Eksodus 35:1-36:1 – Elkeen wie se hart en gees hulle daartoe aangespoor het, het vrywillig offergawes gebring
Die tafel is nou gedek vir die bou van die Tabernakel. Die Here se instruksies is volledig gegee in Eksodus 25-31. Die toorn van die Here oor die afvalligheid van die volk net die goue bulkalf is afgeweer deur Moses se bemiddeling in Eksodus 32-34. In die volgende ses hoofstukke van Eksodus 35-40 sal die uitvoering van God se opdrag dus gegee word, in baie opsigte ‘n herhaling van die gedetailleerde beskrywings in Eksodus 25-31.
Ek gee weer in tabelvorm die ooreenkomste, dié keer aan die hand van die orde van die uitvoering van die opdrag, sowel as die unieke bydraes wat hier geplaas is:
Die herhaling van die opdrag tot die hou van die Sabbat | Eks. 35:1-3 | Eks. 31:12-18 |
Die offergawes vir die Tabernakel | Eks. 35:4-9 | Eks. 25:1-9 |
Die versoek vir vakmanne en offergawes | Eks. 35:10-29 | |
Die hoof vakmanne vir die bou van die tabernakel | Eks. 35:30-36:1 | Eks. 31:1-11 |
Die volk bring meer as wat nodig is | Eks. 36:2-7 | |
Die bou van die tabernakel | Eks. 36:8-38 | Eks. 26:1-37 |
Die maak van die ark van die verbond | Eks. 37:1-9 | Eks. 25:10-22 |
Die maak van die tafel vir die offerbrood | Eks. 37:10-16 | Eks. 25:23-30 |
Die maak van die kandelaar | Eks. 37:17-24 | Eks. 25:31-40 |
Die maak van die wierookaltaar | Eks. 37:25-28 | Eks. 30:1-10 |
Die maak van die brandofferaltaar | Eks. 38:1-7 | Eks. 27:1-8 |
Die maak van die bronswaskom | Eks. 38:8 | Eks. 30:17-21 |
Die bou van die voorhof | Eks. 38:9-20 | Eks. 27:9-19 |
Die gebruikte materiaal | Eks. 38:21-31 | |
Die maak van die priesters se klere | Eks. 39:1-31 | Eks. 28:1-43 |
Die voltooiing van die tabernakel | Eks. 39:32-43 | |
Die tabernakel word opgeslaan en ingewy | Eks. 40:1-33 | |
Die teenwoordigheid van die Here vul die tabernakel | Eks. 40:32-38 |
Oor die verskille met Eksodus 25-31
Ons lees hier nie van die lampolie offer soos in Eks. 27:20-21 beveel nie. Die uitvoering daarvan word eers in Lev. 24:1-4 aangeroer. Ons lees ook nie van instruksies van die daaglikse offers soos in Eks. 29:38-46 beveel nie. Die uitvoering daarvan word eers in Num. 28:1-8 aangeroer. Ons lees ook nie van die versoeningsoffer tydens ‘n sensus soos in Eks. 30:11-16 beveel nie. Dit word wel in Num. 1 aangeroer toe dit nodig geraak het. Ons lees ook nie van die voorbereiding van die gewyde salfolie en die wierookoffer soos in Eks. 30:22-38 beveel nie. Dit word wel in Num. 4:15-20 uitgevoer. Ons lees wel van die toewyding van Aäron en sy seuns soos in Eks. 29:1-37 beveel, hoewel dit weer in Lev. 8:1-36 herhaal word.
Die herhaling van die opdrag tot die hou van die Sabbat – Eks. 35:1-3
Die instruksies vir die hou van die Sabbatdag is gegee in Eks. 31:12-18 aan die einde van die reeks opdragte wat die Here vir Moses gegee het. Die opdrag om die Sabbatdag te vier funksioneer nou as inleiding tot die uitvoering van al die instruksies vir die bou van die Tabernakel. Selfs die bou van die Tabernakel, die heiligdom van God, mag dié ritme versteur nie. Moses reël dat daar selfs nie vuur gemaak mag word op die Sabbatdag nie, sodat almal kan rus, ook dié wat normaalweg vir kos op die tafel sou sorg.
Die offergawes vir die Tabernakel – Eks. 35:4-9
Op grond van die instruksies wat in Eks. 25:1-9 gegee is vir die tipe materiaal wat vir die Tabernakel nodig sal wees, word die volk nou vir vrywillige offergawes “vir die Here” gevra. Dit het goud, silwer, brons, blou, pers en bloedrooi wolstof, linne, bokhaar, rooigekleurde ramsvelle, gebreide tornynvelle, doringhout, olie vir die lampe, balsem vir salfolie en vir geurige wierook, oniks en die ander edelstene ingesluit.
Die versoek vir vakmanne en offergawes – Eks. 35:10-29
Volgende aan die beurt was die versoek vir vakmanne wat met die bou van die tabernakel en die voorhof sowel as die maak van die onderskeie toebehore kan help.
Die volk het met oorgawe gereageer en vrywillig gawes gebring. Daar staan in die oorspronklike: “Elkeen wie se hart hom daartoe gebring het, en elkeen wie se gees hom daartoe aangespoor het, het gekom, en hulle het vir die Here ‘n wydingsgeskenk gebring vir die werk aan die Tent van Ontmoeting en vir al die dienswerk daaraan verbonde, en vir die heilige klere.”
Die hoof vakmanne vir die bou van die tabernakel – Eks. 35:30-36:1
Moses voer ook die instruksies van Eks. 31:1-11 rondom die twee hoof vakmanne, Besaleël en Oholiab, uit. Nie net is Besaleël deur die Gees van God toegerus vir sy werk nie, maar hy en Oholiab kon ook onderrig gee en ander oplei. Trouens in vers 34 se begin staan daar letterlik: “En die Here het dit ook in sy hart gegee om te onderrig.” Die kreatiwiteit van hierdie vakmanne was egter steeds onderworpe aan die instruksies van die Here. Alles moes gedoen word soos Hy dit in gedagte gehad het.
View all posts in this series
- God sien en God verstaan – Bybelskool oor Eksodus begin 18 Januarie - Jan 14, 2017
- Inleiding – Eksodus: die hoop op verlossing - Jan 18, 2017
- Eksodus 1 – God vermeerder sy volk ten spyte van farao se brutale onderdrukking - Jan 19, 2017
- Eksodus 2 – God het hulle gekreun gehoor en verstaan - Jan 20, 2017
- Eksodus 3-4:17 – God stuur Moses om die Godsvolk uit Egipte te lei - Jan 24, 2017
- Eksodus 4:18-31 – Die oudstes reageer in geloof en aanbidding op Moses en Aäron se boodskap - Jan 25, 2017
- Eksodus 5 – God beveel farao: Laat my volk gaan! - Jan 26, 2017
- Eksodus 6:1-26: “Ek is die Here!” - Jan 27, 2017
- Eksodus 6:27-7:25 – Egipte sal besef Ek is die Here deur die plae wat Ek stuur - Jan 30, 2017
- Eksodus 8 – Die plae is Jahwe se verlossende oordeel as getuienis dat Hy God is - Jan 31, 2017
- Eksodus 9 – Farao het geen ontsag vir Jahwe nie al krepeer hulle van ellende - Feb 1, 2017
- Eksodus 10:1-27 – Die plae illustreer God se seën of straf vir dié wat Hom gehoorsaam of teenstaan - Feb 3, 2017
- Eksodus 10:28-11:10 – Die tiende plaag bevestig Jahwe se Godheid en sy verkiesing van Israel - Feb 6, 2017
- Eksodus 12:1-42 – Die Here beskerm die Israeliete teen die vernietiger deur die bloed van die Paaslam - Feb 9, 2017
- Eksodus 12:43-13:16 – Deur viering en toewyding word die herinnering aan bevryding lewend gehou - Feb 13, 2017
- Eksodus 13:17-14:31 – Die teenwoordigheid van die Here raak die Godsvolk se kompas deur die woestyn - Feb 14, 2017
- Eksodus 15 – Die Here is die Bewerker van wonderdade wat sy volk beskerm en sy vyande verpletter - Feb 15, 2017
- Eksodus 16 – God voorsien brood, vleis en die Sabbat as tekens van sy teenwoordigheid - Feb 16, 2017
- Eksodus 17 – Is die Here by ons of nie? - Feb 20, 2017
- Eksodus 18 – Jetro mentor Moses en die Israelitiese leiers tot ‘n leierskapspan - Feb 21, 2017
- Eksodus neem stadiger as wat ek beplan het! - Feb 26, 2017
- Eksodus 19 – As julle My gehoorsaam, sal julle my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien - Feb 27, 2017
- Eksodus 20 – Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het - Mar 5, 2017
- Eksodus 21 – Sorg vir mense en hulle diere - Mar 9, 2017
- Eksodus 22 – Sorg vir mense en hulle besittings - Mar 10, 2017
- Eksodus 23 – Sorg vir geregtigheid en die geloofsgemeenskap met God se hulp - Mar 13, 2017
- Eksodus 24 – Ons sal alles doen wat die Here beveel het - Mar 14, 2017
- Eksodus 25 – Rig vir my ‘n heiligdom op dat Ek tussen julle kan woon - Mar 15, 2017
- Eksodus 26 – Jy moet die tabernakel oprig presies volgens die plan wat op die berg vir jou gewys is - Mar 16, 2017
- Eksodus 27 – Die lig van God se teenwoordigheid brand voortdurend in die “tent van ontmoeting” - Mar 17, 2017
- Eksodus 28 – Die priesters se klere dra die boodskap van gesag en toewyding - Mar 18, 2017
- Eksodus 29 – Afgesonder en bevestig as God se verteenwoordigers - Mar 20, 2017
- Eksodus 30 – Elke deel van die tabernakel en elke priester word geheilig aan die Here - Mar 21, 2017
- Eksodus 31 – Hulle moet alles maak net soos Ek jou beveel het - Mar 22, 2017
- Eksodus 32 – Die tragedie van die goue bulkalf en die toorn van Jahwe - Mar 23, 2017
- Eksodus 33 – Onthou tog hierdie nasie is u volk - Mar 24, 2017
- Eksodus 34 – Ek is barmhartig en genadig, maar Ek laat niks ongestraf nie - Mar 25, 2017
- Eksodus 35:1-36:1 – Elkeen wie se hart en gees hulle daartoe aangespoor het, het vrywillig offergawes gebring - Mar 26, 2017
- Eksodus 36:2-38 – Die volk bring meer as wat nodig is - Mar 27, 2017
- Eksodus 37 – Besaleël neem die voortou met die maak van die heilige toebehore van die tabernakel
- Eksodus 38 – Amper sewe ton goud, silwer en brons word gebruik - Mar 28, 2017
- Eksodus 39 – Die tabernakel is gereed vir die teenwoordigheid van die Here
- Eksodus 40 – Die teenwoordigheid van die Here vul die tabernakel - Mar 29, 2017
- Oor getalle in die woestyn verhale - Sep 8, 2017
- Die tweede gebod – ‘n paar ekstra gedagtes - Jun 12, 2018