Skip to main content

Johannes 7:1–52 – Wie is Jesus vir jou?

RUS

  • Ek bid om verdere insig in die gawes wat God gee in Jesus.

HOOR

  • Die volgende aspekte tref my in dié gedeelte:
7:1-9: Let op hoe die eerste perikoop aanhak by die vorige hoofstuk se beskrywing van die ongeloof van die Jode en die dissipels van Jesus – Jesus se broers glo ook nie in Hom nie – 7:1-9.  En die eerste perikoop se beskrywing van ongeloof antisipeer op sy beurt die beskrywing van die meningsverskil by die mense wat na Hom by die fees geluister het en die ongeloof van die Joodse leiers aan die einde van die hoofstuk – 7:40-52.

Niemand kan in Jesus se teenwoordigheid kom en onaangeraak bly nie.  Neutraliteit is onmoontlik.  En daar is meer ongeloof en teenstand merkbaar as wat daar geloof en gehoorsaamheid is, selfs onder sy bloedfamilie.

7:10-24: Die konteks is die huttefees – een van die drie groot jaarlikse feeste van die Jode:

  • die Paasfees het die Uittog uit Egipte herdenk (Eks 12 – in April-Mei);
  • die Pinksterfees het die einde van die oestyd gedenk, 50 dae (die woord pentekoste = 50 in Grieks, vanwaar ons woord pinkster afgelei is) of 7 weke na die begin van die oes, wat getel is vanaf die 2de dag van die Paasfees (Lev 23:15-21 – Junie-Julie);
  • die Huttefees het die omswerwinge in die woestyntyd uitgebeeld (Lev 23:40-43 – September-Oktober) – daarom het hulle vir 7 dae lank in hutte van takke en blare gewoon.

Jesus weier om op sy broers se uitdaging te reageer, en gaan later op eie inisiatief na die fees, maar aanvanklik sonder om die aandag te veel op Homself te laat val.  God bepaal sy agenda, nie sy broers of iemand anders se behoeftes nie.  Tog bly Hy die persoon wat uitgesoek word deur dese en gene, hoewel hulle ook nie te veel aandag op hulleself wil vestig deur hulle menings oor Hom nie.

Halfpad deur die fees begin Jesus wel om die mense in die tempel te leer en fokus op die bron van sy lering (God) en die inkonsekwentheid van die Jode deurdat hulle kla oor Hy iemand op ’n sabbatdag genees (man by Betesda – Joh 5), maar in die praktyk wel die besnydenis op ’n sabbatdag toepas, wat ook tegnies ontoelaatbaar is, as jy met ’n rigiede toepassing van die sabbatswetgewing werk, maar toegelaat word omdat dit so ’n belangrike godsdienstige betekenis gehad het.

Let op die baie belangrike beginsel wat Jesus gee om die waarheid wat Hy verkondig te toets – doen wat God vra, dan sal jy weet of dit waar is of nie.

7:25-31: Jesus se lering is op hierdie punt só oortuigend dat die mense begin dink dat selfs die Joodse leiers na sy kant toe oorgehaal word.  Maar hulle is helaas verkeerd, want die Joodse leiers probeer om Hom in hegtenis te neem, omdat dit die enigste manier is waarmee hulle dink dat hulle Jesus se oortuiging kan troef.

7:32-36: Jesus steek niks weg van sy roeping nie, maar omdat die Fariseërs en priesterhoofde nie met “geestelike ore” luister nie, kan hulle Jesus se woorde nie verstaan nie.  Hulle bly vasgevang in hulle “van onder” denke wat nie ontvanklik is vir Jesus se “van bo af” herkoms en boodskap nie.  Daarom dat hulle sy boodskap misverstaan dat Hy Griekssprekende Jode in die buiteland wil gaan dissipel, terwyl Hy van die hemel praat.

Dit gebeur vandag nog, dat mense God se woorde misverstaan, veral as hulle met ’n geslote wêreldbeeld werk, waarbinne daar per definisie geen plek vir God meer is nie.

7:37-39: Gedurende die huttefees was daar ’n spesiale ritueel waarin water uit die Siloam poel by die altaar uitgegooi is as teken van die water wat God uit die rots in die woestyn gegee het (Eks 17).  Jesus se lering op die laaste dag van die fees (die 8ste dag – Lev 23:36) oor die Gees wat strome lewende water uit gelowiges sal laat vloei (Jes 58:11 – vgl Joh 4:10), staan dus in direkte verband daarmee.  Soos God toentertyd gewone water gegee het, só gee Jesus geestelike water vir dié wat in Hom glo (Jes 55:1; Open 22:17).  En soos Johannes dit verklaar, dit verwys na die Heilige Gees wat God aan elkeen gee wat in Jesus glo.

7:40-44: Weereens vertel Johannes ons van die verskil van mening oor wie Jesus nou eintlik is.  Sommige sê die Profeet (Deut 18:15; Mal 3:1; 4:5), en ander die Messias (Christus is die Grieks vir dié Hebreeuse woord en beteken gesalfde).  Hulle kennis van Sy afkoms en hoe die Skrif dit voorspel, is egter gebrekkig.

7:45-52: Ironies genoeg is dit nou die wagte wat Jesus gevange geneem het, wat nie hulle taak kan uitvoer nie, omdat hulle aangegryp is deur sy woorde.  Nikodemus kom egter vir Jesus op as die Joodse Raad met afgryse hierop reageer en Jesus veroordeel, sonder dat hulle hulle eie reëls nakom om eers ook na die ander kant van die saak te luister. In hulle haas maak hulle ook ’n denkfout deur te sê dat geen profeet ooit uit die gebied Galilea afkomstig was nie, omdat die profeet Jona juis uit die gebied afkomstig was (Gat-Gefer, 3 km noord van Nasaret! – 2 Konings 14:25).

LEEF

  • Dit is lewensveranderend hoe verskillende mense op Jesus reageer.  Sommige dink Hy is ’n goeie man waarna geluister moet word, ander dat Hy ’n misleier is en daarom weggesluit moet word.  Sommige dink dat Hy eintlik van die duiwel besete is, terwyl ander wel sy ware Messiaanse karakter raaksien.  Maar in dié menings oor Jesus, lê die mense se toekoms letterlik opgesluit – in ’n geloofsverhouding met Hom wat vir ewig sal bestaan of nie.  Wie Jesus is en veral wie Hy vir my is, is van kardinale belang vir my lewe.
  • Ek loof die Here dat Hy vir my die Messias is, en dat Hy vir my die Heilige Gees gegee het wat my vas laat staan in ’n verhouding met die lewende God.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Johannes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms