Johannes 11:55–12:50 – Die koringkorrel moet sterf om vrug te dra

RUS

  • Ek is by my ma se huis en geniet die stilte van die oggend – laat my my kinderjare herleef.
  • Ek eer die Here vir die goeie herinneringe wat ek het – dit is die plek waar ek Hom leer ken het en waar Hy my geroep het.

HOOR

  • Ek lees die bekende verhaal van Jesus se Intog in Jerusalem.
  • Die volgende aspekte tref my:

Eers net ’n oorsig:  Let op hoe die gedeelte ’n geheel vorm.  Dit word in 6 episodes vertel:

  1. die pelgrimstog na Jerusalem vir die Paasfees vir die reiniging – 11:55-57;
  2. die verhaal van Jesus se salwing met die oog op sy begrafnis deur die nardussalf van Maria – 12:1-8;
  3. die verskillende reaksies op Jesus – die toeloop van die skare en die gramskap van die Joodse Raad – 12:9-11;
  4. die intog in Jerusalem onder die toejuiging as Koning van Israel – 12:12-19;
  5. die Griekse reaksie wat Jesus laat besef dat sy uur gekom het – 12:20-35;
  6. die opsomming van Jesus se bediening wat deur beide geloof en ongeloof begroet word en ewige konsekwensies het – 12:37-50.

11:55-57: Die verhaal van die Intog begin met die plattelanders wat vir die Paasfees optrek na Jerusalem vir die reiniging, by die poel van Siloam, en waarskynlik ook by Betesda.  Die eerste ding wat hulle in Jerusalem daarna doen is om vir Jesus te soek.  Hulle wil sien wat gaan gebeur in die konflik met die Joodse Raad.  Dit verklaar heel moontlik waarom daar so ’n groot groep was wat Jesus ontmoet en in Jerusalem in begelei het.

12:1-8: Jesus doen eers op pad by Betanië aan, waar hy vermoedelik ook in die week gebly het – net 3 km van Jerusalem af.  Dit is ses dae voor die Paasfees, die Sondag van die laaste week van sy aardse lewe.  Dan bewys Maria aan Jesus ’n groot eer deur ’n halfliter baie duur nardusolie te neem en Jesus se voete daarmee te salf, dié voete wat binnekort deur spykers deurboor sou word (’n mens dink ook onmiddellik aan die voetewas episode van hoofstuk 13).  Toe Judas, die verraaier en dief, kritiek daarop lewer deur, verdedig Jesus dit op grond van die feit dat dit ’n profetiese daad is met die oog op sy begrafnis.

12:9-11: Die gewildheid van Jesus en ook Lasarus sorg vir ’n groot toeloop van mense, maar ook vir die gramskap van die Joodse Raad, wat besluit om ook vir Lasarus dood te maak, om die groeiende beweging in die kiem te probeer smoor.

12:12-19: Op die Maandag versprei die nuus dat Jesus op pad is Jerusalem toe soos ’n veldbrand en ’n skare gaan Hom tegemoet om Hom in Jerusalem te begelei.

Let op die verskillende reaksies in die skare:

  • Sommige is uiteraard geïnteresseerd in die gebeure rondom die wonders (vers 17-18),
  • ander om te sien wat in die konflik met die Fariseërs gaan gebeur (11:56).
  • ’n Groot deel van die skare haal OT gedeeltes aan om Hom as die Koning van Israel te verwelkom (Ps 118:26) en wuif Hom met palmtakke die stad binne, terwyl Hy op ’n donkie ry in vervulling van die profesie (Sag 9:9) – aan die einde van die tyd sal ons Hom ook met palmtakke vereer (Open 7:9).
  • Die dissipels is egter verward oor al dié dinge – onthou hulle was nie lus om te kom nie, omdat hulle die konflik met die Joodse Raad gevrees het – en het dit eers later verstaan, soos Johannes ons inlig.
  • En die Fariseërs is net nog meer oortuig dat hulle Hom uit die weg moet ruim, want die hele wêreld gaan agter hom aan (en die Grieke se storie kom nog!).

12:20-35: ’n Aantal Griekssprekendes (godvresendes?) het ook gekom om die Paasfees te vier en staan ook nader om Jesus te ontmoet.  Let op hoe Filippus (Griekse naam) en Andreas saamwerk om die nuus aan Jesus oor te dra (soos met die eerste ontmoeting by die see, en die verhaal van die broodvermeerdering).

En dan is dit asof alles in plek val – Jesus weet die tyd van sy kruisdood (verheerliking) het gekom, interpreteer vir hulle wat aan die gebeur is, en onttrek Hom van die gedrang.

Let op hoe Jesus die metafoor van die koringkorrel wat in die grond moet val en sterf om vrug te dra op Sy eie bediening van toepassing maak.  Dit verheerlik Hom en maak van Hom ’n man van groot betekenis – die tyd van die nasies het gekom, en vir daardie fase van die bediening om aan te breek, moet Hy die pad van die kruis stap.

Sy ontsteltenis oor die pad wat Hy nou moet loop word egter oorwoeker deur die bewussyn van sy roeping (vir die nasies) wat op dié manier tot sy logiese vervulling kom. En daarmee offer Hy sy lewe op – voor die Joodse Raad ’n hand aan Hom slaan.  Jesus gee Homself dus oor in die dood – op sy eie terme en vrywillig.

En Hy nooi sy volgelinge uit om Hom in dieselfde ontlediging en vrug-deur-dood-dra te volg.  Dit is juis in die vrywillige keuse van opoffering wat die krag van nuwe lewe vir ander lê.  En dit is die opofferende voorbeeld wat mense oortuig van die integriteit en betekenis van Jesus (en enige van sy navolgers) se lewe.

En God verseël sy offergawe met sy goedkeurende stem uit die hemel, wat tot verdere oortuiging lei, nie net vir Jesus nie, maar veral vir die skare wat om Hom saamgedrom is.

Jesus verduidelik weereens vir die skare hoe sy lyding inpas in God se plan, maar met min begrip by hulle.

12:37-50: Johannes sluit dié gedeelte af met ’n terugblik op Jesus se wondertekens wat op verrassende wyse met soveel ongeloof begroet is, en vind die verklaring daarvoor in die profesie in Jesaja se roepingsvisioen (Jes 6:10) en die beskrywing van die reaksie op die Dienaar van die Here (Jes 53:1) dat ongeloof deel van God se oordeel oor mense se sonde is.

Tog bars daar geloof op verrassende plekke deur – selfs ’n paar lede van die Joodse Raad (onthou Nikodemus en later Josef van Arimatea) het tot geloof gekom, hoewel hulle stil gebly het daaroor om nie uit die sinagoge geban te word soos die blinde man wat genees is en tot geloof gekom het nie.

En Johannes gee ons ’n laaste publieke toespraak van Jesus as opsomming van sy bediening – sommige luister na Hom en kry die ewige lewe; ander luister nie, en sal aan die einde van die tyd geoordeel word (waarna Johannes reeds in sy proloog in Johannes 1 verwys het).

LEEF

  • Dit bly aan die een kant ontroerend om Jesus se insig in wat moet gebeur en sy onverskrokke moed om Homself daarvoor te gee, te sien.  Aan die ander kant is dit ongelooflik inspirerend omdat Hy daarmee vir ons ’n model gee van hoe enigiets van betekenis werk – in positiewe rekenaartaal: “wat jy insit, is wat jy uitkry”.
  • Ek loof die Here vir die voorbeeld wat Hy gestel het, wat nie net vir ons inspireer nie, maar ook in staat stel om Sy navolgers te word.
View all posts in this series

Johannes


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: