Skip to main content

Prontuit die Waarheid – Week 45

Onthou jy kan steeds inskakel en alle vorige gedeeltes by die argief bereik.

Jesus gaan in hierdie vyf gedeeltes dieper in op die boodskap van Hom as die Messias.

In Matteus 16:17-20 vertel Matteus vir ons dat Jesus op Petrus se belydenis reageer dat nie uit homself kom nie, maar direk van Jesus se Vader in die hemel. Nie net kies Jesus Petrus se belydenis as die rots, die fondament, van die kerk wat Jesus gaan bou nie, maar ontvang Petrus die sleutels van die koninkryk van die hemele. Die sleutels van die koninkryk van die hemele dui op twee aksies van die kerk. Dit open die deur van verlossing vir elkeen wat in die Here Jesus glo, wat ook soos Petrus in Jesus as die Christus, die Seun van die lewende God glo. Dit sluit ook die deur van verlossing vir elkeen wat die Here Jesus verwerp en weier om in Hom as die Christus, die Seun van die lewende God te glo.

In Lukas 9:22 Jesus kondig sy dood en opstanding die eerste keer aan. Die tyd het aangebreek vir Jesus om sy dissipels in te lei in die ware doel van Sy koms na die aarde. Dat Hy ‘n Lydende Messias is. Let op dat Jesus oor sy verwerping, kruisdood en opstanding as ‘n eenheid praat. Sonder die opstanding sou die verwerping en kruisdood net ‘n tragiese episode in ‘n besondere man se lewe wees. Maar met die opstanding raak dit die triomf van die Seun van die lewende God. Ons lees dieselfde boodskap in Markus 8:31-33 met die byvoeging van die gesprek tussen Petrus en Jesus. Let op hoe skerp Jesus Petrus aanspreek. Hy spreek Hom as Teenstander, dws Satan, aan. Iemand wat nie die dinge van God bedink nie, maar dié van die mense. Hy wys uit in hoe ‘n groot kontras hierdie optrede van Petrus is met sy pas afgelope belydenis dat Jesus die Christus is. Daarom sê Hy, “Gaan weg agter My, Satan!”

In Matteus 16:21-23 het ons dieselfde verhaal van Jesus wat Petrus tereg wys dat hy Jesus se dood probeer verhoed. Petrus roep selfs vir God in as agent om dié lyding te verhoed. “Dit sal beslis nie met U gebeur nie!” Ironies, want dit was juis God se bedoeling! Jesus beskou sy teregwysing egter as ’n struikelblok, op dieselfde vlak as die duiwel se versoeking dat Hy die maklike uitweg vat (soos in Matteus 4). Hierdie gedeelte help ons verstaan dat ons ook tot bekering moet kom van ons eie idees oor God en wat Hy doen. Lyding is deel van die pad wat Hy bepaal vir hierdie lewe. Ja, Hy laat alles ten goede meewerk. Dit is immers wie Hy is. Maar dit sluit nie die lyding uit nie. Dit sluit die lyding in. Dieselfde geld oor die idees wat ons oor ons eie lewe het. Ons bid baie keer dat ons lyding gespaar sal word. En die Here in sy groot barmhartigheid beantwoord ook daardie gebede. Maar, soms is die verhoring van daardie gebede juis geleë in die aanvaarding en volharding in die lyding, eerder as van die lyding.

Dit bring ons by die volgende fase van Jesus se onderrig van sy dissipels. In Lukas 9:23-27 roep Jesus sy volgelinge op tot selfverloëning en kruis opneem. Volgende keer meer daaroor.


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar