Skip to main content

Johannes 13:31–14:31 – Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle lief gehad het

RUS

  • Dit bly heerlik om die natuur waar te neem terwyl ’n mens stil raak voor die Here.  Ek kyk nou uit op ’n tuin gebaai in sonlig, met sagte geluide wat van buite af inkom in die vertrek.
  • Ek loof die Here vir sy voorsiening en sorg en vandag veral dat Hy alles onderhou.

HOOR

  • Ek lees die gedeelte in Johannes en die volgende aspekte tref my:
Jesus sluit aan by die aanwysing van Judas as sy verraaier en intensifiseer sy gesprek met die oorblywende dissipels, waarskynlik in die eerste plek om hulle geloof te versterk, en hulle te verseker dat dieselfde lot hulle nie sal tref as vir Judas nie:
  • Liefde vir mekaar sal dissipels se uitstaande kenmerk wees (in teenstelling met Judas) – 13:31-35;
  • Hierdie liefde sal onder druk kom – soos in die geval van Petrus vir Jesus (Joh 18:25–27) – maar uiteindelik seëvier – 13:36-38;
  • Jesus gaan na sy Vader toe en word daardeur die weg en die waarheid en die lewe vir elkeen wat in Hom glo – 14:1-14;
  • Jesus gee hulle die Heilige Gees waardeur God self by hulle Sy intrek sal neem – 14:15-31.

13:31-35 en 36-38: Die punt van hierdie hele gesprek van Jesus is dat liefde bo-oor alles geskryf moet staan.  Dit moet die uitstaande kenmerk van ’n dissipel van Jesus wees.  Dit moet alles deursuur wat ons doen en sê.  Daar moet niks in die pad staan van ’n lewe in liefde nie.  En dit beteken, in die konteks van Jesus se naderende dood, dat ’n mens selfs bereid moet wees om jou lewe vir ander af te lê.  Dit is ook die punt wat later in hoofstuk 17 oor eenheid gemaak sal word – niks mag in die pad van die eenheid staan nie.  En niks mag in die pad van liefde staan nie.

Let ook op dat die nuwe gebod wat Jesus vir hulle gee – dat hulle mekaar so lief moet hê soos wat Hy hulle het – in die konteks van beide die verraad van Judas en die verloëning van Petrus gedoen word.  Dat dié liefde moet wees soos Jesus dit gedemonstreer het, is die nuwigheid van hierdie liefde, aangesien liefde vir die naaste natuurlik van die begin af deel van die gelowige reaksie op God se werk was (Lev 19:18).

Dit sê vir ’n mens dat liefde ’n keuse is wat jy maak, al stel ander jou teleur (Judas) of al stel jy ander teleur (Petrus).  Judas kom nie tot inkeer ná sy verraad nie, hy kies teen die liefde, selfs teen die genade, en word verwerp.  Petrus aanvaar egter die hand van genade wat na hom uitgesteek word na sy verloëning (Joh 21:15-21 – en let op dat Jesus Petrus spesifiek uitvra oor sy liefde vir hom!), en word herstel in geloof en selfs die leiersposisie wat hy beklee het.  En op die koop toe vervul hy uiteindelik die belofte wat hy hier maak, dat hy sy lewe sal aflê vir Jesus, wanneer hy ook aan ’n kruis sterwe aan die einde van sy lewe.

14:1-14: Die konteks van Judas se verraad (kies teen die liefde), Petrus se verloëning (faal in sy keuse vir die liefde), Jesus se naderende dood (kies onverskrokke vir die liefde), en sy oproep aan die dissipels om lief te hê tot die dood toe (al sou hulle dit eers later volledig kon doen), laat ’n mens dan ook beter begryp hoekom Jesus verder gesels oor die hemel, dws die lewe na die dood!

Die moontlikheid van die dood moet die dissipels nie ontsteld laat nie.  Daar is baie plek in die hemel.  Jesus gaan daarheen en sal vir hulle plek gereed maak  en hou.

  • Op die vraag van Tomas, waar dit dan is, antwoord Jesus dat Hyself die weg daarheen is – dws deur in Hom te glo, deur met Hom in ’n verhouding te lewe, gee die toegang wat nodig is om daar te kom.
  • Op die vraag van Filippus, om die Vader te sien (Eks 24:10; Jes 6:1), antwoord Jesus op soortgelyke wyse dat Hyself die bril is om die Vader te sien (soos reeds in Joh 12:45 verkondig).  Selfs ’n geloof gebore uit sy werke bewys alreeds dat Hy die bril is om die Vader te sien.

Hierdie eenheid van die Vader met Jesus, en die eenheid wat Jesus met die dissipels sal hê deur Sy Gees (vers 23), beteken dat hulle ook sal kan doen wat Jesus gedoen het.  Dit sal veral gebeur waar sy dissipels hulle gebedsverantwoordelikheid nakom en in Jesus se naam tot God nader met die oog daarop dat God deur die gebedsverhoring verheerlik sal word (soos ons in Handelinge kan sien).

14:15-31: Alles draai om die liefde, en word bewys deur die dissipels se bereidheid om te doen wat Jesus van hulle vra.  Dit is met daardie doel – dat hulle vir Jesus lief sal bly, en dat hulle sal doen wat Jesus vra – dat Jesus vir hulle die “ander Voorspraak” sal stuur (Jesus is die eerste Voorspraak – 1 Joh 2:1), Een wat ewig by hulle sal bly, en hulle in die waarheid sal begelei.

Hierdie Voorspraak (paraklētos) word op verskillende maniere vertaal: Trooster, Helper, Pleitbesorger, Voorspraak of Advokaat. Soos ’n advokaat iemand in ’n hofsaak bystaan, bemoedig, troos en daarby sy saak bepleit en vir al sy belange sorg, so doen die Gees dit ook vir ons (Rom 8:26-28).

Judas (Markus en Matteus noem hom Taddeus [Mark 3:16-19; Matt 10:2-4], Lukas noem hom Judas, die seun van Jakobus [Luk 6:14-16; Hand 1:13]) verstaan nie mooi waarom hierdie werklikheid van God se inwoning nie vir die hele wêreld sigbaar sal wees nie.  Hy hou waarskynlik nog vas aan die moontlikheid dat Jesus ’n Joodse Messias sal wees wat die Joodse volk van die Romeinse oorheersing sal verlos.

Jesus antwoord dat dit net dié sal wees, wat Jesus liefhet en doen wat Hy vra, wat die Goddelike inwoning van die Gees sal ervaar.  God sal dié gelowiges leer (Jes 54:13) en herinner aan die woorde van Jesus.  En só sal God deur hulle sigbaar word vir die wêreld, presies soos Jesus dit ook gedoen het.  Dit is dus nie ’n Joodse ryk wat Jesus kom herstel nie, maar God se koninkryk, Sy heerskappy in en deur gelowiges.

En die Heilige Gees is dan ook die bron van die vrede wat Jesus vir hulle sal gee wat hulle ontsteltenis sal wegneem en gehoorsaam aan Hom sal laat bly, as skynende ligte van God se teenwoordigheid in hierdie wêreld.

Daarmee staan Jesus van die tafel af op en loop sy dood tegemoet – met nog lering wat Hy hierna, vermoedelik op die pad na Getsemane, vir hulle sal gee (hfst. 15-17).

LEEF

  • Daar word baie dinge geskryf en geleer oor wat regtig belangrik is in die Christelike lewe en wat ’n Christelike lewenstyl nou eintlik is.  Die hart van die Christelike lewe is in die liefde te vinde.  En die wyse waarop liefde hier uitgespel word, is om jou lewe af te lê vir Dié/dié wat jy liefhet, en te doen wat Hy/hulle vra (gehoorsaamheid).  En die voorbeeld is nie om lief te hê soos jyself lief het nie, maar soos Jesus lief gehad het!
  • Ek bely weereens my verbintenis aan Jesus self, en my gehoorsaamheid aan wat Hy van my vra.   En vra dat Hy my liefde sal verruim dat ek ook soos Hy kan liefhê.
View all posts in this series

Eenheid, Johannes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar