Skip to main content

Eksodus 30 – Elke deel van die tabernakel en elke priester word geheilig aan die Here

Die volgende instruksies wat die Here vir Moses op die berg gee, handel oor die kleinerige wierookaltaar in die Heilige deel van die Tabernakel reg voor die voorhangsel wat die Heilige van die Allerheiligste deel van die Tabernakel geskei het – Eks. 30:1-10.  Daarby kom instruksies oor die versoeningsoffer tydens ‘n sensus, wat twee keer op die reis deur die woestyn nodig was – Eks. 30:11-16. Die instruksies vir die bronswaskom waarin Aäron en sy seuns hulleself gereinig het vir hulle diens – Eks. 30:17-21 – sowel as die gewyde salfolie wat vir hulle salwing gebruik en die presiese bestanddele vir die wierook wat gebruik moes word, word ook vir Moses gegee – Eks 30:22-38.

Die wierookaltaar – Eks. 30:1-10                

Die wierookaltaar was net voor die voorhangsel wat die Heilige van die Allerheiligste geskei het waarop elke oggend en aand wierook gebrand moes word terwyl aandag aan die menora met sy lampies gegee is.  Geen ander offer moes daarop gebring word nie, behalwe een maal ‘n jaar ‘n sondeoffer vir Aäron en ná hom vir die ander hoëpriesters.  Dit was ‘n besondere gewyde item in die Heiligste deel van die Tabernakel.  Die uitvoering hiervan word in Eks. 37:25-28 beskrywe.

Die erns van hierdie verbod op enige ander tipe offer of “ongeoorloofde vuur” word gesien in die tragiese lot wat Nadab en Abihu tref toe hulle wel ongeoorloofde wierook in ‘n vuurpan vir die Here aangebied het (Lev. 10:1). ‘n Vuur wat van die Here af kom, het hulle verteer, en hulle het in die teenwoordigheid van die Here gesterf.

Die probleem met Nadab en Abihu se offer kan op verskillende maniere verstaan word.  Eerstens het hulle eintlik ongeoorloofde kole gebruik in plaas van wierook.  Tweedens het hulle die kole met wierook gemeng wat eintlik net vir die wierookaltaar in die Heilige deel van die Tabernakel bedoel was.  Derdens het hulle dit vir die Here aangebied wat waarskynlik beteken dat hulle in die Heilige of selfs die Allerheiligste ingegaan het, iets wat net vir Aäron bedoel was.  Hulle het dus sy gesag daardeur ondermyn sowel as God se voorskrifte geminag.

Soos die Here daar verklaar: “Wie ’n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.” (Lev. 10:3).  Geen wonder dat die NT steeds praat van God as ‘n verterende vuur nie: “Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is ’n verterende vuur.” (Hebr. 12:28-29).

In die Openbaring van Johannes sien ‘n mens weer die wierook in spel wat daar met die gebede van die heiliges (gelowiges) verbind word wat die Lof van die Lam besing – Openbaring 5:8-10.  ‘n Mens hoor nog twee keer in Openbaring van die gebede van die heiliges wat nie net vir God verheerlik nie, maar ’n bepaalde invloed het op die koers wat God met die wêreld inslaan. ‘n Mens sien in Openbaring. 6:9-11 dat die gebede van die martelare wentel daarom dat reg sal geskied op aarde, en in Openbaring. 8:3-5 dat die gebede van die heiliges onder andere die sewende seël se sewe trompette en hulle oordele inlui (Vgl. my bydraes hieroor: Openbaring 5 – Die Lam van God is waardig om God se agenda uit te voer; Openbaring 6 – God se oordeel ontvou met ses seëls; Openbaring 8 – God hoor die gebede van die heiliges en verskerp sy verlossende oordeel).

Die wierookaltaar is dus ‘n voorafskaduwing van die gebede van die heiliges in die NT wat met lof, geregtigheid en oordeel te make het, soos dit deur die voorbidding van die Heilige Gees (Rom. 8:26-28) en die Here Jesus Christus self versterk en uitgevoer word (Hebr. 9:24).

Die versoeningsoffer tydens ‘n sensus – Eks. 30:11-16     

Die versoeningsoffer van die klein bedrag van ses gram silwer per manlike persoon op ‘n gelyke basis – ryk en arm het dieselfde betaal – was bedoel om aan die een kant vir die sensus te betaal, want dit het vir die diens van die Tabernakel gegaan, maar aan die ander kant ook dat daar van elke gelowige kennis geneem en ingetrek is in die diens van die Tabernakel.  Daarom is dit betaal as blyke daarvan dat jy een van die “geteldes” is.  ‘n Ander perspektief op ons dankoffers van vandag!  Jy het met die offer uitdrukking gegee daaraan dat jy aan die geloofsgemeenskap behoort.  Die uitvoering hiervan word in Numeri 1 beskrywe.

Hierdie versoeningsoffer is ten minste twee keer in die woestyntyd gebring. Die eerste keer met die sensus van die huidige geslag in opdrag van die Here met die begin van hulle verdere trek (Num. 7).  Die tweede keer met die sensus van die volgende generasie in die woestyn in opdrag van die Here net voor hulle die beloofde land binnegetrek het (Num. 26).

Hierdie offer sou miskien vir Dawid jare later uit sy predikament gered het, toe hy die volk laat tel het, hoewel dit daar tog blyk dat die aanhitsing (toetsing) tot ‘n sensus ‘n bo-natuurlike oorsprong gehad het (2 Sam. 24;  1 Kron. 12 – die weergawe in Samuel wyt die insident aan die Here se toetsing, terwyl die weergawe in Kronieke die agent van die Here se toetsing as die Satan uitspel, amper soos dit vir ons in Job vertel word).  Uit Dawid se eie woorde lyk dit egter asof Dawid se sonde lê in sy motivering dat hy: “wou weet hoeveel hulle is”,  wat óf tot hoogmoed kon lei, óf tot ‘n vertroue op hulle eie mag, i.p.v. op die mag van God.

Die bronswaskom – Eks. 30:17-21              

Die bronswaskom was nodig vir die uiterlike reiniging van Aäron en sy seuns met hulle aanstelling sowel as daagliks in die uitvoering van hulle diens in die Tabernakel.  Reiniging was net so belangrik as die rituele wat in die kultus nagekom is.  Die uitvoering hiervan word in Eksodus 38:8 beskrywe.

Die gewyde salfolie en die wierookoffer – Eks. 30:22-38                 

Die salfolie was ‘n besondere geurige parfuum wat van spesiale speserye: mirre (aromatiese hars), kaneel, kalmoes (geurige moerasplant van die Acoraceae familie), kassia (Chinese kaneel) en olyfolie gemaak is.  Dit was net vir spesifieke godsdienstige gebruik deur gemagtigde persone.  Die wierook is gemaak van hars (harpuis), naeltjies (dit kan ook die skulp van ‘n seedier wees), galbanum (die gom van ‘n plant van die Ferula familie) en suiwer wierook.  Dit moes ook net vir die gebruik in die Heilige deel van die Tabernakel gebruik word.  Die uitvoering hiervan word in Numeri 4:15-20 beskrywe.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…