Skip to main content

Johannes 21:1–25 – Jesus leer Petrus om Hom te volg

RUS

  • Ek loof die Here vir Sy opstanding en Sy lewende teenwoordigheid wat my begelei deur die lewe.

HOOR

  • Ek lees die epiloog van die evangelie van Johannes.
  • Die volgende aspekte tref my:
Johannes sluit sy evangelie af met die beskrywing van die vierde verskyning van Jesus, hierdie keer aan die dissipels by die See van Tiberias.  Dit is die deel van die See van Galilea by die nuut-ontwikkelde dorpie Tiberias (in 22 nC gebou), dieselfde plek waar die broodvermeerdering plaasgevind het (Joh 6).  En weereens eet hulle brood en vis!

Drie episodes van dié dag se gebeure word vir ons vertel:

  • Die wonderlike visvangs – 21:1-14;
  • Petrus se hernude opdrag – 21:15-19;
  • Informasie oor Johannes – 21:20-25.

21:1-14: Ses dissipels gaan saam met Petrus visvang: Tomas (Didimus beteken tweeling), Natanael, Johannes en Jakobus (seuns van Sebedeus – Mark 1:19) en nog twee ander.  Dit wil lyk asof hulle oorweeg om hulle vorige beroep weer te volg – hulle volg die leiding van Petrus – al is dit darem min of meer op die plek waar Jesus gesê het hulle vir Hom moet wag (volgens Matt. 28:7; Mark. 16:7) .

Hoewel die nag die beste tyd vir visvang was, vang hulle egter niks nie.  Toe die vreemdeling – hulle herken Jesus aanvanklik nie – hulle die volgende dag die opdrag gee om aan die regterkant kant van die boot hulle nette uit te gooi, besluit hulle om sy raad te volg, en is die visvangs so groot dat hulle die nette nie weer terug kon kry in die boot nie, en dit in die water aan wal moes sleep.

Johannes besef dat hierdie wonder ‘n teken is dat dit Jesus is (dit is amper soos ‘n vis-vermeerdering na analogie van die brood-vermeerdering), sê dit vir die ander, maar bly in die boot sit op pad wal toe.  Petrus, getrou aan sy aard, trek egter sy klere aan, spring in die see en swem kant toe na Jesus toe.  Met moeite kry die ander disspels die vis aan wal, ‘n baie groot vangs.  Die presiese getal (153) word vertel om die werklikheid van die gebeure aan te dui, en is nie een of ander simboliese getal nie.

Jesus het reeds brood en ‘n stuk vis op die kole, en vra dat hulle nog van die visvangs bring om saam te eet.  Let op hoe Hy leiding neem en almal besef dat Hy die Here is.

21:15-19: Let op hoe Jesus vir Petrus nou op sy geboortenaam noem, Simon seun van Johannes.  Hy sluit dus aan by Petrus se oorspronklike roeping (Joh 1:42) en roep hom as’t ware by hernuwing.

Jesus herhaal sy vraag na Petrus se liefde driemaal, dieselfde getal as die kere toe Petrus Jesus verloën het.  Daarmee kry Petrus kans om sy vroeëre liefdesverklaring aan Jesus te herhaal en die gedagtenis van die verloëning uit te wis.

Johannes gebruik verder die Griekse woord agapân – ten spyte van liefde – met die eerste twee vrae van Jesus: “Het jy my lief?”  Petrus antwoord volgens Johannes deurgaans met die Griekse woord filein – vriendskapsliefde.  Met Jesus se laaste vraag, gebruik Johannes dieselfde woord vir liefde as Petrus, filein, waarmee Johannes eintlik aandui dat Jesus nie van Petrus meer verwag as wat hy kan gee nie.[1]

Let ook op dat Jesus aan Petrus ‘n herdersopdrag gee – laat my skape wei – waarmee Hy hom eintlik aanstel in Jesus se plek (Joh 10).  Dit is ook dié tipe opdrag wat elke ouderling en elke pastor van die Here ontvang het …  Kos vir Jesus se Kinders!

21:20-25: Dit lyk asof Jesus saam met die dissipels van die see af begin wegloop – Petrus is aan die voorpunt en draai om en sien Johannes in sy volgelingsposisie, net agter Jesus.  Praat van simboliek en van ‘n kenmerkende skets van die twee dissipels!

Petrus vra dan wat van Johannes gaan word, want onthou Jesus het so pas voorspel dat Petrus sal sterwe (sonder ‘n tydsaanduiding).  Jesus se antwoord lei tot verwarring onder die dissipels, wat Johannes noop om ‘n regstelling te gee.  Petrus en hulle moes eintlik net hoor dat hulle Jesus moet volg, soos Johannes die Here volg, en daarmee basta.  Die res van die uitkoms van hulle lewens is in Jesus se hande.

Johannes sluit af deur te sê, Sela, dit is nie alles wat ‘n mens sou kon skrywe oor Jesus nie, maar heeltemaal genoeg om in Hom te glo!  En dit is presies waartoe die evangelie ons wil bring!  Om in die lewende en teenwoordige Here Jesus te glo.

LEEF

  • God verwag nie van my meer as wat Hy my in staat stel om te doen nie.  Dit is natuurlik nie ‘n verskoning vir my om my sonde goed te praat of tevrede te wees met die tweede beste in my toewyding aan die Here nie.  Maar dit sê vir my net dat Jesus tevrede is met my, en dat Hy net van my vra wat Hy in die eerste plek gegee het.  Dit is ‘n groot troos en aansporing om Hom met alles wat in my is, te dien.
  • Ek loof die Here vir wat Hy my leer deur die lewe van Petrus.

[1] Terloops – sommige geleerdes dink dat daar min in hierdie verskillende Griekse woorde vir liefde gelees moet word, omdat Jesus en Petrus waarskynlik Aramees gepraat het, en daar nie só ‘n onderskeid in woorde in Aramees is nie.  Dit is waarskynlik so, maar Johannes se doelbewuste gebruik van hierdie twee Griekse woorde, is verseker betekenisvol.  Hy wou waarmee aandui dat Petrus nie oormoedig wou wees en soos tevore probeer aanspraak maak dat hy meer lief kan wees as wat hy kan nie.  En Johannes wou met die woorde wat hy in Jesus se mond lê, aandui dat Jesus sy tevredenheid met Petrus se vlak van liefde uitspreek.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Johannes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda