Skip to main content

Johannes 8:12-59 – Jesus is die lig vir die wêreld – en ek sy ligdraer

RUS

  • Ek ervaar tans ’n nuwe passie vir die lewe – so bietjie vakansie gehou.
  • Ek dank die Here daarvoor.

HOOR

  • Ek lees hoofstuk 8.  Die volgende aspekte tref my daarin:
8:12-20: Dit wil voorkom asof Jesus steeds by die huttefees is (of dat dit so pas verby is) en spesifiek praat in die vertrek waar die offergawekiste gestaan het (vers 20).  Daar was blykbaar 13 van die kiste en die vertrek het ook as die voorhof van die vroue bekend gestaan (dit was die plek waar die weduwee haar gawe gaan ingooi het – Luk 21).

Interessant genoeg was dit die gebruik aan die begin van die huttefees om kandelare of kerse in dié voorhof aan te steek.  Dat Jesus Homself nou as die Lig vir die wêreld bekend maak – iets wat Johannes natuurlik alreeds in sy proloog in hoofstuk 1 oor Jesus gesê het – is baie betekenisvol.  Dit laat ’n mens ook dink aan die vuurkolom wat in die woestyn God se teenwoordigheid by die volk was (Eks 13:21).

Jesus gebruik dus die hele tyd relevante en bekende aansluitingspunte om sy boodskap met oortuiging aan die mense te bring, beide uit die skat van die OT, en die feeste waarby Hy teenwoordig was.

En Hy doen dit nie in die geheim nie.  Hierdie voorhof was ook baie naby aan die Joodse Raadsaal, met wie se lede Hy nou hierna in gesprek tree.  Selfs die Fariseërs word dus by hierdie gesprekke ingesluit.  En ’n mens kan sien dat Hy regtig baie moeite gedoen het om hulle te oortuig, al moes hy later erken: “Waarom praat Ek eintlik nog met julle?” (vers 25).

Let op hoe Jesus hier melding maak van Sy Vader se getuienis oor Hom as Gestuurde.  Maar dit is iets wat ’n mens nie met “van onder” denke kan verstaan nie.  Jy het God se verligting “van bo”  nodig wat spesifiek deur die kruisdood van Sy Seun hulle oë sal oopmaak (vers 28).

8:21-30: Die  Jode probeer sin maak uit Jesus se woorde, maar kry dit nie reg nie.  Hulle misverstaan Hom oor omtrent alles – sy voorspelling van sy “weggaan” word bv deur hulle as selfmoord geïnterpreteer.  Jesus vertolk dit as ’n bewys van hulle wêreldsheid.  Hulle geestelike oë is blind.  Dat daar tussen-in wel mense is wat tot geloof kom (vers 30), val op, om net in die volgende deel te sien, dat dié geloof nie baie standvastig was nie.

8:31-47: Let op hoe Jesus die konsekwensies van geloof uitspel, en dan daarvoor verkwalik word.  Dit bewys natuurlik dat die geloof nie baie standvastig is nie, omdat iemand wat aan God behoort, luister na sy woorde, selfs al sny dit diep in ’n mens se lewe in.

Getrouheid aan Jesus se woorde is die uitstaande kenmerk van ’n dissipel van Jesus.  Dit sluit die waarheid vir hulle oop, en dié waarheid maak hulle vry.  Wie ’n kind van God is, luister na die woorde van God in Jesus – en word natuurlik self ’n ligdraer (Fil 2:14-15).

Die Jode misverstaan ook hierdie woorde van Jesus deur dit op ’n letterlike vlak te interpreteer en nie die geestelike betekenis van Jesus se woorde ter harte te neem nie.  Jesus wys egter duidelik vir hulle uit dat hulle gewilligheid om Hom dood te maak, bewys dat Sy woorde nie ingang in hulle vind nie, en dat hulle nie God as Vader het nie.  Om die waarheid te sê, hulle kán nie na Jesus luister nie, omdat hulle die duiwel as vader het – in die sin dat hulle doen wat hy doen: hulle praat leuentaal en beplan Sy dood, soos die duiwel dit doen.

8:48-59: Let op hoe die Jode Jesus se woorde omdraai en teen Hom gebruik – Hy is kwansuis nou van die duiwel besete!  En let ook op hoe hulle waarskynlik na sy gesprek met die Samaritaanse vrou verwys, om te wil beweer dat Hy self ’n Samaritaan is, en dus van onsuiwer afkoms en godsdiens.  Die Samaritane was juis in konflik met die Jode oor die stamvader Abraham, wat hulle ook vir hulleself toegeëien het, iets wat die Jode teen die bors gestuit het.  Hulle het hulleself as die enigste ware afstammelinge van Abraham beskou (wat die radikaliteit van Paulus se aanspraak in perspektief plaas, as hy in Gal 3:29 sê dat gelowiges nou ook kinders van Abraham is!).

Jesus troef hulle egter met sy verwysing na sy eerlike soeke na die Vader se eer, en maak ’n verdere openbaring van Homself, dat Hy voordat Abraham gebore was, al was wat Hy is, ’n duidelike toespeling op die uitspraak van God self aan Moses in die woestyn: “Ek is wat Ek is” (Eks 3:14).  En in die volgende hoofstuk laat Hy ’n blinde man weer sien om sy openbaring van Homself te bevestig: “Ek is die lig vir die wêreld.”

LEEF

  • Dit tref my hoe Jesus Homself as die lig bekendstel, hoe dit aanhak by die OT vuurkolom, by die gebruik om ligte by die huttefees aan te steek, en uiteindelik ook ons missie word, om ligdraers in hierdie wêreld te wees (Fil 2). En dit tref my dat lig net nodig is waar daar duisternis is.  Duisternis moet ons nie afskrik nie, maar aantrek, sodat ons lig daar kan skyn en verligting, God se lig, kan bring.  Dit is ons missie in die lewe – om ligdraers vir Jesus te wees.
  • Ek antwoord die Here deur my aan Hom toe te wy en te bid dat my lewe iets van Sy lig aan mense sal vertoon.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Johannes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.