Skip to main content

Eksodus 9 – Farao het geen ontsag vir Jahwe nie al krepeer hulle van ellende

Hoofstuk nege beskryf die vyfde, sesde en sewende plaag: pessiekte, swere en hael.  Waar die vorige plae – bloed, paddas, muggies, steekvlieë – vir mens en dier ongemaklik en irriterend was, verskerp die Here die uitwerking van die pessiekte van die vyfde plaag sodat die Egiptenare ook ekonomies daaronder ly met grootskaalse vrektes onder ‘n wye reeks mak diere, beide pakdiere – perde, donkies, kamele – en diere vir voedselvoorsiening – beeste en kleinvee.  Die gesondheid van die mense kom deur die sesde plaag van swere ernstig onder skoot sowel as die res van hulle ekonomie deurdat die oeste vernietig word deur die sewende plaag van hael.

Daarby is dit al hoe duideliker dat die Here ‘n onderskeid maak tussen die Egiptenare en die Israeliete.  God oordeel die verdrukkers, die Egiptenare, en verlos die onderdruktes, die Israeliete.  Sy verbond met die Godsvolk word in beskerming en bevryding bevestig.

Interessant genoeg gee die Here tog uitkoms van die hael aan dié Egiptenare wat die waarskuwing gehoorsaam om hulle diere en besittings binnenshuis te hou.  Dit getuig van sy genade wat selfs binne ‘n regverdige oordeel vir mense beskikbaar is!  As die farao maar net sy skuld met meer opregtheid sou bely (Eks. 9:27), kon die situasie soveel anders uitgedraai het.

Vyfde plaag: pessiekte

Let op hoe God Homself as die God van die Hebreërs identifiseer.  Soos Hy onderskeid sal maak in die uitwerking van die vyfde plaag van pessiekte onder die pakdiere en die diere vir voedselvoorsiening – die Egiptenare se diere vrek en die Israeliete s’n nie – só tref Hy onderskeid tussen die mense van Egipte en sy volk.

Weereens stel die Here ‘n bepaalde dag vas waarop die pessiekte sou uitbreek, sodat farao nie sou dink dat die pessiekte aan ander oorsake te wyte sou kon wees nie.  Nie dat die farao Hom geglo het nie, want hy het eers navraag gedoen of die Israeliete beskerm is. En wat was sy waarneming: “Jou werklik waar, nie ’n enkele stuk van die Israeliete se vee is dood nie!

Tog was die farao steeds onversetlik.  Hy kon nie sy hand laat los wat die volk vasgeklou het nie.

Sesde plaag: swere

Dit lei onvermydelik tot die sesde plaag van die swere.  Moses en Aäron het hande vol roet uit ’n oond opgeskep en voor die farao in die lug opgegooi. Dit het ’n fyn poeier geword wat op mens en dier in oop etterige sere oopgebars het.  Dit is die tipe swere waaraan Job (Job 2:7) en Hiskia (Jes. 38:21) ook gely het.   Dit het dit by Job gemanifesteer met rowe en barste wat aanhoudend geëtter het en waaraan wurms gesmul het (Job 7:5).  Sy vel het swart geword en hy het gegloei van koors (Job 30:30).  Hy het sleg geruik en sy vrou het gewalg aan sy asem (Job 19:17).

Ironies genoeg kon die towenaars Moses dit nie een probeer nadoen nie, want hulle was vol swere.  Kan jy nou meer!  Tog het die Here die farao nog steeds koppig laat bly. Farao het nie aan Moses en Aäron se versoek gehoor gegee nie, natuurlik soos die Here vooraf vir Moses gesê het.

Sewende plaag: hael

Dit het al hoe duideliker geword dat farao tot die dood toe nie sou verander nie, want dit is wat dit letterlik uiteindelik sou verg om hom te oortuig, die dood van sy eersgeborene.  Maar, daar was nog drie plae in die arsenaal wat God op hom sou loslaat.  Die sewende plaag was ‘n plaag wat ‘n ongekende haelstorm op Egipte losgelaat het wat mens en dier vernietig het wat nie onderdak was nie, en die landbou ekonomie ‘n deurslaggewende knou gegee het.

Weereens is daar ‘n meer persoonlike aanpak dat Moses vroegoggend met farao gaan praat en van die verdere verskerping van die plae inlig.  Die doel daarvan is dat farao sal besef: “dat daar op die hele aarde niemand soos Ek is nie.”

Let op hoe die Here sy selfbeheersing ten toon stel deur te verklaar dat Hy na regte nou al sy hand moes uitgesteek het en die farao en al sy mense met ’n pes van die aarde af uitgewis het.

Maar, die Here laat farao lewe, sodat die Here hom sy volle mag kan wys en sy Naam daardeur oor die hele wêreld geroem kan word.

Farao se arrogansie gaan hom niks in die sak bring nie.  Die Here bring ‘n verskriklike swaar haelstorm oor Egipte, iets so groot soos daar nog nooit by hulle was nie.  Gelukkig het sommige mense God se waarskuwing ter harte geneem en onderdak gaan skuil.  Ander het groot verliese gely.  Almal het egter hulle oeste verloor, want dié kon die haelstorm, donderslae en blitse nie ontkom nie.  Soos ons nou al verwag het, is die Israeliete die haelstorm gespaar.

Die hoop dat farao se erkenning van skuld eg sou kon wees, word egter met Moses se intrede vir hom en Egipte vernietig, omdat hy steeds koppig gebly het, en nie gegroei het in sy ontsag vir die Here nie.

Die land en sy mense het gevolglik begin swig onder die gewig van die vernietiging van hulle ekonomie en gesondheid.

Die geestelike impak op die mense was waarskynlik eintlik nog meer diepgaande, omdat die dodelike vyfde plaag teen die vee reeds hulle geloof in Hathor, die godin van die hemelruim, wat met ‘n koei voorgestel is in gedrang sou bring, sowel as hulle geloof in Apis, die simbool van vrugbaarheid wat as ‘n bul voorgestel is.

Op soortgelyke wyse sou hierdie sewende (en die volgende en agtste) plaag van hael (en later sprinkane), die geloof in Seth in die gedrang bring, die god wat van homself in die wind en met storms laat hoor het. Hy blyk nou oneffektief te wees met Jahwe wat die natuur as ‘n plaag inspan sonder dat Seth kan keer.

Ook die geloof in Isis, die godin van die lewe en Min wat met vrugbaarheid geassosieer was en daarom ‘n beskermer van die plantegroei en hulle oes opgetree het, is as nutteloos en dwaas uitgewys.

View all posts in this series

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar