Eksodus 6:1-26: “Ek is die Here!”
In die vorige hoofstuk het dit duidelik geword dat die opdrag van die Here aan Moses erger weerstand uitgelok het as wat Moses of die volk verwag het. Die opsigters het Moses skerp aangevat oor hy eintlik ‘n erger ramp oor hulle gebring het as die verdrukking wat hulle tot dusver ervaar het. Moses het daarom na die Bron van sy opdrag gegaan en met die Here begin worstel oor die swak uitkoms van sy gehoorsaamheid. Farao het net eenvoudig die las van die volk swaarder gemaak, en Moses het geen teenreaksie van die Here kon raaksien nie.
In aansluiting by die antwoord van die Here aan Moses in die laaste vers van hfst. 5 herhaal die Here in breë trekke die opdrag wat Hy vroeër vir Moses gegee het (hfst. 3 en 4). Dit is aan die een kant om in Egipte die roeping van Moses by die berg van die Here te bevestig, maar aan die ander kant ook om die sentrale openbaring van God as Jahwe vir hom te onderstreep.
Die bevestiging van hierdie gesprek was noodsaaklik weens die erge teenstand wat Moses ervaar het nie net van die farao af nie, maar ook van sy moedelose mense. Daarom volg daar ook ‘n geslagsregister wat die gesag van Moses en Aäron ook op grond van hulle afkoms vir die volk sou onderstreep.
Daar sou egter nóg gesprekke nodig wees (hfst. 7) waarin die Here verder uitbrei oor die gesag waarmee Moses mag en kan optree, voordat Moses die stang vasgebyt het en deurgedruk het met die opdrag van die Here.
“Ek is die Here (Jahwe)!” – vers 1-7
Let op hoe die gesprek van God met Moses begin en afgeëindig word met die fundamentele uitspraak van God oor Homself: “Ek is die Here (Jahwe)!” Hy is Jahwe, die Een wat werklik is, die Een wat werklik bestaan, die Een wat werklik kan optree.
Hoewel Hy reeds aan van die begin af aan mense verskyn het, en selfs die naam Jahwe in sy gesprek met hulle en hulle met Hom gebruik het (vgl. onder andere Set: Gen. 4:26; Noag: Gen. 8:20; 9:26; Abram: Gen. 12:1; 15:2; Isak: Gen. 25:1; Jakob: Gen. 28:13; Josef: Gen. 39:2), het hulle Hom eintlik beter geken as die God wat van Homself sê: “Ek is die Almagtige” (ēlʹ šǎd·dāy – aan Abraham: Gen. 17:1; aan Isak: Gen. 28:3; aan Jakob: Gen. 35:11; aan Josef: Gen. 48:3; 49:25).
Hierdie openbaring van God as die Almagtige was wat hulle nodig gehad het om van Hom te weet in die tyd van Genesis, dat Hy die Skepper is, dat Hy die Voorsiener is, dat Hy magtige dade kan doen.
Hier beklemtoon God dat Hy steeds die Almagtige is, ‘n aspek van sy goddelikheid, maar dat sy eintlike Naam Jahwe is. Wat hulle nou nodig gehad het, is om God in sy Godheid self raak te sien. Dit is nie maar ‘n aspek van God se wese wat aan hulle geopenbaar word nie, maar wie God in sy wese as sodanig is.
Dat die vertaling sê dat God Homself nie met sy Naam Jahwe aan die aartsvaders bekend gemaak het nie, beteken dus nie dat hulle die Naam Jahwe nie geken het nie, maar dat die betekenis daarvan nie voorop gestaan het nie.
Interessant genoeg kan ‘n mens die frase: “maar my Naam, die Here het Ek nie aan hulle bekend gemaak nie”, ook vertaal as ‘n vraag: “en het Ek nie my Naam, die Here, aan hulle bekend gemaak nie?” Dié vertaling maak veral sin as ‘n mens in die volgende vers letterlik lees dat hy “ook” sy verbond met hulle gemaak het – iets wat in die NAV uitgeval het – soos dit inderdaad in die Hebreeus voorkom.
Onthou dat die naam Jahwe ‘n woordspel van die Hebreeuse werkwoord hā·yā(h) is wat onder andere die volgende kan beteken: wees, word, gebeur, bestaan. God se naam Jahwe is dus nie soos ander gode s’n wat aan iets in die skepping verbind is, soos Ra, die songod, nie. God se naam openbaar God as ‘n wese wat inderdaad bestaan. Hy is dinamies en aktief. Hy bestaan en beloon. Hy is die bron van en vir alles wat is.
Hoe dit ook al sy, Jahwe bevestig aan Moses in breë trekke die inhoud van daardie verbond met die aartsvaders om aan hulle die land Kanaän te gee. Hy het dus besluit om die volk van hulle ellende te verlos en te bring na die land van die belofte aan die aartsvaders. Dit sal tegelykertyd hulle tot die besef bring dat Jahwe inderdaad dieselfde God is as dié wat met Abraham, Isak en Jakob die pad gestap het. God sal dit nou as hulle eiendom aan hulle gee.
Moses skep moed om sy roeping verder uit te voer – vers 8-12
Dat Moses hieruit moed skep om sy roeping verder uit te voer, is duidelik. Hy vat die pad na die volk toe in opdrag van die Here en deel hulle die goeie boodskap mee. Hulle wou egter nie na hom luister nie. Die moedeloosheid oor die harde werk het die Israeliete se ore doof gemaak vir die hoop van verlossing wat Moses opnuut aan hulle kom oordra. Dit is duidelik.
Dit wil lyk asof hy daarom nie die pad na die paleis toe gevat het op dié stadium nie al het die Here hom probeer oorreed om sy vrees te oorkom en nogtans met die farao te gaan praat. Hy was waarskynlik nog in pyn van sy vorige ervaring met farao. Die feit dat die volk ook nie wou luister nie, het hom katvoet gemaak. Dit lyk dus asof daar nog ‘n gesprek tussen God en Moses moes plaasvind (Gen. 6:27vv.) voordat Moses sy moed bymekaar kon skraap om dié deel van sy opdrag, om met farao te gaan praat, verder uit te voer.
Moses en Aäron se gesag word onderstreep deur die geslagsregister – vers 13-26
Vir ons Westerlinge lyk dit asof die geslagsregister die verhaal onderbreek, maar die plasing maak perfekte sin uit hoofde van die feit dat die geslagregister die gesag van Moses en Aäron as lede van die Levitiese nageslag van Jakob (en die aartsvaders) bevestig. Daarmee word ook ‘n duidelike verband met die volk van Genesis getrek en die aanspraak wat die slawevolk op die land van belofte het, gelegitimeer.
Dit is natuurlik net ‘n gedeeltelike geslagsregister (Ruben, Simeon en Levi – die eerste drie kinders van Jakob), want die eintlik punt is die Levitiese deel van dié afstamming wat in terme van Amram en Jogabed, die ouers van Aäron en Moses, belangrik is.
Die vierde kind van Jakob, Juda, word egter ook betrek deurdat Aäron met Eliseba ‘n dogter van Amminadab, ‘n suster van Nagson, getrou het. Sy was uit die stam van Juda (Num. 1:7). Aäron se seuns het daarom priesterlike en koninklike bloed in hulle are. Dawid, die latere koning, was uit die stam van Juda, dié geslagslyn waaruit die Here Jesus Christus uiteindelik gebore sou word.
Aan die einde van die geslagsregister word dit dan beklemtoon: “Dit is dié Aäron en Moses vir wie die Here gesê het: ‘Julle moet die stamme van Israel uit Egipte bevry.’ En dit is hulle wat met die farao, die koning van Egipte, onderhandel het oor die bevryding van die Israeliete uit Egipte.”
Inderdaad!
View all posts in this series
- God sien en God verstaan – Bybelskool oor Eksodus begin 18 Januarie
- Inleiding – Eksodus: die hoop op verlossing
- Eksodus 1 – God vermeerder sy volk ten spyte van farao se brutale onderdrukking
- Eksodus 2 – God het hulle gekreun gehoor en verstaan
- Eksodus 3-4:17 – God stuur Moses om die Godsvolk uit Egipte te lei
- Eksodus 4:18-31 – Die oudstes reageer in geloof en aanbidding op Moses en Aäron se boodskap
- Eksodus 5 – God beveel farao: Laat my volk gaan!
- Eksodus 6:1-26: “Ek is die Here!”
- Eksodus 6:27-7:25 – Egipte sal besef Ek is die Here deur die plae wat Ek stuur
- Eksodus 8 – Die plae is Jahwe se verlossende oordeel as getuienis dat Hy God is
- Eksodus 9 – Farao het geen ontsag vir Jahwe nie al krepeer hulle van ellende
- Eksodus 10:1-27 – Die plae illustreer God se seën of straf vir dié wat Hom gehoorsaam of teenstaan
- Eksodus 10:28-11:10 – Die tiende plaag bevestig Jahwe se Godheid en sy verkiesing van Israel
- Eksodus 12:1-42 – Die Here beskerm die Israeliete teen die vernietiger deur die bloed van die Paaslam
- Eksodus 12:43-13:16 – Deur viering en toewyding word die herinnering aan bevryding lewend gehou
- Eksodus 13:17-14:31 – Die teenwoordigheid van die Here raak die Godsvolk se kompas deur die woestyn
- Eksodus 15 – Die Here is die Bewerker van wonderdade wat sy volk beskerm en sy vyande verpletter
- Eksodus 16 – God voorsien brood, vleis en die Sabbat as tekens van sy teenwoordigheid
- Eksodus 17 – Is die Here by ons of nie?
- Eksodus 18 – Jetro mentor Moses en die Israelitiese leiers tot ‘n leierskapspan
- Eksodus neem stadiger as wat ek beplan het!
- Eksodus 19 – As julle My gehoorsaam, sal julle my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien
- Eksodus 20 – Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het
- Eksodus 21 – Sorg vir mense en hulle diere
- Eksodus 22 – Sorg vir mense en hulle besittings
- Eksodus 23 – Sorg vir geregtigheid en die geloofsgemeenskap met God se hulp
- Eksodus 24 – Ons sal alles doen wat die Here beveel het
- Eksodus 25 – Rig vir my ‘n heiligdom op dat Ek tussen julle kan woon
- Eksodus 26 – Jy moet die tabernakel oprig presies volgens die plan wat op die berg vir jou gewys is
- Eksodus 27 – Die lig van God se teenwoordigheid brand voortdurend in die “tent van ontmoeting”
- Eksodus 28 – Die priesters se klere dra die boodskap van gesag en toewyding
- Eksodus 29 – Afgesonder en bevestig as God se verteenwoordigers
- Eksodus 30 – Elke deel van die tabernakel en elke priester word geheilig aan die Here
- Eksodus 31 – Hulle moet alles maak net soos Ek jou beveel het
- Eksodus 32 – Die tragedie van die goue bulkalf en die toorn van Jahwe
- Eksodus 33 – Onthou tog hierdie nasie is u volk
- Eksodus 34 – Ek is barmhartig en genadig, maar Ek laat niks ongestraf nie
- Eksodus 35:1-36:1 – Elkeen wie se hart en gees hulle daartoe aangespoor het, het vrywillig offergawes gebring
- Eksodus 36:2-38 – Die volk bring meer as wat nodig is
- Eksodus 37 – Besaleël neem die voortou met die maak van die heilige toebehore van die tabernakel
- Eksodus 38 – Amper sewe ton goud, silwer en brons word gebruik
- Eksodus 39 – Die tabernakel is gereed vir die teenwoordigheid van die Here
- Eksodus 40 – Die teenwoordigheid van die Here vul die tabernakel
- Oor getalle in die woestyn verhale
- Die tweede gebod – ‘n paar ekstra gedagtes
Tags: Eksodus
Trackback from your site.
Bollie Liebenberg
| #
Ja, om te dink, dit is die NAAM van Jesus wat so kragtig en Heilig is, mag die Heilige Gees aans ons net meer en meer Sy Grootheid en Heiligheid bekend,sodat ons Hom ten volle kan ken!
Chris van Wyk
| #
Ek e-pos dit vir jou. Watter simbole verwys jy na?
Gerda
| #
Kan jy asseblief vir my hierdie 100 bladsye epos – ek wil weet waarom die simbole gebruik word – glo dit sal vir my duideik word uit u studie.
Baie dankie
David Cromhout
| #
Dankie Jesus vir die wonderlike vooreg om Wonders in U naam te mag doen Prys U naam
Chris van Wyk
| #
Ek maak so, Rence-Marié, Groete en seën.
Rence-Marié
| #
Beste Dr van Wyk
Sal u asseblief vir my d 4 evangelies langs mekaar stuur.
Baie dankie vir u werk
Groete
Chris van Wyk
| #
👍
Chris van Wyk
| #
Hi Hannes. Ek het gekies om daardie nie te hanteer nie, om mense nie te oorlaai nie.
Hannes
| #
Goeie dag Dr van Wyk
Jammer om te pla.
Die volgende Leesrooster 2021: Bybelskool bydraes vind ek nie. U hulp sal waardeer word.
Handelinge 10:34- 43, Jesaja 25:6-9, Psalm 118: 1-2,14-24 en Markus 16: 1-8.
Baie dankie.
Pippie
| #
Baie dankie vir die Bybelskool.
V23 lees ek nou anders – “as julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe” – om te vergewe is so belangrik