Skip to main content

Tag: vermeerdering van die brood

Markus 6:30-52 – Jesus demonstreer sy Godheid op verskillende maniere

Markus

Die apostels (die woord beteken gestuurdes – die enigste keer wat Markus die woord vir die twaalf gebruik) kom terug en vertel Jesus alles wat hulle gedoen en ervaar het.  Jesus se reaksie is om hulle na ‘n stil plek te neem, nie net om weg van die skares en hulle eise te gaan rus nie, maar waarskynlik ook om met hulle die ervarings deur te gesels.  Die skare fnuik egter Sy planne en Hy kry die skape sonder herder innig jammer en begin hulle leer.  Markus vertel nie van ‘n Bergrede nie, maar dit sou goed op dié punt gepas het.

Die eerste vermeerdering van die brood vind dan plaas.  Let op hoe Jesus dit as ‘n geleentheid gebruik om hulle te leer.  Net tevore is Jaïrus se dogtertjie iets te ete gegee na sy uit die dood opgewek is.  Hier is die uitdaging veel groter.  Maar, Jesus leer hulle dat wat hulle ook al het, genoeg is om deur God gebruik te word in diens van ander.  Almal kry genoeg van die 5 brode en 2 vissies, sodat meer as 5000 mense gevoed word, en daar nog 12 mandjies (Jode het blykbaar baie keer kleinerige mandjies as ‘n soort handsak by hulle gehad om goed in te dra) oorbly.

Daar is ‘n groot ironiese kontras met die feesmaal van Herodes – daar het ‘n oorvloedige feesmaal op die dood van Johannes die Doper uitgeloop; hier het ‘n eenvoudige maal van brood en vis op ‘n wonderwerk van God uitgeloop.  ‘n Mens kan ook nie anders as om te dink aan die wyse waarop God in die woestyn vir sy volk gesorg het nie (Eks 16) en die latere koswonders van Elia (1 Kon 17) en Elisa (2 Kon 4).  Onthou ook die parallelle tussen Jesus se opwekking van Jaïrus se dogtertjie en die soortgelyke wonders van Elia en Elisa.

Jesus gaan dan die berg op om te bid, dit waarvoor Hy in die eerste plek gekom het, toe Hy sy dissipels na ‘n stil plek geneem het om te rus.  Weereens demonstreer Hy sy mag oor die wind en weer, as Hy teen dagbreek na hulle aangeloop kom op die see van Galilea, op pad na Betsaida.  In taal wat herinner aan God wat by Moses verbygaan (Eks 33:22) wil Jesus by hulle verbygaan, maar klim saam met hulle in die skuit om hulle gerus te stel: “Dit is Ek!”. Anders as met Moses kan hulle met God in verhouding staan en Hom van aangesig tot aangesig ervaar.  Tog verstaan hulle steeds nie wie Hy is en wat Hy kan doen nie, soos ook die vermeerdering van die brood die vorige aand vir hulle gewys het.  Hulle is in die binnekring, maar verstaan ironies genoeg nog steeds nie veel meer as die buitestaanders nie.

Matteus, Lukas en Johannes

Al vier evangelies vertel van hierdie terugtrek na ‘n stil plek, maar dat die skares hulle verras en Jesus hulle verder leer oor die koninkryk, en uiteindelik vir hulle kos voorsien.  Johannes noem die See van Galilea ook die See van Tiberias.  Die detail van Matteus en Lukas se verhaal oor die eerste vermeerdering van die brood kom in hoofsaak ooreen met Markus s’n.  Lukas vertel net van die groepe in 50 en nie van die groepe in 100 nie.  Net Markus en Matteus sal later ook van die tweede broodwonder vertel.

Johannes maak die gesprek van Jesus met die dissipels meer persoonlik, met Jesus wat spesifiek met Filippus en Andreas praat in die oploop na die wonderwerk.  Johannes sê ook duidelik dat Jesus dit doen om hulle iets van Homself te leer.  Die brode word as garsbrode geïdentifiseer, maar die res van die detail is dieselfde.  Net Johannes vertel ook van die nadraai van hierdie wonder, dat die mense Hom met geweld wil koning maak, maar dat Jesus nie daarvoor te vinde was nie.

Lukas vertel nie die verhaal van Jesus wat op die see loop nie.  Matteus brei uit op hierdie verhaal en vertel van die interaksie van Petrus met Jesus wat uitloop op Petrus wat self ook op die see loop, totdat hy te bang word en amper sink.  Dit lei tot ‘n gesprek oor hulle kleingeloof wat uitmond in ‘n belydenis dat Hy die Seun van God is. Johannes verskil oënskynlik van die ander evangelies, deurdat hy sê dat hulle na Kapernaum op pad was, en nie Betsaida soos uit die ander evangelies blyk nie.  As ‘n mens egter Markus 6:53 lees kom jy agter dat die wind hulle van koers af gedwing het en hulle by Gennesaret aan wal gegaan het, wat naby Kapernaum is.

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Herodes die Grote pleeg kindermoordDankie.
  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…