Skip to main content

Eksodus 35:1-36:1 – Elkeen wie se hart en gees hulle daartoe aangespoor het, het vrywillig offergawes gebring

Die tafel is nou gedek vir die bou van die Tabernakel.  Die Here se instruksies is volledig gegee in Eksodus 25-31.  Die toorn van die Here oor die afvalligheid van die volk net die goue bulkalf is afgeweer deur Moses se bemiddeling in Eksodus 32-34.  In die volgende ses hoofstukke van Eksodus 35-40 sal die uitvoering van God se opdrag dus gegee word, in baie opsigte ‘n herhaling van die gedetailleerde beskrywings in Eksodus 25-31.

Ek gee weer in tabelvorm die ooreenkomste, dié keer aan die hand van die orde van die uitvoering van die opdrag, sowel as die unieke bydraes wat hier geplaas is:

Die herhaling van die opdrag tot die hou van die Sabbat Eks. 35:1-3 Eks. 31:12-18
Die offergawes vir die Tabernakel Eks. 35:4-9 Eks. 25:1-9
Die versoek vir vakmanne en offergawes Eks. 35:10-29
Die hoof vakmanne vir die bou van die tabernakel Eks. 35:30-36:1 Eks. 31:1-11
Die volk bring meer as wat nodig is Eks. 36:2-7
Die bou van die tabernakel Eks. 36:8-38 Eks. 26:1-37
Die maak van die ark van die verbond Eks. 37:1-9 Eks. 25:10-22
Die maak van die tafel vir die offerbrood Eks. 37:10-16 Eks. 25:23-30
Die maak van die kandelaar Eks. 37:17-24 Eks. 25:31-40
Die maak van die wierookaltaar Eks. 37:25-28 Eks. 30:1-10
Die maak van die brandofferaltaar Eks. 38:1-7 Eks. 27:1-8
Die maak van die bronswaskom Eks. 38:8 Eks. 30:17-21
Die bou van die voorhof Eks. 38:9-20 Eks. 27:9-19
Die gebruikte materiaal Eks. 38:21-31
Die maak van die priesters se klere Eks. 39:1-31 Eks. 28:1-43
Die voltooiing van die tabernakel Eks. 39:32-43
Die tabernakel word opgeslaan en ingewy Eks. 40:1-33
Die teenwoordigheid van die Here vul die tabernakel Eks. 40:32-38

Oor die verskille met Eksodus 25-31

Ons lees hier nie van die lampolie offer soos in Eks. 27:20-21 beveel nie.  Die uitvoering daarvan word eers in Lev. 24:1-4 aangeroer.  Ons lees ook nie van instruksies van die daaglikse offers soos in Eks. 29:38-46 beveel nie. Die uitvoering daarvan word eers in Num. 28:1-8 aangeroer.  Ons lees ook nie van die versoeningsoffer tydens ‘n sensus soos in Eks. 30:11-16 beveel nie.  Dit word wel in Num. 1 aangeroer toe dit nodig geraak het.  Ons lees ook nie van die voorbereiding van die gewyde salfolie en die wierookoffer soos in Eks. 30:22-38 beveel nie.  Dit word wel in Num. 4:15-20 uitgevoer.  Ons lees wel van die toewyding van Aäron en sy seuns soos in Eks. 29:1-37 beveel, hoewel dit weer in Lev. 8:1-36 herhaal word.

Die herhaling van die opdrag tot die hou van die Sabbat – Eks. 35:1-3

Die instruksies vir die hou van die Sabbatdag is gegee in Eks. 31:12-18 aan die einde van die reeks opdragte wat die Here vir Moses gegee het.  Die opdrag om die Sabbatdag te vier funksioneer nou as inleiding tot die uitvoering van al die instruksies vir die bou van die Tabernakel.  Selfs die bou van die Tabernakel, die heiligdom van God, mag dié ritme versteur nie.  Moses reël dat daar selfs nie vuur gemaak mag word op die Sabbatdag nie, sodat almal kan rus, ook dié wat normaalweg vir kos op die tafel sou sorg.

Die offergawes vir die Tabernakel – Eks. 35:4-9  

Op grond van die instruksies wat in Eks. 25:1-9 gegee is vir die tipe materiaal wat vir die Tabernakel nodig sal wees, word die volk nou vir vrywillige offergawes “vir die Here” gevra.  Dit het goud, silwer, brons, blou, pers en bloedrooi wolstof, linne, bokhaar, rooigekleurde ramsvelle, gebreide tornynvelle, doringhout, olie vir die lampe, balsem vir salfolie en vir geurige wierook, oniks en die ander edelstene ingesluit.

Die versoek vir vakmanne en offergawes – Eks. 35:10-29                 

Volgende aan die beurt was die versoek vir vakmanne wat met die bou van die tabernakel en die voorhof sowel as die maak van die onderskeie toebehore kan help.

Die volk het met oorgawe gereageer en vrywillig gawes gebring.  Daar staan in die oorspronklike: “Elkeen wie se hart hom daartoe gebring het, en elkeen wie se gees hom daartoe aangespoor het, het gekom, en hulle het vir die Here ‘n wydingsgeskenk gebring vir die werk aan die Tent van Ontmoeting en vir al die dienswerk daaraan verbonde, en vir die heilige klere.

Die hoof vakmanne vir die bou van die tabernakel – Eks. 35:30-36:1         

Moses voer ook die instruksies van Eks. 31:1-11 rondom die twee hoof vakmanne, Besaleël en Oholiab, uit.  Nie net is Besaleël deur die Gees van God toegerus vir sy werk nie, maar hy en Oholiab kon ook onderrig gee en ander oplei.  Trouens in vers 34 se begin staan daar letterlik: “En die Here het dit ook in sy hart gegee om te onderrig.”  Die kreatiwiteit van hierdie vakmanne was egter steeds onderworpe aan die instruksies van die Here.  Alles moes gedoen word soos Hy dit in gedagte gehad het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…