Skip to main content

Leesplan

As inleiding gaan ek in die eerste week fokus op:

  • Paulus en sy werk,
  • die ontstaan van die NT wat natuurlik nou verbind is aan die 13 briewe wat Paulus geskrywe het,
  • die konteks waarbinne Paulus optree,
  • die verhaal van die 2 gemeentes in Handelinge as agtergrond vir die betekenis van die briewe,
  • en ’n oorsig van die briewe aan die Tessalonisense (en later in week 3 ook die briewe aan die Korintiërs).

Daarna lees ons in 7 weke die 4 briewe deur, met bydraes elke weeksdag.  Hier is dit in tabelvorm uiteengesit:

Week 1: 21-28 Julie Inleiding Byeenkoms 28 Julie 18:30
Week 2: 29 Julie – 4 Augustus 1 Tessalonisense Byeenkoms 4 Augustus 18:30
Week 3: 4-11 Augustus 2 Tessalonisense Byeenkoms 11 Augustus 18:30
Week 4: 12-18 Augustus 1 Korintiërs 1-6 Byeenkoms 18 Augustus 18:30
Week 5: 19-25 Augustus 1 Korintiërs 7-10 Byeenkoms 25 Augustus 18:30
Week 6: 26 Augustus – 1 September 1 Korintiërs 11-16 Byeenkoms 1 September 18:30
Week 7: 2-8 September 2 Korintiërs 1-7 Byeenkoms 8  September 18:30
Week 8: 9-15 September 2 Korintiërs 8-13 Byeenkoms 15 September 18:30

Week 1: Inleiding

As inleiding gaan ek in die eerste week fokus op:

  • Paulus en sy werk,
  • die ontstaan van die NT wat natuurlik nou verbind is aan die 13 briewe wat Paulus geskrywe het,
  • die konteks waarbinne Paulus optree,
  • die verhaal van die 2 gemeentes in Handelinge as agtergrond vir die betekenis van die briewe,
  • en ’n oorsig van die briewe aan die Tessalonisense (en later in week 3 ook die briewe aan die Korintiërs).

Daarna lees ons in 7 weke die 4 briewe deur, met bydraes elke weeksdag.

Paulus

Paulus se nalatenskap

Paulus het ’n reuse nalatenskap vir ons in die vorm van die  meeste briewe in die Nuwe Testament gelaat.  Dié werk was selfs van groter belang as die 3 groot sendingreise wat hy onderneem het.  Hoewel hy die evangelie na Siprus, Klein-Asië, Europa, Rome en moontlik ook na Spanje geneem het, was daar ook baie ander, Barnabas, Markus en Apollos, om maar net ’n paar te noem, wat dieselfde werk gedoen het.  Dit was ook gewone Christene wat die gemeentes in Antiochië sowel as in Rome gestig het.

Maar die briewe wat Paulus geskrywe het, is sy grootste nalatenskap.  Dit het ’n onberekenbare groot invloed gehad in die lewe nie net van die groeiende kerk van sy tyd nie, maar regdeur die eeue tot vandag toe nog in die breë Christelike kerk.  ’n Mens kan die waarde daarvan moeilik oorskat.

Paulus het ’n hele aantal briewe geskrywe, waarvan 13 briewe in die NT opgeneem is.  ’n Mens kan dit in 4 groepe opdeel:

  1. 1 en 2 Tessalonisense – sy eskatologiese briewe geskryf in Korinte in die vroeë 50er jare n.C.
  2. 1 en 2 Korintiërs, Galasiërs en Romeine – die sogenaamde leerstellige briewe met ’n groot klem op die regverdiging uit genade in antwoord op ’n groot aantal Joodse gelowiges se beheptheid met die wet, eersgenoemde geskryf in Efese en die ander heel moontlik in Masedonië.  Romeine is weer in Korinte geskrywe.  Die briewe word in die middel 50er jare n.C gedateer.
  3. Filippense, Filemon, Kolossense en Efesiërs – die sogenaamde gevangenisskap briewe geskrywe in Rome in die vroeë 60er jare n.C.
  4. 1 en 2 Timoteus en Titus – die sogenaamde pastorale briewe waarvan die datering en plek van skrywe waarskynlik ook in die vroeë 60er jare uit Rome is.

Vir hierdie rondte in die Bybelskool gaan ons op 1 en 2 Tessalonisense, die eskatologiese briewe, en 1 en 2 Korintiërs, sy eerste leerstellige briewe konsentreer.

’n Kort oorsig oor Paulus se lewe

Paulus is gebore in Tarsus in Silisië (Hand 22:3, 28; Fil 3:5) tussen ongeveer 1 tot 5 n.C (Robinson). Volgens Hieronymus was sy familie van Galiléa, maar het in 4 v.C. na Tarsus  verhuis. Hy was dus ‘n Jood, met die Hebreeuse naam Saulus (dit beteken begeer), uit die stam van Benjamin, maar het ook Romeinse burgerskap gehad, met die Latyns-Romeinse naam Paulus (dit beteken klein), vermoedelik weens sy verblyf in Tarsus. Dit is moontlik dat sy pa moontlik ‘n slaaf van ‘n Romeinse burger was, dat dié hom vrygelaat het, en hy op dié manier self burgerskap verkry het.  Daar is egter geen inligting daaroor beskikbaar nie.

Terloops – Lukas begin in Handelinge die naam Paulus gebruik (Hand 13:9) wanneer dié op sy eerste sendingreis vertrek en die Grieks-Romeinse wêreld betree, ironies genoeg, terwyl Lukas die verhaal van Sergius Paulus vertel, die goewerneur wat in Siprus gelowig word.

Terug na sy kinderlewe: Sy familie het kort na sy geboorte na Jerusalem verhuis, waar hy grootgeword en opgevoed is aan die voete van die Fariseër Gamaliël (Hand 22:3).  Hy was goed bekend met die situasie in Jerusalem, en die Jode het sy storie goed geken (Hand 26:4 vv).  Sy pa was immers ook ‘n Fariseër (Hand 23:6).  Trouens, hy was ‘n vertroueling van die priesterhoofde.

Hoewel hy ‘n bietjie jonger as Jesus was, moes hy dus waarskynlik baie bewus gewees het van die gebeure rondom Jesus in dié se verhoor in Jerusalem, soos sy betrokkenheid by die steniging van Stefanus ‘n paar maande later getuig.

As vurige Jood was hy egter aanvanklik ‘n vervolger van die Christene (Hand 7:58; 8:1–3; 9:1; Gal 1:14).  Sy leermeester se gematigde optrede (Hand 5:34) het nie sy gedrag bepaal nie.

Op pad na Damaskus het egter die groot ommekeer gekom (Hand 9) in die vroeë 30er jare n.C. Hy begin om Christus te verkondig (Hand 9:20–25), word na Tarsus gestuur toe daar ‘n opstand teen hom kom (Hand 9:30), en vertoef ’n tyd in Arabië (Gal 1:17).  Drie jaar later besoek hy vlugtig Jerusalem (Gal 1:18) en gaan van daar weer terug na Sirië en Silisië (Hand 9:30; Gal 1:21).

‘n Geruime tyd later, ongeveer 10 jaar, gaan Barnabas hom in Tarsus soek en bring hom na Antiogië in Sirië (Hand 11:25–26), waar hulle ’n tyd lank saam arbei. Dit is moontlik dat Paulus in sy tyd in Tarsus gemeentes in Sirië en Silisië gestig het, hoewel dit nie met sekerheid gesê kan word nie (Hand 15:41).

Hierna volg Paulus se beroemde wêreldsendingreise, waarvoor hy nie net direk na sy bekering in die tempel in Jerusalem geroep is nie (Hand 22:17–21), maar in Antiogië deur die gemeente en die Here self afgesonder word (Hand 13:1–3).  Sy reise begin ongeveer 48 n.C.

  1. Saam onderneem hy en Barnabas die eerste sendingreis na Siprus en Klein-Asië (Hand 13:4–14:28), en saam word hulle na Jerusalem gestuur om die eerste groot kerkvergadering namens Antiogië daar by te woon (Hand 15).
  2. Nou volg die tweede sendingreis, met Silas en later Timoteus en Lukas as medewerkers, na Klein-Asië, Masedonië en Griekeland (Hand 15:36–18:22) en ‘n jaar en ‘n half verblyf in Korinte, waar hy die 2 briewe aan Tessalonika skrywe.
  3. Die derde reis gaan deur dieselfde streke (Hand 18:23–21:16), met onder andere meer as twee jaar in Efese, waar hy die briewe aan Korinte skrywe.

Dan gaan hy terug na Jerusalem, waar hy voor die Sanhedrin verskyn, na Sesarea gestuur word, en twee jaar lank gevange bly (Hand 21:17–26:32).

Van daar word hy na Rome gestuur, waar hy ook twee jaar lank gevange gehou word (Hand 27 en 28).

Daar is ‘n moontlikheid dat Paulus toe vrygelaat is en van die reeds genoemde gebiede weer besoek, en selfs ook Spanje (Rom 15:24), hoewel laasgenoemde nie histories bevestig kan word nie (Gonzales).

Maar hy word, moontlik in ‘n tweede gevangenskapsverblyf in Rome, tereggestel (2 Tim 4:6–8) in die middel 60er jare n.C.

Ander geskrifte van Paulus

Daar is ook ‘n paar ander geskrifte wat met Paulus in verband gebring word, wat deel van die apokriewe literatur van die NT uitmaak.[1]

Handelinge van Paulus

Die Apokriewe geskrif Handelinge van Paulus dra die karakter van ’n Paulus-roman. Volgens Tertullianus is dit tussen 150 en 175 deur ’n ouderling in Klein-Asië geskryf ter ere van Paulus. Slegs ’n kwart v.d. geskrif het bewaar gebly, fragmentaries en in ’n ou vertaling. Dit beskryf die reise van Paulus na Antiochië , Ikonium en Éfese tot sy vertrek na Macedonië, asook baie wonders wat deur hom verrig is. Tot dié Handelinge van Paulus hoort ook ’n briefwisseling tussen Paulus en die Korinthiërs, die Handelinge van Paulus en Tekla en die martyrium Pauli oor sy marteldood in Rome.

Die geskrif bied allerlei ander detail oor Paulus, bv. hoe hy gelyk het: klein, vriendelik, kaalkop, ruie wenkbroue, bakbene.  Dit is egter moeilik om te veel hiervan te maak, aangesien die historiese betroubaarheid daarvan nie regtig vasgestel kan word nie.

Handelinge van Paulus en Tekla

Die Apokriewe geskrif Handelinge van Paulus en Thekla het as ’n selfstandige onderafdeling v.d. Handelinge van Paulus bewaar gebly. Toe Paulus in Ikonium op aanklag van Tamiris gevange geneem is omdat sy verloofde Tekla ernstige aandag aan die woord van Paulus gegee het, het Tekla die bewaarder omgekoop en Paulus in die gevangenis besoek om deur hom onderrig te word.

Toe dit bekend geword het, is Paulus gegésel en uit die stad verdryf en Tekla sou verbrand word. Deur ’n gebed van Paulus het Thekla die dood vrygespring, Paulus ontmoet, en saam met hom na Antiochië gegaan waar sy veroordeel is om deur wilde diere verskeur te word, hierdie keer omdat Aleksander op haar verlief geraak het, en sy egter niks van hom wou weet nie. Die wilde diere het egter niks aan haar gedoen nie. Nadat sy vrygelaat is, het sy na Paulus in Mira gegaan en hom van haar wedervaringe vertel. Daarna het sy, in opdrag van Paulus, na Ikonium teruggekeer en die evangelie aan haar moeder verkondig. Sy het in Seleukië gesterf.

Openbaring van Paulus

’n Apokrief v.d. N.T. waarin, op grond van 2 Kor. 12:1 e.v. vertel word van visioene wat Paulus  sou ontvang het v.d. hemelse paradys en v.d. hel. Die geskrif dateer uit die 2de eeu en is slegs in fragmente bekend.


[1] Apokriewe – Ou en Nuwe Testament – Jan van der Watt en Francois Tolmie

Die ontstaan van die Nuwe Testament

Paulus se skriftelike nalatenskap vorm natuurlik deel van die groter beweging om die Bybel as dokument – as kanon, dws as normatiewe maatstaf vir die leer en lewe  van die kerk – in die eerste paar eeu te finaliseer.

’n Mens kan drie groot fases in die totstandkoming van die Nuwe Testament onderskei:

1.  Uitbreiding deur getuienis en diens – Dit begin na Pinksterdag in die vroeë 30er jare n.C. Na die bediening van Jesus, van wie ons geen direkte skriftelike nalatenskap het nie, is die fokus van die apostels en die vroeë kerk op die vestiging en uitbreiding van die koninkryk van God oor alle grense heen.  Dit gebeur hoofsaaklik deur mondelinge en persoonlike getuienis en bediening.

2.  Apostoliese en kerklike begronding – Eers daarna begin die NT skrywers se pennevrug verskyn, waarin die leer en lewe van die kerk deur skriftelike bronne begrond is.  Dit word veral in briefvorm gedoen (Paulus, Petrus en Johannes se briewe), asook in narratiewe en gelykenisse (Evangelies en Handelinge) en apokaliptiek (Openbaring).  Dit duur ongeveer van 50-100 n.C. :

  • Die eskatologiese briewe 1 en 2 Tessalonisense in die begin 50er jare n.C.;
  • Die leerstellige Korintiër briewe en Galasiërs in die middel 50er jare n.C.;
  • Die gevangeniskapsbriewe in die laat 50er en vroeë 60er jare n.C.: Filippense, Efesiërs, Filemon sowel as die pastorale briewe aan Timoteus en Titus;
  • Eers daarna word die 4 evangelies en Openbaring geskrywe.
  • Omdat Grieks die amptelike wêreldtaal is, word die Nuwe Testament in Grieks geskryf.

3.  Kanonisering – Hierna begin die proses waarin nie net die boeke van die Nuwe Testament nie, in onderskeid van die apokriewe geskrifte, maar ook die boeke van die Ou Testament (soos saamgestel deur die Jode) uiteindelik as die gesaghebbende kanonieke Christelike Bybel erken is.  Dit duur ongeveer van die 1ste tot die 4de eeu n.C.  Vergelyk kort oorsig hieronder.

Ekskursus oor die vorming van die Bybel as kanon[1]

Die Hebreeuse/Aramese Ou Testament is oor meer as ‘n 1000 jaar gevorm, met die Pentateug wat vroeg kanonieke status geniet het.  Die Profete en die Geskrifte is oor ‘n hele aantal eeue geskryf en het mettertyd hulle plek in die harte van mense verower.

Sommige bronne verwys na ‘n Farisese konsilie, wat in 90 n.C. in Jamnia bymekaar gekom het, as die datum waar die Joodse kanon afgesluit is.  Hoewel sommige boeke van die Joodse Ou Testament wel daar bespreek is, was die kanon as sodanig nie eintlik op die tafel nie.  Joodse geleerdes het die kanon as afgesluit beskou sedert die skryf van die boek van Maleagi, wat die totaal van OT boeke op 39 bring.  Hulle het juis nie die apokriewe ingesluit nie, omdat dit na dié datum geskryf is.

Die Nuwe Testament kanon, soos die Ou Testament kanon, was ‘n proses eerder as ‘n eenmalige gebeure of besluit by ‘n kerkvergadering.  Vergelyk bv. die opmerking in 2 Petrus 3:16 waar na die briewe van Paulus verwys word wat deur sommige verkeerd uitgelê word.  Petrus verwyt die mense dat hulle dit ook doen met die res van die Skrif. Hy gebruik die woord vermoedelik in die sin wat ons dit self vir die kanon gebruik, dws as norm of maatstaf, wat dui op die prosesmatige aanvaarding van die kanonieke omvang van die Skrif.

Nie alle bronne waarna in die teks van die Nuwe Testament verwys word, is ook ingesluit in die uiteindelike kanon nie.  Paulus verwys bv. na ‘n vorige brief van hom aan die Korinte (1 Kor 5:9) en ‘n brief aan die Laodisense (Kol 4:16).  Ons het geen getuienis waarom dié briewe nie ingesluit is in die kanon nie.  Óf dié briewe het verlore geraak, óf die kerk het nie gereken dat dit van dieselfde universele kanonieke status was as sy ander briewe nie.

Oral in gemeentes was daar plaaslike kanons.  Twee van ons beste manuskripte van die Griekse Nuwe Testament het bv. meer boeke in as wat ons vandag as kanon aanvaar.  Die kodeks (papirus-boek)  Sinaiticus (ongeveer 350 n.C.) bevat die boeke van Hermas en Barnabas, en kodeks Alexandrinus (ongeveer 450 n.C.) bevat 1 en 2 Clement.  Dit verteenwoordig heel moontlik die Alexandrynse gemeenskap se kanon.  Die Muratoriese kanon het ander boeke by en onderskei bv. tussen boeke wat in die publiek vir almal gelees mag word, en ander wat net vir persoonlike toewyding gebruik mag word.  Dit verteenwoordig weer die kerk in Rome se kanon, ongeveer in die tweede eeu n.C.

Soos vroeër genoem (2 Pet 3:16), Paulus se briewe is heel gou as ‘n eenheid versamel wat kanonieke status geniet het, en publiek in die gemeentes gelees is.  Die oudste versameling hiervan, die Chester Beatty papiri, dateer uit die tweede eeu n.C.  Hy gee ook opdrag dat die briewe uitgeruil word en gelees word in verskillende gemeentes.  Dieselfde opdrag is ook in die Openbaring van Johannes gegee aan die sewe gemeentes, aan wie die briewe daarin gerig is.

Die proses van versameling en bewaring van die NT dokumente was dus belangrik reg van die begin af.  En elke gemeente sou vrae oor die egtheid en apostolisiteit daarvan gevra het.  Dit het gelei tot hulle eie lokale kanons.  Soos lyste van ander gemeentes bekend geword het, en dit algaande verfyn is, is plaaslike kanons vervang met die kanons wat meer algemeen aanvaar is deur gemeentes in ander dele van die Romeinse ryk.

Dié kanonieke beweging was dus aanvanklik ‘n gemeente beweging waarin gesoek is na outentieke apostoliese dokumente wat in die gemeentebediening gebruik kon word.  Eers later sou die kerk ‘n volgende kriterium vir Nuwe Testamentiese kanonisiteit begin aanlê, waar dit nodig geraak het in die debatte oor die Christologie, die aard van die natuur van Christus, en die Triniteit, naamlik, watter van die boeke kan met reg gebruik word in die beantwoording van Christologiese en Trinitariese vrae.  Dit het gelei tot die vierde eeuse proses waar die uiteindelike kanon finaal vasgestel is.

Eusebius skryf hieroor in sy Kerkgeskiedenis en onderskei vier groepe boeke: 1) aanvaar (die meeste van ons 27 boeke), 2) betwis (Jakobus, Judas, 2 Petrus, 2 en 3 Johannes), 3) verwerp (apokriewe), 4) ketters (pseudepigrafiese werke). Openbaring was in beide kategorie 1 en 2, omdat daar meningsverskil daaroor was.

Die eerste eksklusiewe lys van ons 27 boeke, soos dit vandag wyd deur die Christelike kerk aanvaar word, kom uit ‘n brief van Athanasius (ongeveer 367 n.C.).


[1] Vergelyk langer oorsig: Die ontstaan van die Bybel, en Kanonvorming

Die konteks waarbinne Paulus optree

Dit is goed om die volgende historiese gegewens in gedagte te hou met die lees van die briewe van Paulus.

  • Die Jode het oral waar hulle in die Romeinse ryk gebly het, hulle identiteit behou, veral deur die onderhouding van die sabbat en sekere Joodse feesdae, hulle dieetreëls, en die besnydenis.  Oral is sinagoges ook gebou wat as vergaderplek gedien het en hulle gemeenskap bymekaar gehou het.
  • Daarom dat die sinagoges dikwels die aanknopingspunte vir die apostels was met hulle eerste besoek aan ’n stad.  Die Jode in die stede was dus baie keer ook die eerste bekeerlinge wat op die boodskap van Christus gereageer het.
  • Hierdie Jode was dus van sleutelbelang vir die uitbreiding van die Christendom.  Dit was een van die hoof maniere waarop die geloof in Christus deur die Romeinse ryk versprei het.  Daarby is dit juis hulle wat vir die Griekse vertaling van die Ou Testament verantwoordelik was wat deur Christene gebruik kon word in hulle kommunikasie met die heidense wêreld.
  • Baie van hulle was egter ook felle teenstanders van hierdie evangelie en het menigmaal onrus gestook en dit meesal reggekry om die stadsbesture teen Paulus en sy werkers laat draai.
  • Met die groei van die kerk in Antiogië, die plek vanwaar Paulus sy sendingreise onderneem, kom die Joodse en Griekse Christene ook in konflik oor die plek van die sabbat en feeste, die dieetreëls en die besnydenis, en bied dit die kerk die geleentheid om sekere leerstellige en etiese kwessies uit te sorteer.  Lees Handelinge 15 vir die besluit wat die kerk in Jerusalem daaroor geneem het.
  • Antiogië sou ’n baie belangrike rol bly speel in die lewe van die Christelike kerk van die eerste paar eeue, selfs na die dood van Paulus.  Hier was verskeie opvoedkundige inrigtings en later die eerste eksegetiese skole van die Christelike kerk:
    • Hulle fokus hier op literêr-historiese lees van die Bybel (taal en konteks), in onderskeid met die allegoriese lees van die Bybel wat met die ander groot Christelike sentrum. Alexandrië,  geassosieer word.  Die beroemde prediker Chrysostomus is ‘n uitnemende (4de eeuse) voorbeeld hiervan

Hier is ‘n paar tydlyne en kaarte van Paulus se lewe en reise:

Onlangse kommentaar