Johannes 2:1–12 – Jesus bewys deernis sonder vertoon

RUS

  • Ek het vandag krag nodig om ’n lang “to-do” lysie af te handel.
  • Ek bid vir wysheid met prioritisering en afhandeling.

HOOR

  • Ek lees die Skrifgedeelte terwyl my huismense begin roer.
  • Die volgende aspekte uit die gedeelte tref my:
Jesus is by ’n bruilof in die dorpie van Natanael, Kana.  Sy ma is daar sowel as sy dissipels (en waarskynlik ook sy broers [2:12]).  Miskien was dit ’n familie-troue wat moontlik verklaar hoekom Maria verantwoordelik gevoel het om die gebrek aan wyn aan Jesus uit te wys – hulle gevolg was immers ’n groot groep ekstra gaste!

Sy ma se interaksie met Hom en die kelners sê vir my dat sy ook iets verstaan het van Sy deernis met mense, selfs wanneer so iets doodgewoons gebeur as wyn wat by ’n partytjie opraak.  En dat sy ook geweet het dat Sy deernis tot optrede sal lei.  Hoe dit ook al sy, sy bring die behoeftes van die gasheer en –vrou na Hom toe, in die verwagting dat Hy iets sal kan doen.

Dat Jesus antwoord dat Sy tyd nog nie gekom het nie, val aanvanklik vreemd op.  Maar as ’n mens in gedagte hou dat Hy deurgaans kommunikeer dat Hy net doen wat sy Vader Hom wys (4:34-38; 5:19,30), kan dit wees dat Hy hier vir Maria sê dat Hy net sal doen wat Sy Vader Hom wys, en dit ook net op God se tyd, nie menslike tyd nie.

Dit is vir my baie betekenisvol dat Jesus juis die 6 klipkanne inspan wat vir die reiniging van die Joodse gaste (Mark 7:3-4) met hulle aankoms by die bruilof gebruik is.  Dit word hervul tot bo toe en dan in wyn verander.  Daarmee kontrasteer Johannes die reinigingswater van die Jode wat beperkte nut het, met die wyn van die nuwe lewe wat Jesus gee.  Daarmee bring Jesus onder andere Jes 25:6 in vervulling wat van ’n oorvloed van wyn praat met die feesmaal wat God vir die volk voorberei.

Let ook op hoe Hy die eer vir die eerste proe gee aan die seremoniemeester, waarmee Hy doelbewus binne die protokol van die tyd optree.  Dié reageer met verbasing teenoor die bruidegom en komplimenteer hom dat hy die goeie wyn tot nou toe terug gehou het.  Die beste kom laaste!  Ons lees egter nooit dat hy in die proses agterkom dat dit eintlik Jesus is wat die wyn verskaf het nie – hoewel die kelners en Jesus se gevolg dit geweet het.  Wat beteken dat Jesus die gasheer en –vrou, sowel as die bruidegom nie in die verleentheid stel met die wonder wat Hy vir en namens hulle gedoen het nie.

Dit is dus net ’n klein groepie wat regtig insae het in die feit dat hier ’n wonder plaasgevind het.  Johannes noem dit ’n wonderteken (semeion), omdat Jesus daardeur Sy heerlikheid laat blyk het (1:14,51), wat sy dissipels tot geloof in Hom beweeg het.  Daarmee sluit Johannes by ’n hele paar OT gedeeltes aan wat op soortgelyke wyse van God se ingrype as tekens gepraat het (Eks 3:12 – die aanbidding by die berg Sinaï; Eks 4:1-9 – die kierie van Moses wat ’n slang word; Jes 7:10-16 – die jong vrou wat swanger sou word; Jes 66:19 – Jerusalem en Sion se herstel as die teken vir die nasies [vgl die reiniging van die tempel wat net hierna vertel sal word]).

Daarmee maak Johannes sy punt: wie Jesus se wonderteken verstaan (en weereens die reiniging van die tempel wat hierna volg), het die sleutel tot die betekenis van Jesus se bediening, wat daarna in alle erns begin.  Jesus word as die Deernisvolle Dienskneg van God geteken.

Johannes sluit af deur van hulle reis na Kapernaum te vertel, hoewel hulle nie lank daar gebly het nie.  Heel gou sou Hy na Jerusalem vertrek vir die eerste van 3 Paasfeeste in sy bedieningstyd.  Die ander evangelies noem Kapernaum as ’n soort basis vanwaar af Hy opgetree het, hoewel hulle beskrywing meer met die omringende Galilese gebiede te make het.

Hierdie eerste wonderteken (4:54 se wonderteken word die 2de genoem, hoewel daar ook ander wondertekens gedoen is – 2:23) word hierna opgevolg deur ’n hele aantal gesprekke en een ander wonderteken waarin die metafoor van water ingespan word: 1) die gesprek met Nikodemus oor die nuwe lewe (uit water en Gees gebore) wat in Jesus moontlik raak (3:1-21), 2) die gesprek met die Samaritaanse vrou oor die lewende water (4:7-26), 3) die genesing van die siek man by die bad van Betesda (5:1-17), 4) Jesus wat op die see loop (6:16-21), en 5) die gesprek oor die Heilige Gees wat strome van lewende water word in ons binneste (7:1-49).

LEEF

  • Dit is vir my ongelooflik dat Jesus ’n wonderteken doen sonder vertoon of aanstellerigheid.  Hy toon sy heerlikheid, versterk die geloof van sy dissipels, maar oordonder nie die seremoniemeester of die bruidegom met sy mag nie.  Dít is die voorbeeld wat ek ook graag sal wil navolg – doen wat ek kan doen, met die gawes wat die Here my gee, sonder om die aandag op myself te vestig, en ander in die skadu te stel.
  • Ek bely my vatbaarheid vir versoekings van vertoon, Here, en bid vir dieselfde deernis met mense as wat U gehad het.  Ek wil ook met deernis help, sonder om myself te verheerlik, maar eerder U heerlikheid aan mense ten toon te stel.
View all posts in this series

Johannes, wondertekens


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: