Johannes 11:1–54 – Ek is die opstanding en die lewe
RUS
- Ek het behoefte aan tot rus kom in my gemoed en bring my begeertes na die Here sodat Hy vrede in my hart en gedagtes kan bring.
HOOR
- Ek lees hierdie pragtige Skrifgedeelte, terwyl ek self ook nadink oor die verlies van my pa die afgelope naweek. Die volgende aspekte in die verhaal van Lasarus tref my:
11:1-16: Jesus ontvang berig dat Lasarus, broer van sy goeie vriende, Maria (die een wat Jesus se voete gesalf het, soos ons verder aan sal hoor in hoofstuk 12 – dit is waarskynlik nie dieselfde persoon as die vrou in Luk. 7:37–38 nie) en Marta, siek is, vriende vir wie Hy liefgehad het. Let op dat sy heel eerste reaksie eintlik die uitkoms van die verhaal antisipeer: hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar God se wonderbaarlike mag openbaar (vers 4).
Daarom vertoef Jesus nog twee dae voordat Hy en sy dissipels na Betanië, die dorpie net langs Jerusalem, vertrek. Nie omdat Hy traag was nie, maar omdat Hy oortuig was van God se mag, en dit tot versterking van die dissipels se geloof wou ten toon stel (vers 15).
Maar as Hy uiteindelik tog die pad vat na Betanië toe, dan kom ’n mens agter dat die dissipels glad nie lus is vir die reis nie. Hulle is intens bewus van die feit dat die spanning tussen Jesus en die Joodse leiers van Jerusalem teen hierdie tyd al breekpunt bereik het. ’n Paar dae terug wou die Jode Jesus in Jerusalem stenig (Joh 9 – vers 8). En dié dat hulle oorkant die Jordaan gaan vertoef het, die plek waar Johannes die Doper gedoop het.
Tomas veral is baie moedeloos met dié terugreis – en is nie lus om weer deel van die konflik situasie te raak nie. Betanië was net te naby aan Jerusalem vir sy gevoel.
11:17-32: Let op dat Marta hier die voortou neem in die gesprek met Jesus en dat sy haar onverskrokke geloof in Jesus bely. Selfs al is Lasarus dood, sal God vir Jesus alles gee wat Hy vra. Jesus lei haar dieper in haar eie belydenis van die opstanding in, en help haar (en ons) verstaan dat die opstanding nie net iets vir die einde van die tyd is nie. Om Jesus te ken, is alreeds om ’n geestelike herlewing, ’n geestelike opstanding te beleef, want Hy is die opstanding en die lewe.
En dit is ’n ongelooflike belangrike belydenis, want dit beteken dat die dood geen mag oor ons het nie, al sterf ons ook – vir my ’n groot troos as ek aan my pa se onlangse dood dink.
Let op hoe sy nou haar suster Maria gaan haal, en Jesus die Leermeester noem – sy het so pas haar eie aan-die-voete-van-Jesus sessie belewe (soos Maria in Luk 10:39). Maria tree nie regtig in gesprek met Jesus soos Marta nie, maar spreek net haar gedwarsboomde verwagting uit – as Jesus daar was, sou Lasarus nie gesterf het nie.
11:33-44: Jesus het ongelooflike deernis met haar en die hele situasie – om God se wonderbaarlike mag te sien, het hier ingesluit dat die familie die pyn van die dood moes deurworstel, voordat Lasarus uit die dood opgewek is. Daarom huil Hy en begin die proses om by die graf te kom, en die klip weggerol te kry, al waarsku Marta Hom dat die lyk al ruik.
Hy herinner haar aan die lering wat Hy so pas vir haar gegee het – wat ook aanpas by wat Hy reg aan die begin van die verhaal al gesê het – God se mag gaan geopenbaar word. En roep dan vir Lasarus uit die graf uit en wek hom op. Hiermee skep Hy natuurlik ook die verwagting van Sy eie opwekking uit die dood wat later in die verhaal aan die beurt kom.
Hy huil dus ook nie net omdat Hy met hulle meegevoel het nie. Jan du Rand sê Jesus se hartseer strek verder as net ’n meelewing met Lasarus se dood. Jesus staan voor die dood as manifestasie van die mag van die Bose en weldra moet Hy met sy eie lewe die hoogste offer betaal om juis die mag van die lig te laat seëvier oor die Bose.
Jesus huil dus ook oor sy eie naderende dood. Hy weet Hy kan en gaan Lasarus opwek. Hy weet Hy self gaan opgewek word uit die dood. Maar Hy sal eers self die pyn van die dood moet ervaar. Hy kan dit nie systap nie.
En daar is waarskynlik nog ’n rede. Hy weet ook dat Hy Lasarus kan en gaan opwek, maar dat dit nie vir ewig kon wees nie, ten minste nie toe nie. Die dood sou eers volledig oorwin word met sy eie dood en opstanding en finaal met die wederkoms wanneer dit ook vir alle gelowiges ’n werklikheid sal word.
Lasarus sou dus weer sterf, en eers aan die einde van die tyd die finale opwekking beleef. Trouens, ons lees na sy opwekking, dat die Jode besluit om hom dood te maak (12:10), omdat daar so baie oor sy opwekking gesels is, en dit so baie mense in Jesus laat glo het. Jesus weet dit, en Hy huil oor die verydeling en die verganklikheid, en weet dat Sy wonderwerk dit nie kan uitwis nie … nie toe nie.
Sy opwekking sou dus net ’n teken wees van God se mag, ’n teken wat wel wonderlik goed sou wees, maar Lasarus nie van alle smart en pyn kon bewaar nie, ook nie dié wat die Jode vir hom hierna beplan nie.
11:45-54: Die wonderteken, die laaste in die reeks van sewe, bring nog eens baie Jode tot geloof in Hom. Maar soos die patroon in Johannes se evangelie is, sommige kan dit net nie meer hou nie, en die teenstand teen Hom begin ’n amptelike karakter kry, met die Joodse Raad wat bymekaar kom om Sy gewildheid te bespreek en planne daarteen te beraam.
Dit lei tot ’n onwetende profesie deur die hoëpriester: dit is voordelig dat een man sterwe, eerder as ’n hele volk. Daar was ’n groot bekommernis dat Jesus se groeiende bekendheid die Jode in onguns by die Romeine sou bring, en daarom die besluit om Hom stil te maak, deur Hom dood te maak.
Jesus onttrek Hom dan aan die konflik na Efraim in die woestyn, totdat Hy gereed was om die pad na Jerusalem te neem vir laaste Paasfees en sy lydenspad aan die kruis.
LEEF
- Hoofstuk 11 is vir my ’n besondere kykie in die openbaring van die wese van God. Johannes kyk hier nie vanuit die hoogtepunte van die lewe na God nie, maar vanuit die laagtepunte, vanuit die hartseer van ’n Marta en Maria oor hulle broer Lasarus se dood. En sê, God gee om. Dit is ’n geweldige troos, veral ook omdat Jesus sê dat ’n verhouding met Hom is die opstanding en is die lewe.
- Ek bely my geloof in Jesus as die opstanding en die lewe.
Wat kan ons van God verwag?
’n Laaste paar gedagtes: Wat kan ons van God verwag na aanleiding van dié gedeelte?
Hier is vier aspekte wat ek onlangs in ’n preek hieroor beklemtoon het:
1. Dat Hy ons in ons geloof sal bevestig en versterk. Daar is ’n tipe geloof wat nodig is vir ons waar ’n mens vashou sonder dat jy sien. Hebreërs 11 praat van mense wat gekry het waarop hulle hul geloof gerig het – en dit is fantasties. EN hy praat van mense wat nie gekry het waarop hulle hul geloof gerig het nie – en dit is ook fantasties. Albei dié groepe gelowiges word geprys en as helde van die geloof vereer. Hoekom? Nogtans sal ek jubel … sê Habakuk. Dit is hoe God lief het, nogtans sal Ek jubel oor jou, al is jy van klei aan mekaar gesit. Dit is hoe ons God lief het, al is ons wie ons is, en al gebeur wat ook al. Dit is ’n keuse wat gemaak word, al gaan alles verkeerd. Dit is die tipe geloof van ’n Daniël in die oond van vuur – my God kan my uit hierdie oond red, selfs al sou Hy nie, sal ek steeds aan Hom bly vasklou. Hoekom? Want Hy is die moeite werd om te vertrou.
2. Dat Hy saam met ons huil. Ek weet nie hoe dit jou raak nie, maar dit is vir my miskien die grootste troos, dat Jesus nie onaangeraak is deur die dinge wat my seermaak of my hartseer maak nie. Wanneer ek op my tande wil kners oor dinge wat verkeerd is, as ek uiters gefrustreerd raak met dinge wat nie reg uitwerk nie, as ek moedeloos raak oor my beste bedoelings en pogings nie goed genoeg is nie, as ek my hare uit my kop wil trek, as ek self nie regkry wat ek so hard probeer doen nie, wanneer ek wil veg met ander of wanneer ek wil vlug van myself – dan is Hy daar en wéét Hy wat ek voel en wat ek dink en hóé dit voel en hóé dit ’n mens raak. En dit is eintlik al genoeg – dit is asof my binneste tot rus kom as ek weet dat Hy weet.
3. Dat Hy vir ons wonders kan doen. God dank! Hy doen vandag nog wonders! Maar onthou, dit is nie voor die voet nie. Dit is sodat sy mag en sy heerlikheid in hierdie wêreld onderstreep kan word. Daarom dat ons nie kan voorskryf nie, en nie kan verwyt nie. Maar kan vra … en kan weet sy vrede sal ons harte en sinne bewaar in Christus Jesus soos Filippense 4 vir ons sê. Dit moet ons nie angstig maak nie – ons mag vra … maar ook nie arrogant maak nie – God antwoord soos Hy wil.
4. Dat Hy vir ons lewe gee. Dit is die hele idee van ’n Goeie Herder, Een wat weet wat sy skape nodig het EN daarin voorsien. Ek het gekom dat julle die lewe sal hê en dit in oorvloed (10:10). En dit is so wonderlik, as ek Filippense 4 weer kan intrek hier: dink aan alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is, watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – bring dit voor die Here en vra vir die oorvloed van lewe wat Hy belowe. En Hy sal dit gee op maniere wat jou verstand te bowe sal gaan.
View all posts in this series
- Die evangelie van Johannes – Bybelskool.com 20 April – 24 Mei 2011
- Die skrywer Johannes
- Die evangelie van Johannes – inleiding
- ’n Oorsig oor die evangelie van Johannes
- Die Woord van God het mens geword sodat ons in Jesus Christus kan glo
- Die stryd tussen lig en duisternis
- Johannes se prentjie van Jesus
- Jesus se Ek is-uitsprake
- Wonderwerke is tekens van God se werk
- Die Heilige Gees as die Parakleet
- Verhouding met die Sinoptiese evangelies
- Indeling
- Leesplan
- Nuttige boeke
- WEEK 1: 1:1-3:36
- Johannes 1:1–18 – Die genade en waarheid van Jesus sluit die lewe oop
- Johannes 1:19–51 – Oortuig deur die getuienis van die eerste dissipels
- Johannes 2:1–12 – Jesus bewys deernis sonder vertoon
- Johannes 2:13–22 – Die liefde vir U huis verteer my
- Die eiename JHWH en Jesus
- Johannes 2:23–3:36 – As iemand nie van bo-af gebore word nie
- WEEK 2: Johannes 4:1-8:11
- Johannes 4:1–42 – Die Samaritaanse vrou aanbid Jesus en bring ’n hele dorpie na Hom toe
- Johannes 4:43–5:47 – Lewe kom deur vertroue op God en ’n gehoorsame luister na sy woorde
- Johannes 6:1–71 – God gee geloof wat vir altyd hou
- Johannes 7:1–52 – Wie is Jesus vir jou?
- Johannes 7:53–8:11 – Ek veroordeel jou ook nie
- WEEK 3: Johannes 8:12-12:50
- Johannes 8:12-59 – Jesus is die lig vir die wêreld – en ek sy ligdraer
- Johannes 9:1–41 – Jesus maak ook my oë oop om Hom as Here raak te sien
- Johannes 10:1–42 – Die Goeie Herder se skape ken sy stem
- Johannes 11:1–54 – Ek is die opstanding en die lewe
- Johannes 11:55–12:50 – Die koringkorrel moet sterf om vrug te dra
- WEEK 4: Johannes 13:1-17:26
- Johannes 13:1–30 – Jesus was die voete van sy dissipels
- Johannes 13:31–14:31 – Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle lief gehad het
- Johannes 15:1–26 – Om Jesus te aanvaar en sy pad vir jou te omhels, is die lewe
- Johannes 16:1-33 – Die Heilige Gees is ons inspirasie
- Johannes 17:1–26 – Jesus bid passievol vir eenheid in Sy kerk
- WEEK 5: Johannes 18:1-21:25
- Johannes 18:1–40 – Jesus kies om die pad van die kruis te stap vir my
- Johannes 19:1-42 – Dit is volbring!
- Johannes 20:1–31 – Jesus staan op as die teenwoordige Here
- Jesus as die Seun van die mens EN die Seun van God
- Johannes 21:1–25 – Jesus leer Petrus om Hom te volg
- Terugblik op die lees van die evangelie van Johannes
- Johannes – Lees, luister, leef – ePub
- Sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie
- Johannes 15:12-17 – Wat ‘n Vriend het ons in Jesus
Tags: Johannes
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Chris, ja, daar is ‘n ooreenkoms met die finale oorlog, die Armageddon (Openb 16:16), aan die einde van die laaste dae, soos Johannes dit ook verder in Openbaring 20:8 vir ons beskryf. Hy gebruik ook die terme Gog en Magog soos Esegiël dit doen.
Chris Vermeulen
| #
Môre. Die vernietiging van Gog, is dit die “armaggedon” waarvan die Woord ons ook vertel? God bless!
Lerina
| #
Ek stem saam met Chris, ja mens moet daarna kyk in konteks en dus ook eintlik die hele 2 Kor 12 bestudeer. Wat my keer op keer opval wanneer ek mensies teëkom wat so onwaardig voel omdat hulle God voluit dien, die vrugte van die Gees uitleef en ‘n diep verhouding met die Vader het, en tog nie die gawe van tale ontvang het nie, is vanaf vers 7 – 11 … want aan EEN word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee … aan ‘N ANDER, ‘n woord van kennis, … aan ‘N ANDER geloof …. ens. ……. en dan vers 11 wat sê AL hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.
Glo my tale is belangrik, en moet verseker be-oefen word as dit jou gawe is. Ek is net so versigtig om dit as enigste kriteria te gebruik as teken van vervulling met die Heilige Gees.
Chris van Wyk
| #
Hi Roeleen. Die 1983 vertaling is nie baie helder nie. Hier is ‘n paar ander vertalings wat die betekenis van die Hebreeus beter weergee:
Dit beteken, die mens wat sy vreugde vind in die Woord van God vermy die weg van sondaars wat baie keer met geweld gepaard gaan. ‘n Goeie voorbeeld vind ‘n mens in die verhaal van Dawid wat deur Abigail gekeer word om met geweld teen Nabal op te tree (1 Samuel 25:2-38). Baldwin dink in sy kommentaar dat dié verhaal moontlik die agtergrond vorm van Dawid se Psalm 17.
Roeleen Nel
| #
Help my asb met Ps 17 vers 14 in 1983 vertaling. Ek stoei met daardie vers.
Chris van Wyk
| #
Hi Lou. Die eerste twee gebooie probeer op omvattende wyse enigiets afraai wat in die plek van of naas God aanbid word. Dit is gemik teen die aanbidding van ‘n ander god in die plek van God. Dit is ook gemik teen die aanbidding van ‘n ander langsaan God. Dit wil sê dat jy jou brood aan twee kante gebotter wil hê.
Hier is wat ek vroeër daaroor geskrywe het:
Eerste gebod – geen ander gode
Die eerste gebod in Eks. 20:3 (Deut. 5:7) is die verbod op ander gode. Dit beteken dat God niemand duld wat langs Hom aanbid en vereer word nie. Alle afgodery word dus daarmee verbied. Die Here verwag dat daar net met Hom as die ware God in ‘n verhouding getree mag word. Sy weë moet ten alle koste leer ken word, want dit is net Hy alleen wat vertrou kan word met die lewe. Daarom moet die Godsvolk Hom met hulle hele hart liefhê, vrees en eer, soos die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 94 dit uitlê.
Dieselfde waarskuwing word reg deur die NT gevind (1 Tes. 1:9; Gal. 4:8; Rom. 1:23; 2 Kor. 6:16; Openb. 9:20), onder andere met betrekking tot die eet van afgodsoffers (Hand. 15:20,29; 1 Kor. 8:7; 10:7; 12:2; Openb. 2:20). Afgodery word ook regdeur die NT verbind aan moreel-etiese sake, soos bv. die verbod op losbandigheid en gierigheid (Ef. 5:5) sowel as vraatsug (Fil. 3:19). Sorg moet ook gedra word dat daar nie hoog opgegee word oor die afsku aan afgode, maar tog deelgeneem word aan ‘n onwettige berowing van heidense tempels vir eie gewin nie (Rom. 2:22).
Dit is interessant hoe Johannes in sy briewe ook dié wet as waarskuwing inspan vir gelowiges van die NT (1 Joh. 5:21). Johannes gee drie motiverings daarvoor. Die eerste motivering is dat: “ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken.” In Jesus kan ons dus die ware God van die afgode onderskei. Die tweede motivering is dat: “ons in die ware God is, in sy Seun, Jesus Christus.” Ons hele lewe word deur God bepaal, dié God wat ons in sy Seun, Jesus Christus, leer ken het. Die derde motivering is dat: “Hy die ware God is en die ewige lewe.” Daar is niemand anders as God nie, en deur Hom het ons toegang tot die ewige lewe. Daarom sê Johannes: “Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af.”
Tweede gebod – geen afbeelding van God mag aanbid word nie
Die tweede gebod in Eks. 20:5 (Deut. 5:8-10) verbied die maak van enige afbeelding van God wat aanbid of vereer word. Hy is ‘n jaloerse God wat onverdeelde trou aan Hom van sy mense eis. Gehoorsaamheid sal geseën word, en ongehoorsaamheid gestraf word. Die uitwerking daarvan sal in die geslagte gesien kan word.
Dieselfde waarskuwing word ook in die NT gevind. in Jakobus 4:5 wy hy uit oor God wat onverdeelde trou van ons vra en begrond dit op ‘n verwysing na die skeppingsverhaal dat God: “die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê”.
Dieselfde geld Paulus in Romeine 1:23 waar die problematiek van afgodery uitgespel word dat: “beelde wat lyk soos ’n verganklike mens of soos voëls of diere of slange”, d.w.s. afgode: “in die plek van die heerlikheid van die onverganklike God” gestel en aanbid word. Dit is: “bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding”, soos Paulus op die Areopagus sê (Hand. 17:29).
Lees meer hier:
Lou Pistorius
| #
Ek sit nou die dag weer en wonder hoekom die eerste twee gebooie aparte gebooie is – eintlik is dit tog maar dieselfde? Is daar nie erens ‘n vermiste tiende gebod nie?
Chris van Wyk
| #
Hi Awie. Ek sal later weer antwoord as ons daar kom. Weereens ‘n lusmaker:
Jesus praat waarskynlik in Lukas 6:29 van mense wat jou haat en beledig. Vir hulle moet jy ook jou ander wang aanbied (gee). Dit dui moontlik op mense wat jou publiek verwerp of verneder. Jesus bedoel dan waarskynlik dat ‘n mens nie moet ophou om uit te reik na sulke mense nie. Jy stel jou dus bloot aan verdere verwerping deur “die ander wang” aan te bied.
Jesus praat duidelik in Matteus 5:39 van kwaadwillige mense. Dit is mense wat jou met die agterkant van die regterhand op die regterwang slaan. Die toppunt van minagting en mishandeling. Teenoor sulke mense, sê Jesus, moet jy jou nie verset nie. As hulle jou op die regterwang slaan, moet jy ook die ander wang na hulle toe draai.
Hoekom? Want Jesus wil ten diepste hê dat vyande in vriende verander sal word. Dit beteken dat gelowiges die risiko sal moet neem om verder te ly onder kwaadwilligheid ter wille van die uitreik na sulke mense. Vergelding sal verwydering bring. Verdraagsaamheid kan van vyande vriende maak.
Dit maak nog meer sin in die konteks wat ‘n mens in Matteus raaksien, dié van geregtelike aksies. Jesus is hier duidelik meer begaan oor litigasie, mense wat gelowiges hof toe sleep (vgl vers 40), as oor die moontlikheid van fisieke geweld of publieke verwerping, soos dit wel die geval is in sy uitsprake in Lukas.
Gelowiges wat op Jesus vertrou, sal bereid wees om hulle persoonlike regte te laat vaar ter wille van die impak van die evangelie. Die doel is heling en versoening.
Soos Paulus ook later skryf in 1 Korintiërs 6. Ly liewer persoonlik onreg in die gemeenskap ter wille van die evangelie. Moenie die hof opsoek om verskille uit te sorteer nie.
Dit beteken egter vir seker nie dat ‘n mens daarmee ‘n lamsak of ‘n slaansak word nie. Paulus het telkens wanneer die owerhede of Joodse Raad betrokke geraak het, gestaan op die regte wat die regstelsel aan burgers verleen het (Hand 16:37; 22:25; 25:8-12). Dieselfde voorrreg geld ook vir ons vandag.
Awie Coetsee
| #
Baie dankie vir u verklaring dit maak sin.maar dit is vreemd dat Jesu vroer gese het dat jy die ander wang moet draai
Chris van Wyk
| #
Hi Jenny. ‘n Kort antwoord:
Die probleem met dobbel is dat dit ‘n gierigheid verraai en voed in ‘n mens se hart. ‘n Begeerte aan meer as wat jy het. En dit is ‘n onversadigbare monster. Dit illustreer nie net dat jy ontevrede is met wat jy het nie, maar kan jou nog meer ontevrede maak as jy verder en verder daarin ingetrek word. Daarmee oortree ‘n mens die tiende gebod (Eks 20:17).
Daarom sê die Hebreërskrywer: “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” (Hebr 13:5).
Dobberl dwarsbooom ook die Bybelse opdrag om in jou eie behoeftes te voorsien deur eerlike werk en het baie keer ‘n destruktiewe uitwerking op die mense rondom jou, veral as suurverdiende geld daardeur verloor word en families daaronder ly.