Skip to main content

Eksodus 23 – Sorg vir geregtigheid en die geloofsgemeenskap met God se hulp

Die klem op die verhouding tussen mense en diere, en mense en hulle besittings word in hoofstuk 23 uitgebrei om eerstens aan die hand van die negende gebod (valse getuienis) die wyse waarop geregtigheid in die gemeenskap moet werk, uit te spel – Eks. 23:1-9.  Daarna word tweedens die positiewe funksie wat die Sabbat – wat verband hou met die vierde gebod (Sabbat) – en die drie hoof feeste vir die geloofsgemeenskap inhou, onderstreep – Eks. 23:10-19.  Die hoofstuk word derdens afgesluit met die belofte dat die engel van die Here voor die volk sal uittrek wat onder andere verband hou met die nakom van die eerste (geen afgode) en tweede gebod (geen afgodsbeelde) – Eks. 23:20-33.

Oor geregtigheid – Eks. 23:1-9

Geregtigheid in hierdie verse hou veral verband met die keuse vir die waarheid in lyn met die negende gebod (valse getuienis).  Die geloofsgemeenskap mag hulle nie ophou met die versprei van skinderstories of die lewering van valse getuienis vir misdadigers in ‘n regskonteks wat jou met korrupte omkoopgeskenke kan probeer beïnvloed nie.  Selfs wanneer ‘n mens in die minderheid is in die bevordering van die waarheid moet jy daarin volhard: “Jy mag nie agter die meerderheid aan doen wat verkeerd is nie.”  Die waarheid moet bó die leuen gekies word.  Dit is hoe die Here self in sy verhouding met mense optree.

Dit sluit die billike hantering van vyande en vreemdelinge in.  Jy moet selfs vir jou vyand se besittings omgee as dit wegraak of swaarkry, en nie toelaat dat ‘n vreemdeling verdruk word nie.  Die beginsel is steeds ‘n geregtigheid wat op ‘n diep deernis vir die naaste gebaseer is.

Oor die Sabbat en drie feeste – Eks. 23:10-19

Om die geloofsgemeenskap in hierdie geregtigheid en deernisvolle hantering van die vyand en die vreemdeling te help, word die ondersteunende strukture van die Sabbat – wat natuurlik direk verband hou met die vierde gebod (Sabbatdag) – en die drie hoof “oes”-feeste van die geloofsgemeenskap uitgespel.  Dit is die fees van die ongesuurde brood wat met die Paasfees gehou is in die lente met die eerste oes van gars, die fees van die begin van die oes van koring (vgl. Eks. 34:22 wat dit ook die “fees van die weke” genoem het) wat in die somer gehou is, sowel as die fees van die laaste deel van die insameling van die res van die oes in die herfs (vgl. Eks. 34:18-26; Lev. 23:1-44).

Trouens, die Sabbat word as motivering gebruik vir ‘n Sabbatsjaar vir hulle boerderybedrywighede waarin die normale bewerking van graan, druiwe en olywe vir ‘n jaar gestaak word, sodat die land braak kan lê en tot rus kan kom, en daar ook vir die armes en wilde diere kos kan wees om te eet.  Almal het ‘n ruimte van asemskep nodig, selfs die aarde!

Dié gedeelte word afgesluit met ‘n lering oor gebed waarin hulle in lyn met die eerste (geen afgode) en derde gebod (Naam) verbied word om op enige manier met ander gode as die lewende God self in gesprek te gaan.  Hy is die Een wat vir hulle sal sorg en dit selfs sal doen as hulle elke sewende dag sou rus van hulle handewerk, sowel as in dié jaar waarin hulle hulle normale ekonomiese aktiwiteite sou inkort.

Dit is dan ook die doel van die drie groot feeste wat later met nog ander uitgebrei sou word.  Dit is om aan die een kant tot rus te kom en asem te skep.  Maar aan die ander kant is dit om in die verering van die Here só van sy teenwoordigheid bewus te word dat dié ervaring in die normale sleur van elke dag se harde werk ingedra kan word.  Daarom word die Here met die beste opbrengs van hulle oes vereer.

Die verbod op die kook van ‘n boklam in sy ma se melk word op baie verskillende maniere uitgelê.  Sommige dink dat dit met Kanaänitiese magiese vrugbaarheidspraktyke verband hou.  Ander dink dat dit met die lewegewende krag van die melk te make het wat nie met die verydeling van die dood geassosieer moet word nie.  Ek dink dat dit met ‘n deernis vir die ma-kind verhouding te make het.  Hoe dit ook al sy, hieruit het die Joodse kosjer wette waarin vleis – en melk produkte altyd apart hanteer is, voortgevloei.

Oor die engel van die Here wat voor hulle uit sal trek – Eks. 23:20-33

Die lys van wette wat die Here vir die volk voorskrywe as rigtinggewende beginsels word afgesluit met ‘n aanspraak op die volk se absolute onverdeelde lojaliteit wat onder andere verband hou met die eerste (geen afgode) en tweede gebod (geen afgodsbeelde).  Daaraan word die belofte van die engel van die Here wat voor hulle uit sal trek, gekoppel.

Die belofte van God se teenwoordigheid sluit in dat Hy hulle sal beskerm, selfs van siektes (plae), miskrame en onvrugbaarheid, en in die land van die belofte sal inbring.  Daar sal Hy die nasies voor hulle uitdryf en vernietig, al sal dit nie eensklaps gebeur nie, maar met verdrag, sodat die land nie verwaarloos word, omdat hulle nog nie groot genoeg as volk gegroei het nie.  Hierdie engel moet egter absoluut gehoorsaam word, want God het sy volmag aan die engel oorgedra.

Die belofte van die Here is dus omvattend en lewegewend, maar word terselfdertyd ook voorwaardelik afhanklik gemaak van hulle onwrikbare gehoorsaamheid.  Dan sal Hy hulle ‘n gebied gee só groot dat dit van die Rietsee af sal strek tot by die Filistynse See (Middellandse See) en van die woestyn tot by die Eufraatrivier in Mesopotamië.

View all posts in this series

Eksodus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar