Skip to main content

Die ontstaan van die Nuwe Testament

Paulus se skriftelike nalatenskap vorm natuurlik deel van die groter beweging om die Bybel as dokument – as kanon, dws as normatiewe maatstaf vir die leer en lewe  van die kerk – in die eerste paar eeu te finaliseer.

’n Mens kan drie groot fases in die totstandkoming van die Nuwe Testament onderskei:

1.  Uitbreiding deur getuienis en diens – Dit begin na Pinksterdag in die vroeë 30er jare n.C. Na die bediening van Jesus, van wie ons geen direkte skriftelike nalatenskap het nie, is die fokus van die apostels en die vroeë kerk op die vestiging en uitbreiding van die koninkryk van God oor alle grense heen.  Dit gebeur hoofsaaklik deur mondelinge en persoonlike getuienis en bediening.

2.  Apostoliese en kerklike begronding – Eers daarna begin die NT skrywers se pennevrug verskyn, waarin die leer en lewe van die kerk deur skriftelike bronne begrond is.  Dit word veral in briefvorm gedoen (Paulus, Petrus en Johannes se briewe), asook in narratiewe en gelykenisse (Evangelies en Handelinge) en apokaliptiek (Openbaring).  Dit duur ongeveer van 50-100 n.C. :

  • Die eskatologiese briewe 1 en 2 Tessalonisense in die begin 50er jare n.C.;
  • Die leerstellige Korintiër briewe en Galasiërs in die middel 50er jare n.C.;
  • Die gevangeniskapsbriewe in die laat 50er en vroeë 60er jare n.C.: Filippense, Efesiërs, Filemon sowel as die pastorale briewe aan Timoteus en Titus;
  • Eers daarna word die 4 evangelies en Openbaring geskrywe.
  • Omdat Grieks die amptelike wêreldtaal is, word die Nuwe Testament in Grieks geskryf.

3.  Kanonisering – Hierna begin die proses waarin nie net die boeke van die Nuwe Testament nie, in onderskeid van die apokriewe geskrifte, maar ook die boeke van die Ou Testament (soos saamgestel deur die Jode) uiteindelik as die gesaghebbende kanonieke Christelike Bybel erken is.  Dit duur ongeveer van die 1ste tot die 4de eeu n.C.  Vergelyk kort oorsig hieronder.

Ekskursus oor die vorming van die Bybel as kanon[1]

Die Hebreeuse/Aramese Ou Testament is oor meer as ‘n 1000 jaar gevorm, met die Pentateug wat vroeg kanonieke status geniet het.  Die Profete en die Geskrifte is oor ‘n hele aantal eeue geskryf en het mettertyd hulle plek in die harte van mense verower.

Sommige bronne verwys na ‘n Farisese konsilie, wat in 90 n.C. in Jamnia bymekaar gekom het, as die datum waar die Joodse kanon afgesluit is.  Hoewel sommige boeke van die Joodse Ou Testament wel daar bespreek is, was die kanon as sodanig nie eintlik op die tafel nie.  Joodse geleerdes het die kanon as afgesluit beskou sedert die skryf van die boek van Maleagi, wat die totaal van OT boeke op 39 bring.  Hulle het juis nie die apokriewe ingesluit nie, omdat dit na dié datum geskryf is.

Die Nuwe Testament kanon, soos die Ou Testament kanon, was ‘n proses eerder as ‘n eenmalige gebeure of besluit by ‘n kerkvergadering.  Vergelyk bv. die opmerking in 2 Petrus 3:16 waar na die briewe van Paulus verwys word wat deur sommige verkeerd uitgelê word.  Petrus verwyt die mense dat hulle dit ook doen met die res van die Skrif. Hy gebruik die woord vermoedelik in die sin wat ons dit self vir die kanon gebruik, dws as norm of maatstaf, wat dui op die prosesmatige aanvaarding van die kanonieke omvang van die Skrif.

Nie alle bronne waarna in die teks van die Nuwe Testament verwys word, is ook ingesluit in die uiteindelike kanon nie.  Paulus verwys bv. na ‘n vorige brief van hom aan die Korinte (1 Kor 5:9) en ‘n brief aan die Laodisense (Kol 4:16).  Ons het geen getuienis waarom dié briewe nie ingesluit is in die kanon nie.  Óf dié briewe het verlore geraak, óf die kerk het nie gereken dat dit van dieselfde universele kanonieke status was as sy ander briewe nie.

Oral in gemeentes was daar plaaslike kanons.  Twee van ons beste manuskripte van die Griekse Nuwe Testament het bv. meer boeke in as wat ons vandag as kanon aanvaar.  Die kodeks (papirus-boek)  Sinaiticus (ongeveer 350 n.C.) bevat die boeke van Hermas en Barnabas, en kodeks Alexandrinus (ongeveer 450 n.C.) bevat 1 en 2 Clement.  Dit verteenwoordig heel moontlik die Alexandrynse gemeenskap se kanon.  Die Muratoriese kanon het ander boeke by en onderskei bv. tussen boeke wat in die publiek vir almal gelees mag word, en ander wat net vir persoonlike toewyding gebruik mag word.  Dit verteenwoordig weer die kerk in Rome se kanon, ongeveer in die tweede eeu n.C.

Soos vroeër genoem (2 Pet 3:16), Paulus se briewe is heel gou as ‘n eenheid versamel wat kanonieke status geniet het, en publiek in die gemeentes gelees is.  Die oudste versameling hiervan, die Chester Beatty papiri, dateer uit die tweede eeu n.C.  Hy gee ook opdrag dat die briewe uitgeruil word en gelees word in verskillende gemeentes.  Dieselfde opdrag is ook in die Openbaring van Johannes gegee aan die sewe gemeentes, aan wie die briewe daarin gerig is.

Die proses van versameling en bewaring van die NT dokumente was dus belangrik reg van die begin af.  En elke gemeente sou vrae oor die egtheid en apostolisiteit daarvan gevra het.  Dit het gelei tot hulle eie lokale kanons.  Soos lyste van ander gemeentes bekend geword het, en dit algaande verfyn is, is plaaslike kanons vervang met die kanons wat meer algemeen aanvaar is deur gemeentes in ander dele van die Romeinse ryk.

Dié kanonieke beweging was dus aanvanklik ‘n gemeente beweging waarin gesoek is na outentieke apostoliese dokumente wat in die gemeentebediening gebruik kon word.  Eers later sou die kerk ‘n volgende kriterium vir Nuwe Testamentiese kanonisiteit begin aanlê, waar dit nodig geraak het in die debatte oor die Christologie, die aard van die natuur van Christus, en die Triniteit, naamlik, watter van die boeke kan met reg gebruik word in die beantwoording van Christologiese en Trinitariese vrae.  Dit het gelei tot die vierde eeuse proses waar die uiteindelike kanon finaal vasgestel is.

Eusebius skryf hieroor in sy Kerkgeskiedenis en onderskei vier groepe boeke: 1) aanvaar (die meeste van ons 27 boeke), 2) betwis (Jakobus, Judas, 2 Petrus, 2 en 3 Johannes), 3) verwerp (apokriewe), 4) ketters (pseudepigrafiese werke). Openbaring was in beide kategorie 1 en 2, omdat daar meningsverskil daaroor was.

Die eerste eksklusiewe lys van ons 27 boeke, soos dit vandag wyd deur die Christelike kerk aanvaar word, kom uit ‘n brief van Athanasius (ongeveer 367 n.C.).


[1] Vergelyk langer oorsig: Die ontstaan van die Bybel, en Kanonvorming

View all posts in this series

kanon, Korintiërs, Nuwe Testament, Tessalonisense


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar