Johannes 13:1–30 – Jesus was die voete van sy dissipels

RUS

  • Ek sit by die venster en uitkyk na ’n grou bewolkte hemel.  Raak bewus van hoe afhanklik ons van God is vir alles wat belangrik is.
  • Bely my afhanklikheid van Hom.

HOOR

  • Ek lees Johannes 13 en die volgende val my op:

Die gedeelte beslaan twee hoofdele:

  • Jesus wat die Paasfees met sy dissipels vier en hulle wys hoe gemeenskap werk deur die voetewas simboliek – 13:1-17, en
  • Judas wat as Jesus se verraaier aangewys word – 13:18-30.
13:1-17: Johannes herinner ons daaraan dat Jesus doelbewus na Jerusalem gekom het vir die kruispad wat vir Hom voorgelê het.  Dit plaas sy lering in hoofstuk 14 – dat Hy die weg, die waarheid en die lewe is – ook in ’n heel ander lig.  Waar ons Hom volg – as die weg – daar sal ons ook bereid moet wees om sy lydenspad te volg.

Dit is waarom Johannes ook klem lê op die uiterste liefde wat Jesus vir sy mense gehad het.  Dit is waarom Hy bereid is om die lydenspad te kies en te loop.  Maar, hy herinner ons ook daaraan dat Jesus dit kon doen, omdat Hy vas oortuig was dat God in beheer was van alles, en dat Hy die belofte gehad het dat Hy weer sal opstaan en na God toe sal teruggaan.  Dit is ook die kern van ons hoop – dat hierdie Jesus met dié belofte geleef het, die belofte as waar bewys het met sy eie opstanding, en daarom vir ons belofte van die opstandig en die lewe word.

Dit tref my dat Jesus – ten spyte van die feit dat Judas al klaar reëlings vir Jesus se gevangenisneming getref het – steeds vir Judas insluit in die voetewas simboliek.  Petrus maak eers beswaar (in alle ewigheid!) … en as hy begryp waaroor dit gaan, gaan oorboord en wil sommer heeltemal gewas word!

Dan spel Jesus die betekenis van die voetewas uit, iets wat vir alle tye geld.  As Hy ons voete gewas het – bereid was om te dien – dan moet ons dit ook vir mekaar doen – mekaar dien.  Dit is die weg tot ’n gelukkige lewe.

13:18-30: Jesus gebruik dan Ps 41:10 waar van Agitofel se verraad teen Dawid gepraat word (2 Sam 15:12) en maak dit van toepassing op Judas – dat Judas vir Jesus in die rug steek.  Sy dissipels is verward hieroor, waarop Jesus Judas met ’n stukkie brood aanwys as die een waarvan Hy praat.

Die stukkie brood is eintlik ryk aan betekenis, want ’n mens onthou die brood wat vermeerder is om ’n skare kos te gee.  Jy onthou ook die Nagmaalsbrood wat Jesus aan sy dissipels uitgedeel het om deel te hê aan sy liggaam en die verlossing waarvan dit praat. Daardie tekens van brood was tekens van seën en gemeenskap met Christus.

En die gasheer by sulke etes het baie keer – so vertel die historici ons – ’n stukkie brood gegee aan iemand aan die tafel, waarmee hy sy aanvaarding en sy guns betuig het met die persoon.  Hierdie stukkie brood word egter die middel waardeur die verraaier aangewys word, weens die agter-die-skerms gekonkelry van Judas.

Maar let op: dit is wanneer Judas die brood aanvaar – en baie bewus is dat Jesus weet wat hy beplan – dat daar eintlik vir hom geen omdraai meer moontlik is nie.  Hy aanvaar eintlik doelbewus die oordeel oor homself, en soos Johannes dit stel, die duiwel vaar in hom in en hy staan op om sy onheilsdaad te gaan voltrek.  Hy kon op hierdie punt nog tot bekering kom, maar hy weier.

En daarmee wys Jesus dat Hy tot op die einde toe nog vir hom ’n kans gee, wat Judas eintlik weier.  En dit wys ook dat Jesus in beheer is van die bose planne wat Judas hierna sou uitvoer – nie die beheer van die planne te wil fnuik nie, maar die beheer van Homself te onderwerp daaraan.  Die kruisdood is dus ’n doelbewuste vernedering, soos Paulus veel later aan die Filippense sou skryf (Fil 2:5-11).

Dit was nag … soos Johannes dié perikoop betekenisvol afsluit … vir Jesus, en ook vir Judas.

LEEF

  • Dit tref my dat Judas tot op die einde nog kans gehad het om tot inkeer te kom.  Dit tref my ook dat Jesus se beheer nie die een van magsvertoon is nie, maar van doelbewuste onderwerping aan vernedering.
  • Ek eer die Here in gebed – Sy pad bly die inspirasie vir my deur die dik en dun van die lewe.
View all posts in this series

Johannes


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Hi
    Ek woon in Despatch . My vraag gaan oor kersfees. Ek het op op 1 Mei 2016 tot bekering gekom en is 16 Oktober gedoop. Hierdie jaar sal dit my tweede jaar wees wat wat ek nie deel gaan hê aan kersfees nie. Na ondersoek het ek besef dat kersfees ‘n mense instelling is en niks met Jesus te doen het nie. Kersfees soos ek dit sien gaan maar oor geldmakery. Dink ook nie daar staan enige iets in die Bybel dat ons Sy verjaarsdag moet vier nie. Wat vir my belangrik is, is die nagmaal en die doop wat deur Jesus ingestel is. Is ek dan verkeerd om nie kersfees te vier nie, ons weet ook dat dit nie Jesus se geboorte dag was 25 Des nie ?

    • Hi. Die kerk werk vir eeue al met ‘n “kerkjaar”. Dit begin met Advent, die vier Sondae vóór die Christusfees, wat saamval met Kersfees (“Christ-mass”) wat aanvanklik verwys het na die nagmaal wat die vroeë kerk op Christus se geboorte gevier het in nagedagtenis aan Hom. Daarna is daar Epifanie, die viering van die doop (6 Januarie), verskyning en bediening van Jesus. Daarna kom die Lydenstyd, Goeie Vrydag, Paasfees, Pinksterfees en dan ‘n tyd wat ons noem Koninkrykstyd. Nie een van hierdie dinge is ‘n “moet” in die Skrif nie, maar wel gebaseer op die verhale van Jesus en die kerk. Dit help ons om die groot dinge van sy lewe te vier ter herinnering en bemoediging. Die datum van Jesus se geboorte is egter nie bekend nie, selfs sy geboortejaar is in dispuut. Maar, een van die tradisies is dat Maria op 25 Maart swanger geraak het, nege maande later op 25 Desember geboorte geskenk het, en dat Jesus weer op 25 Maart gekruisig is. Dit daar gelaat. Ek vier dus die Christusfees eerder as Kersfees, om myself te herinner, en my gemeente, dat Jesus as Verlosser gebore is. Dit is egter nie ‘n moet nie.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: