Johannes 21:1–25 – Jesus leer Petrus om Hom te volg
RUS
- Ek loof die Here vir Sy opstanding en Sy lewende teenwoordigheid wat my begelei deur die lewe.
HOOR
- Ek lees die epiloog van die evangelie van Johannes.
- Die volgende aspekte tref my:
Drie episodes van dié dag se gebeure word vir ons vertel:
- Die wonderlike visvangs – 21:1-14;
- Petrus se hernude opdrag – 21:15-19;
- Informasie oor Johannes – 21:20-25.
21:1-14: Ses dissipels gaan saam met Petrus visvang: Tomas (Didimus beteken tweeling), Natanael, Johannes en Jakobus (seuns van Sebedeus – Mark 1:19) en nog twee ander. Dit wil lyk asof hulle oorweeg om hulle vorige beroep weer te volg – hulle volg die leiding van Petrus – al is dit darem min of meer op die plek waar Jesus gesê het hulle vir Hom moet wag (volgens Matt. 28:7; Mark. 16:7) .
Hoewel die nag die beste tyd vir visvang was, vang hulle egter niks nie. Toe die vreemdeling – hulle herken Jesus aanvanklik nie – hulle die volgende dag die opdrag gee om aan die regterkant kant van die boot hulle nette uit te gooi, besluit hulle om sy raad te volg, en is die visvangs so groot dat hulle die nette nie weer terug kon kry in die boot nie, en dit in die water aan wal moes sleep.
Johannes besef dat hierdie wonder ‘n teken is dat dit Jesus is (dit is amper soos ‘n vis-vermeerdering na analogie van die brood-vermeerdering), sê dit vir die ander, maar bly in die boot sit op pad wal toe. Petrus, getrou aan sy aard, trek egter sy klere aan, spring in die see en swem kant toe na Jesus toe. Met moeite kry die ander disspels die vis aan wal, ‘n baie groot vangs. Die presiese getal (153) word vertel om die werklikheid van die gebeure aan te dui, en is nie een of ander simboliese getal nie.
Jesus het reeds brood en ‘n stuk vis op die kole, en vra dat hulle nog van die visvangs bring om saam te eet. Let op hoe Hy leiding neem en almal besef dat Hy die Here is.
21:15-19: Let op hoe Jesus vir Petrus nou op sy geboortenaam noem, Simon seun van Johannes. Hy sluit dus aan by Petrus se oorspronklike roeping (Joh 1:42) en roep hom as’t ware by hernuwing.
Jesus herhaal sy vraag na Petrus se liefde driemaal, dieselfde getal as die kere toe Petrus Jesus verloën het. Daarmee kry Petrus kans om sy vroeëre liefdesverklaring aan Jesus te herhaal en die gedagtenis van die verloëning uit te wis.
Johannes gebruik verder die Griekse woord agapân – ten spyte van liefde – met die eerste twee vrae van Jesus: “Het jy my lief?” Petrus antwoord volgens Johannes deurgaans met die Griekse woord filein – vriendskapsliefde. Met Jesus se laaste vraag, gebruik Johannes dieselfde woord vir liefde as Petrus, filein, waarmee Johannes eintlik aandui dat Jesus nie van Petrus meer verwag as wat hy kan gee nie.[1]
Let ook op dat Jesus aan Petrus ‘n herdersopdrag gee – laat my skape wei – waarmee Hy hom eintlik aanstel in Jesus se plek (Joh 10). Dit is ook dié tipe opdrag wat elke ouderling en elke pastor van die Here ontvang het … Kos vir Jesus se Kinders!
21:20-25: Dit lyk asof Jesus saam met die dissipels van die see af begin wegloop – Petrus is aan die voorpunt en draai om en sien Johannes in sy volgelingsposisie, net agter Jesus. Praat van simboliek en van ‘n kenmerkende skets van die twee dissipels!
Petrus vra dan wat van Johannes gaan word, want onthou Jesus het so pas voorspel dat Petrus sal sterwe (sonder ‘n tydsaanduiding). Jesus se antwoord lei tot verwarring onder die dissipels, wat Johannes noop om ‘n regstelling te gee. Petrus en hulle moes eintlik net hoor dat hulle Jesus moet volg, soos Johannes die Here volg, en daarmee basta. Die res van die uitkoms van hulle lewens is in Jesus se hande.
Johannes sluit af deur te sê, Sela, dit is nie alles wat ‘n mens sou kon skrywe oor Jesus nie, maar heeltemaal genoeg om in Hom te glo! En dit is presies waartoe die evangelie ons wil bring! Om in die lewende en teenwoordige Here Jesus te glo.
LEEF
- God verwag nie van my meer as wat Hy my in staat stel om te doen nie. Dit is natuurlik nie ‘n verskoning vir my om my sonde goed te praat of tevrede te wees met die tweede beste in my toewyding aan die Here nie. Maar dit sê vir my net dat Jesus tevrede is met my, en dat Hy net van my vra wat Hy in die eerste plek gegee het. Dit is ‘n groot troos en aansporing om Hom met alles wat in my is, te dien.
- Ek loof die Here vir wat Hy my leer deur die lewe van Petrus.
[1] Terloops – sommige geleerdes dink dat daar min in hierdie verskillende Griekse woorde vir liefde gelees moet word, omdat Jesus en Petrus waarskynlik Aramees gepraat het, en daar nie só ‘n onderskeid in woorde in Aramees is nie. Dit is waarskynlik so, maar Johannes se doelbewuste gebruik van hierdie twee Griekse woorde, is verseker betekenisvol. Hy wou waarmee aandui dat Petrus nie oormoedig wou wees en soos tevore probeer aanspraak maak dat hy meer lief kan wees as wat hy kan nie. En Johannes wou met die woorde wat hy in Jesus se mond lê, aandui dat Jesus sy tevredenheid met Petrus se vlak van liefde uitspreek.
View all posts in this series
- Die evangelie van Johannes – Bybelskool.com 20 April – 24 Mei 2011
- Die skrywer Johannes
- Die evangelie van Johannes – inleiding
- ’n Oorsig oor die evangelie van Johannes
- Die Woord van God het mens geword sodat ons in Jesus Christus kan glo
- Die stryd tussen lig en duisternis
- Johannes se prentjie van Jesus
- Jesus se Ek is-uitsprake
- Wonderwerke is tekens van God se werk
- Die Heilige Gees as die Parakleet
- Verhouding met die Sinoptiese evangelies
- Indeling
- Leesplan
- Nuttige boeke
- WEEK 1: 1:1-3:36
- Johannes 1:1–18 – Die genade en waarheid van Jesus sluit die lewe oop
- Johannes 1:19–51 – Oortuig deur die getuienis van die eerste dissipels
- Johannes 2:1–12 – Jesus bewys deernis sonder vertoon
- Johannes 2:13–22 – Die liefde vir U huis verteer my
- Die eiename JHWH en Jesus
- Johannes 2:23–3:36 – As iemand nie van bo-af gebore word nie
- WEEK 2: Johannes 4:1-8:11
- Johannes 4:1–42 – Die Samaritaanse vrou aanbid Jesus en bring ’n hele dorpie na Hom toe
- Johannes 4:43–5:47 – Lewe kom deur vertroue op God en ’n gehoorsame luister na sy woorde
- Johannes 6:1–71 – God gee geloof wat vir altyd hou
- Johannes 7:1–52 – Wie is Jesus vir jou?
- Johannes 7:53–8:11 – Ek veroordeel jou ook nie
- WEEK 3: Johannes 8:12-12:50
- Johannes 8:12-59 – Jesus is die lig vir die wêreld – en ek sy ligdraer
- Johannes 9:1–41 – Jesus maak ook my oë oop om Hom as Here raak te sien
- Johannes 10:1–42 – Die Goeie Herder se skape ken sy stem
- Johannes 11:1–54 – Ek is die opstanding en die lewe
- Johannes 11:55–12:50 – Die koringkorrel moet sterf om vrug te dra
- WEEK 4: Johannes 13:1-17:26
- Johannes 13:1–30 – Jesus was die voete van sy dissipels
- Johannes 13:31–14:31 – Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle lief gehad het
- Johannes 15:1–26 – Om Jesus te aanvaar en sy pad vir jou te omhels, is die lewe
- Johannes 16:1-33 – Die Heilige Gees is ons inspirasie
- Johannes 17:1–26 – Jesus bid passievol vir eenheid in Sy kerk
- WEEK 5: Johannes 18:1-21:25
- Johannes 18:1–40 – Jesus kies om die pad van die kruis te stap vir my
- Johannes 19:1-42 – Dit is volbring!
- Johannes 20:1–31 – Jesus staan op as die teenwoordige Here
- Jesus as die Seun van die mens EN die Seun van God
- Johannes 21:1–25 – Jesus leer Petrus om Hom te volg
- Terugblik op die lees van die evangelie van Johannes
- Johannes – Lees, luister, leef – ePub
- Sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie
- Johannes 15:12-17 – Wat ‘n Vriend het ons in Jesus
Tags: Johannes
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Chris, ja, daar is ‘n ooreenkoms met die finale oorlog, die Armageddon (Openb 16:16), aan die einde van die laaste dae, soos Johannes dit ook verder in Openbaring 20:8 vir ons beskryf. Hy gebruik ook die terme Gog en Magog soos Esegiël dit doen.
Chris Vermeulen
| #
Môre. Die vernietiging van Gog, is dit die “armaggedon” waarvan die Woord ons ook vertel? God bless!
Lerina
| #
Ek stem saam met Chris, ja mens moet daarna kyk in konteks en dus ook eintlik die hele 2 Kor 12 bestudeer. Wat my keer op keer opval wanneer ek mensies teëkom wat so onwaardig voel omdat hulle God voluit dien, die vrugte van die Gees uitleef en ‘n diep verhouding met die Vader het, en tog nie die gawe van tale ontvang het nie, is vanaf vers 7 – 11 … want aan EEN word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee … aan ‘N ANDER, ‘n woord van kennis, … aan ‘N ANDER geloof …. ens. ……. en dan vers 11 wat sê AL hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.
Glo my tale is belangrik, en moet verseker be-oefen word as dit jou gawe is. Ek is net so versigtig om dit as enigste kriteria te gebruik as teken van vervulling met die Heilige Gees.
Chris van Wyk
| #
Hi Roeleen. Die 1983 vertaling is nie baie helder nie. Hier is ‘n paar ander vertalings wat die betekenis van die Hebreeus beter weergee:
Dit beteken, die mens wat sy vreugde vind in die Woord van God vermy die weg van sondaars wat baie keer met geweld gepaard gaan. ‘n Goeie voorbeeld vind ‘n mens in die verhaal van Dawid wat deur Abigail gekeer word om met geweld teen Nabal op te tree (1 Samuel 25:2-38). Baldwin dink in sy kommentaar dat dié verhaal moontlik die agtergrond vorm van Dawid se Psalm 17.
Roeleen Nel
| #
Help my asb met Ps 17 vers 14 in 1983 vertaling. Ek stoei met daardie vers.
Chris van Wyk
| #
Hi Lou. Die eerste twee gebooie probeer op omvattende wyse enigiets afraai wat in die plek van of naas God aanbid word. Dit is gemik teen die aanbidding van ‘n ander god in die plek van God. Dit is ook gemik teen die aanbidding van ‘n ander langsaan God. Dit wil sê dat jy jou brood aan twee kante gebotter wil hê.
Hier is wat ek vroeër daaroor geskrywe het:
Eerste gebod – geen ander gode
Die eerste gebod in Eks. 20:3 (Deut. 5:7) is die verbod op ander gode. Dit beteken dat God niemand duld wat langs Hom aanbid en vereer word nie. Alle afgodery word dus daarmee verbied. Die Here verwag dat daar net met Hom as die ware God in ‘n verhouding getree mag word. Sy weë moet ten alle koste leer ken word, want dit is net Hy alleen wat vertrou kan word met die lewe. Daarom moet die Godsvolk Hom met hulle hele hart liefhê, vrees en eer, soos die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 94 dit uitlê.
Dieselfde waarskuwing word reg deur die NT gevind (1 Tes. 1:9; Gal. 4:8; Rom. 1:23; 2 Kor. 6:16; Openb. 9:20), onder andere met betrekking tot die eet van afgodsoffers (Hand. 15:20,29; 1 Kor. 8:7; 10:7; 12:2; Openb. 2:20). Afgodery word ook regdeur die NT verbind aan moreel-etiese sake, soos bv. die verbod op losbandigheid en gierigheid (Ef. 5:5) sowel as vraatsug (Fil. 3:19). Sorg moet ook gedra word dat daar nie hoog opgegee word oor die afsku aan afgode, maar tog deelgeneem word aan ‘n onwettige berowing van heidense tempels vir eie gewin nie (Rom. 2:22).
Dit is interessant hoe Johannes in sy briewe ook dié wet as waarskuwing inspan vir gelowiges van die NT (1 Joh. 5:21). Johannes gee drie motiverings daarvoor. Die eerste motivering is dat: “ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken.” In Jesus kan ons dus die ware God van die afgode onderskei. Die tweede motivering is dat: “ons in die ware God is, in sy Seun, Jesus Christus.” Ons hele lewe word deur God bepaal, dié God wat ons in sy Seun, Jesus Christus, leer ken het. Die derde motivering is dat: “Hy die ware God is en die ewige lewe.” Daar is niemand anders as God nie, en deur Hom het ons toegang tot die ewige lewe. Daarom sê Johannes: “Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af.”
Tweede gebod – geen afbeelding van God mag aanbid word nie
Die tweede gebod in Eks. 20:5 (Deut. 5:8-10) verbied die maak van enige afbeelding van God wat aanbid of vereer word. Hy is ‘n jaloerse God wat onverdeelde trou aan Hom van sy mense eis. Gehoorsaamheid sal geseën word, en ongehoorsaamheid gestraf word. Die uitwerking daarvan sal in die geslagte gesien kan word.
Dieselfde waarskuwing word ook in die NT gevind. in Jakobus 4:5 wy hy uit oor God wat onverdeelde trou van ons vra en begrond dit op ‘n verwysing na die skeppingsverhaal dat God: “die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê”.
Dieselfde geld Paulus in Romeine 1:23 waar die problematiek van afgodery uitgespel word dat: “beelde wat lyk soos ’n verganklike mens of soos voëls of diere of slange”, d.w.s. afgode: “in die plek van die heerlikheid van die onverganklike God” gestel en aanbid word. Dit is: “bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding”, soos Paulus op die Areopagus sê (Hand. 17:29).
Lees meer hier:
Lou Pistorius
| #
Ek sit nou die dag weer en wonder hoekom die eerste twee gebooie aparte gebooie is – eintlik is dit tog maar dieselfde? Is daar nie erens ‘n vermiste tiende gebod nie?
Chris van Wyk
| #
Hi Awie. Ek sal later weer antwoord as ons daar kom. Weereens ‘n lusmaker:
Jesus praat waarskynlik in Lukas 6:29 van mense wat jou haat en beledig. Vir hulle moet jy ook jou ander wang aanbied (gee). Dit dui moontlik op mense wat jou publiek verwerp of verneder. Jesus bedoel dan waarskynlik dat ‘n mens nie moet ophou om uit te reik na sulke mense nie. Jy stel jou dus bloot aan verdere verwerping deur “die ander wang” aan te bied.
Jesus praat duidelik in Matteus 5:39 van kwaadwillige mense. Dit is mense wat jou met die agterkant van die regterhand op die regterwang slaan. Die toppunt van minagting en mishandeling. Teenoor sulke mense, sê Jesus, moet jy jou nie verset nie. As hulle jou op die regterwang slaan, moet jy ook die ander wang na hulle toe draai.
Hoekom? Want Jesus wil ten diepste hê dat vyande in vriende verander sal word. Dit beteken dat gelowiges die risiko sal moet neem om verder te ly onder kwaadwilligheid ter wille van die uitreik na sulke mense. Vergelding sal verwydering bring. Verdraagsaamheid kan van vyande vriende maak.
Dit maak nog meer sin in die konteks wat ‘n mens in Matteus raaksien, dié van geregtelike aksies. Jesus is hier duidelik meer begaan oor litigasie, mense wat gelowiges hof toe sleep (vgl vers 40), as oor die moontlikheid van fisieke geweld of publieke verwerping, soos dit wel die geval is in sy uitsprake in Lukas.
Gelowiges wat op Jesus vertrou, sal bereid wees om hulle persoonlike regte te laat vaar ter wille van die impak van die evangelie. Die doel is heling en versoening.
Soos Paulus ook later skryf in 1 Korintiërs 6. Ly liewer persoonlik onreg in die gemeenskap ter wille van die evangelie. Moenie die hof opsoek om verskille uit te sorteer nie.
Dit beteken egter vir seker nie dat ‘n mens daarmee ‘n lamsak of ‘n slaansak word nie. Paulus het telkens wanneer die owerhede of Joodse Raad betrokke geraak het, gestaan op die regte wat die regstelsel aan burgers verleen het (Hand 16:37; 22:25; 25:8-12). Dieselfde voorrreg geld ook vir ons vandag.
Awie Coetsee
| #
Baie dankie vir u verklaring dit maak sin.maar dit is vreemd dat Jesu vroer gese het dat jy die ander wang moet draai
Chris van Wyk
| #
Hi Jenny. ‘n Kort antwoord:
Die probleem met dobbel is dat dit ‘n gierigheid verraai en voed in ‘n mens se hart. ‘n Begeerte aan meer as wat jy het. En dit is ‘n onversadigbare monster. Dit illustreer nie net dat jy ontevrede is met wat jy het nie, maar kan jou nog meer ontevrede maak as jy verder en verder daarin ingetrek word. Daarmee oortree ‘n mens die tiende gebod (Eks 20:17).
Daarom sê die Hebreërskrywer: “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” (Hebr 13:5).
Dobberl dwarsbooom ook die Bybelse opdrag om in jou eie behoeftes te voorsien deur eerlike werk en het baie keer ‘n destruktiewe uitwerking op die mense rondom jou, veral as suurverdiende geld daardeur verloor word en families daaronder ly.