Skip to main content

Johannes 2:1–12 – Jesus bewys deernis sonder vertoon

RUS

  • Ek het vandag krag nodig om ’n lang “to-do” lysie af te handel.
  • Ek bid vir wysheid met prioritisering en afhandeling.

HOOR

  • Ek lees die Skrifgedeelte terwyl my huismense begin roer.
  • Die volgende aspekte uit die gedeelte tref my:
Jesus is by ’n bruilof in die dorpie van Natanael, Kana.  Sy ma is daar sowel as sy dissipels (en waarskynlik ook sy broers [2:12]).  Miskien was dit ’n familie-troue wat moontlik verklaar hoekom Maria verantwoordelik gevoel het om die gebrek aan wyn aan Jesus uit te wys – hulle gevolg was immers ’n groot groep ekstra gaste!

Sy ma se interaksie met Hom en die kelners sê vir my dat sy ook iets verstaan het van Sy deernis met mense, selfs wanneer so iets doodgewoons gebeur as wyn wat by ’n partytjie opraak.  En dat sy ook geweet het dat Sy deernis tot optrede sal lei.  Hoe dit ook al sy, sy bring die behoeftes van die gasheer en –vrou na Hom toe, in die verwagting dat Hy iets sal kan doen.

Dat Jesus antwoord dat Sy tyd nog nie gekom het nie, val aanvanklik vreemd op.  Maar as ’n mens in gedagte hou dat Hy deurgaans kommunikeer dat Hy net doen wat sy Vader Hom wys (4:34-38; 5:19,30), kan dit wees dat Hy hier vir Maria sê dat Hy net sal doen wat Sy Vader Hom wys, en dit ook net op God se tyd, nie menslike tyd nie.

Dit is vir my baie betekenisvol dat Jesus juis die 6 klipkanne inspan wat vir die reiniging van die Joodse gaste (Mark 7:3-4) met hulle aankoms by die bruilof gebruik is.  Dit word hervul tot bo toe en dan in wyn verander.  Daarmee kontrasteer Johannes die reinigingswater van die Jode wat beperkte nut het, met die wyn van die nuwe lewe wat Jesus gee.  Daarmee bring Jesus onder andere Jes 25:6 in vervulling wat van ’n oorvloed van wyn praat met die feesmaal wat God vir die volk voorberei.

Let ook op hoe Hy die eer vir die eerste proe gee aan die seremoniemeester, waarmee Hy doelbewus binne die protokol van die tyd optree.  Dié reageer met verbasing teenoor die bruidegom en komplimenteer hom dat hy die goeie wyn tot nou toe terug gehou het.  Die beste kom laaste!  Ons lees egter nooit dat hy in die proses agterkom dat dit eintlik Jesus is wat die wyn verskaf het nie – hoewel die kelners en Jesus se gevolg dit geweet het.  Wat beteken dat Jesus die gasheer en –vrou, sowel as die bruidegom nie in die verleentheid stel met die wonder wat Hy vir en namens hulle gedoen het nie.

Dit is dus net ’n klein groepie wat regtig insae het in die feit dat hier ’n wonder plaasgevind het.  Johannes noem dit ’n wonderteken (semeion), omdat Jesus daardeur Sy heerlikheid laat blyk het (1:14,51), wat sy dissipels tot geloof in Hom beweeg het.  Daarmee sluit Johannes by ’n hele paar OT gedeeltes aan wat op soortgelyke wyse van God se ingrype as tekens gepraat het (Eks 3:12 – die aanbidding by die berg Sinaï; Eks 4:1-9 – die kierie van Moses wat ’n slang word; Jes 7:10-16 – die jong vrou wat swanger sou word; Jes 66:19 – Jerusalem en Sion se herstel as die teken vir die nasies [vgl die reiniging van die tempel wat net hierna vertel sal word]).

Daarmee maak Johannes sy punt: wie Jesus se wonderteken verstaan (en weereens die reiniging van die tempel wat hierna volg), het die sleutel tot die betekenis van Jesus se bediening, wat daarna in alle erns begin.  Jesus word as die Deernisvolle Dienskneg van God geteken.

Johannes sluit af deur van hulle reis na Kapernaum te vertel, hoewel hulle nie lank daar gebly het nie.  Heel gou sou Hy na Jerusalem vertrek vir die eerste van 3 Paasfeeste in sy bedieningstyd.  Die ander evangelies noem Kapernaum as ’n soort basis vanwaar af Hy opgetree het, hoewel hulle beskrywing meer met die omringende Galilese gebiede te make het.

Hierdie eerste wonderteken (4:54 se wonderteken word die 2de genoem, hoewel daar ook ander wondertekens gedoen is – 2:23) word hierna opgevolg deur ’n hele aantal gesprekke en een ander wonderteken waarin die metafoor van water ingespan word: 1) die gesprek met Nikodemus oor die nuwe lewe (uit water en Gees gebore) wat in Jesus moontlik raak (3:1-21), 2) die gesprek met die Samaritaanse vrou oor die lewende water (4:7-26), 3) die genesing van die siek man by die bad van Betesda (5:1-17), 4) Jesus wat op die see loop (6:16-21), en 5) die gesprek oor die Heilige Gees wat strome van lewende water word in ons binneste (7:1-49).

LEEF

  • Dit is vir my ongelooflik dat Jesus ’n wonderteken doen sonder vertoon of aanstellerigheid.  Hy toon sy heerlikheid, versterk die geloof van sy dissipels, maar oordonder nie die seremoniemeester of die bruidegom met sy mag nie.  Dít is die voorbeeld wat ek ook graag sal wil navolg – doen wat ek kan doen, met die gawes wat die Here my gee, sonder om die aandag op myself te vestig, en ander in die skadu te stel.
  • Ek bely my vatbaarheid vir versoekings van vertoon, Here, en bid vir dieselfde deernis met mense as wat U gehad het.  Ek wil ook met deernis help, sonder om myself te verheerlik, maar eerder U heerlikheid aan mense ten toon te stel.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Johannes, wondertekens


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda