Skip to main content

Eksodus 30 – Elke deel van die tabernakel en elke priester word geheilig aan die Here

Die volgende instruksies wat die Here vir Moses op die berg gee, handel oor die kleinerige wierookaltaar in die Heilige deel van die Tabernakel reg voor die voorhangsel wat die Heilige van die Allerheiligste deel van die Tabernakel geskei het – Eks. 30:1-10.  Daarby kom instruksies oor die versoeningsoffer tydens ‘n sensus, wat twee keer op die reis deur die woestyn nodig was – Eks. 30:11-16. Die instruksies vir die bronswaskom waarin Aäron en sy seuns hulleself gereinig het vir hulle diens – Eks. 30:17-21 – sowel as die gewyde salfolie wat vir hulle salwing gebruik en die presiese bestanddele vir die wierook wat gebruik moes word, word ook vir Moses gegee – Eks 30:22-38.

Die wierookaltaar – Eks. 30:1-10                

Die wierookaltaar was net voor die voorhangsel wat die Heilige van die Allerheiligste geskei het waarop elke oggend en aand wierook gebrand moes word terwyl aandag aan die menora met sy lampies gegee is.  Geen ander offer moes daarop gebring word nie, behalwe een maal ‘n jaar ‘n sondeoffer vir Aäron en ná hom vir die ander hoëpriesters.  Dit was ‘n besondere gewyde item in die Heiligste deel van die Tabernakel.  Die uitvoering hiervan word in Eks. 37:25-28 beskrywe.

Die erns van hierdie verbod op enige ander tipe offer of “ongeoorloofde vuur” word gesien in die tragiese lot wat Nadab en Abihu tref toe hulle wel ongeoorloofde wierook in ‘n vuurpan vir die Here aangebied het (Lev. 10:1). ‘n Vuur wat van die Here af kom, het hulle verteer, en hulle het in die teenwoordigheid van die Here gesterf.

Die probleem met Nadab en Abihu se offer kan op verskillende maniere verstaan word.  Eerstens het hulle eintlik ongeoorloofde kole gebruik in plaas van wierook.  Tweedens het hulle die kole met wierook gemeng wat eintlik net vir die wierookaltaar in die Heilige deel van die Tabernakel bedoel was.  Derdens het hulle dit vir die Here aangebied wat waarskynlik beteken dat hulle in die Heilige of selfs die Allerheiligste ingegaan het, iets wat net vir Aäron bedoel was.  Hulle het dus sy gesag daardeur ondermyn sowel as God se voorskrifte geminag.

Soos die Here daar verklaar: “Wie ’n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.” (Lev. 10:3).  Geen wonder dat die NT steeds praat van God as ‘n verterende vuur nie: “Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is ’n verterende vuur.” (Hebr. 12:28-29).

In die Openbaring van Johannes sien ‘n mens weer die wierook in spel wat daar met die gebede van die heiliges (gelowiges) verbind word wat die Lof van die Lam besing – Openbaring 5:8-10.  ‘n Mens hoor nog twee keer in Openbaring van die gebede van die heiliges wat nie net vir God verheerlik nie, maar ’n bepaalde invloed het op die koers wat God met die wêreld inslaan. ‘n Mens sien in Openbaring. 6:9-11 dat die gebede van die martelare wentel daarom dat reg sal geskied op aarde, en in Openbaring. 8:3-5 dat die gebede van die heiliges onder andere die sewende seël se sewe trompette en hulle oordele inlui (Vgl. my bydraes hieroor: Openbaring 5 – Die Lam van God is waardig om God se agenda uit te voer; Openbaring 6 – God se oordeel ontvou met ses seëls; Openbaring 8 – God hoor die gebede van die heiliges en verskerp sy verlossende oordeel).

Die wierookaltaar is dus ‘n voorafskaduwing van die gebede van die heiliges in die NT wat met lof, geregtigheid en oordeel te make het, soos dit deur die voorbidding van die Heilige Gees (Rom. 8:26-28) en die Here Jesus Christus self versterk en uitgevoer word (Hebr. 9:24).

Die versoeningsoffer tydens ‘n sensus – Eks. 30:11-16     

Die versoeningsoffer van die klein bedrag van ses gram silwer per manlike persoon op ‘n gelyke basis – ryk en arm het dieselfde betaal – was bedoel om aan die een kant vir die sensus te betaal, want dit het vir die diens van die Tabernakel gegaan, maar aan die ander kant ook dat daar van elke gelowige kennis geneem en ingetrek is in die diens van die Tabernakel.  Daarom is dit betaal as blyke daarvan dat jy een van die “geteldes” is.  ‘n Ander perspektief op ons dankoffers van vandag!  Jy het met die offer uitdrukking gegee daaraan dat jy aan die geloofsgemeenskap behoort.  Die uitvoering hiervan word in Numeri 1 beskrywe.

Hierdie versoeningsoffer is ten minste twee keer in die woestyntyd gebring. Die eerste keer met die sensus van die huidige geslag in opdrag van die Here met die begin van hulle verdere trek (Num. 7).  Die tweede keer met die sensus van die volgende generasie in die woestyn in opdrag van die Here net voor hulle die beloofde land binnegetrek het (Num. 26).

Hierdie offer sou miskien vir Dawid jare later uit sy predikament gered het, toe hy die volk laat tel het, hoewel dit daar tog blyk dat die aanhitsing (toetsing) tot ‘n sensus ‘n bo-natuurlike oorsprong gehad het (2 Sam. 24;  1 Kron. 12 – die weergawe in Samuel wyt die insident aan die Here se toetsing, terwyl die weergawe in Kronieke die agent van die Here se toetsing as die Satan uitspel, amper soos dit vir ons in Job vertel word).  Uit Dawid se eie woorde lyk dit egter asof Dawid se sonde lê in sy motivering dat hy: “wou weet hoeveel hulle is”,  wat óf tot hoogmoed kon lei, óf tot ‘n vertroue op hulle eie mag, i.p.v. op die mag van God.

Die bronswaskom – Eks. 30:17-21              

Die bronswaskom was nodig vir die uiterlike reiniging van Aäron en sy seuns met hulle aanstelling sowel as daagliks in die uitvoering van hulle diens in die Tabernakel.  Reiniging was net so belangrik as die rituele wat in die kultus nagekom is.  Die uitvoering hiervan word in Eksodus 38:8 beskrywe.

Die gewyde salfolie en die wierookoffer – Eks. 30:22-38                 

Die salfolie was ‘n besondere geurige parfuum wat van spesiale speserye: mirre (aromatiese hars), kaneel, kalmoes (geurige moerasplant van die Acoraceae familie), kassia (Chinese kaneel) en olyfolie gemaak is.  Dit was net vir spesifieke godsdienstige gebruik deur gemagtigde persone.  Die wierook is gemaak van hars (harpuis), naeltjies (dit kan ook die skulp van ‘n seedier wees), galbanum (die gom van ‘n plant van die Ferula familie) en suiwer wierook.  Dit moes ook net vir die gebruik in die Heilige deel van die Tabernakel gebruik word.  Die uitvoering hiervan word in Numeri 4:15-20 beskrywe.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda