Die vrou wat Jesus se voete met geurige olie gesalf het

Die verhaal van die vrou wat Jesus se voete met geurige olie gesalf het, wys die diep impak wat vergifnis op iemand wat in sonde gelewe het, maak. Daar is doodgewoon ‘n oorvloed van liefde wat oorborrel as jy God se genade en barmhartigheid ervaar. Niks is te veel om vir die Here te gee of te doen nie, want die vryheid wat Hy deur vergifnis bring, verander letterlik jou hele lewe.
Ek wil na die verhaal kyk op drie maniere.
- Eerstens die gewone feite van die verhaal – die landscape of action soos dit bekend staan in die narratiewe praktyk.
- Tweedens die dieper betekenis van die verhaal – die landscape of consciousness or identity.
- Derdens hoe ons God hierin raaksien en ons Hom kan navolg – die landscape of transcendence (Monteleone).
Dit is ‘n metodiek wat jy met enige verhaal in die Bybel kan volg om die betekenis daarvan vir jouself te ontsluit.
Die gewone feite van die verhaal
Jesus is by ‘n ete. Simon die Fariseër het hom genooi om by hom te kom eet. Ons sien daarmee dat Jesus vir ‘n tyd lank in tel was by die elite, hoewel Hy hulle egter ook telkens in die skande gesteek het, moet ‘n mens bysê, en dié houding teenoor Hom verhard het.
Onmiddellik vertel Lukas vir ons van ‘n anonieme vrou – wat bekend was in die dorp vir haar sondige lewe, moontlik ‘n prostituut – wat hoor dat Hy daar is, en ‘n albaste flessie met reukolie bring vir Jesus.
‘n Hele aantal kommentare lei af uit die manier waarop die vrou na Jesus toekom, en die verloop van Jesus se gesprek met haar, dat hulle al voorheen ontmoet het, en dat sy alreeds vergifnis ontvang het. Haar optrede is dus een van erkenning en dankbaarheid wat nogal belangrik is vir die verstaan van die verhaal.
Dit is insiggewend met hoeveel gelatenheid Jesus haar laat begaan. Sy staan eers agter Jesus by sy voete en huil – daardie tyd het ‘n mens gelê en eet, met jou voete weggedraai van die tafel – sy staan dus by sy rugkant. Soos sy huil, drup haar trane op sy voete, soveel só dat sy besef dat sy sy voete moet afdroog. Dit doen sy toe met haar hare. ‘n Baie intieme moment volg, waar sy sy voete soen, en met die reukolie in die albaste flessie salf.
Vir die Fariseërs is dit egter totaal onvanpas, ‘n skandaal.
En op ‘n manier is hulle reg. Die liefde van Jesus is telkens ‘n skandaal, want Hy het nie mense lief oor wat hulle vir Hom kan beteken nie, maar vir wat Hy vir hulle kan beteken. Dít is immers wat liefde is. Dit is om jouself te gee om iemand anders te seën.
En dié liefde lok ‘n wederliefde uit wat nie ingeperk kan word tot die gewone nie, wat baie keer in buitengewone maniere na vore kom, en soms doodgewoon ‘n oorvloed van vrygewigheid beteken, soos dié vrou hier doen.
Soos Jesus dit dikwels gedoen het, reageer hy op die besware van die Simon die Fariseër met ‘n gelykenis. Let op die kleinerige verskil tussen die twee bedrae – R500 vs. R50 in ons geld – ‘n tienvoudige verskil. Die ooreenkoms tussen die skuldenaars is egter van meer belang. Dit is duidelik dat nie een van die twee kan betaal nie. Dit is ook duidelik dat albei totale kwytskelding ontvang.
Die punt van die gelykenis laat Jesus vir Simon self uitpluis, en dit is, dat dié mens vir wie baie sondes vergewe is, het ook baie lief. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.
Wat gebeur dus hier? Jesus vra in wese vir Simon of hy dan nie in die vrou se optrede iets raaksien van iemand wat vergewe is nie, en dat sy daarom in liefde reageer teenoor dié Een wat haar vergewe het nie?
Die intrige verdiep, want nou eers, en dit is belangrik, sit Jesus regop en draai na die vrou wat by sy voete staan, en begin met haar oor haar liefdesdaad gesels. Hy kyk na haar, maar hy praat nog eers met Simon daaroor, want Hy wil Simon tot insig lei. “Sien jy hierdie vrou?“ Eintlik ‘n retoriese vraag, maar vir die effek daarvan.
Jesus gaan self voort en kontrasteer Simon se optrede teenoor Jesus met dié van die vrou. En Simon kom ernstig tweede. Nie dat hy soseer verkeerd opgetree het nie, maar in vergelyking met die vrou het hy amper niks gedoen nie:
- Dit was nie nodig om water te gee vir Jesus se voete nie – dit sou ‘n vriendelike gebaar gewees het, maar dit was nie absoluut noodsaaklik nie. Die vrou het haar trane oor sy voete uitgestort.
- Dit was nie nodig om Jesus met ‘n soen te groet nie – dit sou verwelkomend en gasvry gewees het, maar dit was nie absoluut noodsaaklik nie. Die vrou het Jesus se voete gesoen.
- Dit was definitief nie nodig om Jesus se kop met olie te gesalf het nie – dit sou eintlik ‘n bietjie “over-the-top” gewees het. Die vrou het egter ‘n hele albaste flessie met reukolie oor sy voete uitgegooi.
Simon het dus nie ‘n voet verkeerd gesit nie, maar daarmee het hy sy traagheid om meer as die normale te doen, openbaar. Hy het net-net genoeg gedoen, die minimum, maar nie homself regtig gegee vir dié ontmoeting met Jesus nie. In sy innooi van Jesus na sy huis, het hy dit reggekry om Jesus eintlik van sy lyf af te hou, om Hom op ‘n afstand te hou, al was Jesus binne in sy huis.
Daarenteen, en dit is die punt, wys dié vrou wat dit beteken om Jesus se vergifnis te ken, en hoe sy Hom daarom uit haar hart uit lief het, sonder enige terughouding, oorvloedig, vrygewig. Sy steek dus die grens oor na Jesus, identifiseer volledig met Hom, baie publiek, baie ontblotend, omdat Hy die grens na haar toe oorgesteek het en haar deel van sy lewe gemaak het. En sy raak eintlik die gasvrou in haar bewys van liefde met haar trane, hare en reukolie – die sondaarvrou troef die Fariseër in gasvryheid en oorvloedige vrygewigheid. Kan jy nou meer!
Jesus bevestig dan sy vergifnis, die nuwe lewe wat Hy vir haar gee, soveel so, dat die res van dié aan die tafel oor Jesus begin vrae vra: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?”
Jesus word egter nie vasgevang in dié gesprek nie. Hy herhaal sy vredesaanbod. Haar geloof in Hom het haar gered vir sy koninkryk.
So ver die feite van die verhaal, met so ‘n bietjie interpretasie.
Die betekenis van die verhaal
Daar is egter meer.
1. Wat ons moet raaksien, en wat ons dieper in die betekenis van die verhaal inlei, is dat Simon niks in dié vrou raaksien, ten minste niks wat goed is nie. Van begin tot einde. Hy beoordeel haar op grond van die status van haar sondige lewe tot dusver en skryf haar daarmee af. Sy is in sy oë verlore en nie die moeite werd om enige aandag te verdien nie. Trouens, mense wat hulle met haar assosieer, het nie goeie insig nie, soos hy Jesus van beskuldig. En daarmee hou hy vol, selfs al probeer Jesus hom inlei in ‘n beter waardering van wat regtig in dié vrou se lewe gebeur het, hoe ‘n mens deur liefde tot ‘n ander lewenskeuse kan kom, van die lewensverandering wat reeds in haar lewe gekom het.
Wat meer is, dieselfde tipe veroordeling van die vrou vind ‘n mens in sy beoordeling van Jesus. Omdat Jesus nie sien soos hy sien nie – dat dié vrou nie enigiets beteken nie – beteken dat Jesus eintlik ook van min waarde is, dat sy status as profeet in gedrang is. Jesus wys eintlik met sy optrede dat Hy nie ernstig geneem kan word nie, dink Simon in sy stiksienigheid.
Omdat Simon die vrou lig skat, beïnvloed dit sy beoordeling van Jesus, sien hy Jesus deur die bril van sy veroordeling van die vrou, en skryf hy basies vir Jesus af, al is Hy ‘n Wonderwerker sonder weerga. Hoe jammer! Hy kan nie verby die vrou die lewe in Jesus raaksien nie!
Maar, daar is nog meer.
2. Dit is nie om dowe neute dat Lukas hierdie verhaal van Jesus aan tafel by Simon plaas direk langs die vorige gesprek wat Jesus met die dissipels van Johannes die Doper gehad het nie (Luk. 7:18-35). Johannes se dissipels was onseker of hulle met Jesus kan assosieer, omdat Hy nie soos hulle asketies gelewe het nie – d.w.s hulle het baie eenvoudig gelewe met geen luukshede hoegenaamd nie, selfs nie brood en wyn nie, net dinge soos gebraaide sprinkane en heuning. Jesus het egter gereeld saam met verskillende mense geëet en gedrink. Hoe het dit gerym, was hulle vraag.
Jesus kon hulle wel oortuig dat Hy die dinge doen wat met die Messias geassosieer word. Mense is genees van siektes en kwale en bose geeste, blindes het gesien, lammes het geloop, melaatses is gereinig, dowes het gehoor, dooies is opgewek en aan armes is die evangelie verkondig. Só het Hy hulle uitgenooi om die evangelie raak te sien in sy manier van bedien.
Maar die ander mense was nie oortuig nie. Hulle het steeds oor Jesus getwyfel, want al kon hulle sien dat Hy ‘n besondere mens was, en dat Hy wonderwerke gedoen het, het hulle gesien dat die Fariseërs en die skrifgeleerdes steeds apart gestaan het en hulle mening was vir gewone mense van waarde. Dit was duidelik dat die Fariseërs en die skrifgeleerdes aan die een kant nie met Johannes die Doper se asketiese lewenstyl saamgestem het nie, en daarom hulle nie laat doop het nie. Dit was egter ook duidelik dat hulle aan die ander kant ook nie met Jesus se meelewende lewenstyl saamgestem het nie, en Hom beskou het as ‘n vraat en ‘n wynsuiper, wat boonop ‘n vriend van tollenaars en sondaars is.
Simon, die Fariseër, het Jesus dus saam met die ander veroordeel vir sy onbevooroordeelde vriendskap met mense soos hierdie anonieme vrou. Hy kon nie insien wat Jesus in haar gesien het nie. Hy kon dit nie kleinkry dat sy enigsins op enige manier vir Jesus van belang sou kon wees nie.
3. En daarom mis Simon die kans van sy lewe – dat hy ingetrek word in die meelewing, in die liefde wat Jesus vir alle mense bewys, sondaars inkluis. Hy sien Jesus nie regtig raak nie! Hierdie vrou het op Jesus se liefde gereageer en op die enigste manier wat sy geken het – met ‘n albaste fles reukolie – haar liefde vir Hom bewys. ‘n Oorvloedige vrygewige gawe.
Want, dít is waaroor dit in die koninkryk van God gaan. Oor sy liefde vir ons. En ons liefde vir Hom. Oorvloed en oordaad, kan ‘n mens amper sê. En waar ons sy liefde ervaar, sy genesing, sy vergifnis, daar word ons nuut, en kan ons in liefde reageer, nie net teenoor Hom nie, maar ook teenoor ons naaste.
Simon kry dit egter nie reg nie. Hy kyk vas teen die sonde van die vrou, en kan die vergifnis en nuwe moontlikhede wat Jesus vir haar gee, nie raaksien, en nie waardeer nie. Hy is soos die ouer broer in die gelykenis van die Verlore Seun wat nie die wonder van ‘n opstanding uit die dood kan waardeer nie, trouens sy broer wat verlore was nie die genade van ‘n tweede kans gun nie.
4. En laat ons eerlik wees. Ons kan ook so na mense kyk, soos Simon, en ons liefdeloosheid kan op soortgelyke wyse ontbloot word, veral as ons op die spot gesit word, wanneer Jesus ons konfronteer in die sondige mense, soos dié anonieme vrou, wat ons pad kruis.
Probeer ons hulle van ons lyf af hou, kies ons die rol van Simon in dié verhaal. Dan raak ons die Fariseër wat alles op ‘n afstand wil hou, netjies op sy plek, ook die sondaarmense elkeen in sy eie klein hoekie. En ontsê ons onsself die liefde van die Here. Sien ons Jesus ook nie raak nie.
Jesus kyk egter anders en nooi ons uit om anders te kyk. Hy sien waarde in almal, selfs in Simon, hoewel Simon dit nie wil aanvaar en die uitnodiging om Jesus ook in sy lewe te omarm, aanvaar nie. Jesus sien waarde in dié vrou, teen die konvensies van sy tyd, en aanvaar haar liefde vir hom met grasie en genade. En haar lewe word daardeur verander.
Om God raak te sien in die verhaal
Ek sluit af.
Die diepste punt van dié verhaal is waar God ons aanraak en met die storie as ‘n ryk bron van verbeelding vir ons eie situasie, Hom toelaat om ons deel te maak van sy liefde vir hierdie wêreld.
1. In die eerste plek is dit nodig dat ons besef dat ons uiteindelik ook is soos die vrou, en dat ons nodig het om sóós sy nie net vergifnis van ons sonde te ontvang nie, maar op dieselfde wyse ons hele lewe as ‘n flessie reukolie aan die Here te gee. “Omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde.”
In ons oorvloedige vrygewigheid van ons goed, ons geld, ons tyd, ons gawes, lê ons verbintenis, en die gehalte van daardie verbintenis opgesluit. Hierdie anonieme vrou was Oorvloedig Vrygewig, soos ons later die maand ook vir almal van ons kans gaan gee, om ons liefde vir die Here uit te leef, wanneer ons ons verbind aan ‘n dankoffer vir die jaar wat kom. Daaroor later.
2. Maar, in die tweede plek, God soek mense wat ook sóós Jesus sal wees, wat uitreik na die anonieme vrou wat van haar sondige lewe verlos moet word, en wat uitreik na die Fariseër Simon, wat homself toesluit van God se genade. Ons moet die grense na mense wat van ons verskil oorsteek – aan die onderkant en die bokant van die sosiale leer – en deur kruis-groep-verhoudings nie net ons vooroordele teenoor mekaar verminder nie, ‘n mikpunt van die Seisoen van Menswaardigheid, maar hulle wen vir die koninkryk van God, die uiteindelike doel van alles wat ons doen.
by Chris van Wyk – 14 Februarie 2016
View all posts in this series
- WEEK 1: Lukas 1:1-4:13 - July 21, 2011
- Lukas 1:1-56 – Twee Godsmanne word vir twee Godsvroue belowe
- Lukas 1:57-80 – God se lig rig ons voetstappe op die pad van vrede - July 22, 2011
- Lukas 2:1-52 – Verlosser, Christus, Here - July 25, 2011
- Lukas 3:1-38 – Jesus is familie van alle mense - July 26, 2011
- Lukas 4:1-13 – Jesus deurstaan die toets - July 27, 2011
- WEEK 2: Lukas 4:14-9:50 - July 28, 2011
- Lukas 4:14-5:39 – Jesus het gekom vir armes, gevangenes, blindes en onderdruktes
- Lukas 6:1-49 – Luister en Leef - July 29, 2011
- Lukas 7:1-50 – Jesus het gelowiges en twyfelaars lief - August 1, 2011
- Lukas 8:1-56 – Toegewy aan God in voor- en teëspoed - August 2, 2011
- Lukas 9:1-50 – God is getrou om ons alles te gee wat ons in die bediening nodig het - August 3, 2011
- WEEK 3: Lukas 9:51-19:44 - August 4, 2011
- Lukas 9:51-11:54 – Gefokus op God en die naaste
- Lukas 12:1-13:35 – God sorg vir sy kinders in gevaar - August 5, 2011
- Lukas 14:1-15:32 – God het ’n hart vir verlorenes - August 8, 2011
- Lukas 16:1-17:37 – Dissipels leef met integriteit en genade - August 9, 2011
- Lukas 18:1-19:44 – God is meer as gewillig om gebede te beantwoord - August 10, 2011
- WEEK 4: Lukas 19:45-24:53 - August 11, 2011
- Lukas 19:45-20:47 – Jesus het nie net ’n groot intellek nie, maar veral diep wysheid
- Lukas 21:1-38 – Volhard in waaksaamheid en gebed - August 12, 2011
- Lukas 22:1-71 – Die Seun van God ly vir ons - August 15, 2011
- Lukas 23:1-56 – Die Onskuldige sterf vir ons die skuldiges - August 16, 2011
- Lukas 24:1-53 – Jesus het werklik opgestaan - August 17, 2011
- Lees die vier evangelies en Handelinge - June 20, 2016
- Die vrou wat Jesus se voete met geurige olie gesalf het - March 21, 2017
- Die koninkryk van God is soos suurdeeg - February 27, 2019
- Droom – Doel – Doen - April 3, 2019