Johannes 1:19–51 – Oortuig deur die getuienis van die eerste dissipels

RUS

  • Ek het vandag behoefte om versterk te word in my oortuiging dat Jesus God is en betrokke by my.
  • Ek raak stil voor God dat dié oortuiging my diepste wese tot rus kan bring.

HOOR

  • Ek lees die gedeelte met die son wat al blink op die blare van die bome in my tuin.
  • Die volgende aspekte van hierdie gedeelte tref my:

Johannes skets ’n opeenvolging van gebeure versprei oor 4 dae wat almal iets sê van wie Jesus werklik is:

  1. die getuienis van Johannes die Doper – 1:19-28 (vgl 1:6),
  2. die koms van die Heilige Gees wat op Jesus bly – 1:29-34,
  3. die eerste volgelinge van Jesus as die Lam van God deur Johannes die Doper se getuienis – 1:35-42, en
  4. Jesus wat self begin om volgelinge te werf – 1:43-51.

1:19-28

Die teenstand teen Jesus begin met die ondervraging van Johannes die Doper, sy voorloper.  Die Jode – vermoedelik die Joodse Raad – stuur priesters en Leviete, waaronder ’n paar Fariseërs, om Johannes uit te vra.  Hulle vraag na sy identiteit is ’n poging om hom in die konteks van hulle verstaan van die Skrif te plaas.  Johannes identifiseer homself egter net met die uitspraak in Jesaja 40, en nie met die figure van Christus (Jesaja 45:2 [Kores]; Ps 2:2; 18:50; 20:6; 132:17 [koning en sy nageslag]), Elia (Maleagi 4:5 [3:1]) of Profeet (Deut 18:15,18) nie.  Hy is ’n wegbereider in die woestyn.

Die vraag oor die doop hou nie noodwendig verband met die vraag na Johannes die Doper se identiteit nie, maar na die gesag waarmee hy Jode doop.  As hy dus nie die Christus of Elia of die Profeet is nie, op grond waarvan doop hy dan?  Waarop Johannes ’n antwoord gee wat eintlik na die toekoms wys, dat daar na hom Iemand kom vir wie hy slegs die voorbereider is.  Hy antwoord dus nie hul teologiese vraag nie, maar verklaar doodgewoon sy missie as wegbereider.

Hierdie Betanië is aan die oostekant van die Jordaan en moet onderskei word van die dorpie Betanië wat net 3 km van Jerusalem was, en waar Lasarus en sy susters Marta en Maria gebly het.

1:29-34

Johannes die Doper het uiteraard vir Jesus geken, aangesien hulle nefies was, en 6 maande uit mekaar gebore is.  Maar ten spyte van sy opdrag om die wegbereider vir die Here te wees, het hy nie geweet wie dit sou wees nie.  Wanneer God dit aan hom openbaar en hy die Gees soos ’n duif uit die hemel op Jesus sien kom en bly, dan skuif die gordyn vir hom oop en besef hy dat Jesus die Seun van God is (iets wat al van Israel [Eks 4:22] en Dawid [2 Sam 7:14] gesê is – vgl ook Ps 2:7).  Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.

Let ook op hoe hy van Jesus praat as die een vir wie hy die weg moes berei, maar wat hom ook vóór is, want Hy was voor Johannes die Doper al daar, soos Johannes die apostel dit reeds in die proloog gestel het.

Dit is interessant dat Johannes na Jesus as die Lam van God verwys.  Duidelik is die idee van die Paaslam teenwoordig (Eks 12 – vgl ook die verwysing na Jesus se bene wat nie aan die kruis gebreek is nie, soos die geval ook was met die Paaslam – Joh 19:31-37), wat plaasvervangend die oordeel van God afweer (soos Jesaja 53:7 wat van die Dienaar van die Here as ’n Lam/skaap praat).  ’n Mens lees hier ook alreeds iets in van wat Johannes later oor Jesus as die Goeie Herder wat sy skape lei (Joh 10) gaan vertel. [1]

1:35-42

Die volgende dag herhaal Johannes die Doper die uitspraak oor Jesus as die Lam van God.  Dit laat 2 van sy eie dissipels die pad vat agter Jesus aan .  Hulle noem Hom rabbi, die gebruiklike manier waarop leerlinge hulle leermeester aangespreek het.  Daarmee vra hulle dus om onder sy gesag te kom en deur Hom onderrig te word.

Sy antwoord is insiggewend: “Kom saam, dan sal julle sien”.  Dit verwys nie net na die sien van sy blyplek nie, maar na hulle oë wat sal oopgaan, soos in die volgende gesprek met Natanael duidelik sal word.  Andreas, een van die 2, gee ’n aanduiding van sy insig in die identiteit van Jesus deur sy broer Simon te gaan haal en na die Messias te bring.  Die Hebreeuse woord beteken gesalfde, en word in Grieks met Christus weergegee.

Let ook op hoe Jesus stip na Simon kyk, en hom die Hebreeuse naam Sefas gee, wat in Grieks Petrus is – rots.

1:43-51

Die inisiatief vir die evangelieverkondiging skuif nou duidelik van Johannes die Doper na Jesus, wat die volgende dag besluit om na Galilea te gaan.  Sy missie is om volgelinge rondom Hom te vergader, met Filippus, ook van Betsaida soos Andreas en Simon, en Natanael  wat by Hom aansluit, en hulle bloot te stel aan wie Hy werklik is.

Let op hoe Natanael deur Filippus gewerf word, soos Simon ook deur sy broer Andreas, wat wys dat volgelinge van meet af aan die werkswyse van Jesus self volg – om dissipels te maak en in te lyf in die betekenis van wie Jesus is.

Ook Filippus gee ’n aanduiding van sy insig in die identiteit van Jesus deur na die wet en die profete se getuienis oor Hom te verwys, maar Hom ook vierkantig in die konteks van ’n aardse familie te plaas – “Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.”

Ek hou baie van die interessante spel met woorde tussen Natanael wat wonder of daar iets goeds uit Nasaret kan kom (dit word nie in die OT genoem nie), en Jesus wat van Natanael sê dat hy ’n ware Israeliet is, ’n man in wie daar geen bedrog is nie.  Op Natanael se verbasing oor Jesus se insig, reageer Jesus met ’n nog dieper getuienis daarvan – “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien” – wat Natanael laat besef dat Jesus nie maar ’n gewone mens is nie, maar inderdaad die Seun van God.  Dat hy hom ook “die Koning van Israel noem” eggo waarskynlik die profesieë van Jesaja oor die Messiaanse koning uit die geslag van Dawid.

Terloops, Natanael word nie in die ander evangelies genoem nie, maar deur die kerktradisie met Bartolomeus verbind.  Lees meer hieroor in hierdie bydrae van my: Die twaalf dissipels in die evangelies en Handelinge.

Jesus se reaksie is om sy insig nog verder te verbreed deur na die bekende leer van Jakob se verwys (Gen 28) as ’n metafoor vir wat in Jesus se bediening van God se wêreld raakgesien sal word. En onthou, net hierna gaan Jesus na Natanael se tuisdorp, Kana (21:2), wat net agt kilometer van Nasaret af is, om die eerste wonderteken van water in wyn te gaan doen!

LEEF

  • Ek word getref deur die insig van die eerste dissipels in wie Jesus is. ’n Mens raak soms so gewoond aan die boodskap van die evangelie en van Jesus as die Lam van God, as die een wat met die Gees doop, as die Messiaanse Koning, net omdat jy dit so baie al gehoor het, dat dit heerlik is om weer van die verrassende en transformerende krag daarvan in die lewe van die eerste dispels te lees.  Jesus se impak op mense bly merkwaardig.
  • My hele lewe is gebou op die getuienis van hierdie eerste volgelinge van Jesus, en dit is goed om ’n slag weer deeglik kennis te neem van hulle eie oortuiging wat hulle so beetgepak het, dat hulle nie anders kon as om agter Jesus aan te volg nie.  Dankie Here, vir mense soos hulle, wat my versterk in my eie oortuiging dat U Here en Leermeester is.

[1] As ’n mens egter Open 5 in gedagte hou, waar Johannes van Jesus as beide die Lam van God EN die leeu van Juda praat, laat dit ’n mens dink aan ’n ander boek, die Testament van Josef, waar hierdie twee beelde vir die Messias gebruik word.  Die beeld van die Messias as ’n Lam kom ook in die Testament van Benjamin voor.  Dit kan dus ook wees dat Johannes sy beelde by hierdie boeke geleen het.

View all posts in this series

Johannes


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: