met wie Hy vir hulle wil wees in die land waarheen Hy hulle wil uitlei.
Wie dus kies om die Here se pad te volg, het wel baie keer die ervaring dat hulle op plekke kom waar dissipelskap opofferings vra, maar weet ook dat dit by verre beter is om in die Here se teenwoordigheid te lewe. En Hy maak altyd sy beloftes waar, ook dié van melk en heuning, soos Jesus veel later in die NT sou sê: “Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het … Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God (sy geregtigheid), dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee (kos, drank en klere)”. (Matt. 6:33).
Dié verskyning by Horeb het só ‘n groot indruk op Moses gemaak dat hy die beskrywing in ‘n seën oor Josef aan die einde van sy lewe gebruik. Hy bid dat God vir Josef sal seën: “met die toegeneentheid van Hom wat woon in die doringbos.” (Deut. 33:16).
God maak sy naam aan Moses bekend – 3:13-22
Moses het geweet dat indien hy enigsins hierdie opdrag sou aanvaar hy baie seker moet maak van die gesag op grond waarvan hy dié opdrag moet uitvoer. Daarom fokus hy eers op homself deur te vra: “Wie is ek, dat ek na farao toe kan gaan en dat ek die Israeliete uit Egipte kan lei?”
Die Here fokus egter op wie Hyself is. God sal saamgaan, en dit behoort vir Moses heeltemal genoeg te wees. “Ek sal by jou wees.”
Moses is egter nie oortuig nie, en wil weet met watter gesag kan hy op grond van hierdie selfopenbaring van God die gode van Egipte teengaan. Kan dié God laat gebeur wat Hy van Moses vra?
En dit is presies wat God vir hom gee, ‘n aanduiding van die gesag waarmee God roep: “Ek is wat Ek is.” Hy gebruik ‘n woordspel van die Hebreeuse werkwoord hā·yā(h) om sy wese aan Moses te openbaar: “Ek Is Wie Ek Is.” Dit is ‘n ryk beskrywing van wie God is, want die werkwoord kan in verskillende kontekste onder andere die volgende beteken: wees, word, gebeur, bestaan.
God se naam is dus nie soos ander gode s’n wat aan iets in die skepping verbind is, soos Ra, die songod, nie. God se naam openbaar God as ‘n wese wat inderdaad bestaan. Hy is dinamies en aktief. Hy bestaan en Hy beloon, soos Hebr. 11:6 dit in ‘n ander konteks verwoord. Hy is die bron van en vir alles wat is.
Hieruit is die naam Jahwe dan ook opgebou. Dit word soms die Tetragrammaton (vier-letter-woord) genoem, omdat dit aanvanklik net met konsonante geskryf is: jhwh. Die vokale is later bygevoeg. Die mees aanvaarde uitspraak van die woord, soos deur baie navorsing bevestig, is Jahwe. Die naam Jahwe beteken dan iets soos: “Hy wat is”, of “Hy wat bestaan”, of “Hy wat bestaan bewerk”. Die verwerking van die Tetragrammaton as Jehova is nie korrek nie, want dit verwoord die vokale van ‘n ander woord adonai wat uit respek vir die Naam van God aan die Tetragrammaton gekoppel is deur die Joodse kopieerders.
God gee Moses die opdrag om deur die leiers (oudstes) van Israel te werk en hulle op dieselfde wyse aan die verbond van God met hulle ouers en voorouers moet herinner. Hoe mooi staan dit nie daar nie: “Ek weet van julle en Ek weet ook wat julle aangedoen word in Egipte.” Daarom het die Here besluit om hulle te laat wegtrek uit die ellende van Egipte na die land wat oorloop van melk en heuning.
Die Here belowe ook aan Moses dat die leiers na hom sal luister. Dit sou ‘n noodsaaklike voorbereiding wees vir die uiteindelik gesprek met die Egiptiese koning, aanvanklik net deur vir ‘n drie dagreise ver trek die woestyn in te vra, waar hulle vir die Here ‘n offer kan bring.
Nie dat die Here dink dat dié plan gaan werk nie. Dit is egter altyd goed om eers te vra, voor ‘n mens harder optree. Die Here weet egter dat dit meer sal kos om die farao te oortuig en dat dit verskeie “wonders” sal insluit waardeur God sy krag sou ten toon stel.
Hy sê ook nou al dat hulle nie met leë hande sou trek nie, die vervulling waarvan ons inderdaad in Genesis 12 lees. Die vroue word opdrag gegee om van haar buurvrou of van die vrou van die huis waar sy as huiswerker diens doen, silwer- en goue goed sowel as klere te eis. Die seuns en dogters moet help dat hulle dit as buit – vergoeding – uit Egipte kan wegdra.
God gee Moses tekens van gesag – 4:1-9
Volgende fokus God self op die tekens van gesag waarmee Moses kan optree, in die eerste plek teenoor sy eie mense. Die gesag van God self was vir Moses ‘n bemoediging en versterking. Die drie tekens van gesag wat God vir Moses gee, was gemik op die aanvaarding deur die volk van sy boodskap aan die farao: ‘n staf wat in ‘n slang kan verander, ‘n hand wat na willekeur melaats kon raak, en die vermoë om water in bloed te verander.
Die “staf” wat ‘n slang word, is iets wat nie onbekend was in Egipte nie, en waarvan blykbaar vandag nog stories vertel word. Dit behels dat ‘n slang (of krokodil, uiteraard ‘n kleintjie!) deur hipnose in ‘n rigiede staat verander kan word, en soos ‘n “staf” regop gehou kan word. Uiteraard, wanneer jy die slang neergooi, word die hipnose en die rigiditeit verbreek.
Moses se “staf” is egter werklik ‘n staf of kierie. In hierdie demonstrasie van die mag van God in die woestyn word die staf ‘n slang (nā·ḥāš). Interessant genoeg word ‘n ander Hebreeuse woord gebruik vir die dier waarin Aäron se staf in Egipte verander, tǎn·nîn, wat soms vir slang gebruik is, maar ook vir krokodil gebruik kan word. Die feit dat Aäron se staf die ander towenaars se “slange” opvreet, laat ‘n mens wonder of Aäron se staf nie eerder in ‘n krokodil verander het nie!
Moses gebruik dié staf net as ‘n teken van God se teenwoordigheid en mag – by sy eie mense, by die Rietsee, by die water uit die rots – behalwe die een keer wat hy die rots slaan, wat volgens sommige geleerdes as ‘n poging tot ‘n soort magiese handeling geïnterpreteer kan word. Die Here het nie daarmee genoeë geneem nie, en straf Moses op tragiese wyse dat hy nie die beloofde land binne mag getrek het nie (Num. 20).
Moses se hand wat melaats word, moet waarskynlik nie as ‘n mediese diagnose gesien word nie, want melaatsheid as sodanig het eers baie later in Egipte en die res van die Midde-Ooste bekend geraak. Dit is eerder ‘n aanduiding van een of ander velsiekte wat die vel óf wit van kleur óf wit van skilferigheid gemaak het. Terloops, Levitikus 13 brei uitvoerig oor velsiektes uit, waarin spesifiek na sommige se wit kleur verwys word.
Die verandering van Moses se hand simboliseer natuurlik oordeel vir die farao, al is dit primêr as teken vir die Israeliete gegee. Dit is nie net ‘n wonderteken om Moses van God se werklikheid te oortuig nie. Dít is ook wat ons bv. lees in die opstand van Mirjam (en Aäron, maar dit lyk asof sy die voortou geneem het) teen Moses se troue met ‘n Kussitiese vrou. Die Here maak haar melaats as straf vir haar oortreding.
Moses moet ook die Nylwater op droë grond gooi waar dit in bloed verander het. Dit dien ook as ‘n voorskou van die oordeel van die eerste plaag. Die betekenis van die oordeel in dié teken sou ‘n groot getuienis gewees het aan enigeen onder die volk wat die sensitiwiteit gehad het om te kan luister en die boodskap reg te kan interpreteer.
God gee Moses ‘n spreekbuis, Aäron – 4:10-17
Die laaste fokus van die Here is interessant genoeg verbind aan Moses se vrees dat hy nie wel ter tale was nie. Die Here reël dat Aäron namens Moses sou praat. Dit is egter nie net gemik daarop dat Moses se vrees besweer word nie, maar juis om Moses se status in die farao se hofhouding daarmee te verhoog, want dit was baie keer die gebruik dat boodskappers namens die leier praat.
Die Here se reaksie op Moses se huiwering om die woordvoerder te wees, het dus ook ‘n positiewe uitkoms in terme van feit dat dit God se boodskap aan die farao kon versterk. Dit lyk in elk geval of Moses mettertyd sy vrees oorkom en self met die farao in gesprek tree. Hy is ook ongetwyfeld God se woordvoerder by die volk soos die ontvouende verhaal vir ons gaan aantoon.
Soos baie keer in die OT is die vrese wat God se geroepenes het om hulle roeping te kan uitvoer heeltemal irrelevant vir God. “Wie het aan die mens ’n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.”
Dit is steeds so vandag. Soos Jesus later sou sê van sy dissipels as hulle in onvoorbereide situasies sou kom waar hulle ‘n getuienis sou moes lewer: “Wanneer hulle julle gryp om julle oor te lewer, moet julle julle nie vooruit bekommer oor wat julle sal sê nie, maar julle moet praat soos dit op daardie oomblik aan julle gegee sal word, want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees.” (Mark. 13:12).
View all posts in this series
- God sien en God verstaan – Bybelskool oor Eksodus begin 18 Januarie
- Inleiding – Eksodus: die hoop op verlossing
- Eksodus 1 – God vermeerder sy volk ten spyte van farao se brutale onderdrukking
- Eksodus 2 – God het hulle gekreun gehoor en verstaan
- Eksodus 3-4:17 – God stuur Moses om die Godsvolk uit Egipte te lei
- Eksodus 4:18-31 – Die oudstes reageer in geloof en aanbidding op Moses en Aäron se boodskap
- Eksodus 5 – God beveel farao: Laat my volk gaan!
- Eksodus 6:1-26: “Ek is die Here!”
- Eksodus 6:27-7:25 – Egipte sal besef Ek is die Here deur die plae wat Ek stuur
- Eksodus 8 – Die plae is Jahwe se verlossende oordeel as getuienis dat Hy God is
- Eksodus 9 – Farao het geen ontsag vir Jahwe nie al krepeer hulle van ellende
- Eksodus 10:1-27 – Die plae illustreer God se seën of straf vir dié wat Hom gehoorsaam of teenstaan
- Eksodus 10:28-11:10 – Die tiende plaag bevestig Jahwe se Godheid en sy verkiesing van Israel
- Eksodus 12:1-42 – Die Here beskerm die Israeliete teen die vernietiger deur die bloed van die Paaslam
- Eksodus 12:43-13:16 – Deur viering en toewyding word die herinnering aan bevryding lewend gehou
- Eksodus 13:17-14:31 – Die teenwoordigheid van die Here raak die Godsvolk se kompas deur die woestyn
- Eksodus 15 – Die Here is die Bewerker van wonderdade wat sy volk beskerm en sy vyande verpletter
- Eksodus 16 – God voorsien brood, vleis en die Sabbat as tekens van sy teenwoordigheid
- Eksodus 17 – Is die Here by ons of nie?
- Eksodus 18 – Jetro mentor Moses en die Israelitiese leiers tot ‘n leierskapspan
- Eksodus neem stadiger as wat ek beplan het!
- Eksodus 19 – As julle My gehoorsaam, sal julle my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien
- Eksodus 20 – Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het
- Eksodus 21 – Sorg vir mense en hulle diere
- Eksodus 22 – Sorg vir mense en hulle besittings
- Eksodus 23 – Sorg vir geregtigheid en die geloofsgemeenskap met God se hulp
- Eksodus 24 – Ons sal alles doen wat die Here beveel het
- Eksodus 25 – Rig vir my ‘n heiligdom op dat Ek tussen julle kan woon
- Eksodus 26 – Jy moet die tabernakel oprig presies volgens die plan wat op die berg vir jou gewys is
- Eksodus 27 – Die lig van God se teenwoordigheid brand voortdurend in die “tent van ontmoeting”
- Eksodus 28 – Die priesters se klere dra die boodskap van gesag en toewyding
- Eksodus 29 – Afgesonder en bevestig as God se verteenwoordigers
- Eksodus 30 – Elke deel van die tabernakel en elke priester word geheilig aan die Here
- Eksodus 31 – Hulle moet alles maak net soos Ek jou beveel het
- Eksodus 32 – Die tragedie van die goue bulkalf en die toorn van Jahwe
- Eksodus 33 – Onthou tog hierdie nasie is u volk
- Eksodus 34 – Ek is barmhartig en genadig, maar Ek laat niks ongestraf nie
- Eksodus 35:1-36:1 – Elkeen wie se hart en gees hulle daartoe aangespoor het, het vrywillig offergawes gebring
- Eksodus 36:2-38 – Die volk bring meer as wat nodig is
- Eksodus 37 – Besaleël neem die voortou met die maak van die heilige toebehore van die tabernakel
- Eksodus 38 – Amper sewe ton goud, silwer en brons word gebruik
- Eksodus 39 – Die tabernakel is gereed vir die teenwoordigheid van die Here
- Eksodus 40 – Die teenwoordigheid van die Here vul die tabernakel
- Oor getalle in die woestyn verhale
- Die tweede gebod – ‘n paar ekstra gedagtes
Tags: Eksodus
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Chris, ja, daar is ‘n ooreenkoms met die finale oorlog, die Armageddon (Openb 16:16), aan die einde van die laaste dae, soos Johannes dit ook verder in Openbaring 20:8 vir ons beskryf. Hy gebruik ook die terme Gog en Magog soos Esegiël dit doen.
Chris Vermeulen
| #
Môre. Die vernietiging van Gog, is dit die “armaggedon” waarvan die Woord ons ook vertel? God bless!
Lerina
| #
Ek stem saam met Chris, ja mens moet daarna kyk in konteks en dus ook eintlik die hele 2 Kor 12 bestudeer. Wat my keer op keer opval wanneer ek mensies teëkom wat so onwaardig voel omdat hulle God voluit dien, die vrugte van die Gees uitleef en ‘n diep verhouding met die Vader het, en tog nie die gawe van tale ontvang het nie, is vanaf vers 7 – 11 … want aan EEN word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee … aan ‘N ANDER, ‘n woord van kennis, … aan ‘N ANDER geloof …. ens. ……. en dan vers 11 wat sê AL hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.
Glo my tale is belangrik, en moet verseker be-oefen word as dit jou gawe is. Ek is net so versigtig om dit as enigste kriteria te gebruik as teken van vervulling met die Heilige Gees.
Chris van Wyk
| #
Hi Roeleen. Die 1983 vertaling is nie baie helder nie. Hier is ‘n paar ander vertalings wat die betekenis van die Hebreeus beter weergee:
Dit beteken, die mens wat sy vreugde vind in die Woord van God vermy die weg van sondaars wat baie keer met geweld gepaard gaan. ‘n Goeie voorbeeld vind ‘n mens in die verhaal van Dawid wat deur Abigail gekeer word om met geweld teen Nabal op te tree (1 Samuel 25:2-38). Baldwin dink in sy kommentaar dat dié verhaal moontlik die agtergrond vorm van Dawid se Psalm 17.
Roeleen Nel
| #
Help my asb met Ps 17 vers 14 in 1983 vertaling. Ek stoei met daardie vers.
Chris van Wyk
| #
Hi Lou. Die eerste twee gebooie probeer op omvattende wyse enigiets afraai wat in die plek van of naas God aanbid word. Dit is gemik teen die aanbidding van ‘n ander god in die plek van God. Dit is ook gemik teen die aanbidding van ‘n ander langsaan God. Dit wil sê dat jy jou brood aan twee kante gebotter wil hê.
Hier is wat ek vroeër daaroor geskrywe het:
Eerste gebod – geen ander gode
Die eerste gebod in Eks. 20:3 (Deut. 5:7) is die verbod op ander gode. Dit beteken dat God niemand duld wat langs Hom aanbid en vereer word nie. Alle afgodery word dus daarmee verbied. Die Here verwag dat daar net met Hom as die ware God in ‘n verhouding getree mag word. Sy weë moet ten alle koste leer ken word, want dit is net Hy alleen wat vertrou kan word met die lewe. Daarom moet die Godsvolk Hom met hulle hele hart liefhê, vrees en eer, soos die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 94 dit uitlê.
Dieselfde waarskuwing word reg deur die NT gevind (1 Tes. 1:9; Gal. 4:8; Rom. 1:23; 2 Kor. 6:16; Openb. 9:20), onder andere met betrekking tot die eet van afgodsoffers (Hand. 15:20,29; 1 Kor. 8:7; 10:7; 12:2; Openb. 2:20). Afgodery word ook regdeur die NT verbind aan moreel-etiese sake, soos bv. die verbod op losbandigheid en gierigheid (Ef. 5:5) sowel as vraatsug (Fil. 3:19). Sorg moet ook gedra word dat daar nie hoog opgegee word oor die afsku aan afgode, maar tog deelgeneem word aan ‘n onwettige berowing van heidense tempels vir eie gewin nie (Rom. 2:22).
Dit is interessant hoe Johannes in sy briewe ook dié wet as waarskuwing inspan vir gelowiges van die NT (1 Joh. 5:21). Johannes gee drie motiverings daarvoor. Die eerste motivering is dat: “ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken.” In Jesus kan ons dus die ware God van die afgode onderskei. Die tweede motivering is dat: “ons in die ware God is, in sy Seun, Jesus Christus.” Ons hele lewe word deur God bepaal, dié God wat ons in sy Seun, Jesus Christus, leer ken het. Die derde motivering is dat: “Hy die ware God is en die ewige lewe.” Daar is niemand anders as God nie, en deur Hom het ons toegang tot die ewige lewe. Daarom sê Johannes: “Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af.”
Tweede gebod – geen afbeelding van God mag aanbid word nie
Die tweede gebod in Eks. 20:5 (Deut. 5:8-10) verbied die maak van enige afbeelding van God wat aanbid of vereer word. Hy is ‘n jaloerse God wat onverdeelde trou aan Hom van sy mense eis. Gehoorsaamheid sal geseën word, en ongehoorsaamheid gestraf word. Die uitwerking daarvan sal in die geslagte gesien kan word.
Dieselfde waarskuwing word ook in die NT gevind. in Jakobus 4:5 wy hy uit oor God wat onverdeelde trou van ons vra en begrond dit op ‘n verwysing na die skeppingsverhaal dat God: “die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê”.
Dieselfde geld Paulus in Romeine 1:23 waar die problematiek van afgodery uitgespel word dat: “beelde wat lyk soos ’n verganklike mens of soos voëls of diere of slange”, d.w.s. afgode: “in die plek van die heerlikheid van die onverganklike God” gestel en aanbid word. Dit is: “bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding”, soos Paulus op die Areopagus sê (Hand. 17:29).
Lees meer hier:
Lou Pistorius
| #
Ek sit nou die dag weer en wonder hoekom die eerste twee gebooie aparte gebooie is – eintlik is dit tog maar dieselfde? Is daar nie erens ‘n vermiste tiende gebod nie?
Chris van Wyk
| #
Hi Awie. Ek sal later weer antwoord as ons daar kom. Weereens ‘n lusmaker:
Jesus praat waarskynlik in Lukas 6:29 van mense wat jou haat en beledig. Vir hulle moet jy ook jou ander wang aanbied (gee). Dit dui moontlik op mense wat jou publiek verwerp of verneder. Jesus bedoel dan waarskynlik dat ‘n mens nie moet ophou om uit te reik na sulke mense nie. Jy stel jou dus bloot aan verdere verwerping deur “die ander wang” aan te bied.
Jesus praat duidelik in Matteus 5:39 van kwaadwillige mense. Dit is mense wat jou met die agterkant van die regterhand op die regterwang slaan. Die toppunt van minagting en mishandeling. Teenoor sulke mense, sê Jesus, moet jy jou nie verset nie. As hulle jou op die regterwang slaan, moet jy ook die ander wang na hulle toe draai.
Hoekom? Want Jesus wil ten diepste hê dat vyande in vriende verander sal word. Dit beteken dat gelowiges die risiko sal moet neem om verder te ly onder kwaadwilligheid ter wille van die uitreik na sulke mense. Vergelding sal verwydering bring. Verdraagsaamheid kan van vyande vriende maak.
Dit maak nog meer sin in die konteks wat ‘n mens in Matteus raaksien, dié van geregtelike aksies. Jesus is hier duidelik meer begaan oor litigasie, mense wat gelowiges hof toe sleep (vgl vers 40), as oor die moontlikheid van fisieke geweld of publieke verwerping, soos dit wel die geval is in sy uitsprake in Lukas.
Gelowiges wat op Jesus vertrou, sal bereid wees om hulle persoonlike regte te laat vaar ter wille van die impak van die evangelie. Die doel is heling en versoening.
Soos Paulus ook later skryf in 1 Korintiërs 6. Ly liewer persoonlik onreg in die gemeenskap ter wille van die evangelie. Moenie die hof opsoek om verskille uit te sorteer nie.
Dit beteken egter vir seker nie dat ‘n mens daarmee ‘n lamsak of ‘n slaansak word nie. Paulus het telkens wanneer die owerhede of Joodse Raad betrokke geraak het, gestaan op die regte wat die regstelsel aan burgers verleen het (Hand 16:37; 22:25; 25:8-12). Dieselfde voorrreg geld ook vir ons vandag.
Awie Coetsee
| #
Baie dankie vir u verklaring dit maak sin.maar dit is vreemd dat Jesu vroer gese het dat jy die ander wang moet draai
Chris van Wyk
| #
Hi Jenny. ‘n Kort antwoord:
Die probleem met dobbel is dat dit ‘n gierigheid verraai en voed in ‘n mens se hart. ‘n Begeerte aan meer as wat jy het. En dit is ‘n onversadigbare monster. Dit illustreer nie net dat jy ontevrede is met wat jy het nie, maar kan jou nog meer ontevrede maak as jy verder en verder daarin ingetrek word. Daarmee oortree ‘n mens die tiende gebod (Eks 20:17).
Daarom sê die Hebreërskrywer: “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” (Hebr 13:5).
Dobberl dwarsbooom ook die Bybelse opdrag om in jou eie behoeftes te voorsien deur eerlike werk en het baie keer ‘n destruktiewe uitwerking op die mense rondom jou, veral as suurverdiende geld daardeur verloor word en families daaronder ly.