Skip to main content

Johannes 20:1–31 – Jesus staan op as die teenwoordige Here

RUS

  • Ek dink terug aan die vorige 24 uur en wat ek van God se teenwoordigheid in my lewe kon agterkom.
  • Ek dank Hom vir wie Hy vir my is.

HOOR

  • Ek lees Johannes se opstandingsverhaal.
  • Die volgende dinge tref my daarin:
Johannes vertel ons in hoofstuk 20-21 van vier verskynings van Jesus na die opstanding.  Hy verskyn eerste aan Maria Magdalena, tweede aan die dissipels, derde aan Tomas wat nie by was met Jesus se tweede verskyning nie en laastens (hfst 21) aan die dissipels by die meer, waar Jesus spesifiek vir Petrus intrek en heraanstel in sy rol as herderleier (laat my skape wei).

Let op dat Johannes niks vertel van die opstandingsgebeure self nie, net van die leë graf en van Jesus se verskynings daarna aan hulle.  Nie een van die ander evangelies sê vir ons meer oor die opstandingsgebeure as sodanig nie.  Daar is ’n bietjie meer getuienis oor die aardbewing wat die klip weg laat rol het, van die engele wat betrokke was, maar niks oor die opwekking as sodanig nie.  Dit is ’n daad van God wat wel duidelik is uit die feit dat hulle Jesus se verskynings hierna kan waarneem, maar deel van die misterie van die opstanding sal bly tot aan die einde van die tyd.

Die leë graf met die opgerolde grafdoeke is natuurlik belangrik omdat dit die werklikheid en historisiteit van die feit van die opstanding aandui.  Maar dit is veral Jesus se verskynings na sy dood wat belangrik is, omdat dit die belofte en betekenis van die opstanding vir ons beklemtoon.  Uit Johannes se beskrywing van die opgestane Jesus kan ’n mens agterkom dat Jesus herkenbaar is, steeds kommunikeer soos ons dit doen, en ’n fisiese/werklike (by gebrek aan ’n beter woord) liggaam het, want  ’n mens kan aan hom vat, en hy gee vir hulle kos om te eet.  Maar hy is ook anders, omdat hy kan verskyn en verdwyn soos Hy wil.  Hy is dus nie aan ruimte gebonde soos die dissipels nie. En telkens verander Hy die lewe van dié aan wie Hy verskyn het.

Daarmee lewer Johannes getuienis af van die werklikheid van Jesus se opstanding uit die dode en van die wyse waarop Jesus se opstanding alles verander.

Hy troos bv. vir Maria Magdalena en verseker haar dat God daar is vir haar.  Haar eerste gedagte toe sy die leë graf sien, was dat iemand Jesus se liggaam weggevat het.  Dit is ook wat sy vir Petrus en Johannes gaan sê het en waarna hulle kom kyk het.  Die leë graf kon ook net soveel sê, daarom sê Johannes dat hulle haar geglo het, maar nog nie verstaan het dat Hy opgestaan het nie.

Dit is egter eers wanneer Jesus aan Maria verskyn in die tuin en met haar praat en sy die werklikheid van sy teenwoordigheid ervaar, dat sy  Hom kan herken en as Here kan vereer.  Let op hoe dít is hoe sy Jesus aan die dissipels hierna gaan bekendstel: “Ek het die Here gesien!”

En dit is dieselfde vir die dissipels.  Dit is eers wanneer Hy self aan hulle verskyn, dat die dissipels rus en vrede ervaar, en hulle vrees in blydskap kan verander.  Netso Tomas.  Jesus openbaar Homself aan Tomas sodat sy twyfel in geloof kan verander en Hy met oortuiging deel kan wees van die groeiende getuienis van sy opstanding.

En let op dat Jesus nie net vir hulle troos en versterk in hulle geloof nie.  Nee, Hy stuur hulle ook, waarmee Hy hulle roeping bevestig om die wêreld met die boodskap van vergifnis in te gaan.  En later doen Hy dieselfde met Petrus en gee Hom ’n soortgelyke opdrag as wat Jesus self gehad het, om vir die skape weiding te gee. (Joh 10).

Daarmee bereik Johannes se evangelie dan ook sy hoogtepunt, want Hy skryf juis hierdie klompie verhale van Jesus se wondertekens, sy gesprekke, en sy verskynings om ons te oortuig dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat ons deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (Joh 20:31).  Jesus staan op om as die teenwoordige Here ons lewens betekenis te gee.

LEEF

  • Ons praat te veel oor die historisiteit en werklikheid van die opstanding, en hopeloos te min oor die teenwoordigheid van die Here Jesus.  Die leë graf fassineer ons miskien te veel.  Dit is immers die teenwoordige Jesus wat ons lewens verander en wat ons fokus moet wees.  Jy kan natuurlik nie die teenwoordige Jesus hê sonder ’n leë graf nie – die graf was immers leeg.  Maar jy kan die teenwoordige Jesus mis as jy te veel klem lê op die dogma van die leë graf.
  • Ek loof daarom Jesus dat Hy my ook troos, in my geloof versterk, en my stuur om die werk te doen wat Hy vir my het.  En dat dit in real-time gebeur, nou, vandag.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Johannes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms