Skip to main content

Johannes 4:1–42 – Die Samaritaanse vrou aanbid Jesus en bring ’n hele dorpie na Hom toe

RUS

  • Dit is nog stil en donker buite.
  • Ek bid om God se teenwoordigheid vir hierdie dag.

HOOR

  • Ek lees die Skrifgedeelte met groeiende verwondering oor die impak wat Jesus op mense het.
  • Wat my in hierdie gedeelte tref:
Let op dat Jesus se volgende gesprek ’n direkte gevolg is van die Fariseërs se kennisname van sy groeiende bediening, ’n bediening wat groter begin word as dié van Johannes die Doper, soos wat hy net in die vorige perikoop beskrywe het, sal gebeur. Hoewel dit nog onderbeklemtoon is, hoor ’n mens daarin ook die broeiende konflik met die leidende Joodse godsdienstige partye.

Interessant genoeg is die leidende metafoor steeds dié van water – ons het alreeds kennis geneem van die verandering van water in wyn (Kana), die verwysing na gebore uit water (Nikodemus), die verwysing na die reiniging met water (Johannes die Doper) en nou die doop (Jesus).  En dít is presies dié metafoor wat in die verhaal van die Samaritaanse vrou die hoofrol gaan speel – ’n dors Jesus by die put, die water wat hy van haar vra, en die lewende water wat Jesus vir haar kan gee.

Dat Jesus deur Samaria moes gaan (dei in die Grieks) is betekenisvol, omdat dit beteken het dat Hy met ‘n kortpad (Josephus sê dit was ‘n 3-dag reis) na Galilea sou reis – aan die westekant van die Jordaan, in plaas aan die oostekant daarvan.  Dit was nie iets wat die Jode maklik gedoen het nie, hulle het Samaria eerder vermy, omdat Samaritane as onrein beskou is as gevolg van hulle:

  • gemengde afkoms – na die verowering van die noordelike ryk deur die Assiriërs in die 7de vC het dié Samaritane wat agtergebly het, vermengd geraak met die ander volke wat deur die Assiriërs daar gevestig is – 2 Konings 17:24-41, en
  • hulle afwykende godsdiens – die Samaritane het net die eerste vyf boeke van die Hebreeuse Ou Testament as gesagvol aanvaar, met ’n paar wysigings, en ook van die afgodsgebruike van die ander volke wat in hulle gebied gevestig is, gevolg.

Die Jode het die Samaritane (nasate van die voormalige Noordryk) dus as ‘n onsuiwer groep mense beskou en hulle gehaat omdat hulle, hulle volk (nasate van die voormalige Suidryk) en godsdiens verraai het. Daarom het die Jode uit hulle pad gegaan om Samaria en die Samaritane te vermy, wat gelei het tot die gesegde wat die vrou in vers 9 aanhaal: “Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie.” Dit word blykbaar vandag nog gebruik as mense ongelukkig is oor iets wat skeef loop.

Die put van Jakob naby die dorpie Sigar is ‘n put wat Hy gekoop het van Hamor (Gen 33) en aan Josef gegee het op sy sterfbed (Gen 50), hoewel Josef dit nooit in besit geneem het nie.  Net sy bene is daar begrawe (Jos 24) nadat die volk die Beloofde Land in besit geneem het.  Dit was ongeveer 30 meter diep.  ‘n Mens kan vandag nog water daar drink!

Dat dit die sesde uur was, is ook betekenisvol.  Dit beteken dat dit 12 uur die middag was (‘n vorige weergawe van die nuwe Afrikaanse vertaling interpreteer dit verkeerdelik met ses uur die aand), omdat die Jode se dag met sonop begin het en die ure dus van 6 uur af (ons tyd) getel is.  In daardie tyd het vroue boonop twee keer ‘n dag gaan water haal vir hulle huise, soggens en saans, wanneer dit koeler was.  Die Samaritaanse vrou gaan skep dus water op die warmste tyd van die dag.  Sy vermy dus die ander vroue van die dorp, miskien omdat sy verwerp gevoel het, of meer waarskynlik inderdaad ‘n verworpene was, sy het immers ook ‘n hele paar mans gehad!

Blykbaar was daar nog boonop ‘n ander put nader aan die dorpie, wat sy sou kon gebruik het.  Die water van Jakob se put was egter suiwerder … en verder van die dorp af.

Jesus is alleen, dit is in die middel van die dag, Hy is moeg en dors en hy het nie ‘n skepding om water uit die put te haal nie.  In een woord, Hy is kwesbaar in meer as een opsig.  Hy het die vrou nodig, en Hy kan in meer as een opsig in die moeilikheid kom, net omdat Hy met haar praat. Volgens Joodse tradisie mag ‘n Rabbi nie eers met sy eie vrou, dogter of suster gepraat het nie, laat staan nog as dit ‘n vreemde vrou was.

Die uitspraak van Jesus oor lewende water (Jesus gebruik dieselfde metafoor ook in 7:38-9 op die huttefees) kan met verskeie Ou-Testamentiese dele in verband gebring word, waar die dors na God vergelyk word met ‘n dors na water (Ps 42:2; Jes 49:10; 55:1; 58:11; Jer 2:13; Sag 13:1). Die Here word self ook dikwels die bron (=fontein) van lewe genoem (Ps 36:10; Jer 2: 13; 17:13). Die Jode het ook van ‘n fontein (put) as lewende water gepraat (Gen 26:19).

Jesus gebruik in vers 14 ‘n besondere vorm van die werkwoord drink wat op ‘n eenmalige handeling dui.  Sy bedoeling is dus: wie eenmaal drink van die water wat Ek hom gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. In dié verband skryf Calvyn: “Die woorde van Christus weerspreek nie die feit dat gelowiges tot die einde van hulle lewe oorvloediger genade vurig begeer nie. Hy bedoel immers nie dat ons so drink dat ons van die eerste dag af volkome versadig is nie, maar wel dat die Heilige Gees ’n altyd vloeiende fontein is. Daar is dus geen gevaar van ‘droogte’ in die lewe van iemand wat van die geestelike water gedrink het nie”.

Die feit dat die vrou saamgebly het met iemand op dié stadium verraai aan die een kant dat sy ‘n behoefte gehad het om ingesluit te word, beide ter wille van gemeenskap en ter wille van ekonomiese oorlewing, al was dit dan nou met ‘n opeenvolging van mans.  Maar aan die ander kant was die Joodse reël ook dat ‘n vrou nie meer as drie keer mag getrou het nie, al het die wet van Moses niks daaroor gesê nie.  Sy kon dus heel moontlik nie meer trou volgens Joodse gebruik nie.  Ons moet ook onthou, dat net mans ‘n skeibrief kon gee vir vroue om van hulle te skei, maar nie vroue aan mans nie.  Vroue het dus baie min sê gehad in hulle verbintenisse met mans, wat beteken dat die man wat sy nou gehad het, se wense waarskynlik die deurslag gegee het vir haar “saambly”-status.

Die vete oor aanbiddingsplekke kom van die konflik tussen die Samaritaanse en die Joodse tradisie oor die korrekte aanbiddingsplek.  Die rede vir die konflik lê in die Here se opdrag aan Moses dat daar net een aanbiddingsplek moet wees (Deut 12:5) en dat Hy dit sal aanwys, maar, amper soos met Abraham, sonder om die plek uit te spel!

  • Die Samaritane het gereken dat Gerisim die aanbiddingsplek moet wees en die Jode (en Tenak tradisie) weer dat Jerusalem as eksklusiewe aanbiddingsplek moet dien.
  • Die Samaritane het as steun vir hulle standpunt geglo dat Abraham sy eerste altaar daar gebou het (Gen 12:6-7), dat hy vir Isak op die berg Gerisim, naby Sigem, geoffer het (hulle lees in Gen 22:2 die verwysing na die landstreek Moria as ‘n verwysing na die boom More [Afrikaanse vertaling het “waarsêersboom”] wat dit verbind met Gen 12:6-7) en dat Jakob boonop die stuk grond, waar die put geleë was, daar gekoop het (Gen 33:18-20).  Daarby moes die seën van die Here van Gerisim af afgekondig word met die Intog (Deut. 11:29; 27:4,12).  Dit was gevolglik genoegsame rede dat God daar aanbid moes word.
  • Daarteenoor het die Jode Jerusalem as aanbiddingsplek aanvaar (vroeër bekend beide as Salem [Gen 14:18] en Jebus [Rigters 19:10] en later ook bekend as Sion [2 Sam 5:7]) omdat dit ‘n integrale deel van die koninklike en tempel tradisie was (1 Konings 11:36).

In verse 21 en 23 dui Jesus aan dat ‘n nuwe tydvak, ‘n nuwe uur aangebreek het (iets wat Hy al met sy reining van die tempel aangedui het, maar wat nou getransendeer word). Die ou vetes en grense gaan deurbreek word met ‘n nuwe tyd met nuwe reëls, nie meer die ou plekke van aanbidding nie – Jerusalem en die berg Sion nie – maar aanbidding deur die Gees.

Dat Jesus ‘n onderskeid maak tussen die onkunde van die Samaritane en die kennis van die Jode (vers 22) het te make met die kleiner basis van die Samaritaanse Godsopenbaring (die Pentateug) en die breër basis van die Joodse Godsopenbaring (die Pentateug, die Profete, die Historiese boeke en die Wysheid- en kultiese literatuur).

Jesus reframe die hele debat oor die regte aanbiddingsplek deur te verklaar dat dit nie meer op Gerisim óf Jerusalem sal wees nie!  God wil hê dat Hy deur die Gees en in waarheid, d.w.s. sonder bybedoelings en gebaseer op die Waarheid, Jesus, aanbid sal word.  God wil juis hê dat mense Hom só sal aanbid.

Daar is ‘n interessante woordspel tussen die uitsprake van die vrou oor die aanbidding wat haar Samaritaanse voorvaders (vers 20) voorgeskryf het, en Jesus wat die regte aanbidding aan sy Vader (vers 21, 23 – ‘n woord wat min in die OT aan God verbind is: Jes 9:6, 63:16; 64:8; Jer 31:9) koppel.

In ‘n interessante woordspel, wat reeds in vers 17-18 begin, as Jesus vir haar ‘n profetiese insig oor haarself gee, sê sy vir Hom dat sy sien dat Hy ‘n profeet is.

Op Jesus se verdere antwoord dat sy Hom moet glo reageer sy met: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word” (die Samaritane het van die Taheb gepraat, die Hersteller).

Ons hoor nie wat sy direk daarop te sê het nie, maar lei af in hierdie gedeelte, vers 28, dat sy die uitspraak van Jesus: “Dit is Ek” (vers 26) as ‘n moontlik radikale openbaring van God aanvaar, en gaan deel as ‘n getuienis met haar dorpie se mense dat Hy haar alles vertel het wat sy gedoen het.

Sy verwys hier heel moontlik na Deut 18:18 waar die Messias-profeet as volg geskets word: “Ek sal ‘n profeet vir hulle na vore laat kom, een van hulle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel.”

Maar sy doen dit in die vorm van ‘n persoonlike getuienis, en raak so die eerste getuie van Jesus naas Johannes die Doper! In teenstelling met Nikodemus (hfst 3) wat eers later vrug (7:50 in die Joodse Raad waar Hy vir ‘n billike hantering van Jesus vra, en 19:39 in die tuin van Josef van Arimitea waar Jesus begrawe is) dra, toon die Samaritaanse vrou onmiddellik vrug in haar getuienis aan die dorpie.

Ephraem, die Siriese kommentator sê: “ At the beginning of the conversation he did not make himself known to her, but first she caught sight of a thirsty man, then a Jew, then a Rabbi, afterwards a prophet, last of all the Messiah. She tried to get the better of the thirsty man, she showed dislike of the Jew, she heckled the Rabbi, she was swept off her feet by the prophet, and she adored the Christ” (aangehaal deur J.A. Findlay, Comm, 61 in Beasley-Murray, G. R. 2002 Word Biblical Commentary,  Vol 36, p. 66).

En teenoor die eerste dissipels wat net enkelinge na Jesus gebring het (hfst 1), bring die Samaritaanse vrou ‘n hele dorpie!  Die dissipels kon hier ook net kos uit die dorpie vir Jesus bring, wat Hy toe nie eers geëet het nie, maar die Samaritaanse vrou ‘n hele gemeenskap van mense!

Jesus verbind op kenmerkende Johannese manier sy werk aan God se werk (om sy wil te doen: 4:34; 6:38; om God te eer: 7:18;  8:50; om sy werk te doen: 9:4; 10:37–38; 17:4; om sy opdrag uit te voer: 12:49–50;  om te doen wat Hy beveel: 14:31; 15:10).  Hy wou God se werk voltooi.

Die opmerking “nog vier maande, dan is die oes daar” (vers 35) was ‘n spreekwoord wat kom uit die feit dat ongeveer vier maande verloop het vandat die laaste lande gesaai is totdat die oestyd begin.  Die spreekwoord het eintlik beteken, daar is dus geen haas nie, want niemand kan die rypword van die oes bespoedig nie.  Jesus sluit hierby aan, maar beklemtoon daarteenoor die dringendheid van die huidige bedieningstaak, terwyl Hy en die dissipels moontlik almal na die aankomende Samaritane met hulle wit rokke (wat soos ryp koringare lyk) sit en kyk het:  “Kyk daar … hulle is ryp vir die oes.“ (Die Bybel Verklaar).

In ‘n verdere werking van die woordspel, reageer die dorpie se mense met geloof ( in vers 39, en later ook vers 41 en 42) wat hulle lei tot ‘n dieper wete (vers 42) dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is. Die dorpie se mense verwys na hulle gesprek met Jesus (vers 42) met die woord logos waardeur die meer betekenisvolle inhoud daarvan op die voorgrond gestel word (vgl. by 1:2), terwyl na die vertelling van die vrou met die woord lalia, dit is gepraat, verwys word. Daaruit kan ‘n mens die afleiding maak dat daar ‘n kwalitatiewe onderskeid tussen die woorde van Jesus en die vrou is.

Tog word haar woorde in vers 28 met die woord marturia uitgedruk en was dit dié woorde wat die dorpie tot inkeer begelei het.  Dus in vergelyking met die woorde van Jesus was die vrou se getuienis onvolledig, maar nietemin genoeg om hulle tot volle geloof te bring.

LEEF

  • Ek is verstom dat hierdie vrou met soveel passie op Jesus reageer dat ’n hele dorpie hulle in geloof aan Hom verbind.  Dit stem my tot ontsag vir haar, maar natuurlik ook vir die impak wat Jesus op haar gehad het.  En ek bid dat my lewe ook iets daarvan sal wys – dat my passie vir Jesus baie mense tot geloof sal bring.
  • Ek bid dat die Here dit deur my lewe sal regkry.
View all posts in this series

Johannes


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar