Johannes 6:1–71 – God gee geloof wat vir altyd hou

RUS

  • Ek het vandag ’n behoefte aan God se vrede wat alle verstand te bowe gaan en ek vra die Here daarvoor.

HOOR

  • Ek lees die Skrifgedeelte en hier is wat my getref het:

’n Mens sien in hoofstuk 6-7 hoe ’n digte verhaal Johannes vir ons vertel – alles het met alles te make.  Die verhaallyn is as volg:

  • Jesus doen die broodwonder wat Sy gestuurdheid en goddelikheid bevestig – 6:1-15.
  • Jesus loop op die see wat ’n opening skep om verder met die skare oor die betekenis van die broodwonder te kan gesels – 6:16-21.
  • Jesus verduidelik dat Hy die brood van die lewe is en dat mense op Hom moet fokus – 6:22-40.
  • Die Jode verstaan nie Jesus se woord nie, al openbaar Jesus iets meer oor die kruis wat in die toekoms vir Hom voorlê – 6:41-59.
  • Selfs onder Jesus se dissipels is daar mense wat nie glo nie – 6:60-71.
  • Jesus se broers vind dit ook moeilik om in Hom te glo 7:1-9.
  • Jesus leer die mense by die huttefees dat Hy die Christus is, dat Hy moet ly, maar die Gees sal gee vir elkeen wat in Hom glo – 7:10-39.
  • Dit lei tot verdere meningsverskil oor Jesus en ongeloof by die Joodse leiers – 7:40-52.

6:1-15: Die verhaal van die broodvermeerdering word in al die evangelies vertel, wat aandui dat dit ’n belangrike perspektief op Jesus se bediening gee (Matt 14:13–21; Mark 6:30–44; Luk 9:10–17), soos Jesus inderdaad die volgende dag uitspel. Dit vind plaas net voor ‘n Paasfees aan die oorkant van die See van Galilea (by Tiberias – die dorpie is in 22 nC gebou en het mettertyd die naam geword waarmee die meer benoem is: See van Tiberias).

Die groot gevolg wat agter Jesus aankom, is veral daar omdat hulle die wondertekens gesien het.  Onthou egter wat in 2:23-25 al gesê is:  Jesus “verlaat” Hom nie op mense wat in Hom glo, omdat hulle die wondertekens gesien het nie.  In vers 66 sien ’n mens dat hierdie selfde volgelinge Hom verlaat omdat volgelingskap te veel van hulle vra.  Jesus verlaat Hom dus nie op hulle nie, want Hy weet dat hulle ’n geloof het wat uit hulleself kom, iets wat altyd die potensiaal het om tot niet te gaan.  Dit is net die geloof wat God gee, wat vir altyd hou, soos reeds in die gesprek met Nikodemus aangeroer is.

Let op die verskillende reaksies van die dissipels op Jesus se versoek dat hulle die menigte kos gee.  Filippus gooi hande in die lug, maar Andreas bring wat daar is, hoewel hyself nie regtig weet hoe dit so baie mense kos gaan gee nie.  Maar dit is presies waarmee Jesus dan werk, met daardie seuntjie se 5 garsbroodjies en 2 vissies om die wonder van die broodvermeerdering te laat gebeur.

Jesus voorsien hier aan die menigte kos, soos wat God dit in die woestyn gedoen het met die manna (Eks 16:4; Ps 78:24; 105:40 – vgl vers 30 vv) en die kwartels (Eks 16:13), wat sy goddelikheid bewys – die skare weet nou dat Hy die Profeet is, die Een wat na die wêreld toe moes kom (:14).  Daarom word dit ook ’n wonderteken genoem.  Daar bly ook 12 mandjies oor wat die oorvloed waarmee God mense seën simboliseer.

Die skare se aandrang om Hom direk daar en dan met geweld koning te maak, laat Hom verder op met die berg klim, om hulle wondergeloof te laat afkoel, en moontlik die gebeure te deurdink – alleen.

6:16-21: Die dissipels keer terug na Kapernaum en beleef ’n verdere wonder dat hulle in die onstuimige see vir Jesus na hulle toe sien aangeloop kom op die water.  Hulle vrees word deur Hom besweer en hulle kom saam aan die oorkant aan.  Dié wonder word as een van die sewe gereken, hoewel die woord wonderteken nie hier voorkom nie.

6:22-40: Dit word egter duidelik deur die skare as ’n wonder ervaar – om die waarheid te sê, dit is waarskynlik presies ter wille van hulle wat die wonderteken gedoen is, sodat Jesus met hulle verder kon gesels oor die betekenis van die wonder van die broodvermeerdering, soos Hy dan inderdaad ook doen.

Jesus wys hulle dan daarop dat hulle die gevaar loop om HOM te mis deurdat hulle fokus op die brood wat hulle honger gestil het, dws die wonderteken as sodanig en nie dit waarna die wonderteken verwys nie. Hulle moet eerder fokus op die Wonderdoener, Jesus, en in Hom glo, want Hy kan vir hulle ewige lewe gee, Hy is die Brood wat lewe gee.  Daardeur bekom hulle die ewige lewe met die laaste dag se opstanding.

6:41-59: Let op hoe die Jode (op die sabbatdag in die sinagoge in Kapernaum – vers 59) nie die verband getrek kry tussen Jesus se aardse en sy hemelse afkoms nie, soos Nikodemus vroeër.  Jesus haal dan uit Jesaja 54:13 aan dat hulle dit net sal kan begryp as hulle dit deur God geleer word.

Die Jode wys hulle weerstand teen God se lering deur konsekwent Jesus se lering mis te verstaan.  Dit terwyl Jesus hier eintlik oop kaarte met hulle speel en van sy naderende dood in terme van sy liggaam en sy bloed te praat, die tekens van die nagmaal (onthou, Johannes vertel nie vir ons van die “laaste avondmaal” nie, net van die voetewas-episode in Joh 13).

Dit is dié wat die betekenis daarvan begryp en omhels, wat inderdaad in God is en ervaar dat God in hulle bly (dinge waaroor Jesus verder sal uitbrei in sy onderrig aan sy dissipels in hoofstukke 14-17).

6:60-71: Die Jode is egter nie die enigste wat moeite het met hierdie woorde van Jesus nie.  ’n Hele paar van sy dissipels het hieroor gemor.  Interessant dat Jesus reageer deur van nog dieper dinge te gesels, sy Hemelvaart en per implikasie van die uitstorting van die Heilige Gees.  Die punt wat Hy maak is egter steeds, jy sal dié dinge nie verstaan as Godself dit nie vir jou duidelik maak nie.

Die gevolg is dat ’n hele paar van die dissipels Hom op hierdie punt verlaat – behalwe die twaalf , waarvan Jesus geweet het dat een Hom nog sou verraai, Judas, die seun van Somon Iskariot.  Geloof is inderdaad ’n geskenk wat God gee!

LEEF

  • Die vraag is seker vir vandag: hoe weet ek dat ek ’n geloof het wat God gegee het?  ’n Baie belangrike vraag!
  • Die antwoord lê in die paradoks van vers 35 en 65: “Wie na My toe kom … niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.”
  • Geloof lê aan die een kant in die keuse wat ek vir Jesus maak … EN aan die ander kant getuig my keuse van die geloof wat God vir my gegee het.  Ek glo, omdat God geloof vir my gegee het.
  • Albei kante van die paradoks is nodig, maar God se kant van die paradoks is die primêre oorsaak van die geloof wat ek in myself ervaar.  Daarom kan ek God net dank vir geloof, en nie daarop roem nie, asof ek beter is as hierdie Jode of dissipels nie.
  • Geloof is om vas te gryp aan God, al kan jy niks daarmee verdien en niks daarmee regkry nie … maar vertrou dat God dit kan gebruik, God dit waar kan maak.  Soos ’n Petrus: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”
  • Ek dank die Here dat Hy my keuse vir Hom aanvaar het, en ek daaruit kon agterkom, dit is al die tyd HÝ wat my na Hom toe getrek het.
View all posts in this series

Johannes


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

    • Ons weet nie die naam van die berg (of heuwel) nie, maar dit was aan die oostekant van die See van Galilea (ook genoem die See van Tiberias), in ‘n deel wat vandag as die Golan Hoogtes bekend staan.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: