Skip to main content

Johannes 9:1–41 – Jesus maak ook my oë oop om Hom as Here raak te sien

RUS

  • Die Here seën my op die oomblik met insigte en moontlikhede in terme van ons gemeente.  Ek dank die Here vir sy voorsiening en sorg.

HOOR

  • Ek lees die verhaal van die blinde man – het onlangs ook daaroor gepreek.
  • Die volgende aspekte tref my:
Onthou dat Jesus reeds in hoofstuk 8 gepraat het oor die feit dat Hy die lig vir die wêreld is.  Hier word die tema van lig voortgesit, in terme van die lig wat Jesus bring in die lewens van mense, fisies deur blindheid te genees, maar ook geestelik deur die blinde man te laat raaksien dat Hy inderdaad die Seun van die mens is, en die man in Hom kan begin glo.

Soos egter regdeur die evangelie die geval is, is daar ook die mense wat ten spyte van alles kies om in die duisternis te bly, en nie te sien nie.

Ons sien  vier hoof rolspelers in hierdie gedeelte oor wie Johannes uitbrei oor wat hulle gesien het – die dissipels, Jesus, die Fariseërs en die blinde man:

Die dissipels – 9:1-2: Die dissipels wil by Jesus weet of die man se blindheid vanweë sy eie sonde of sy ouers s’n is.  Die Jode het steeds geglo dat sonde agter siekte sit, óf die ouers s’n (Eks 20:5) óf die individu s’n (Jeremia 31:29-30; Esegiël 18).

Jesus – 9:3-12: Hoe mooi staan dit nie in vers 1 nie: “Terwyl Jesus wegstap (van die dreigende steniging af!), sien Hy ’n man wat van sy geboorte af blind was.” In die druk van die teenstand sien hy steeds iemand in nood raak en neem inisiatief om na die man uit te reik en genade aan hom te betoon.

Jesus korrigeer ook sy dissipels se perspektief op die blindheid van die man – die siekte is nie die gevolg van die blindgebore man of sy ouers se sonde nie.  “Maar hy is blind, sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.”  Hy wat die lig vir die wêreld is, gaan lig vir dié man bring deur sy blindheid te genees.

Daarom maak Jesus met spoeg en grond ’n bietjie klei aan, smeer dit op die blinde se oë, en gee opdrag dat hy hom in die Siloambad moet gaan was.  Dit bring vir hom genesing, maar vir die bure en ander mense wat hom as bedelaar geken het, sowel as vir sy ouers, verwarring.

Terloops: Johannes praat van 2 poele in sy evangelie.  In hoofstuk 5 noem hy die poel van Betesda en hier in hoofstuk 9 praat hy van die poel van Siloam.  Volgens nuwe navorsing (Ronny Reich) is dit moontlik dat dié 2 poele albei gebruik is vir rituele reiniging, voordat jy na die tempel toe is.  Albei het trappe wat na ’n platform toe lei, wat ooreenkom met ander sulke bekende plekke (mikvoth) in Jerusalem.

Dit beteken dat Jesus se opdrag aan die blinde man om hom by die poel van Siloam te gaan was, het hom in kontak gebring met die pelgrims wat hulle daar kom reinig het.  Maar sy uiteindelik verbanning uit die sinagoge het die deur na die tempel waarskynlik ook vir hom toegemaak.

Die Fariseërs – 9:13-34: Die Fariseërs ondervra die eens blinde man.  En in plaas van blydskap oor ’n wonderlike gebeurtenis, ondersoek hulle die godsdienstige implikasies van sy genesing en kom tot ’n negatiewe gevolgtrekking.  Dit is ’n probleem dat die man op die sabbatdag genees is.  Dit beteken ook vir hulle dat Jesus nie van God af kan kom nie, anders sou hy nie op die sabbatdag genees het nie.  Wat eintlik gebeur is dat hulle in Jesus ’n bedreiging vir hul godsdienstige mag sien.  Hulle het dus geen kapasiteit om deur God verras te word, of om te aanvaar dat God iets nuuts kan doen in Jesus nie. Daar is darem dié wat voel dat as Hy ’n sondaar was, sou Hy nie wondertekens kon doen nie, maar hulle is in die minderheid.

Hulle ondervra ook die man se ouers.  Let op hoe hulle vis vir enige moontlikheid dat die man miskien nie blind was nie.  Hulle wil hulle aanname bewys dat hier niks spesiaal gebeur het nie.  Die ouers weet egter hulle loop die risiko om uit die sinagoge geban te word: “Hy is oud genoeg, vra hom self.”

Dan loods die Fariseërs ’n laaste aanslag op die man.  Hy word eintlik half gedwing om met hulle saam te stem. Volgens hulle het Jesus die wet oortree, en kan daarom niks anders as ’n sondaar wees nie.  As die eens blinde man dus nie met hulle saamstem nie, kies hy die kant van ’n sondaar.

Maar, dan begin die man hom loswikkel uit hulle greep, en vra met ’n sweem van sarkasme, of die Joodse leiers hom nou só uitvra omdat hulle Jesus se dissipels wil word!  Ironies genoeg antwoord die geneesde dat Jesus se herkoms net van God af kan wees, anders sou Hy nie hierdie dinge kon doen nie.  Hy bely dus wat die geestelike leiers nie kan insien nie, selfs voor Jesus regtig sy oë oopmaak!  En, soos ’n mens kan verwag, die Fariseërs word kwaad en gooi die man wat genees is uit die sinagoge en tempel.

Hoe verskriklik is dit  nie.  Diegene wat meen dat hulle kan sien, is eintlik blind.  God sal altyd by die menslike verstaan hou van hoe die reëls werk, meen hulle.  Hulle wat meen hulle kan sien, en spesifiek namens ander sien, is eintlik blind.

Die blinde man – 9:35-41: Let op hoe die verhaal afsluit met die feit dat die blinde man se sig nie net fisies herstel is nie, maar leer om Jesus as die Gestuurde van God (Siloam beteken gestuurde) raak te sien.  Let op hoe sy begrip van Jesus groei deur die gedeelte:

  • Eers praat hy van die “man met die naam Jesus” – ’n neutrale begrip (vers 11).
  • Dan in die gesprek met die Fariseërs noem hy Jesus ’n profeet (vers 17).
  • In die loop van die gesprek bely hy dat Jesus “van God af kom” (vers 33).
  • En wanneer Jesus hom weer ontmoet, help Jesus hom om in die Seun van die Mens te glo, en bely en aanbid hy Jesus as Here (vers 38).

So sien die blinde man twee keer die lig.  Eers word sy fisiese oë geopen.  Dan word sy geloofsoë geopen.  Hy herken die Lig vir die wêreld.

LEEF

  • ‘n Mens kan enige rolspeler se perspektief op jouself van toepassing maak.  Ons kan ook miskien soos die dissipels in teologiese debatte vasval.  Of soos die Fariseërs dink aan die implikasies vir jou eie godsdienstige posisie.  Of Jesus toelaat om jou visie algaande te verdiep dat jy Hom as God en Here raak sien en aanbid.
  • Ek dank die Here dat Hy ook vir my die lig is, en van my ’n ligdraer maak, soos ek ook gister gebid het.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Johannes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Herodes die Grote pleeg kindermoordDankie.
  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…