Paulus

Paulus se nalatenskap

Paulus het ’n reuse nalatenskap vir ons in die vorm van die  meeste briewe in die Nuwe Testament gelaat.  Dié werk was selfs van groter belang as die 3 groot sendingreise wat hy onderneem het.  Hoewel hy die evangelie na Siprus, Klein-Asië, Europa, Rome en moontlik ook na Spanje geneem het, was daar ook baie ander, Barnabas, Markus en Apollos, om maar net ’n paar te noem, wat dieselfde werk gedoen het.  Dit was ook gewone Christene wat die gemeentes in Antiochië sowel as in Rome gestig het.

Maar die briewe wat Paulus geskrywe het, is sy grootste nalatenskap.  Dit het ’n onberekenbare groot invloed gehad in die lewe nie net van die groeiende kerk van sy tyd nie, maar regdeur die eeue tot vandag toe nog in die breë Christelike kerk.  ’n Mens kan die waarde daarvan moeilik oorskat.

Paulus het ’n hele aantal briewe geskrywe, waarvan 13 briewe in die NT opgeneem is.  ’n Mens kan dit in 4 groepe opdeel:

  1. 1 en 2 Tessalonisense – sy eskatologiese briewe geskryf in Korinte in die vroeë 50er jare n.C.
  2. 1 en 2 Korintiërs, Galasiërs en Romeine – die sogenaamde leerstellige briewe met ’n groot klem op die regverdiging uit genade in antwoord op ’n groot aantal Joodse gelowiges se beheptheid met die wet, eersgenoemde geskryf in Efese en die ander heel moontlik in Masedonië.  Romeine is weer in Korinte geskrywe.  Die briewe word in die middel 50er jare n.C gedateer.
  3. Filippense, Filemon, Kolossense en Efesiërs – die sogenaamde gevangenisskap briewe geskrywe in Rome in die vroeë 60er jare n.C.
  4. 1 en 2 Timoteus en Titus – die sogenaamde pastorale briewe waarvan die datering en plek van skrywe waarskynlik ook in die vroeë 60er jare uit Rome is.

Vir hierdie rondte in die Bybelskool gaan ons op 1 en 2 Tessalonisense, die eskatologiese briewe, en 1 en 2 Korintiërs, sy eerste leerstellige briewe konsentreer.

’n Kort oorsig oor Paulus se lewe

Paulus is gebore in Tarsus in Silisië (Hand 22:3, 28; Fil 3:5) tussen ongeveer 1 tot 5 n.C (Robinson). Volgens Hieronymus was sy familie van Galiléa, maar het in 4 v.C. na Tarsus  verhuis. Hy was dus ‘n Jood, met die Hebreeuse naam Saulus (dit beteken begeer), uit die stam van Benjamin, maar het ook Romeinse burgerskap gehad, met die Latyns-Romeinse naam Paulus (dit beteken klein), vermoedelik weens sy verblyf in Tarsus. Dit is moontlik dat sy pa moontlik ‘n slaaf van ‘n Romeinse burger was, dat dié hom vrygelaat het, en hy op dié manier self burgerskap verkry het.  Daar is egter geen inligting daaroor beskikbaar nie.

Terloops – Lukas begin in Handelinge die naam Paulus gebruik (Hand 13:9) wanneer dié op sy eerste sendingreis vertrek en die Grieks-Romeinse wêreld betree, ironies genoeg, terwyl Lukas die verhaal van Sergius Paulus vertel, die goewerneur wat in Siprus gelowig word.

Terug na sy kinderlewe: Sy familie het kort na sy geboorte na Jerusalem verhuis, waar hy grootgeword en opgevoed is aan die voete van die Fariseër Gamaliël (Hand 22:3).  Hy was goed bekend met die situasie in Jerusalem, en die Jode het sy storie goed geken (Hand 26:4 vv).  Sy pa was immers ook ‘n Fariseër (Hand 23:6).  Trouens, hy was ‘n vertroueling van die priesterhoofde.

Hoewel hy ‘n bietjie jonger as Jesus was, moes hy dus waarskynlik baie bewus gewees het van die gebeure rondom Jesus in dié se verhoor in Jerusalem, soos sy betrokkenheid by die steniging van Stefanus ‘n paar maande later getuig.

As vurige Jood was hy egter aanvanklik ‘n vervolger van die Christene (Hand 7:58; 8:1–3; 9:1; Gal 1:14).  Sy leermeester se gematigde optrede (Hand 5:34) het nie sy gedrag bepaal nie.

Op pad na Damaskus het egter die groot ommekeer gekom (Hand 9) in die vroeë 30er jare n.C. Hy begin om Christus te verkondig (Hand 9:20–25), word na Tarsus gestuur toe daar ‘n opstand teen hom kom (Hand 9:30), en vertoef ’n tyd in Arabië (Gal 1:17).  Drie jaar later besoek hy vlugtig Jerusalem (Gal 1:18) en gaan van daar weer terug na Sirië en Silisië (Hand 9:30; Gal 1:21).

‘n Geruime tyd later, ongeveer 10 jaar, gaan Barnabas hom in Tarsus soek en bring hom na Antiogië in Sirië (Hand 11:25–26), waar hulle ’n tyd lank saam arbei. Dit is moontlik dat Paulus in sy tyd in Tarsus gemeentes in Sirië en Silisië gestig het, hoewel dit nie met sekerheid gesê kan word nie (Hand 15:41).

Hierna volg Paulus se beroemde wêreldsendingreise, waarvoor hy nie net direk na sy bekering in die tempel in Jerusalem geroep is nie (Hand 22:17–21), maar in Antiogië deur die gemeente en die Here self afgesonder word (Hand 13:1–3).  Sy reise begin ongeveer 48 n.C.

  1. Saam onderneem hy en Barnabas die eerste sendingreis na Siprus en Klein-Asië (Hand 13:4–14:28), en saam word hulle na Jerusalem gestuur om die eerste groot kerkvergadering namens Antiogië daar by te woon (Hand 15).
  2. Nou volg die tweede sendingreis, met Silas en later Timoteus en Lukas as medewerkers, na Klein-Asië, Masedonië en Griekeland (Hand 15:36–18:22) en ‘n jaar en ‘n half verblyf in Korinte, waar hy die 2 briewe aan Tessalonika skrywe.
  3. Die derde reis gaan deur dieselfde streke (Hand 18:23–21:16), met onder andere meer as twee jaar in Efese, waar hy die briewe aan Korinte skrywe.

Dan gaan hy terug na Jerusalem, waar hy voor die Sanhedrin verskyn, na Sesarea gestuur word, en twee jaar lank gevange bly (Hand 21:17–26:32).

Van daar word hy na Rome gestuur, waar hy ook twee jaar lank gevange gehou word (Hand 27 en 28).

Daar is ‘n moontlikheid dat Paulus toe vrygelaat is en van die reeds genoemde gebiede weer besoek, en selfs ook Spanje (Rom 15:24), hoewel laasgenoemde nie histories bevestig kan word nie (Gonzales).

Maar hy word, moontlik in ‘n tweede gevangenskapsverblyf in Rome, tereggestel (2 Tim 4:6–8) in die middel 60er jare n.C.

Ander geskrifte van Paulus

Daar is ook ‘n paar ander geskrifte wat met Paulus in verband gebring word, wat deel van die apokriewe literatur van die NT uitmaak.[1]

Handelinge van Paulus

Die Apokriewe geskrif Handelinge van Paulus dra die karakter van ’n Paulus-roman. Volgens Tertullianus is dit tussen 150 en 175 deur ’n ouderling in Klein-Asië geskryf ter ere van Paulus. Slegs ’n kwart v.d. geskrif het bewaar gebly, fragmentaries en in ’n ou vertaling. Dit beskryf die reise van Paulus na Antiochië , Ikonium en Éfese tot sy vertrek na Macedonië, asook baie wonders wat deur hom verrig is. Tot dié Handelinge van Paulus hoort ook ’n briefwisseling tussen Paulus en die Korinthiërs, die Handelinge van Paulus en Tekla en die martyrium Pauli oor sy marteldood in Rome.

Die geskrif bied allerlei ander detail oor Paulus, bv. hoe hy gelyk het: klein, vriendelik, kaalkop, ruie wenkbroue, bakbene.  Dit is egter moeilik om te veel hiervan te maak, aangesien die historiese betroubaarheid daarvan nie regtig vasgestel kan word nie.

Handelinge van Paulus en Tekla

Die Apokriewe geskrif Handelinge van Paulus en Thekla het as ’n selfstandige onderafdeling v.d. Handelinge van Paulus bewaar gebly. Toe Paulus in Ikonium op aanklag van Tamiris gevange geneem is omdat sy verloofde Tekla ernstige aandag aan die woord van Paulus gegee het, het Tekla die bewaarder omgekoop en Paulus in die gevangenis besoek om deur hom onderrig te word.

Toe dit bekend geword het, is Paulus gegésel en uit die stad verdryf en Tekla sou verbrand word. Deur ’n gebed van Paulus het Thekla die dood vrygespring, Paulus ontmoet, en saam met hom na Antiochië gegaan waar sy veroordeel is om deur wilde diere verskeur te word, hierdie keer omdat Aleksander op haar verlief geraak het, en sy egter niks van hom wou weet nie. Die wilde diere het egter niks aan haar gedoen nie. Nadat sy vrygelaat is, het sy na Paulus in Mira gegaan en hom van haar wedervaringe vertel. Daarna het sy, in opdrag van Paulus, na Ikonium teruggekeer en die evangelie aan haar moeder verkondig. Sy het in Seleukië gesterf.

Openbaring van Paulus

’n Apokrief v.d. N.T. waarin, op grond van 2 Kor. 12:1 e.v. vertel word van visioene wat Paulus  sou ontvang het v.d. hemelse paradys en v.d. hel. Die geskrif dateer uit die 2de eeu en is slegs in fragmente bekend.


[1] Apokriewe – Ou en Nuwe Testament – Jan van der Watt en Francois Tolmie

View all posts in this series

Tessalonisense


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: